Thursday, July 28, 2016

Oordenking 31 Julie 2016

Tema: Ons hét ‘n plig, maar ...
“Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:10b)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk.

Na aanleiding van Hebreërs 10:14, “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.”, maak ek die radikale stelling: ons kan nooit weer by God in die moeilikheid wees nie! Maar na aanleiding van Jesus se vertelling in Lukas 17, wil ek byvoeg: ons wil nooit weer by God in die moeilikheid wees nie! Hoekom, vra jy?

‘n Slaaf werk getrou vir sy eienaar. Na ‘n dag se baie harde werk, kom hy by die huis én dan moet hy nog sy eienaar na-ure bedien sonder enige teëpraat. Eers wanneer hy eendag klaar is met alles wat sy eienaar na ‘n lang dag van hom verwag, mag hy self eet en drink, en iets vir homself doen.

Hier is dit baie belangrik dat dit is slaaf is wat deur ‘n eienaar besit word. Vir slawe is daar geen vergoeding en geen vaste werksure nie. Slawe verskil van dagloners, wat wel vergoed word en net sekere ure hoef te werk. In Jesus se gelykenis gaan dit nie oor die onredelike eise van die eienaar van die slaaf nie, maar eerder oor die gesindheid van die slaaf teenoor sy eienaar.

Binne die geestelike dimensie van God se koninkryk gaan dit oor ons, die slawe, se gesindheid teenoor ons Eienaar. Ons is baie duur gekoop deur die bloed van Jesus om nooit weer in die moeilikheid by God te kan wees nie. Maar wanneer en juis omdat, ons besef hoe duur die prys vir ons vryheid is, wil ons dan ook nooit weer in die moeilikheid by God wees nie.

Ons hét dus ‘n plig as vrygekoopte slawe binne God se koninkryk om Hom gewillig en heelhartig te dien. Eers wanneer ons werklik ontdek wat dit beteken om ‘n vry slaaf in God se ryk te wees, is ons bereid om met die regte gesindheid alles, ja ALLES, te doen wat ons Eienaar van ons verwag. Hy gee besliste beginsels in sy Woord en deur sy Gees in ons, wat ons met toewyding en met blydskap navolg.

Hoe meer ons verstaan waarmee ons God besig is en waarvoor Hy ons nodig het in sy koninkrykswerk, hoe meer sal ons Hom met vreugde dien. Hierdie koninkrykbeginsels verryk ons lewe, want dit is in die eerste plek nie in ons eie belang nie. Ons dien omdat ons wil en omdat ons kan en omdat dit van ons vereis word. Daarom word ons nooit moeg om te dien in die koninkryk nie. Ons werk ook nie om met onsself tevrede te wees nie, maar omdat ons weet hoe belangrik dit is dat God tevrede met ons sal wees!

Thursday, July 21, 2016

Oordenking 24 Julie 2016

Tema: Die grootste en waardevolste rykdom in alle tye!
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ...” (Matteus 13:44a)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is in terme van die ewigheid. Vir Jesus het die ewigheid te doen met “die koninkryk van die hemel”, of op ander plekke “die koninkryk van God” genoem.

Nou vertel Hy twee baie kort gelykenisse, wat baie maklik verkeerd verstaan kan word. Eers is daar “’n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê.” Waarskynlik is dit ‘n gewone dagloner wat besig is om in hierdie saailand te werk en wat hierdie baie kosbare skat ontdek. Omdat dit nie sy eie saailand is waarin hy werk nie, kan hy nie net sommer die skat vat nie. Hy “gaan verkoop alles wat hy het, en koop daardie land.” Hier is geen sprake daarvan dat hy enige iets oneerlik doen in hierdie transaksie nie. In die tweede soortgelyke vertelling, loop ‘n juwelierhandelaar “’n baie waardevolle pêrel” raak. Ook hy “gaan verkoop alles wat hy het, en koop die pêrel.”

Nou is die belangrike vraag: waarna verwys die skat in die land en die waardevolle pêrel in terme van die koninkryk van die hemel? Maklik kan die skat en die pêrel verkeerd verstaan word as dat dit verwys na Jesus self as Verlosser, of na die Woord van God, of na die kerk van Christus op aarde. Baie eerder verwys die skat en die pêrel na die voorreg en die gawe om deel te wees van die koninkryk van God. Die grootste en waardevolste skat wat ons kan kry, is om vir ewig te behoort aan God se ryk van heerskappy en liefde!

Nog ‘n belangrike vraag na aanleiding van Jesus se vertelling: wat beteken “gaan verkoop alles wat hy het”? In ander woorde, sal ons ook kan vra: wat kan elkeen van ons doen om hierdie grootste en waardevolste skat te kry? So maklik kan hierdie waaghalsige verkoop van alles, weer neerkom op eie inspanning en verdienstelike opoffering. Op hierdie manier kan niemand die skat bekom nie.

Die enigste manier om God se beheer van jou lewe, deur Sy Gees, vir ewig deel te maak van jou lewe, is:

          Om die rykdom te ontdek van sy ewige beloftes;

          Om met jou hele hart te glo in Hom;

          Om bereid te wees om alles op te offer ter wille van die ewige rykdom wat in Hom alleen te vind is!

Thursday, July 14, 2016

Oordenking 17 Julie 2016


Tema: Om soos Jesus jammer te kry ...
“Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” (Lukas 10:33)

So maklik kan ons dink ons verstaan. Ons verstaan waaroor die lewe gaan, ons verstaan wat in ander se lewe aangaan, ons verstaan die Bybel. Maar soms het ons ‘n kans om net weer nuut te dink. Ek nooi jou uit om nuut te dink oor die tweede bekendste vertelling van Jesus, naamlik die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die heel bekendste gelykenis van Jesus is die een oor die verlore seun.

‘n Onbekende persoon word deur rowers op ‘n gevaarlike pad oorval, beroof en baie seergemaak. En dan sommer half kaal daar langs die pad gelos. Eers kom die baie godsdienstige en wetsgetroue priester ver verby en ignoreer die beseerde langs die pad. Nog ‘n kerkmens, die Leviet, kom verby en doen ook sonder enige rede, niks.

Dan kom die Samaritaan verby. Ons kan met sekerheid sê dat die beseerde persoon, die priester en die Leviet Jode was. En dit is juis die punt: die Jode en die Samaritane het mekaar in Jesus se tyd gehaat soos pes. Op geen manier sou enige Jood enige moeite doen met ‘n Samaritaan nie. Nou gebeur die ongehoorde en onaanvaarbare ding: ‘ n Samaritaan help ‘n beseerde Jood!

Let op die omvang van die hulp: hy doen eers noodhulp net daar op die plek, dan laai hy die beseerde persoon op sy rydier én dan gee hy vir hom blyplek in ‘n herberg vir die waarde van amper een maand, met die ooreenkoms dat hy enige uitstaande koste sal betaal met sy terugkoms! Vir Jesus se luisteraars iets totaal ongehoords!

Nou is jou kans om nuut te luister: wie is hierdie Samaritaan in Jesus se vertelling?

Die Samaritaan is die verwerpte een, geminag en verstote. Die Jode wat luister het, het letterlik niks gedink van die Samaritane nie, wat nog om te dink dat hulle iets vir ‘n Jood sou doen. Duidelike grense: geen simpatie, geen gevoel.

Miskien hoor jy vir die eerste keer: Jesus is self hierdie Samaritaan in sy eie vertelling!

Kan of is jy bereid om soos Hy innig jammer te kry?

Thursday, June 30, 2016

Oordenking 3 Julie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: God is niks aan niemand verskuldig nie!
“Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” (Job 41:2)

Ons is besig met tydlose lewenswaarhede in die boek Job. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie. Swaarkry is nie altyd die gevolg van sonde nie, en God kan nie beskuldig word vir die verkeerde nie. Soos wat ons Hom beter ken, is ons beter voorbereid om die uitdagings van hierdie lewe te kan hanteer.

Die Here praat vir die eerste keer direk met Job in hoofstukke 38 tot 41. Eintlik is Hy besig om vir Job te ondervra en uit te daag om Hom te antwoord op baie direkte vrae. Hierdie reaksie van die Here self, kan moeilik in net ‘n paar sinne opgesom word, maar kom volgens my op die volgende neer:

·         Wie het die aarde en die sterrehemel gemaak? Wie sorg vir lig en donkerte, vir dag en nag? Wie is in beheer van die natuurelemente soos reën, donderstorms en sneeu?

·         Kan die mens die leeu, die wildedonkie, die volstruis, die perd of die valk werklik beheer, en watter nut het hierdie diere vir die mens?

·         Wie het die mag en uniekheid aan die seekoei en die krokodil gegee?

Tussendeur hierdie lang beskrywings van hoe die Here die enigste Een is wat werklik in beheer is van sy skepping, konfronteer Hy vir Job met vrae soos:

·         “Wil jy ‘n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys?” (Job 39:35)

·         “Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word?” (Job 40:3)

·         “Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” (Job 42:2)

So min of meer in die middel van die Here se konfrontasie, sê Job: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe kan ek U antwoord? Ek sal liewer stilbly.” (Job 39:37)

God is tot onbeskryflik meer in staat as die mens. Hy het niks van enige mens op hierdie aarde nodig nie. Alles is ondergeskik aan sy mag en Hy kan enigiets doen wat Hy wil. Elke mens op hierdie aarde is een honderd persent aan Hom ondergeskik en is direk van Hom afhanklik.

Mens, aanvaar net: God skuld jóú NIKS! Maar mens, onthou ALTYD: Hy ís BAIE lief vir jou!

Wednesday, June 22, 2016

Oordenking 26 Junie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: kan jy waag om God te bevraagteken?
“God is meer as die mens ...” (Job 33:12b)

Ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en met ander mense oor die weg te kom. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie. Swaarkry is nie altyd die gevolg van sonde wat ons doen nie. God kan ook nie altyd beskuldig word vir die dinge wat verkeerd loop in ons lewe nie.

Elihu, ‘n vierde en jonger vriend van Job, is in Job 32 tot 37 aan die woord. Hy help vir Job en die ander drie vriende reg in hulle verkeerde redenasies. Dit is nogal moeilik om kortliks saam te vat wat hy alles sê, die ideaal sal wees dat elkeen van ons dit self sal lees. Ek gaan tog probeer om die hooflyne van sy betoog te gee.

Een van Elihu se belangrike waarhede, is dat God en die mens nie werklik met mekaar vergelyk kan word nie. Soos ons teksvers sê: “God is meer as die mens ...” (Job 33:12b). Hierdie is die rede waarom ons nie vir God kan beskuldig dat Hy onregverdig optree nie. Ons behoort eerder die fout by onsself te soek vir dinge wat verkeerd loop in die lewe. Soos Elihu sê: “Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen ...” (Job 34:12a).

Dan maak Elihu ‘n groot ding van hoe God verskillende maniere gebruik om die mens aan te spreek en sodoende te red van die graf. Onder andere praat God met die mens terwyl hy slaap (Job 33: 12 tot 18). “Of Hy spreek die mens aan met ernstige siekte ...” (Job 33:19a). Elihu beskrywe hierdie maniere waarop ons God se wil in ons lewe kan ken, baie realisties. Volgens hom kom dit nie altyd maklik nie, maar juis deur worsteling en baie vrae wat ons vra in tye van nood.

Vir my is Elihu se breedvoerige beskrywing van God se grootheid en majesteit amper die belangrikste. Hy beskrywe God se grootsheid in die skepping as motivering waarom ons Hom nie behoort te bevraagteken nie. Hoor net een van Elihu se ongelooflike uitsprake: “God stuur die storm óf om te straf óf om vir die aarde te sorg óf om sy liefde te betoon.” (Job 37:13).

Wat is ons gevolgtrekking uit Elihu se toespraak? Ons het elkeen die geleentheid om in ons uiteenlopende omstandighede, beter te ontdek wie ons God is. Soos wat ons Hom beter ken (al sal ons Hom nooit volledig kan verstaan nie), is ons beter voorbereid om die uitdagings van hierdie lewe te kan hanteer.

Thursday, June 9, 2016

Oordenking 12 Junie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: Is swaarkry die gevolg van sonde?
“Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God ...” (Job 4:17a)

Ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en met ander mense oor die weg te kom. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie!

Drie van Job se vriende voer ‘n baie lang gesprek (Job 4 tot 31, dit is 27 hoofstukke) met hom oor die rede dat iemand wat so vroom en opreg is, so bitter swaar kan kry. Hulle gee volledig erkenning aan al Job se goeie hoedanighede. Hulle praat baie oor God, maar hulle praat nooit in hierdie lang dialoog, met God self nie. Hulle betoon dus simpatie met Job se ellende, maar nie een keer bid hulle vir hom nie. Wanneer mens dit lees, klink dit asof hulle in sirkels redeneer en dieselfde ding net oor en oor herhaal. Job probeer sy beste om sinvol op hulle argumente te reageer, maar in hierdie lang redenasies met hierdie drie vriende, klink nie asof Job by ‘n goeie verklaring van sy swaarkry uitkom nie.

Die grootste fout wat Job se vriende maak, is om te redeneer dat sonde altyd die oorsaak van swaarkry is. Hulle eenvoudige antwoord aan Job is dat hy net sover moet kom om sy sonde te bely. Vriend EEN, Elifas sê onder andere: “Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God ...” (Job 4:17a). Vriend TWEE, Bildad sê: “As jy ... die Almagtige om genade smeek ... sal Hy ... jou gesond in jou huis terugbring.” (Job 8:5-6). Vriend DRIE, Sofar sê: “As God maar wou begin praat ... dan sou jy weet dat God jou nog nie eers vir ál jou sondes straf nie.” (Job 11:5-6).

In Job se reaksie op sy vriende se argumente, worstel hy met die gevolge van reg en verkeerd doen. So sê hy onder andere: “Al is my saak reg, my woorde sou my skuldig maak; al is ek ook onskuldig, ek sou oor my woorde veroordeel word.” (Job 9:20). Die opregte en vroom Job soek na ‘n rede waarom dinge so verkeerd geloop het in sy lewe.

So maklik kan ons dieselfde fout maak wanneer dinge in ons lewe verkeerd loop. Ons kan net so maklik redeneer dat daar iets verkeerd is in ons lewe wat die direkte oorsaak is vir ons teenspoed. Laat ons egter dadelik ook sê dat daar verseker in sommige gevalle wel probleme op ons pad kom, wat die gevolg is van verkeerde keuses wat ons maak. Eenvoudig gesê: sonde kan swaarkry veroorsaak, maar nie altyd nie!

Thursday, May 26, 2016

Oordenking 29 Mei 2016

Persoonlik op reis saam met Job: die vroom een
“In die land Us was daar ‘n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy.” (Job 1:1)

Ek nooi jou uit om in die volgende weke saam met my op ‘n persoonlike reis saam met Job te gaan. Kom ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en ander oor die weg te kom.

Kom ons kyk eers na Job se agtergrond:
          Hy het naby aan God gelewe;
          Hy was buitengewoon ryk;
          Hy was die belangrikste persoon in sy omgewing;
          Hy bring gereeld offers indien sy tien kinders sonde sou doen op hulle wilde partytjies.

Hierdie is genoeg om te besef dat Job iemand baie besonders was.  Iemand van wie se lewensondervindinge ons graag sal wil leer.

Op ‘n dag vind daar ‘n gesprek plaas tussen die hemelwesens, Satan en die Here. Satan daag die Here uit om toe te laat dat Job se voorspoed eindig met die verlies van al sy besittings. So gee die Here alles wat Job het oor aan Satan se mag, slegs met die voorwaarde dat Job self niks mag oorkom nie. En so verloor Job ALLES wat hy besit, ook sy tien kinders sterf! En Job se reaksie: “Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.” (Job 1:22)

Die gesprek tussen die hemelwesens, Satan en die Here gaan dan verder. Satan daag die Here ‘n tweede keer uit om Job self siek te laat word. Weer word Job aan Satan se mag oorgegee, maar ook met die voorwaarde dat Job moet bly lewe. Job word van kop tot tone met pynlike swere getref. Hy sit op die ashoop en Job se vrou moedig hom aan om God te vervloek. Maar steeds lees ons: “Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.” (Job 2:10)

Van hierdie man wil ek graag leer. Ek kan nie dink dat ek sou kon doen wat hy reggekry het, onder sulke uiters slegte omstandighede nie.

Hoe dink jy sal jy reageer as jy ALLES verloor? Wat was jou reaksie teenoor God toe jy iemand na aan jou verloor het? En siekte? Verbind jy dit aan sonde?

Ek herhaal my uitnodiging waarmee ek begin het: kom reis saam met Job!