Thursday, August 28, 2014

Oordenking 31 Augustus 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 3:  Die Bron van my hoop

“Hy is my helper en my God!” (Psalm 42:12)

Ware hoop het alleen met God te doen!

Hoe dink ek oor Hom, as daar steeds hoopdiewe is: twyfel, vyande, mense wat my in die steek laat, geldprobleme, siekte, versteurde verhoudings, of ander moontlike ellende? Hoe kan ware hoop vir my iets beteken, indien daar steeds moeilike omstandighede is om te hanteer?

Die skrywer van Psalm 42 is in ‘n hooplose situasie: “Dag en nag is ek in trane ...” (vers 4); die vyande vra en spot: “En waar is jou God nou?” (verse 4,11); ‘n paar keer vra hy: “Waarom is ek so in vertwyfeling?” (verse 6,7,12); “... waarom het U my vergeet?” (vers 10). Ons weet nie presies wat die skrywer se ellende is nie, maar dit is duidelik dat dit baie sleg gaan. Én daar verander niks aan hierdie slegte omstandighede terwyl hy sekere hoopvolle ontdekkings maak nie.

Terwyl dinge steeds hooploos is, dink hy terug aan die verloop van sy lewe. Hy dink aan die verlede en hoe hy na die Here gegaan het toe dinge moeilik was. Hy dink terug aan die tye wat daar fees gevier is en die redes vir die blydskap in sy lewe. En die verrassende ontdekking: hy het dit reggekry om fees te vier, al was daar storms. En dit voel asof “U het golf na golf oor my laat slaan.” (vers 8)

MAAR die Bron van hoop, is steeds sy helper en sy God ...

... vir my en jou bly God steeds wie Hy is, niks of niemand kan dit verander nie: Hy is die lewende God, Hy is my helper en my God, my Rots, my skuiling!

Vandag leef ek Hom raak, al lyk dinge hoe sleg, want “tog sal die Here weer op ‘n dag sy trou laat blyk ...” (vers 9). “Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.” (vers 12)

Hier is die geleentheid vir elkeen wat hooploos voel: leef jou eie persoonlike Bron van hoop raak in jou eie unieke ellende, én vertel vir ander hooplose mense Wie Hy vir jou is! Raak eerstehands bewus van jou eie woorde om Hom te beskrywe, of praat die Psalmskrywer na in die woorde in sy Woord oor wie Hy vir jou is.

Laat die Gees op jou hart skrywe wie die Bron van hoop vir jou, in jou eie lewe is!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.