Wednesday, August 7, 2013

Oordenking 11 Augustus 2013

Oordenking 11 Augustus 2013

Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 4: Die sleutel tot selfverloëning

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en my volg...” (Lukas 9:23)

Ons is besig met ‘n reeks radikale uitsprake van Jesus om as Jesus-mense te leer wat dit beteken om radikaal vir Hom te lewe. Opgesom beteken die eerste drie sleutels dat ons God 100% nodig het om Jesus met volle oorgawe te volg, hiervoor gee Hy sy Gees as enigste en beste hulp om alle sonde-struikelblokke uit ons pad uit te neem.

Hier is die 3 grootste leuens oor ‘n Jesus-lewe:
• Jesus het net vir sommige mense gesterwe aan die kruis;
• Net goeie mense kan Jesus-mense wees; en
• Dit is maklik om ‘n Jesus-mens-lewe te leef.

Om die erns van hierdie leuens te besef, het elkeen van ons nodig om die waarheid (of eerder die Waarheid) te leer ken. Daar is soveel valse profete, daar is so baie valsheid selfs in die kerk en daar is so baie mense wat gereeld in die kerk kom, wat nog nie die W-/waarheid ontdek het nie. Hier is die onbevlekte, die opregte en die enigste W-/waarheid:
• Jesus is die enigste en volledige Verlosser vir alle mense;
• Slegs deur die Heilige Gees se lewens-veranderende vernuwing word Jesus-mense gered en gereining; en
• Jesus-mense lewe selfloos deur permanent met groot inspanning aan hulleself te sterwe.

Hoe sterwe Jesus-mense prakties aan onsself? ... deur alle ander mense met respek te benader; deur ander se pyn te verlig; deur eerder te gee as te ontvang; deur ander onvoorwaardelik te vergewe; deur ander se behoeftes belangriker te ag as ons eie; deur oorheersend vrygewig te wees; deur ander se opinie bo ons eie te stel; deur uit ons pad te gaan om ander te help; deur meer te luister as om te praat; deur respek te hê vir ander se goed ...

Hiervoor is nodig dat die “self” in my doodgaan; dat die eie-ek sterwe; dat selfloosheid oorneem in my lewe; dat die Gees van God meer beheer neem van my denke, woorde en dade; dat ander vir Jesus in my kan sien: dit wil God baie graag in jou en vir jou en deur jou doen! DIT IS DIE SLEUTEL TOT DIE LEWE!!!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.