Thursday, September 29, 2011

Oordenking 2 Oktober 2011

Oordenking 2 Oktober 2011
God heers steeds!
“Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” (Openbaring 11:15b)
Hier in Openbaring 11 kry ons weer die hooftema van die boek Openbaring: die almagtige God wat vir altyd finale beheer oor alles het.
Waar daar stilte was met die oopmaak van die sewende seël, word daar hard uitgeroep terwyl die sewende trompet geblaas word. Eers was daar die sewe seëls wat oopgemaak word, dan blaas die sewe trompette en dan word die sewe bakke met God oordeelswoede op die aarde uitgegooi. Die volheid en die voltooidheid van die getal sewe kom elke keer ter sprake by die “sewende” wat aanbreek. ‘n Tydperk word afgesluit deur ‘n spesifieke hoogtepunt wat bereik word. En daar is nie noodwendig ‘n kronologiese opeenvolging van die reekse van sewe nie.
Die sewende trompet kondig aan dat God, wat nog altyd as koning geheers het, nou deur een en almal as Koning erken sal word. Die blaas van die trompet is ‘n luisterryke verkondiging van die triomf, die oorwinning deur God self.
Tog beskryf Johannes nog nie die finale einde vir ons in hierdie sewetal trompette wat geblaas word nie. Die toneel word voorberei om die finale oordeel oor die bose te beskryf. Die gelowiges word steeds herinner aan God se koningskap en teenwoordigheid. Die einde sal volgens hierdie gedeelte gekenmerk word deur ‘n vasgestelde moment in die geskiedenis, wat deur God vasgestel is vir die oordeel oor die dooies, die beloning van die gelowiges en die uitwissing van hulle wat die aarde vernietig.
Wat beteken hierdie simboliek vandag vir ons?
• Almal sal hoor en sal weet dat God met sy groot mag besig is om verwoestend af te reken met die goddeloosheid en die boosheid in hierdie wêreld. Hy was reeds in Johannes se tyd daarmee besig. Deur die eeue gaan Hy tot vandag toe voort met die oordeel oor elkeen wat sterf sonder wit klere (simbolies nie wit gewas is deur die bloed van die Lam nie). Die vernietigers van die aarde se beloning, is om met die ewige oordeel vernietig te word.
• Net so word ons as gelowiges, groot en klein, wat God in hierdie eindtyd vrees, beloon met God wat sigbaar word as die tempel vir ons oopgaan. Daar is weerligstrale, dreunings, donderslae, ‘n aardbewing en ‘n groot haelstorm – simbolies van God se mag waarmee sy teenwoordigheid sigbaar word.
Sien jy reeds vir God raak?
Doom Charl

Thursday, September 22, 2011

Oordenking 25 September 2011

Oordenking 25 September 2011
Bid gedurig met ontsag
“Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer.” (Openbaring 8:3b)
Ons kan moontlik moed verloor met so baie wat vandag verkeerd loop, maar ons kan mekaar help om nie ons geloof in God te verloor nie. In die boek Openbaring word gelowiges gehelp om in moeilike tye raak te sien waarmee God elke dag besig is.
Die sewe seëls wat oopgemaak word, simboliseer die bekendmaking van God se oordeel en verlossing. Die blaas van die sewe trompette, kondig die oordeel van God oor die goddeloosheid aan. Die uitgiet van die sewe wraakbakke, is die uitvoering van God se oordeel. Daar is progressie in die simboliek van die seëls, die trompette en die bakke – elke beeld het meer detail en ‘n bepaalde ontwikkeling. Daar is byvoorbeeld ‘n toename in die getal wat geoordeel word en ‘n toename in die intensiteit van die oordeel.
In Openbaring 8:1 is daar ‘n dramatiese stilte. Die spanning verhoog net soos die terughou van die vier winde (Op. 7:1-3) en die verswyging oor wat die sewe donderslae gesê het (Op. 10:4). Na die stilte basuin die trompette die aanbreek van God se oordeel uit. Tog bly God met die gelowiges verbind deur gebed te midde van die spannende afwagting en aankondiging van sy teenwoordigheid.
Ons as Christene bevind ons vandag midde in sekulêre staatsomstandighede wêreldwyd – alles draai om mag, geld en selfsug. Die goddelose mens is besig om homself hier op die aarde te vernietig. Kos word skaarser vir die biljoene aardbewoners, skoon water sal nog net so lank beskikbaar wees, op die oog af vat elkeen vir homself wat hy kan kry, en so is daar baie voorbeelde van die oordeel van God oor die goddelose.
Midde in dit alles, is daar by die skoongewasde gelowiges ‘n gespanne afwagting van God se afrekening met die boosheid. Daarom is die gebede en die toewyding van die gelowiges, ‘n teken van ons groot ontsag vir God. Die wierook wat opstyg na God op die troon, is simbool van ons gebede waarmee ons in direkte kontak met God bly.
Kom ons dink na oor:
• Noem die tekens van vernietiging wat daar vandag is.
• Watter rol speel gebed in moeilike tye vir gelowiges?
• Hoe kan ons as gelowiges meer ontsag vir God betoon?
Doom Charl

Wednesday, September 14, 2011

Oordenking 18 September 2011

Oordenking 18 September 2011
Herskeppende teenswoordige Regeerder
“Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand.” (Op. 4:2b)
Die deur na die hemel word op ‘n klein skrefie vir ons oopgemaak. In Johannes se simboliese taal, beskryf hy in Openbaring 4 die sogenaamde “troontoneel”. Daar is ‘n troon met Iemand op, rondom die troon is 24 ouderlinge en 4 lewende wesens. Wat beteken dit vandag vir ons?
Die Iemand op die troon, is God wat die wêreld beheer. Hy regeer vanuit die hoogste posisie. Hy is in volle beheer van alle gebeure wat Hom en sy koninkryk raak. Te midde van watter politieke en ekonomiese woelinge daar ookal op aarde gebeur, God is op die troon en Hy is in beheer. Te midde van al die aardse boosheid en goddeloosheid, word God steeds erken as die Een wat die bosemagte sal oorwin. Die sittende Een op die troon voer heerskappy oral en altyd en in alle opsigte. Die heerlikheid straal soos pragtige gekleurde edelgesteentes uit Hom.
Die 24 ouderlinge rondom die troon is die totale, verloste, klaar verheerlikte kerk op aarde, reeds rein gewas en toegerus om dienswillig instrumenteel in God se hand, te regeer. Deur die volheid (simbolies sewe) van die Heilige Gees, is God herskeppend besig om vandag deur sy kerk hierdie aarde geestelik nuut te maak. Die 4 lewende wesens (afgelei uit Eseg.1 en Jes.6) is simbolies die hele lewende skepping en het die vermoë om met spoed God se wil uit te voer.
Wat beteken dit vandag vir ons?
Die belangrikste is om vandag te ervaar Wie God werklik is:
Hy is die heilige verlossende Herskepper en die herskeppende teenswoordige Regeerder!
Hoe raak dit ons vandag?
As rein gewaste kinders van God, is Hy besig om deur ons hierdie deurmekaar aarde geestelik nuut te maak. In hierdie laaste dae wat ons op aarde is, is ons deel van God se regeringsmag oor alle bosemagte en goddeloosheid. Hy is besig om te wen, en dit beteken, ons is besig om te wen.
Terwyl ons terugkyk na wat God reeds gedoen het en ons kyk vorentoe na wat Hy nog gaan doen, kry ons moed vir vandag.
Kom ons dink na oor:
1. Watter alledaagse voorbeelde is daar van God wat in beheer is?
2. Hoe kan ons in die kerk deel wees van God se heerskappy?
Doom Charl

Thursday, September 8, 2011

Oordenking 11 September 2011

Oordenking 11 September 2011
Ek maak die deur weer en weer oop
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” (Openbaring 3:20)
Ek bly oortuig, eenmaal ‘n kind van die Here, altyd ‘n kind van die Here. Maar dan is ek ook oortuig, dat ons nie net kinders van die Here moet bly nie, maar geleentheid het om te groei tot volwassenes in die Here. Volwassenes in die Here het die geleentheid om meer wysheid, inniger liefde en groter invloed binne God se koninkryk te bekom. Hoe?
Deur die deur van jou hart weer en weer oop te maak vir die Een wat klop. Om die deur oop te maak vir die Een wat klop, is om tot bekering te kom. Toewyding aan die Een wat klop en voortgaande herhaalde bekering is nodig in Gods koninkryk. Ek hoef nie telling te hou oor hoeveel keer ek al tot bekering gekom het nie of hoeveel keer ek die deur al oopgemaak het nie. As ek enigsins daaroor twyfel, dan kan ek bid en vra en verwag om tot bekering te kom. Dit maak ook nie saak hoe en wanneer ek die eerste keer tot bekering kom nie, maar dit maak saak of ek werklik tot bekering gekom het.
Hoe kom ek tot bekering, of hoe kom ek weer tot bekering?
Maak jou lewe (weer) oop vir God se Gees om geloof in Hom in jou te werk.
Die bewys van bekering is vir ons baie belangrik. Elke bekeerde kind van die Here wil graag weet of hy/sy werklik die Een wat klop ingelaat het. Hier is moontlike bewyse dat jy reeds ‘n kind van die Here, ja, ‘n volwassene in die Here is:
• Jy beleef al hoe meer jou totale afhanklikheid van God se Gees se werking in jou;
• Jy ontwikkel ‘n spontane liefde vir jou medemens in nood;
• Jy kan nie meer stil bly oor die verlossingsboodskap wat jou lewe verander nie;
• Jy ervaar die lewende God as groter werklikheid in jou daaglikse lewe; en
• Jy voel al meer vreemd met die goddeloosheid in ons wêreld vandag.
Kom ons dink na oor:
1. Hoekom sien ons nie meer van bekering in ons kerk nie?
2. Omskryf ‘n volwasse kind van die Here.
Doom Charl

Wednesday, August 31, 2011

Oordenking 4 September 2011

Oordenking 4 September 2011
Leef in die aanwesigheid van die Almagtige
“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. (Openbaring 1:8)
Ons lewe in die eindtyd – dit is die tyd tussen Jesus se eerste koms na die aarde en sy tweede koms waarop ons wag. Hoe gereed is jy dat Hy weer kan kom? Jou gereedheid vir Jesus se wederkoms word direk bepaal deur jou daaglikse ervaring van sy teenwoordigheid in jou lewe.
Die boek Openbaring wil die lesers voorberei op Jesus se wederkoms. In die volgende paar weke gaan ons met hierdie doel deur die boek Openbaring blaai. In die tipiese Griekse briefstyl, lees ons dat die hooftema van Openbaring is Christus se wederkoms aan die einde van die tyd.
Daniël 7:13 en Sagaria 12:10 word gekombineer deur die skrywer om die triomferende verskyning van Christus en die vyandige respons van die wêreld daarop, te beskryf. Binne die Joodse denke verskyn die Messias “met die wolke” (Eks. 13:21; 16:10; Matt. 17:5; Hand. 1:9).
Alle mense sal Jesus sien verskyn, en nie net die Jode en die Romeine wat Hom gekruisig het nie. Almal sal weeklaag in selfverwyt en in berou – dit is ook moontlik dat daar skulderkenning by die volke sal wees. In Op. 22:20 word die koms van Christus op soortgelyke wyse beklemtoon.
In Op. 1:8 kom God self aan die Woord in die eerste persoon. Binne die Joodse denke beteken dit dat God nie net die begin en die einde is nie, maar dat Hy ook alles tussenin is – alles in almal en in alles. Hy omvat die hele bestaande werklikheid. In Op. 21:6 word die Alfa en die Omega aangevul met die Begin en die Einde. Hiervolgens is daar geen deel van die geskiedenis waar God uitgesluit kan word nie – die volle historiese verloop is binne sy almag.
Niemand kan die goddelike en magtige teenwoordigheid van Christus ontkom nie – almal sal Hom sien en reageer daarop. Maar dit gaan nie in Openbaring net oor Christus se wederkoms aan die einde van die tyd nie, maar is sy verskyning onder mense in die teenswoordige tyd ingesluit. God is in sy almag aanwesig binne die verloop van die hele geskiedenis.
Kom ons dink na oor:
• Watter tekens sien jy raak dat ons in die eindtyd lewe?
• Verduidelik jou eie gereedheid vir Jesus se wederkoms.
Doom Charl

Wednesday, August 24, 2011

Oordenking 28 Augustus 2011

Oordenking 28 Augustus 2011
Jý is God se oplossing!
Daar is so baie moedeloosheid onder ons. Dit is asof ons hoop verloor het. Te veel goed loop verkeerd: die misdaad bly baie erg; die korrupsie is baie hoog; die onderwys sukkel al hoe meer; armoede neem toe – alles negatiewe goed, en ons verlang na uitkoms.
En eintlik het jý die antwoord ... in God se Woord ... ‘n splinternuwe uitnodiging:
“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (Jesaja 55:1)

Die oplossing is gratis en verniet, so verniet dat diegene wat daarvoor wil betaal, gespot word. Waarom wil jy probeer betaal vir iets wat nie gaan help nie. Ons betaal klaar ‘n prys met al ons negatiewe praatjies. Ons verloor die bietjie hoop wat ons nog het deur na antwoorde te soek op die verkeerde plekke. Die antwoord is nie positiewe ekonomiese groei nie. ‘n Nie-korrupte en puik regering sal nie die armoede laat verdwyn nie. Geld kan nie jou geluk koop nie. ‘n Model onderwysstelsel gaan nie skoolkinders rolmodelle sonder probleme maak nie.
Die uitnodiging, en daarom die antwoord, is in die aanbod van ‘n lewende verhouding tussen jóú en God. Die probleem is dat die klakouse glad nie daarin die oplossing vir ons probleme sien nie.
Hierdie aanbod geld nóú, vandag – gister is verby en môre kan te laat wees! God is vandag reg vir ‘n splinternuwe verbintenis met Hom. Hy wil in die teenswoordige tyd ‘n totaal nuwe verhouding met jou aanknoop. Moenie uitstel nie! Moenie wag nie! Moenie maak asof jy dit nie nodig het nie!
Moenie die fout of die probleem of die antwoord of die oplossing by ander of op ‘n ander plek soek nie. God wil by jóú begin asof jý die enigste mens op hierdie aarde is. Die Slimste, die Magtigste en die Liefste Een wil hierdie wêreld deur jóú ‘n beter plek maak. Hy wil vandag by jóú begin om die moedeloosheid weg te dryf. Hy het nie ‘n ander oplossing nie, jý is die antwoord op vandag se hooploosheid!
Vanuit die splinternuwe verhouding wat God met jóú vandag aanknoop, wil Hy deur jóú wondere verrig. “In die plek van ‘n doringbos sal daar ‘n sipres opskiet ...” (Jes. 55:13a) Wees gereed dat jý vandag groot dinge in sy Naam sal doen. In die ervaring wie Hy in jóú is, word jý in staat gestel om positief sy Koningsheerskappy op aarde te vestig. Hy sorg daarvoor, want sý eer is op die spel. Die toets vir hoe eg Hy in jóú is, sal wys deur jóú lewe vandag! Hoe bereid is jý, dat God deur jóú, werk?
Kom ons dink na oor die volgende:
• Beskryf die splinternuwe verhouding tussen jóú en God.
• Watter positiewe bydrae wil God deur jóú lewer?
Doom Charl

Wednesday, August 17, 2011

Oordenking 21 Augustus 2011

Oordenking 21 Augustus 2011
Die veiligste plek op aarde
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al
die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Ef. 1:3)

Wie sal nie belangstel om op die veiligste plek op aarde te wees nie?

‘n Tyd gelede lees ek van beeldspraak oor die veiligste plek op aarde. En dit het my sedertdien
gehelp om anders te dink oor my lewe hier op aarde. Ons lewe op aarde word simbolies beskryf as ‘n
bestaan in ‘n huis met twee vertrekke, ‘n onderste kamer en ‘n boonste kamer.

In die onderste kamer is ek self in beheer oor alles wat daar gebeur. Die eie selfsugtige ek bepaal waar
die meubels staan. Die sondige natuur wat in elke individu is, is hier in beheer en onder druk om te
presteer. Hier staan ek onder die wet, en lewe in vrees en onsekerheid of ek goed genoeg is. Hier is my
vleeslike begeertes oorheersend en beleef ek ‘n stryd met dit wat in die boonste kamer gebeur.

In die boonste kamer is die Heilige Gees in beheer oor alles wat gebeur. Hier bepaal die Gees waar die
meubels staan. Hier skep die Gees in my ‘n passie om te groei, om God te aanbid, om Hom te vertrou
en is dit vir my ‘n vreugde om in gehoorsaamheid aan God te lewe. Hier word ek reeds bederf “met al
die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” Hier hoor ek God se stem, voel Hy naby (in) my,
ervaar ek sy genade, en is ek binne God se wil.

Duskant die graf, spandeer ek meeste van die tyd in die onderste vertrek. Ander kant die graf, sal ek vir
die ewigheid in die boonste vertrek vir altyd bly voortbestaan. Oppad hemel toe is vlees en Gees gedurig
in stryd met mekaar. “Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op
die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.” (Rom. 8:6).

Die veiligste plek op aarde is om gedurig in die teenwoordigheid van God te lewe, “voor die aangesig van God” (ou Afrikaanse vertaling). Hier is ek vry om te dien en leef ek vry in die Lig van God. Ek leef met my probleme, met my hartseer, met my bekommernis en met my onsekerhede onder beheer van die dinamika van die Gees. My blydskap, my genot, my voorregte, my kalmte, my rus en nog vele meer beleef ek eerstehands uit God se hand.

Kom dink saam met my:
1. Wat laat jou onveilig voel in jou huidige omstandighede?
2. Beskryf iets van jou eie stryd teen die begeertes van jou sondige natuur.
3. Noem voorbeelde van ervaringe in die boonste vertrek van jou aardse lewe.

Doom Charl