Thursday, January 22, 2015

Oordenking 25 Januarie 2015

Grenslose genade!

“... sodat God ... sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is ...” (Efesiërs 2:7)

Op so baie terreine van ons lewe, lyk dit asof dinge erg verkeerd loop: die kerke loop leeg, die aarde word deur die mens vernietig, politieke geskille is aan die orde van die dag, ekonomies is baie onsekerhede, families skeur uitmekaar, persoonlike probleme word nie minder nie. In so baie opsigte is die wêreld waarin ons moet lewe, ‘n genadelose plek. Jammer vir die negatiwiteit, maar te veel hiervan is die werklikheid. En hierdie negatiewe werklikheid, maak ons baie maklik depressief en moedeloos.

Almal van ons hou op een of ander manier van goeie nuus, in die slegte dinge wat ons hoor en belewe. In tye waarin ons oordonder word deur slegte berigte en baie negatiwiteit, smag ons na enige moontlike opbouende boodskap. En as Jesus-mense wil ons mekaar moed inpraat en wil ons die positiewe invloed wees, ja, die lig in ons donker wêreld wees.

Maar selfs in die gevestigde kerk, het ons nie oor die jare daarin geslaag om goeie nuus in slegte tye op die regte manier oor te dra nie. Daar is te veel verskille binne die kerk oor so baie standpunte. Daar is so min liefde tussen kerkmense self. Die kerk is so veroordelend in die boodskappe oor die sonde en die wandade van die mensdom. Daar is heeltemal te veel skuldgevoelens en te veel wette wat oortree word. So baie kere stel ons mekaar teleur en maak ons mekaar selfs seer deur ons woorde en dade. Iets kort steeds baie drasties vir ons as Jesus-mense!

                Jesus-mense lief genade!!!

Ja, ons en alle ander mense, smag eintlik na genade! Maar wat is genade presies? Is dit nie net nog ‘n “kerk-woord” wat dogma en teorie bly nie? Hoekom ervaar ons so min genade, selfs binne die kerk, of selfs onderling tussen Jesus-mense?

Genade het volledig te doen met die goeie nuus, wat God aan ons bewys het met Jesus se volmaakte en liefdevolle verlossingsdaad aan die kruis. Hierdie goeie nuus van genade, het ‘n rykdom van fasette om raak te lewe. Die grootste en belangrikste waarheid rakende genade, is dat God die ware Gewer en Bewerker van suiwer en oorvloedige genade is! Hierdie God-gegewe-genade het geen grense in terme van hoeveelheid nie – daar is onberekenbaar baie by God self te kry. Hierdie God-gedrewe-genade is vir alle mense op aarde bedoel, ongeag wie of wat jy is, of hoe goed of sleg jy is!

                Leef God se genade raak in jou lewe – dis grensloos!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.