Thursday, August 21, 2014

Oordenking 24 Augustus 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 2:  Ek soek ware hoop

“... om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie ...” (Klaagliedere 3:21b-22a)

Die werklikheid waarmee ons elke dag gekonfronteer word, is nie altyd maklik nie. Sonder dat ons dikwels ‘n keuse het, loop dinge verkeerd en het ons rede om moedeloos te wees. Daar is ook mense wat voorgee dat alles “oukei” en “fine” is, en dan is dit alles behalwe so. Wat is die antwoord vir Jesus-mense om wel positief te wees oor die lewe, ten spyte van ...

Die boek Klaagliedere het ontstaan in ‘n tyd wat dit regtig baie sleg gegaan het met die volk van die Here in die Ou Testament. Die tempel in Jerusalem is geplunder en afgebreek tydens ‘n inval deur die Babiloniërs in die jaar 587 voor Christus. Hulle koning word onttroon, en die leiers en geleerdes onder die volk, word in ballingskap weggevoer. Wat het nou geword van hulle God? Nou is die troon van Dawid leeg! Die volk verloor hulle tempel, hulle koning en hulle land! Waar is God? Waar is ons hoop?

Hoor hoe erg gaan dit: “Ek is die man wat ellende belewe het ... (die Here) weier om my gebed te verhoor ... ek het al vergeet van voorspoed ... “ (aanhalings uit Klaagliedere 3). Hier word God beskuldig van alles wat verkeerd loop, want die hoop-lose skrywer het nog altyd daaraan vasgehou dat Hy alles voorspoedig sal laat verloop. En sonder dat alles weer oornag herstel, ja, eintlik is dinge steeds ellendig, kan hy sê: “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop ... ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot ... (ook uit Klaagliedere 3).

Ons het reeds met mekaar ooreengekom dat ons besef dat niemand van ons enige hoop kan plaas op geld om voorspoed te bring nie, vir niemand is goeie gesondheid gewaarborg nie, en dat ons nie op mense ons vertroue kan plaas vir ‘n vreugdevolle en kommerlose lewe nie. Die groot ontdekking in die lewe, is dat ten spyte van wat ook al verkeerd loop in jou lewe, niks aan God se kant verander nie. Hy bly getrou en Hy het ons lief. En dit is net so, die verlede wys wie Hy is. Ons geloof in Hom bevestig sy liefde vir ons. Hy is ‘n Man van sy Woord, ons hou vas aan sy beloftes.

Ware hoop het alleen met God te doen!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.