Thursday, January 29, 2015

Oordenking 1 Februarie 2015

Wat is egte genade?

“Almal ... word ... op grond van sy genade vrygespreek ...” (Romeine 3:23 en 24)

 Leef God se genade raak in jou lewe! Maar die vraag is, hoe doen ek dit?

 Ons hoor die woord “genade” so baie in kerklike kringe. Paulus gebruik die woord baie – aan die begin en einde van amper al sy briewe in die Nuwe Testament. Maar wat beteken die woord “genade” presies? Kan ons ooreenkom op een definisie, wat volledig beskrywe wat egte genade is? Met “egte genade” bedoel ek daardie genade wat ons as Jesus-mense spesifiek wil raak lewe in ons eie omstandighede. Dit is daardie genade waarvoor ons ‘n kanaal wil wees, na ander wat nog nie God se genade raak lewe nie. Om self hierdie genade te ervaar én ‘n kanaal daarvoor na ander te wees, wil ons graag weet wat egte genade is.

 Natuurlik kan ons slegs “genade” verstaan vanuit die Woord van God. In ‘n poging om by ‘n definisie vir genade uit te kom, kan ons verskillende waarhede oor genade uitlig:

 ·         Slegs God kan hierdie genade moontlik maak: Hy is die Gewer en Bewerker en Bewaarder en Beskermer en Bemiddelaar en Bemaker en Vervolmaker van egte genade.

·         Egte genade het direk te doen met alle mense se verlorenheid as gevolg van die sonde. Sonder egte genade, is die mens verewig verlore.

 ·         Die grootste liefdesdaad te alle tye, was die sterwe van Jesus Christus aan die kruis – om te glo dat Hy vir jou sonde gesterwe het, is egte genade.

 ·         Volledige en afgehandelde vergifnis van alle sonde deur Jesus se verdienste alleen, is egte genade.

 ·         Egte genade verander steeds voortdurend die totale lewe van elke Jesus-mens.

 Kom ons gebruik nou al hierdie waarhede om een eenvoudige definisie van genade te gee:

 Egte genade is God wat elke Jesus-mens deur sy Gees volledig verander om volmaak te word!

 Dadelik lei hierdie beskrywing van genade, tot ‘n klomp ander vrae: Wat kan ek of moet ek nie doen nie, om hierdie genade te ontvang? Hoekom stel almal nie regtig belang om hierdie God-bewerkte-genade te ontvang nie? Wat is die verskil tussen genade, liefde en goedheid wat net God kan gee? Hoekom is die pragtige skepping van God so ‘n genadelose-plek in soveel opsigte? Hoe kan elke Jesus-mens ‘n beter kanaal van egte genade wees? Kom ons kyk hoeveel van hierdie vrae en moontlik nog ander vrae oor genade, kan ons in die volgende weke antwoord.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.