Wednesday, July 27, 2011

Oordenking 31 Julie 2011

Oordenking 31 Julie 2011
Ontspan, Hy weet alles!
“... al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” (Ps. 139:16)
Dat God alles van almal weet, lok twee reaksies uit: vrees of vertroue.
Vir die skrywer van Psalm 139 beteken dit dat hy God in alles kan vertrou. Daar is niks wat Hy van Hom kan, wil en hoef weg te steek nie. God sien deur die mens, Hy gaan oral saam met die mens, die mens kan nie wegkruip nie, elke weefsel en aartjie is vir God bekend, selfs die vyand is geen vreemdeling nie. So ‘n God hoef jy nie te vrees nie, Hy kan jou ondersoek, deurgrond, lei ...
Hoekom is sommiges bang vir Hom? Bang dat Hy alles weet? Wil hulle iets wegsteek? Dink hulle hulle kan iets wegsteek? Waarvoor wil hulle iets wegsteek? Wegkruip sal nie help nie. Weghardloop sal ook nie help nie. Leuens sorg vir groter bang wees. Lees weer Psalm 139:7-12, wegkom kan niemand nie!
Waar kom God se meesterlike kennis oor die mens vandaan? Hy is Skeppergod! Hy weef elke mens aanmekaar op ‘n onnabootsinde wyse. Niemand sal dit soos Hy kan doen nie, al het Hy self die mens hoe slim gemaak. Elke geskape mens is ‘n wonderwerk op sy eie. Lank voor X-strale en MR’S het Hy al kennis geneem van elke verborge liggaamsdeel in ons. Ons soek wonderwerke, ons kan net na onsself kyk en in verwondering saam met die Psalmskrywer voor die Wondergod neerval!
En dan beroof ons God van die vryheid wat Hy aan elke mens gegee het, met ons verstaan oor ons lewensdae op aarde. Hy weet van elkeen van ons vandat ons ouers die genade ontvang het, dat konsepsie plaasvind, maar die daad was hulle vrye wilsbesluit. Van geboorte af is elkeen ‘n vry mens wat sy eie lewenskeuses maak. Die gelowige glo van harte dat hy deur die Gees in keuses gelei word, of ten minste bygestaan word, maar dit is nie altyd gewaarborg dat hy die regte keuses maak nie. Ons maak verkeerde besluite as gelowiges, tog staan die Here by ons al ons lewensdae ... tot op die laaste dag, wanneer dit ookal sal wees.
Daarom pleit die skrywer: “Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Ps. 139: 24)
Doom Charl

Wednesday, July 20, 2011

Oordenking 24 Julie 2011

Oordenking 24 Julie 2011
Hoe lyk Hy in jou vir ander?
“Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.” (2 Kor. 3:18b)
DIT is geestelike groei! DIT is heiligmaking! DIT is ‘n dieper spiritualiteit!
Verlang, begeer, vra, bid, smeek, smag, soek ... jy opreg hierna?
“Uit onsself is ons nie in staat ... Ons bekwaamheid kom van God ... Dit doen die Here wat die Gees is.”
(2 Kor. 3:5a en c; 3:18d)
So help een van die ontvangers van die oordenking my om geestelike groei beter te verstaan:
As jou kind gebore word, is jy as ouer oorweldig deur ’n gevoel van liefde, beskerming en vertroeteling, maar die kind moet leer wat liefde is. Deur jou kind se ontwikkeling as peuter, kleuter en jong kind, is dit vir ouers nodig om die kind in liefde te straf om sekere beginsels by die kind tuis te bring. Soos die kind ouer word, ontwikkel wedersydse respek en liefde, en is straf al hoe minder nodig. Later kan jy net jou kind vermanend aanspreek en dan reageer jou kind vanuit dit wat in sy hart is. As jou kind volwasse is, is dit ouers se verwagting en hartsverlange dat jou kind jou liefde met wedersydse liefde sal beantwoord.
Geloof gaan deur soortgelyke groeifases: God se Gees skenk geloof, wedergeboorte vind plaas, oefening in geloofsgehoorsaamheid deur God se Woord is nodig, God se liefdesdade word op jou hart geskrywe, en so word God se manier van lewe in jou al hoe meer ‘n spontane lewenswyse!
Coenie Burger beskryf dit as ‘n houding of ingesteldheid waarmee ons die genade wat die Here aan ons gee, ontvang en kanaliseer sodat dit tot egte lewensvernuwing kan lei. God gee wat Hy vra, Hy soek net ‘n oop kanaal, ‘n gewillige hart, ‘n leerbare gees, ‘n diensbare instrument – so gaan Hy voort met sy koninkrykswerk in en deur ons. En intussen sorg Hy vir die groei, op sy manier en op sy tyd, deur sy Gees.
??????? Wil jy groei? Vra die Gees om jou te bly verander, Hy doen dit graag!
“Ons lyk al hoe meer soos kinders van God. Dit is die Here, Hy wat die Gees is, wat ons so verander.”
(2 Kor. 3:18 uit bybel@kinders)
Doom Charl

Thursday, July 14, 2011

Oordenking 17 Julie 2011

Oordenking 17 Julie 2011
Aanneemlik vir U, Here, asseblief!
“Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.” (Psalm 19:15)
Hoekom loop so baie van ons met skuldgevoelens rond? Hoekom dink so baie mense hulle is nie goed genoeg vir die Here nie? Wonder ons nie almal of ons aan die vereistes van die Here voldoen nie? Tussen ons gewete en sy gebooie voel ons ellendig skuldig!
Net in die afgelope week loop ek by verskillende geleenthede twee mense raak wat spontaan begin verduidelik hoekom hulle Sondag moes gewerk het, so asof hulle daarmee wil bely dat hulle die sabbatswet oortree het en dat dit nou ewig teen hulle name opgeteken gaan staan. Het die Heilige Gees dan nog nie sy nuwe wet op hulle harte geskrywe wat hulle vry maak nie? Is Sondag dan nie opstandingsdag vir hulle nie, of het hulle nog by die Joodse sabbat vasgeval? Sondag is allermins bedoel om ons skuldig te laat voel, eerder bevry en vol lewe en verryk te laat voel, vol nuwe lewe vir die werksweek wat begin! Daarom is dit goeie gebruik om ons geestelike batterye te laai deur eredienste by te woon en liggaamlik te herstel vir die week wat begin.
Terug by Psalm 19: hoe sê en dink ek wat aanneemlik is vir die Here? Twee maniere:
Eerstens: “Die hemel getuig ... sonder woorde ...”
So eg uit ons eie belydenis vertel God se skepping vir ons wie God is en wat vir Hom belangrik is. “Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien ...” (NGB art 2). Niemand het ‘n verskoning dat hulle nie weet wie God is nie, die skepping bewys God (Rom. 1:12). Vir ons as gelowiges laat die skepping ons net meer en meer in verwondering staan voor God. En dit begin sommer by die onmoontlike herhaalbare wonder van ons eie skepsel wees!
Tweedens: “Die woord van die Here ... gee insig ...”
En dan het ek ‘n leerbare gees nodig, ‘n behoefte om die Here te ken en beter te leer ken. En daarvoor het ek sy Woord. ‘n Bevrydende Woord, lewe-gewende Woord, nie-veroordelende Woord, verlossende Woord, altyd nuwe Woord, volmaakte Woord, volledige Woord, moeite werd Woord, ... dit is God se Woord oor God self. Sy Gees kom skryf sy Woord op ons harte, en daardie Woord is aanneemlik, want dit kom van Hom. “... maak Hy Hom deur sy ... Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend ...” (NGB art 2).
Sy Skepping en sy Woord – in soverre dit Syne is en solank dit van Hom kom, is dit vir Hom aanneemlik!
• Hou op skuldig voel: Jesus het jou skuld 100% gedra! Jy IS aanneemlik vir Hom!
• Jy IS goed genoeg vir Hom! Hy skryf sy volmaakte Woord op jou hart.
• Ons Rots en ons Verlosser weerhou ons van onwetende en opsetlike sondes! DANKIE!
Doom Charl

Thursday, June 30, 2011

Oordenking 3 Julie 2011

Oordenking 3 Julie 2011
Mens-wees in aksie
“Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.” (Ef. 3:18)
Op die oog af lyk dit nie asof alle mense ewe ernstig na die sin van die lewe vra nie. Tog dink ek dat ons almal op een of ander stadium wonder oor die betekenis van ons hier-wees op aarde. Hoekom is ons hier? Wat maak ons hier? Wat is God se doel met ons hier op aarde? Doen ek die regte dinge vir Hom op hierdie moment van my reis op aarde? Wat kan ek doen om my aardse reis meer te geniet? Daar is verseker meer as een antwoord op die vraag na die sin van ons aardse lewe.
Een moontlike antwoord vir ons aardse reis, is geleë in die verstaan van ons mens-wees in God se oë. God dink so baie van die mens dat Hy hom as sy verteenwoordiger op aarde geplaas het (Gen. 1:27). Hy gaan nog verder wanneer Jesus as volledige mens op aarde gebore word (Matt. 1:18). En na Jesus se hemelvaart, sit God sy werk op aarde voort deur mense (Hand. 1:8). Om die waarheid te sê, die mens is net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak (Ps. 8:6). Ons Skepper het ‘n ordentlike wese gemaak in elke mens, Hy het nie ‘n fout gemaak nie, Hy maak nie foute nie.
Maar ongelukkig maak die mens foute. Die mens is met sy eie besluitnemingsvermoë gemaak. Dit is nog onverstaanbaar waarom God hierdie vryheid van keuse vir die mens gee. Alles wat verkeerd loop op aarde, het te doen met die mensdom wat verkeerde besluite neem. Niemand sal my oortuig dat God ‘n aandeel het aan die chaos wat daar op aarde heers nie. Miskien sal ons eendag verstaan waarom die mens nie vir ewig in die paradys kon bly nie. Moontlik is daar slim mense met redes hiervoor.
Weer terug by mens-wees in God se oë: Hy het die mens goed gemaak en Hy het die mens met foute en al baie lief. So lief dat Hy Jesus vir die redding van die hele mensdom gegee het. Hy wil sien dat alle mense gered word, maar alle mense kies nie sy Redder nie – en dit is hulle skuld, nie Syne nie! Jesus het sy lewe aan die kruis gegee vir alle mense, Hy het sy lewe vir mens-wees gegee. Dit was Jesus se mens-wees in aksie: Hy gee sy lewe vir ons! So wyd en ver en hoog en diep strek die liefde van Christus!
En hoe gee ons dan sin aan ons eie mens-wees? In ons eie mens-wees in aksie, kyk ons met God se oë as sy verteenwoordiger op aarde, na alle ander mense. Dit is deel van die evangelie: om met liefdevolle omgee na ander mense vol foute te kyk en my lewe te gee vir ander mense. Selfloos lewe ek as mens in belang van ander mense. Deur ons as geredde mense strek Jesus se liefde wyer, en verder, en hoër, en dieper na ander mense. So is ek saam met Jesus op reis op aarde – betekenisvol lewe ek dan eers!
Doom Charl

Wednesday, June 22, 2011

Oordenking 26 Junie 2011

Oordenking 26 Junie 2011
‘n Vreemde, maar wonderlike reis
“In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.” (Efesiërs 3:12)
Dit kan maklik gebeur dat jy siek en ongelukkig voel oor jou persoonlike omstandighede omdat jy die verkeerde verwagting van die lewe het. Jy wou nou al ‘n lekker rustige lewe op ‘n veilige plek gehad het. Jy word omgekrap en ontsettend negatief oor elke klein dingetjie of dan selfs groot ding wat verkeerd loop in jou lewe. Jy sien moeilik die positiewe in jou of in ander se omstandighede. En om alles nog te vererger, lyk dinge in die kerk en in die land erg deurmekaar en op die afdraande pad.
Ons verstaan nie dat ons nou nog op reis is na ons eintlike bestemming nie. Ons leef asof hierdie aardse lewe, en net hierdie lewe vol stryd en probleme die eindpunt is. Ons besef nie dat ons nie te veel luukses in hierdie lewe moet verwag nie. Ons geniet nie ons aardse reis met die regte benadering nie. Te veel kere gaan ons gesprekke oor hoeveel beter die verlede was. Indien ons nie ‘n lekker verlede het om na te verlang nie, dan verlang ons na ‘n beter toekoms. En in die proses mis ons die lekker van vandag.
Dan is daar ander van ons wat doodbang is vir die reis, omdat ons dink ons is alleen en moet in eie krag allerhande gevare en onsekerhede trotseer. Ons maak die slimste planne om nie van ander afhanklik te wees nie. As ek maar net genoeg geld bymekaar kan maak (en min mense weet wat genoeg is!), as ek maar net gesond genoeg kan bly, as ek maar net my kleinkinders kan sien groot word, as ek maar net ... My lewensleuse word “solank ek net self sonder ander kan ...”
Hoekom verstaan ons nie dat Jesus saam met ons op pad is nie? Hierdie Jesus-reis kan daarom op ‘n vreemde manier goed en aangenaam en wonderlik wees. Hy word al hoe meer die luukse vir my op hierdie onder weg wees. Dit is ‘n vreemde reis want as gelowige kind van Hom, is ek ‘n vreemdeling op aarde op pad na my ewige bestemming by God. Maar vandag wil Hy die reis vol lekkerte maak, dit is ‘n voorreg saam met Hom, die genot is nou en hier in Hom, want Hy is nou en hier by my!
Doom Charl

Sunday, June 12, 2011

Oordenking 19 Junie 2011

Oordenking 19 Junie 2011
Respek vir pa en ma en ander
“Eer jou vader en jou moeder ...” (Eks. 20:12a)
Verbeter ander se lewe, maak ander ryker, gee betekenis aan almal om jou se lewe – dit is die heel belangrikste motivering agter die wet van die Here. Hoe meer die Gees jou laat groei in geloofsgehoorsaamheid, hoe lekkerder maak dit jou en almal om jou se lewe.
Die belangrikste oefenskool vir lewenswaarhede, is in die gesin. Binne die intieme eenheid van die gesin word geloof gevorm. Ouers en kinders leef hier in verantwoordelikheid teenoor God. Hier word die allerbelangrikste gesagsverhoudinge gevorm. Die gesin, waarvan die huwelik wesentik deel is, is die belangrikste verband in die samelewing. So, wanneer alles in die gesin gesond en in orde is, het dit ‘n direkte positiewe invloed in die samelewing.
Die woorde “eer, respek, ontsag, gesag” het almal te doen met die vyfde gebod, maar die vyfde gebod gaan oor baie meer as kinders wat aan hulle ouers gehoorsaam moet wees. Die hele samelewing is afhanklik van minderes wat respek moet toon aan meerderes. Hierdie lewenshouding is slegs moontlik waar die nuutgemaakte kind van God in voortdurende ontsag binne God se teenwoordigheid lewe. Waar ek as mens my nietigheid teenoor God se grootheid elke oomblik beleef, kan ek nie anders as om teenoor Hom met die hoogste respek te lewe nie.
Die belofte van die vyfde gebod, “dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee”, behels meer as die letterlike betekenis daarvan. In die konteks van die Bybel beteken dit ‘n gelukkige en vredevolle lewe vir jou en almal saam met jou. Wedersydse respek in die gemeenskap, beteken dat ons vir mekaar ruimte gee om elkeen gemaklik te kan lewe. Ja, selfloos is elkeen ingestel op ander se behoeftes en nood. Ons help mekaar waar nodig, ons deel met mekaar en ons deel uit. Naasteliefde en respek vir ander, is binne die christelike taal sinonieme.
Hierdie respek begin in die huis by elke ouer. Waar pa en ma oor God met ontsag praat, in die huwelik mekaar met liefdevolle eer hanteer, self hulle kinders met respek opvoed, en elke ander vorm van gesag herken, word dit aan die kinders oorgedra. Vanuit die Vaderskap van God, het gelowige ouers die geleentheid om as God se hande teenoor hulle kinders op te tree.
Prakties positief:
• Ouers, ook enkelouers, praat mooi voor alle kinders oor God, die Bybel en die kerk;
• Wees ‘n voorbeeld in die hantering van alle vorme van gesag;
• Pa en ma is die ouers van hul kinders, nie hulle maats nie (daar is ‘n verskil!);
• Oupas en oumas se invloed in kleinkinders se lewenshouding is van groot belang;
• Alledaagse optrede teenoor alle ander mense wat ons pad kruis, dwing respek af;
• Wedersydse respek geld regdeur al die lewensfases van elkeen in die huisgesin;
• Om mekaar te eer, is om God te eer!
Doom Charl
NS Gelukkige vadersdag

Tuesday, June 7, 2011

Oordenking 12 Junie 2011

Oordenking 12 Junie 2011
Pinksterkerk in 2011
“En onthou: Ek is by julle al die dae ...” (Matt. 28:20b)
Hoor, glo en leef dit – God is met sy Gees altyd by ons, ook in Junie 2011!
• Hoor dat ons aan die magtigste kerk in alle tye behoort, want ons het die Almagtige by ons!
• Glo dat Christus self sý kerk laat herlewe, want Hy het sý eie lewe daarvoor opgeoffer!
• Leef deur die opstandingskrag van die Heilige Gees wat in sý wedergebore kerkmense uitgestort is!
Hoe sal ons graag wil sien dat sý pinksterkerk ná pinkster 2011 lyk?
1. God, in sy liefde en grootheid, is alles in sý kerk;
2. Niemand binne of buite sý kerk, voel uitgesluit van sý liefdesruimte in sý kerk nie;
3. Almal in sý kerk geniet die voorreg om saam sý dienswerk te doen!
Te idealisties? Menslik gesproke is so ‘n kerk vandag onmoontlik. Tog is die teenwoordige lewendmakende volmaakte Gees van God nog altyd juis hierheen met sý kerk oppad!
Hoe help die magtige Gees ons as sý kerk na die einddoel?
• Hy rus gewilliges toe met sý bekwaamheid en sý bewoëndheid;
• Hy maak die deure van sý kerk oop vir stukkende twyfelaars;
• Hy maak sý kerk se oë en harte oop vir die nood van buitestaanders;
• Hy wil jou baie graag in sý kerk gebruik net soos Hy jou wil hernuwe;
• Hy stort sý liefde uit, om oor te loop uit sý kerk uit, na ander;
• Hy stuur sý kerk met sý lig, in die donkerte in, om nuwe lewe te bring;
• Hy sorg vir sy eie eer in sý kerk totdat Hy weer kom!
Geniet elke oomblik van pinksterkerk wees waar Hy alles in almal wil wees!
Doom Charl