Volledige
oorgawe, die ENIGSTE manier!
“Wees
julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matteus 5:48)
Ek stoei steeds met die eenwording van die
tydelike en die ewige in Jesus-mense. Die feit dat ons kan sê die Gees van die
Lewende God is permanent binne in elke bekeerde sondaar, beteken dat die
menslike en die goddelike konnekteer. Die geestelike en die fisiese lewe is nie
vreemd vir mekaar nie, maar groei al hoe meer na volmaakte eenwording. MAAR,
hoe gebeur dit?
Vir hierdie geheimenis het ek gaan kers
opsteek by een van die grootste Christelike skrywers van alle tye, CS Lewis
(1898-1963). In Mere Christianity
skryf hy: “As ek koring wil produseer en nie gras nie, moet die verandering
dieper gaan as die oppervlak. Ek moet omgeploeg en oorgesaai word.” Die nuwe
lewe in Christus, is werklik ‘n totaal anderse manier van lewe. Ek kan nie maar
net my ou gewoontes probeer afleer nie. Sekere dinge stop volledig. Ek kan nie
dat die tydelike dinge van hierdie wêreld my lewe beheer en te gelyker tyd die
ware innerlike geluk by God vind nie.
“Die Bybel sê dat alles vir Christus gemaak is
en dat alles in Hom saamgevoeg gaan word.” (CS Lewis) Hiervoor vra Jesus
volledige oorgawe, dat ek myself sal kruisig, my eie wil 100% ondergeskik aan
sy wil sal maak. My “eie ding” word volledig vervang met “sy ding”.
Hierdie werking van die Heilige Gees in ons,
is tegelyk baie eenvoudig én baie ingewikkeld: solank ek nog self probeer om te
verbeter en nader aan volmaak te kom, sal dit onmoontlik en baie swaar wees vir
my; MAAR as ek volledig oorgee en 100% geleentheid gee dat God se Gees in my,
doen wat Hy graag doen, dan is ek verander en is dit baie maklik. Lewis haal
Jesus so aan: “Gee jou gewone self vir My, met al jou begeertes – dié wat jy
dink goed of onskuldig is, saam met dié wat jy as sondig beskou, die hele spul.
Ek sal jou ‘n nuwe self gee. Om die waarheid te sê, gee Ek vir jou Myself. My eie wil sal nou jou wil
word.”
Hiervoor staan ek en jy daagliks in ons gewone
lewe voor baie keuses:
·
Wie of wat beheer my tyd?
·
Wie of wat is my dryfkrag?
·
Wie of wat maak my gelukkig?
·
Wie of wat beïnvloed my?
Wil jy ‘n “halwe Christen” wees, as daar so
iets is? Of wil jy volledig aan Christus behoort?
Volledige oorgawe is die ENIGSTE manier!