Wednesday, May 23, 2012

Oordenking 27 Mei 2012

Oordenking 27 Mei 2012

Goddelike heerlikheid vir ons vandag!

“...sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het...” (Johannes 17:24)

Hoor net hoe aanloklik klink die volgende: uitnemende skoonheid, toestand van volmaaktheid, geluksaligheid. Hierdie is almal woorde wat die HAT gebruik om “heerlikheid” te beskrywe. In Johannes 17 bid Jesus dat ons, wat sy uitverkore eiendom is, juis hierdie heerlikheid sal sien. Hoe sien ons dit?

Hy bid daarvoor in die woorde “dat waar Ek is, hulle ... ook by My moet wees” (ook uit vers 24). Hoe kan ons by Hom wees, Hy is dan in die verheerlikte posisie aan Gods regterhand? Hy bid ook dáárvoor in die woorde “sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle” (vers 26).

In hierdie gebed van Jesus is daar soveel verskillende beskrywings van ons, as uitverkorenes, se verhouding met Hom: “...almal wat U (die Vader) Hom (Jesus) gegee het(vers 2); dat hulle U ken (vers 3); aan U behoort (vers 6); hulle het geglo (vers 8); aan My behoort (vers 10); ens. Hierdie verhouding is vas, stewig, innig, persoonlik, liefdevol, uniek, ewig, beskermend, vervullend, bevrydend, oorwinnend, ja, volledig wat ons nodig het om “in Hom” te wees.

En die skoonheid en volmaaktheid en die geluksaligheid van hierdie verhouding met Hom, verbeter en ontwikkel deur die mate waarin ons as uitverkorenes ons gestuurdheid in die wêreld uitleef. Jesus is deur ons heilige en regverdige Vader gestuur om die werk te voltooi wat Hy vanuit die hemel ontvang het. Nou is sy magte aan die uitverkorenes oorgedra om vandag die hemelse werk voort te sit.

Hierdie hemelse werk word in een woord beskryf, “liefde”. Jesus bid oor die liefde wat ons Vader al voor die skepping van die wêreld, vir Hom gehad het (vers 24, 26). Nou bid Hy dat daardie selfde liefde van ons Vader, ook in die uitverkorenes sal wees. En die Goddelike liefde is vir ons gedemontreer deur Jesus self, maar Jesus self omvorm ons ook met daardie liefde, en stel ons in staat om soos Hy lief te hê.

Hemelse-Jesus-liefde ken die enigste ware God, word gestuur na die wêreld, verheerlik God deur sy werk te doen, bewaar teen die Bose en het onvoorwaardelik lief soos wat God vir Jesus liefhet. Ons geliefde uitverkorenes is in hierdie wêreld sodat ons liefde sal bewys aan diegene na wie toe Hy ons stuur.

Doom Charl

Wednesday, May 16, 2012

Oordenking 20 Mei 2012

Oordenking 20 Mei 2012

Jesus gee die ewige lewe

“... die volmag ... om die ewige lewe te gee.” (woorde uit Johannes 17:2)

In Johannes 17 vind ons om verskeie redes die heel belangrikste gebed van Jesus wat in die Bybel opgeteken is: Jesus bid hierdie gebed aan die einde van sy aardse bediening; dit is ‘n lang en volledige gebed wat handel oor Jesus se werk op aarde en die voortgang daarvan; hierdie gebed is intiem, persoonlik, verrykend en verykend; en daar was nog nooit weer en sal ook nooit weer, so ‘n gebed gebid word nie. Waarvoor bid Jesus in hierdie gebed?

Die eerste en die belangrikste: Luister baie mooi, Jesus is besig om te bid oor die volmag wat Hy vanaf sy Vader gekry het, om aan almal wat die Vader Hom gegee het, die ewige lewe te gee!

Wie is hierdie almal wat die Vader vir Jesus gegee het? Dit is die uitverkorenes. Wie is die uitverkorenes? Dit is elkeen wat glo dat Jesus die ware en enigste Verlosser van alle tye en vir alle mense is. Wie is dit wat dit glo? Dit is elkeen wat deur die kragtige werk van die Heilige Gees die genadegawe en voorreg ontvang om in Jesus te glo. Wat moet ek doen om dit te glo? Ek kan my hele lewe oop stel en ontvanklik wees dat die Heilige Gees in my werk. Hoe weet ek dat die Heilige Gees so in my werk? Ek weet dit nie altyd deur ‘n bonatuurlike gevoel of gebeurtenis nie, maar ek kan God op sy beloftes in sy Woord neem. Wat belowe God vir my in sy Woord? God belowe dat Hy niemand sal wegwys wat in opregtheid na Hom kom en mooi vra dat die Heilige Gees in hom sal werk nie.

En neem kennis: Jesus het nog nooit ophou bid soos wat Hy in Johannes 17 bid nie. Hy is steeds lewend en aktief vandag besig om te bid en deur die Gees te werk dat meer en meer mense die ewige lewe ontvang. God se koninkrykswerk gaan steeds elke dag voort deurdat verlore sondaars tot bekering kom, en dan “die enigste ware God, en Jesus Christus” ken (vers 3) en al hoe beter leer ken. En dit is die ewige lewe wat reeds begin het vir elkeen wat glo in Jesus.

Jesus bid vandag vir jou.

Jesus bid vandag dat jy God sal ken.

Jesus gee graag vandag vir jou die ewige lewe!

Doom Charl

Wednesday, May 9, 2012

Oordenking 13 Mei 2012

Oordenking 13 Mei 2012

Gebedsverhoring

“As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:11)

Elke gelowige kind van die Here kan moontlik vertel van gebede wat nie verhoor is nie. Hoeveel van ons het nie al met die grootste erns en opregtheid vir ‘n verdienstelike saak gebid, en dan geen duidelik antwoord of verhoring van daardie gebed gekry nie.

Laat ons dit saam lees met Jakobus 4:3: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” Hieruit is dit vir my duidelik dat die inhoud van ons gebede, bepaal die uitkoms daarvan. Waarvoor bid ek die graagste en die maklikste – gewoonlik my eie persoonlike behoeftes en begeertes. Tog is dit belangrik om te besef dat gebed is nie primêr bedoel om met groot versoeke of lang lyste van versoeke, by die Here hulp te soek nie. Gebed is hoofsaaklik daardie intieme kontak met God waarin ek my verwondering oor en aan Hom verwoord. Aansluitend daarby, gee gebed my die geleentheid om vir die Here dankie te sê, dankie vir onverdiende genadige verlossing en die hele pakkie wat daarmee saam gaan.

Met aanbiddende en bedankende gebed as fondament van ‘n gebedslewe in intieme kontak met Hom, groei my versoeke in my gebede al hoe meer in lyn met sy wil en sy koninkryk. Hoe beter en intiemer ek met God saam leef, hoe beter is die harmonie tussen my gebedslewe en ‘n Geesvervulde lewe. God se Gees neem my hele bestaan so oor, dat ek al beter lewe en daarom al hoe beter bid, volgens sy wil. Sake van sy koninkryk soos my eie Geesvervulde lewe, ander se redding, die uitbou en opbou van sy koningsgebied, en sy verheerliking, word al hoe meer die inhoud van my gebede.

En waar sy Saak (en Hy) al hoe belangriker word vir my, en my eie saak al hoe minder belangrik raak, bid ek al hoe meer volgens sy wil en word my gebede verhoor. Gebedsverhoring het direk te doen met jou eie geestelike groei. Anders gestel, hoe meer jy groei in wie God in jou lewe is, bid sy Gees in jou. En waar Godsgees bid, is Hy besig om te werk, en bid en werk Hy soos wat Hy die beste weet.

Doom Charl

Wednesday, May 2, 2012

Oordenking 6 Mei 2012

Oordenking 6 Mei 2012

Gebed is ook dankie

“Sing vir die Here ‘n danklied ...” (Psalm 147:7a)

Waarvoor kan ons alles dankie-bid of dankie-sing volgens Psalm 147:

Dankie dat ons tot lof van God kan sing;
Dankie dat dit lekker is om die loflied te sing wat Hom toekom;
Dankie dat die Here opbou wat stukkend is;
Dankie dat Hy die afgedwaaldes weer terugbring;
Dankie dat Hy stukkende harte gesond maak;
Dankie dat Hy wonde genees;
Dankie dat Hy weet hoeveel sterre daar is en waar elkeen is;
Dankie dat Hy groot en magtig is;
Dankie dat sy kennis onbeperk is;
Dankie dat Hy die hulpeloses weer laat opstaan;
Dankie dat Hy die goddeloses verneder;
Dankie vir wolke wat Hy gee vir koelte;
Dankie vir die reën wat Hy op die aarde laat val;
Dankie vir die gras wat Hy laat groei op die berge;
Dankie dat Hy weiding gee aan die diere;
Dankie dat Hy vir al die voëls kos gee;
Dankie dat Hy sterker is as die krag wat ‘n perd het;
Dankie dat Hy sterker as ‘n frisgeboude soldaat is;
Dankie dat dit vir die Here belangrik is dat ons Hom dien;
Dankie dat dit vir Hom belangrik is dat ons ons hoop op Hom plaas;
Dankie dat Hy ons beskerm van aanvalle van buite;
Dankie dat Hy elkeen wat by Hom skuiling soek, seën;
Dankie dat Hy vrede gee waar ons woon;
Dankie dat Hy sorg dat ons nie honger ly nie;
Dankie dat Hy enige opdrag kan gee en dit dan vinnig kan laat gebeur;
Dankie dat Hy die natuurelemente en die weer beheer;
Dankie dat Hy sy wil en woord bekend maak aan sy volgelinge;
Dankie dat die Here is Wie Hy is!

Doom Charl

Wednesday, April 25, 2012

Oordenking 29 April 2012

Oordenking 29 April 2012

Gebed: waarvoor bid ek?

“Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Lukas 11: 13c)

Ons kan enige tyd van die dag of nag deur gebed kontak maak met ons lewende Here en God wat presies weet wie elkeen van ons is en wat elkeen van ons elke dag nodig het. As Hy dan weet wat ek nodig het, nog voordat ek daarvoor gebid het, waarom moet ek bid?

Hier gaan dit oor hoe ons gebed verstaan. Met respek gesê, vir baie mense is gebed ‘n versoekprogram met ‘n lang lys van gebedsversoeke vir eie persoonlike behoeftes. Amper soos ‘n kruidenierswarelys wat ons vir die Here opstel en afmerk die items wat Hy “verhoor”. En dan is daar baie groot teleurstelling indien sekere items nooit, of nie gou genoeg “verhoor” word nie. Sommiges se lys bly ook dae of selfs jare dieselfde. Dit kan beteken daar is geen verandering of groei in hulle gebedslewe nie, en dit kan terselfdertyd beteken daar is geen groei in hulle ervaring van wie die Here in hulle lewe is nie. Onthou, my uitgangspunt is, gebed het direk daarmee te doen met wie die Here in jou persoonlike lewe is.

Daarom kom ek tot die gevolgtrekking dat die inhoud van jou gebedslewe word bepaal deur die intimiteit en egtheid van jou verhouding met die Here. Die kern, die fondament, die spilpunt, die basis, die oorheersende element van jou gebedslewe, het te doen met wie God vir jóú is. Die belangrikste inhoud van jou gebedskontak, is dit wat jy oor en van God kan sê vanuit jou eie geloofservaring met Hom. Hierdie diepste element van gebed kan verskillende benaminge kry soos aanbidding, lofprysing, verwondering, eerbetoning, ens. Om dit anders te sê: die belangrikste deel van gebed is om met God oor Homself in jou eie woorde vanuit jou eie ervaring te praat en so met Hom kontak te maak.

En dan eers, en vanuit hierdie kontak met jou Here en God, kan daar ook gebid word vir alle moontlike sake wat God se koninkryk raak. En hier het ek geen probleem dat daar ‘n lys gemaak word van sake, persone en instansies wat voorbidding nodig het nie. Daar is verseker waarde en krag in die gebede van individue vir ander. Net so is daar baie waarde en krag in gesamentlike gebede van gelowiges vir mekaar en vir ander.

Doom Charl

Tuesday, April 17, 2012

Oordenking 22 April 2012

Oordenking 22 April 2012

Gebed: wanneer?

“Bid gedurig.” (1 Tessalonisense 5:17)

Kom ons spandeer nog ‘n bietjie tyd in die skool van gebed. Die vorige keer het ons bewus geword dat ons elkeen se eie unieke persoonlike belewenis van wie God in ons lewe is, bepaal hoe ons met Hom kontak maak in ons gebede. Nou wil ons verstaan wanneer behoort ons te bid.

Dit word algemeen aanvaar dat daar gebid word voor ete, in die binnekamer tydens stiltetyd, aan die begin en einde van vergaderings of sommige byeenkomste, by die siekbed en in ander tye van nood. In die kerk was daar vir baie jare weekliks bidure gehou wat baie getrou deur ‘n groepie lidmate bygewoon is. Daar word nog weke van gebed aan die begin van die jaar en later in die jaar pinksterdienste in gemeentes gehou, maar dan word dit nie regtig meer van persone verwag om hardop in die kerk voor ander te bid nie.

Uiteindelik kan ons bewus word dat gebed nie beperk is tot spesifieke tye of geleenthede wat daar hoorbaar gebid word nie. Aangesien elke gelowige se lewende verhouding met die Here die belangrikste is, is gebed die kanaal of die medium of die kontak deur middel waarvan die Here en die gelowige aan mekaar verbind is. Hierdie verbintenis kan nooit iets wees wat kom en gaan nie, dit is vas en permanent. Indien ek as sondaarmens tot bekering gekom het, word ek vir ewig aan God verbind deur die krag van God se Gees in my. Soos Johannes sê: “Hy in my en ek in Hom”.

Die Geesvervulde gelowige leef ‘n gebedslewe in die teenwoordigheid van die Here sewe dae van die week 24 uur van die dag. Tydens hierdie 24 uur van ‘n dag, kan daar baie dinge met enige kind van die Here gebeur. Daar kan goeie en slegte goed gebeur waarvoor daar stil of hardop gebid word. Ander tye van die dag gaan verby sonder enige spesifieke bewuswording dat die Here daarin betrokke is nie (maar Hy ís). Soms (en net soms) gebeur daar uitsonderlike dinge in ‘n dag wat nie toevallig is nie, en wat net aan die Here se betrokkenheid en liefdevolle ingryping toegeskryf kan word.

So het elke kind van die Here elke dag die geleentheid om bewustelik en onbewustelik in kontak met sy Here te lewe. En dan tydens die dag of die nag, enige tyd, met die Here te praat. Waaroor? Dit sal moet wag tot volgende keer.

Doom Charl

Wednesday, April 11, 2012

Oordenking 15 April 2012

Oordenking 15 April 2012

Gebed: ek en Wie?

En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: Vader ...” (Lukas 11:2a)

Kom ons gaan sit in die volgende paar weke saam met Jesus se dissipels, by sy voete dat Hy vir ons meer leer oor gebed. Gebed is so ‘n deel van ons asemhaling in ons verhouding met die Here, dat daar sekerlik nog nuwe ontdekkings is wat ons daaroor kan maak.

‘n Vraag wat ek al gekry het, wat ek eerste wil hanteer, is: Wie spreek ek aan in gebed? Praat ek met die Vader soos in die Ons Vader-gebed, of praat ek met Jesus met Wie ek ‘n verhouding het, of praat ek met die Heilige Gees wat in my werk?

Voordat ons hierdie vraag kan antwoord, moet ons eers uitklaar Wie God vir ons is. Ek gaan uit van die standpunt dat elkeen van ons, ons eie unieke “prentjie” van God het. Juis omdat God elkeen van ons baie uniek gemaak het, vestig Hy deur sy Heilige Gees met elkeen van ons ‘n baie eiesoortige unieke verhouding, waarin elkeen van ons God op ons eie unieke manier belewe. In hierdie unieke belewenis wat elkeen van ons dan van God het, is dit vir ons baie moeilik om te onderskei wanneer het ons te doen met die Vader, of wanneer het ons te doen met Jesus, of met die Heilige Gees.

Dit bring my tot die gevolgtrekking dat ons nie werklik kan onderskei wanneer ons met watter Een van die Drie-eenheid te doen het nie. God is Een en werk as ‘n Eenheid, ook in elkeen van ons. Al verstaan ons dit nie 100% nie, ons bely dit en kan dit glo: God Drie-enig werk uniek in elkeen wat in Hom (nie “Hulle” nie) glo.
Hiermee het ek die vraag, wie spreek ek aan in gebed, beantwoord: God Drie-enig, of enige Een of Naam wat deel is van die Eenheid. Deur net die Vader, of net vir Jesus, of die Here, of watter Naam van God, in my gebed te gebruik, maak nie werklik saak nie.

Wat wel saak maak, is dat ek met diep ontsag met God sal praat in my gebede. Dit is selfs beter om nie sy Naam uit te spreek nie, as om sy Naam te veel te herhaal. Vanuit my innige ervaring van Wie God in my hart en lewe is, maak ek deur gebed intiem kontak met God.

Doom Charl