Wednesday, August 14, 2013

Oordenking 18 Augustus 2013

Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 5: Die sleutel tot swaarkry-vir-Jesus

“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg ...” (Matteus 5:11a)

Met die teorie/teologie vir ‘n Jesus-mens-lewe in plek, kom ons nou meer by die praktiese. En by sleutel 5 gaan dit oor ons hantering van swaarkry. En swaarkry is nie lekker nie. En swaarkry is nie so maklik om te verstaan nie. So hierdie sal nie die laaste woord oor swaarkry wees nie ...

Om hierdie moeilike saak eenvoudig te hou, gaan ek fokus op Jesus se radikale uitspraak oor swaarkry in die Saligsprekinge van Matteus 5. Om deur die veranderende werk van die Gees van God ‘n totaal-oorgegewe-volgeling van Jesus te wees, gaan ‘n definitiewe opoffering en gepaardgaande pyn tot gevolg hê. Hier is sprake van fisiese en emosionele pyn, wat dan as swaarkry beleef word. Dit beteken selfs dat indien jy geen pyn of ongerief ervaar nie, dan is jy glad nie ‘n Jesus-mens nie. Hoekom? Is dit dan só drasties? JA ... hier is slegs ‘n paar kante van Jesus-mense se swaarkry:

• Die Gees-veranderde-gedrag van Jesus-mense is presies die teenoorgestelde van die verdorwe-sondige-verlore-gaande-wêreld waarin ons is: liefde teenoor haat; rein teenoor besmet; arm teenoor ryk; sag teenoor hard; honger teenoor ooreet; beledig teenoor ophemel; waarheid teenoor valsheid ... en hierdie lys is nimmereindigend. Dis gewoon swaar vir elke Jesus-mens in hierdie wêreld ...
• Om Jesus met my hele bestaan te volg, beteken dat Hy die belangrikste is, belangriker as ekself is en belangriker is as die wêreld waarin ek is. En dít is die swaarste vir alle mense. Elkeen van ons wil graag belangrik wees en so wil die verlore-gaande-wêreld waarin ons is, ons elkeen se lewe oorneem en ten volle beheer. En waar die Gees my beheer, word ek deel van God se nuwe wêreld waar totaal ander maatstawwe geld. En dit laat ons “suffer” ...
• Al word ons nie fisies vervolg omdat ons Jesus-mense is nie, laat die Gees ons keuses maak wat ons ongewild maak. Die Gees-gedrewe-besluit om nie agter genot en “bling” van die God-lose-wêreld aan te veg nie, beteken self-prysgawe, self-kruisiging, self-loosheid, on-self-sugtigheid ter wille van ander. Jy begin gee tot jou eie skade; jy spandeer tyd ter wille van Hom; jy doen meer vir ander as vir jouself; jy praat meer oor Hom as oor jouself ... van nature swaar vir ons elkeen!

Is jy moontlik net ‘n bewonderaar van Jesus wat baie beïndruk is met Hom? Of is jy dalk ‘n leerling van Jesus wat baie graag meer van Hom wil hoor (sonder enige doen)?

Of is jy ‘n Jesus-mens wat sy pyn en jou eie pyn deur sy Genade-Gees hanteer!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.