Wednesday, December 2, 2015

Oordenking 6 Desember 2015

Tyd om te fokus op die Bron van sterkte, sekuriteit en stabiliteit

“Jy is my seun, vandag het Ek jou Vader geword.” (Psalm 2: 7b)

Psalm 2 is een van die dele uit die Ou Testament wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word. Hierdie Psalm wys dat die beloftes van die Ou Testament waar geword het. Daarom wys dit dan ook spesifiek vir ons op die Jode se messiaanse verwagting. Wie is die Messias wat die Jode verwag het? En terwyl ons dan vas glo, dat ons Jesus wel die Messias is, wat deur die Jode verwag word, is Hy vandag steeds die Een van wie ons leer in Psalm 2.

Hierdie Psalm het een groot doel en dit is om te wys dat God die Here is en dat Hy so raakgesien moet word. God is die belangrikste. Die groot woord wat dit mooi beskrywe, is teosentries. Hier gaan dit dus nie vandag oor die huidige regerings en owerhede met hulle vyande nie, dit gaan veel eerder oor God en sy vyande.

Om teen God in opstand te kom, is die grootste dwaasheid en domste ding om te doen. Vandag kan hierdie opstand verskillende vorme aanneem. Dit kan die openlike vyande van die kerk van Jesus wees. In ons persoonlik lewe kan dit ons geneigdheid wees om onsself, die eie-ek, bo God te stel en in die proses te weier om sy gesag in ons lewe te aanvaar.

Die Here is die Oppermagtige God. Hy heers oor alle lewensterreine. Die wêreld is deurmekaar en onstabiel en verward, maar Hy is steeds die Bron van sterkte, sekuriteit en stabiliteit. Sy heerskappy oor al die eeue, sal nooit kan wankel of omvergewerp word nie.

Vandag nog is die hele bekende wêreld met al die mense daarin, die ruimte waar sy koninkryk is. Hier gebruik Hy steeds mense as sy gevolmagtigdes om in sy krag en namens Hom op te tree. Elkeen van ons as Jesus-mense, wat vrygekoop is deur die bloed van Jesus Christus, tree daagliks met gesag op. Elkeen van ons is geroep om met selfvertroue sy koninkryk hier op aarde te bevorder – ons kan dit doen omdat Hy is Wie Hy is!

In die lig van Psalm 2 word ons opgeroep om die onverskillige wêreld waarin ons is, tot verantwoording teenoor Hom op te roep. Die mens-sonder-Hom moet hoor die opstand teenoor Hom beteken vernietiging. Deur Hom te aanbid, beteken veiligheid. Tog het hierdie waarhede steeds nie volledig waar geword nie. Weereens moet ons daaraan vashou, eendag op die nuwe aarde, sal daar werklike sterkte, sekuriteit en stabiliteit wees.

Thursday, November 26, 2015

Oordenking 29 November 2015


 
Die nuwe en finale afwagting van Hom!

“Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.” (Jesaja 9: 6a)

In die volgende weke maak almal van ons op een of ander manier gereed vir Kersfees. Daar word planne gemaak van waar ons gaan wees, saam met wie ons gaan wees en wat ons gaan doen. Daar is min tye van die jaar waarin daar soveel moeite deur so baie mense gedoen word om vir ‘n spesifieke geleentheid gereed te maak. ‘n Mooi woord wat dit beskrywe is “afwagting”.

In die Ou Testament was daar ‘n “afwagting” dat vir die volk van die Here ‘n Messias sou kom wat ‘n baie sterk leier vir hulle sou wees. ‘n Beskrywing van hierdie afwagting, kry ons in Jesaja 9: 5-6: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring ... Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”

Met Kersfees vier ons fees dat hierdie afwagting van destyds in alle opsigte waar geword het. Om die waarheid te sê, die Een wat wel op aarde mens kom word het, is baie meer as wat verwag was. Hy het die enigste Verlosser vir alle mense van alle tye geword en sal dit altyd wees. Sy heerskappy deur sy Gees in sy kinders oortref alle fasette van afwagting. Daar is nie genoeg name of woorde om reg te laat geskied aan Wie Hy werklik is nie. Hy oortref alle verwagtinge!

Maar Hy het self gesê terwyl Hy hier was: “En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem ...” (Johannes 14:3). Hierdie woorde van Jesus beteken dat daar steeds by ons ‘n afwagting is. Die afwagting van die Ou Testament wat waar geword het, maak plek vir ‘n totaal nuwe afwagting vir ons vandag. En Kersfees bied elke jaar die ideale geleentheid om nuwe inhoud aan hierdie nuwe afwagting te gee. Die afwagting van Jesus se eerste koms, word vervang met ‘n nuwe afwagting vir sy tweede en finale koms.

Hierdie finale afwagting dat Jesus verseker weer kom, dra direk by tot ‘n groeiende dringendheid dat Hy so gou moontlik weer moet kom. Die chaos in die wêreld, persoonlike omstandighede én veral die intense begeerte van elke Jesus-mens om Hom self te ontmoet, dryf hierdie groeiende finale afwagting.

Hy en Hy alleen sal alle verwagtinge oortref! Weereens!

Thursday, November 19, 2015

Oordenking 22 November 2015

God se oop koninkryk

“Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” (Matteus 19: 14)

Jesus gebruik kinders as voorbeeld om te verduidelik dat sy koninkryk oop is vir ALMAL.

In hierdie demonstrasie kry ons die beste manier om na mekaar in die kerk en na ander buite die kerk te kyk. Ons is van nature so geneig om etikette om mense se nekke te hang. Bewustelik en onbewustelik deel ons mense in groepe: diegene van wie ons hou en met wie ons saamstem; die ander van wie ons nie hou nie en ook nie soos hulle dink, leef of praat nie. En dan maak ons selfs binne die kerk die grootste fout: ons deel mense in volgens sekere sondes; of dalk meer vroom, volgens hulle kerklike bydrae, betrokkenheid of spirituele voorkeure.

By ons klein kindertjies kan ons baie leer oor hoe hulle onvoorwaardelik maats maak. Hulle speel so maklik met mekaar oor grense heen. Ons sal almal kan vertel van hoe ons tot ‘n sekere ouderdom meer vriende gehad het en sonder enige vooroordele goed met ander oor die weg gekom het. Ja, ons sou wel een dag met mekaar baklei oor onbenullighede en net die volgende dag is ons weer die grootste maatjies.

In die koninkryk van die hemel waar Jesus se reëls geld, kan ons net van dag tot dag groei in die wyse waarop Hy almal as sy vriende sien. Hy kan nie kwaad bly vir sy vriende nie. Hy hou nie boek van die kwaad nie. Hy het nie witbroodjies of swartskape nie. Hy beloon nie sommiges met groter geskenke as vir ander nie. Hy het een prys, sy eie lewe, vir almal betaal. Die resultaat van hierdie liefde van Hom aan sy vriende, is die werk van sy Gees in elkeen van sy vriende.

En waar die Gees werk, word grense afgebreek en vooroordele teenoor ander mense verdwyn. Met ‘n Jesus-hart is almal altyd welkom binne die koninkryk van God. Hoe meer intens ons die Gees toelaat om ons lewens van binne nuut te maak, hoe meer ontdek ons iets van die misterie van die koninkryk van die hemel. En daar geld totaal ander norme en reëls as in ons alledaagse lewe. Hoe langer hoe meer word dit duidelik dat ons nie al die antwoorde het en alles kan verklaar nie.

Thursday, November 12, 2015

Oordenking 15 November 2015

Volkome bevryding deur God se hand

“Hoe ontsagwekkend is u werk!” (Psalm 66: 3)

Elkeen van ons wil graag vry voel, innerlik tot rus kom. Hierdie pad loop elkeen een of ander tyd. Kom ons raak bewus van een wesentlike deel van geestelike bevryding.

Die Psalm-skrywer vertel van die groot werke van die Here in die geskiedenis van Israel. Die indrukwekkende trek op droë grond deur die Rietsee. Hoe die Here met Israel se vyande afgereken het. Al die struikelblokke wat Hy uit hulle pad geneem het. Steeds is Hy vandag besig om ons almal kollektief te beïndruk met wat Hy vir ons beteken.

Ook op individuele vlak, is die Psalm-skrywer net so dankbaar oor alles wat die Here vir hom in tye van nood beteken. Hy wil graag vertel en selfs uitroep, oor hoe die Here na hom geluister het toe daar sonde in sy hart was. Dieselfde Here gee steeds rede dat elkeen van ons rus kan vind in daardie dinge wat Hy in ons lewe laat gebeur.

Volkome bevryding het dus te doen met alles wat ons kan waarneem wat God doen. Soos reeds lank gelede in die geskiedenis van Israel, is Hy steeds besig in en rondom die lewens van sy kinders vandag. Tussen die gebeure van lank gelede in die Ou Testament en vandag, weet en glo ons van Jesus. Die te-goed-om-waar-te-wees-liefde-van-God, soos wat Hy vir ons kom wys het met Jesus, is die heel belangrikste bousteen vir volkome bevryding.

Hierdie God-se-liefde-in-Jesus-daad, gee direk geleentheid vir elkeen van ons om waarlik rus in Hom te vind. Niemand kan en sal of wil iets groter vir ander ooit doen nie. Hierdie liefdesdaad van God aan ons, saamgevat in die woord “Jesus”, gee geleentheid dat elkeen van ons ook kan uitroep:

            “Hoe ontsagwekkend is u werk!”

Die woord “ontsagwekkend” is so ‘n akkurate beskrywing van God se werk in en rondom elkeen van ons. In daardie dinge wat ons wel agterkom dat dit net Hy was wat iets spesifiek kon laat gebeur, en selfs dan soms ons asem wegslaan in verwondering daaroor, ontwikkel elke Jesus-mens respek en ontsag vir Hom. Innerlike bevryding het te make met die bewustelike gewaarwording van God-aan-die-werk.

Innerlike vryheid en rus kom deur jou oë oop te maak vir God se hand aan die werk, en dan met jou hart teenoor Hom te reageer.

Thursday, November 5, 2015

Oordenking 8 November 2015


Die nuwe mens in wording

“Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.” (Titus 2: 11)

Die oorgang van die ou lewe na ‘n nuwe lewe, is ‘n lewenslange stryd waarmee elke Jesus-mens elke dag besig is. Die ou sondige natuur moet gedurig en stelselmatig sterwe om ruimte te maak vir die nuwe mens. Ou verkeerde gewoontes is later nie meer lekker nie. Met nuwe gedagtes en ‘n ander manier van kyk, gaan God se kinders groeiend vorentoe op pad na sy doel met elkeen van ons.

Hierdie geestelike groei en heiligmaking, wat deur die Heilige Gees in ons aan die gang is, is baie ingewikkeld maar tegelyk baie eenvoudig. Dit is ingewikkeld omdat ons van nature makliker terug neig na ons ou lewenswyse voor ons bekering. Dit kom meer outomaties om net vir jouself te lewe, in plaas daarvan om selfloos God en ander eerste te stel. Dit voel aanvanklik net baie lekkerder om eerste vir jouself te sorg, voordat jy vir ander iets hoef te doen.

Tog is dit tegelyk ook baie eenvoudig. Die beste Spesialis in vernuwing, is binne in elke Jesus-mens. Niks is vir Hom ‘n probleem nie. Niks staan in sy pad nie. Niemand kan sy werk keer of ongedaan maak nie. Geen struikelblok of hardkoppigheid of verharde hart, kan Hom keer nie. Elke bekeerde kind van God het geleentheid om net eenvoudig en met erns, sonder skuldgevoelens of enige verdienste, oor te gee aan Hom.

Maar hoe? Soos Paulus vir Titus sê: “... God (dit is die Gees in ons) ... voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe ...” (Titus 2:12)

Alle mense kan nou reeds voorberei word vir die hemel, maar sonder rede stel almal nie belang nie.

Vrywillig, sonder dwang, openhartig, opreg, eerlik, liefdevol, soekend, sonder skuldgevoel, toegewyd, gefokus ... almal woorde wat iets beskryf van elke Jesus-mens se daaglikse geleentheid om meer en meer die nuwe mens in wording te wees. Hierdie nuwe mens in wording, is 100% God se Gees se verantwoordelikheid in ons. Ons kan self niks doen om “... met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug ... te lewe” nie. Moenie eers probeer nie. Elke probeerslag, vertraag God se genadewerk in jou.
 
Gee God se genadewerk ‘n volledige kans in jou lewe ...

Thursday, October 15, 2015

Oordenking 18 Oktober 2015

Die teenstrydigheid van ons geloof
... as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.” (2 Korintiërs 6: 10c)

Daar is net soveel sake in ons geloofslewe wat nie sin maak nie ...

Eerstens is daar in die kern van ons Christen-geloof reeds ‘n drastiese teenstrydigheid: hoe is dit moontlik dat ‘n liefdevolle Vader sy enigste Seun, wat 100% sondeloos is, die wreedste en mees vervloekte dood aan ‘n kruis laat sterwe, sodat diegene wat in Hom glo, gered kan word? Wie van ons begryp werklik dat die Heilige Gees volledig God is wat teenwoordig is in elke Jesus-mens? Hoe werk dit dat God niks van ons nodig het nie omdat Hy die Almagtige is, maar tog ons alles wil hê in ons toewyding aan Hom? So baie van ons geloofwat ons nie regtig kan verduidelik nie!

MAAR tog kan ons God ken in ‘n intieme persoonlike liefdevolle verhouding, sonder dat ons alles van Hom verstaan!

Tweedens, hoe teenstrydig is die verskille en selfs die liefdeloosheid tussen Jesus-mense in die kerk nie? Hoekom stem ons nie oor alles saam in die kerk nie? Hoekom hou ons nie ewe veel van ons mede-gemeentelede nie? Hoekom is daar so baie verskillende kerke? Hoekom verstaan gelowiges in dieselfde kerk die Bybel verskillend? 

MAAR tog verander die inwonende Gees se onvoorwaardelike liefde ons, dat ons met nuwe oë mekaar met liefde aanvaar!

Derdens is daar met tye verwarring en twyfel binne-in ons oor wat ons presies glo en waarvan ons seker is. Ons skram weg om dit te erken, ons praat nie graag daaroor nie, of baie mense vermy hierdie teenstrydigheid in hulle geloofslewe. Daar is die werklikheid van onbeantwoorde gebede. Daar is die vrae in tye van swaarkry vir Jesus-mense. En die onregverdigheid wat opregte kinders van die Here baie keer moet verduur. 

MAAR tog kan elkeen van ons innerlike vrede, geluk en liefde in Hom vind!

Ja, dit is botsende waarhede: ons is Jesus-mense “wat niks het nie, en tog besit ons alles.”

Friday, October 2, 2015

Oordenking 4 Oktober 2015

Die enigste Pad ...

“Dit gaan goed met die mens ... wat in die woord van die Here sy vreugde vind ...”

(Psalm 1: 1a en 2a)

Sê nou maar net ek kan iets sê, wat maak dat elkeen wat dit hoor, die Bybel vat en net wil lees en lees ...

Dieper geestelike groei, nader en meer intiem met God elke dag lewe, regtig innerlik vry en gelukkig wees ... dis waar elkeen van ons bewustelik en onbewustelik wil wees, maar hoe?

Daar is volgens ons gereformeerde geloofsleer twee maniere om God raak te leef en veral beter in ons eie lewe te ken: deur die Bybel en deur die natuur. Let wel, albei is nodig. En dit is juis ons probleem: of ons is te besig om Bybel te lees, en/of ons bly in die stad en is min in die natuur.

Weer het elkeen van ons ‘n keuse: wil ek geestelik arm bly, of wil ek dieper groei?

Kom ons staan eers vir ‘n oomblik stil by die natuur, God in sy skepping. Indien jy nie gereeld geleentheid het om iewers net stil en bewus te raak van die grootsheid van God as Skeppergod nie, dan het elkeen van ons ander geleenthede. Beplan jou wegbreke uit die stad se gewoel om spesifiek in die bos te wees. Raak innoverend op jou rekenaar en “google” die onbeskryfbaarheid van God in die natuurwetenskap raak. Kyk meer gereeld natuurprogramme op TV met die doel om God daarin raak te sien. Die keuse is joune!

Elkeen van ons kan elke dag iets doen om met die Bybel besig te wees. Daar is soveel vertalings en soveel hulpmiddele wat help dat ons die Bybel kan verstaan, en veral God beter kan ken in ons eie lewe. Gratis kan ons “You Version” op ons slimfone aflaai en toegang kry tot feitlik al die Bybelvertalings. Hoe meer ek ‘n seker gedeelte in die Bybel lees in verskillende vertalings, hoe beter kan ek moontlik verstaan wat die boodskap is wat ek vir my persoonlik kan vat.

Daar is sekere dele van die Bybel wat moeilik is om te begryp hoekom dit deel van ons Bybel is. Dit is baie lank gelede geskrywe en die omstandighede waarin dit ontstaan het, is nie voor die hand liggend nie. Daarom gaan ek uit van die standpunt dat ons met groot vrymoedigheid sekere dele oor en oor kan lees, omdat dit meer verstaanbaar is. Lees die vier Evangelies: Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Lees Romeine. Lees die 150 Psalms. En as jy voel dit sê niks nuut vir jou nie (wat nie veronderstel is om te gebeur nie), dan is daar nog baie ander verrykende Woord van God om te lees.
 
Sê nou maar net elkeen van ons kan so dieper groei ... daar is net EEN Pad!