Leef jou tweede kans!
“As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle
in my liefde bly...” (Johannes 15:10 Direkte Vertaling)
Volgens vaste ooreenkoms op grond van
Woordbeloftes en die oortuigende influistering van die Gees van God, is ons as
Jesus-mense vrygestel van enige pligte of wette om vir altyd volledig gered te
kan wees. Beteken dit dat ons nou maar handjies gevou kan sit en wag vir die
hemel om aan te breek? Allermins, ek kan nie, ek wil nie niks doen nie. Ek het
dan juis die allerbeste rede om my alles op die altaar te sit – ja, my ALLES in
reaksie op die grootste en die beste en die blywende geskenk van die lewe in
Jesus!
Soos die Bybel dit op verskillende plekke
uitspel: elke mens is dood tot en met die wonderlike ontmoeting en verhouding
met Jesus begin – dan kry ons elkeen ‘n tweede kans op die ware lewe in Jesus.
Die groot vraag is: wat maak jy met jou tweede kans?
Daar is twee staande opdragte, let wel, nie
wette of pligte nie, wat steeds geld vir elke Jesus-mens:
·
Opdrag nommer 1: leef Jesus-liefde.
·
Opdrag nommer 2: gaan vertel van Jesus.
Beide hierdie opdragte is bedoel om vir elke
Jesus-mens ‘n spontane daaglikse lewenswyse te wees, die een nooit los van die
ander nie. Soos wat ek Jesus raak leef in elkeen se unieke lewensomstandighede
met my eie geliefde geaardheid, kry ek die geleentheid dat Jesus vir ander kan
wys wie Hy in my is. Maar hiervoor het ek ‘n vrywillige keuse om met sy Gees in
my saam te werk. En hierdie keuse vra dissipline, spesifieke besluite en veral
opofferinge, dikwels ten koste van myself.
Om die tweede kans op ware lewe in Jesus
werklik te benut, beteken ek is veronderstel om my tyd, gerief, geld of wat ook
al tot my eie beskikking is, spesifiek beskikbaar te stel om Jesus-liefde te
leef. Soos Jesus self so mooi verduidelik in Johannes 15: ons is nie sy slawe
wat ‘n las moet dra nie, ons is sy vriende – daarom het Hy sy lewe vir ons as
sy vriende aan die kruis laat offer. Vriende maak vrywillige en spontane
opofferinge vir mekaar, opofferinge wat sonder voorwaardes is, sommer omdat dit
soms lekker is of net sin maak.
Kom ek vra weer: wat maak jy as Jesus-mens met
die tweede kans in jou lewe?
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.