Thursday, January 15, 2015

Oordenking 18 Januarie 2015


Ons allerhoogste bestaansrede!

“... en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” (Filippense 1:11)

Aan die begin van ‘n nuwe jaar, is dit baie goed vir ons as Jesus-mense om die onbeweegbare en onbetwisbare fondasie van ons lewe net weer vas te maak. Ons kan vra: wat is ons belangrikste bestaansrede? Ons teksvers hierbo, is een van die mooi samevattings van die rede waarom elke Jesus-mens belangrik is. Maar hoe gebeur dit vir elkeen van ons? Hoe kan ek God se doel met my, raak lewe?

 ·         Leef God raak!

Elke Jesus-mens tel onder die gelukkigste bewoners van hierdie aarde, omdat ons die voorreg het om vir ewig en altyd aan God te behoort. Daarvoor het Hy sy enigste Seun vir ons gegee as volmaakte Verlosser. Die allerbeste Gees van God kom doen in elkeen van ons sy volledige herstelwerk, sodat ons hoe langer hoe meer raak leef wie Hy in elkeen van ons is. Ek en jy, leef en bestaan om God te ken, Hom bo alles lief te hê, en te groei in Godskennis!

 ·         Leef mede-Jesus-mense raak.

Met die groeiende bewuswording van Hom in my en in jou, kyk ons met ‘n radikale positiewe gesindheid na mekaar. In ons alledaagse lewe, bid ons vir mekaar, help mekaar waar nodig en is daarop ingestel om mekaar se lewe makliker te maak. Met egte God-liefde in elkeen van ons, leef ons spontaan en vrywillig en sonder vooroordele in liefde teenoor mekaar. Ons bestaan om te kan liefhê!

·         Leef nie-Jesus-mense raak.

Maar die goeie nuus dat God werklik met sy opregte liefde in elkeen van ons is, kan ons onmoontlik vir onsself hou. Daagliks het elkeen van ons op een of ander manier te doen met die seerkry in ander se lewens, ja, die geestelike en fisiese honger van ‘n verlore wêreld waarin ons lewe. Vandag is dit ons grootste voorreg om die honger van ander te verlig – ons het die Antwoord vir die wêreld se grootste nood: Jesus-liefde!

Hierdie is die allerhoogste rede waarom ons in 2015 hier op aarde is!

 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.