Wednesday, August 21, 2013

Oordenking 25 Augustus 2013

Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 6: Die sleutel tot liefde vir jou vyand

“Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê ...” (Lukas 6: 35a)

Ons grootste uitdaging om soos Jesus-mense te lewe, is wanneer ons sleg behandel word. Daar is soveel haat in ons alledaagse lewe, dat dit so maklik is om saam met die stroom ook maar net links en regs te haat.

Ons haat die gemors wat op soveel terreine na vore kom, en ons haat veral die mense wat verantwoordelik is vir die gemors. Ons haat dit om al ewig agter ons alles te moet toesluit vir ons eie veiligheid, maar ons haat eintlik die boosdoeners wat om elke hoek en draai vir ons loer. Ons haat die onveilige paaie, maar eintlik verpes ons die onverskillige bestuurders op ons paaie. Ons haat dit om te sien hoe baie goed verval wat óns opbou, maar dis veral die onbekwame mense wat die agteruitgang toelaat, vir wie ons woedend is. Haat is naby elkeen van ons: as ek dalk valslik beweer ek haat nie, dan is daar ander wat my haat, wetend en onwetend.

God se Gees in elke Jesus-mens wil, kan en is besig om alle haat in ons in God-liefde te omskep. Hy wat God is spesialiseer en blink uit in liefde. Hy ís liefde (1 Johannes 4:8). Hy haat wel die sonde en is regverdig en straf sonde. Maar Jesus-mense se sonde is reeds klaar gestraf, klaar, afgehandel, “finito”, einde daarvan. Hoe so? Eenvoudig: Jesus, en spesifiek Jesus sterf aan die kruis as straf vir alle Jesus-mense se volledige pakkie (eintlik groot pak) sonde. Dít is liefde, dít is haat wat verander in liefde, dít is die heel enigste manier hoe óns haat in liefde sal verander:

SLEGS in die ontdekking, besef, begryp, verstaan, snap, bewus raak ... en gepaardgaande glo, glo dat God my sonde haat, glo dat God my sonde reeds gestraf het toe Jesus vir my aan die kruis gesterf het, glo dat ek reeds vergewe is, glo dat ek nie meer in haat sal, wil, kan lewe nie!

Dan eers, dan eers kyk ek met ander oë na my vyande, dan eers ontwikkel ek ‘n totaal ander houding teenoor diegene wat sleg is en slegte goed ook aan my doen. God het my onvoorwaardelik lief, sodat ek ook ander onvoorwaardelik lief kan hê, ten spyte van wat hulle ookal ... God haat steeds die sonde, waarvan haat die kern is, en Hy sál steeds die sonde/haat straf van hulle wat nie Jesus-mense is nie. Los die vergelding en wraak vir Hom ...

... wees lief vir alle mense, want ek en jy is Jesus-mense!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.