Tuesday, April 17, 2012

Oordenking 22 April 2012

Oordenking 22 April 2012

Gebed: wanneer?

“Bid gedurig.” (1 Tessalonisense 5:17)

Kom ons spandeer nog ‘n bietjie tyd in die skool van gebed. Die vorige keer het ons bewus geword dat ons elkeen se eie unieke persoonlike belewenis van wie God in ons lewe is, bepaal hoe ons met Hom kontak maak in ons gebede. Nou wil ons verstaan wanneer behoort ons te bid.

Dit word algemeen aanvaar dat daar gebid word voor ete, in die binnekamer tydens stiltetyd, aan die begin en einde van vergaderings of sommige byeenkomste, by die siekbed en in ander tye van nood. In die kerk was daar vir baie jare weekliks bidure gehou wat baie getrou deur ‘n groepie lidmate bygewoon is. Daar word nog weke van gebed aan die begin van die jaar en later in die jaar pinksterdienste in gemeentes gehou, maar dan word dit nie regtig meer van persone verwag om hardop in die kerk voor ander te bid nie.

Uiteindelik kan ons bewus word dat gebed nie beperk is tot spesifieke tye of geleenthede wat daar hoorbaar gebid word nie. Aangesien elke gelowige se lewende verhouding met die Here die belangrikste is, is gebed die kanaal of die medium of die kontak deur middel waarvan die Here en die gelowige aan mekaar verbind is. Hierdie verbintenis kan nooit iets wees wat kom en gaan nie, dit is vas en permanent. Indien ek as sondaarmens tot bekering gekom het, word ek vir ewig aan God verbind deur die krag van God se Gees in my. Soos Johannes sê: “Hy in my en ek in Hom”.

Die Geesvervulde gelowige leef ‘n gebedslewe in die teenwoordigheid van die Here sewe dae van die week 24 uur van die dag. Tydens hierdie 24 uur van ‘n dag, kan daar baie dinge met enige kind van die Here gebeur. Daar kan goeie en slegte goed gebeur waarvoor daar stil of hardop gebid word. Ander tye van die dag gaan verby sonder enige spesifieke bewuswording dat die Here daarin betrokke is nie (maar Hy ís). Soms (en net soms) gebeur daar uitsonderlike dinge in ‘n dag wat nie toevallig is nie, en wat net aan die Here se betrokkenheid en liefdevolle ingryping toegeskryf kan word.

So het elke kind van die Here elke dag die geleentheid om bewustelik en onbewustelik in kontak met sy Here te lewe. En dan tydens die dag of die nag, enige tyd, met die Here te praat. Waaroor? Dit sal moet wag tot volgende keer.

Doom Charl

Wednesday, April 11, 2012

Oordenking 15 April 2012

Oordenking 15 April 2012

Gebed: ek en Wie?

En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: Vader ...” (Lukas 11:2a)

Kom ons gaan sit in die volgende paar weke saam met Jesus se dissipels, by sy voete dat Hy vir ons meer leer oor gebed. Gebed is so ‘n deel van ons asemhaling in ons verhouding met die Here, dat daar sekerlik nog nuwe ontdekkings is wat ons daaroor kan maak.

‘n Vraag wat ek al gekry het, wat ek eerste wil hanteer, is: Wie spreek ek aan in gebed? Praat ek met die Vader soos in die Ons Vader-gebed, of praat ek met Jesus met Wie ek ‘n verhouding het, of praat ek met die Heilige Gees wat in my werk?

Voordat ons hierdie vraag kan antwoord, moet ons eers uitklaar Wie God vir ons is. Ek gaan uit van die standpunt dat elkeen van ons, ons eie unieke “prentjie” van God het. Juis omdat God elkeen van ons baie uniek gemaak het, vestig Hy deur sy Heilige Gees met elkeen van ons ‘n baie eiesoortige unieke verhouding, waarin elkeen van ons God op ons eie unieke manier belewe. In hierdie unieke belewenis wat elkeen van ons dan van God het, is dit vir ons baie moeilik om te onderskei wanneer het ons te doen met die Vader, of wanneer het ons te doen met Jesus, of met die Heilige Gees.

Dit bring my tot die gevolgtrekking dat ons nie werklik kan onderskei wanneer ons met watter Een van die Drie-eenheid te doen het nie. God is Een en werk as ‘n Eenheid, ook in elkeen van ons. Al verstaan ons dit nie 100% nie, ons bely dit en kan dit glo: God Drie-enig werk uniek in elkeen wat in Hom (nie “Hulle” nie) glo.
Hiermee het ek die vraag, wie spreek ek aan in gebed, beantwoord: God Drie-enig, of enige Een of Naam wat deel is van die Eenheid. Deur net die Vader, of net vir Jesus, of die Here, of watter Naam van God, in my gebed te gebruik, maak nie werklik saak nie.

Wat wel saak maak, is dat ek met diep ontsag met God sal praat in my gebede. Dit is selfs beter om nie sy Naam uit te spreek nie, as om sy Naam te veel te herhaal. Vanuit my innige ervaring van Wie God in my hart en lewe is, maak ek deur gebed intiem kontak met God.

Doom Charl

Tuesday, April 3, 2012

Oordenking 8 April 2012

Oordenking 8 April 2012

Die opgestane Jesus se woorde volgens Lukas

“Vrede vir julle!” (Lukas 24:36c)

Die belangrikste GEBEURTENIS in die geskiedenis het reeds plaasgevind! Die belangrikste gebeurtenis het met die belangrikste PERSOON plaasgevind! En die belangrikste Persoon het die belangrikste BELOFTE uitgespreek!

Die OPSTANDING van Jesus Christus ons Here, dit is die enigste Seun van God wat deur sy Vader uit die dood opgewek is, is die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom! Dat dit die ware Seun van God is wat uit die dood opgestaan het, maak van Hom die belangrikste mens wat ooit op aarde was of is. En wanneer die belangrikste Persoon van alle tye ná sy opstanding uit die dood, ‘n belofte maak, dan is dit die belangrikste belofte van alle tye!

Net Lukas beskryf hoe die twee Emmausgangers saam met die opgestane Jesus geloop het en Hom eers herken het toe Hy brood saam met hulle gebreek het. Daarna verdwyn Jesus skielik, maar verskyn net so skielik toe die elf dissipels en ander mense bymekaar was om te praat oor Jesus se verskyning na sy opstanding. En dan maak Hy hierdie ongelooflike belangrike belofte: “Vrede vir julle!” Die arme dissipels skrik so erg dat hulle dink, hulle sien ‘n spook. Dit is moeilik om presies te verklaar waarom hulle Hom nie dadelik herken nie, maar dit is moontlik dieselfde rede waarom die Emmausgangers Hom nie herken het nie. Net so vreemd is die ete saam met hulle, wat ook in Johannes beskryf word.

Vir ons is dit belangriker om die betekenis van die opgestane Jesus se vrede-belofte te verstaan:
Soos wat Jesus die 72 in Lukas 10 twee-twee uitgestuur het om die groot oes te gaan insamel en hulle “vrede vir hierdie huis” elke keer moes gaan toewens, doen Hy dit nou weer. Die verskrikte en bang groepie dissipels kry opnuut opdrag om “bekering en vergewing van sondes aan al die nasies te gaan verkondig” (Lukas 24:47). Vir Lukas se oorgang van sy Evangelie na die boek Handelinge, wat hy ook geskrywe het, is die voortgaande verkondiging van die evangelie baie belangrik.

Die evangelie hou die belofte van vrede in, vrede tussen God en die sondaar mens, vrede wat alle verstand te bowe gaan, vrede wat twyfel laat verdwyn, vrede wat vrees verdryf, vrede wat tydloos is, vrede wat die chaotiese wêreld nie ken nie, vrede wat die lewende Een belowe!

Die belangrikste Een het opgestaan sodat ons VREDE kan lewe!

Doom Charl

Wednesday, March 28, 2012

Oordenking 1 April 2012

Oordenking 1 April 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (6)

Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!” (Lukas 22: 70b)

εγώ είμι Dit is die Grieks vir Jesus se woorde “Ek is”. Verseker die kragtigste uitspraak wat daar in die Bybel is oor Jesus se ware karakter. Hierdie “Ek is”-uitspraak neem ons terug na die God van die Ou Testament en dit leer ons meer van Christus in die Nuwe Testament. Reeds in Eksodus 3:14 stel God Homself aan Moses voor as “Ek is wat Ek is”. En in Johannes kom ‘n hele versameling “Ek is”-uitsprake voor, soos onder andere “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6).

Hier in Lukas 22 verklaar Jesus ondubbelsinnig teenoor die Joodse godsdienstige leiers: “Ek ís die Seun van God! Ek ís die lank verwagte Messias!” Hierdie twee uitsprake, wat vir ons geloofswaarhede is, word teen Jesus gebruik as godslastering. Nadat Hy self godslasterlik behandel is deur diegene wat Hom gevange geneem het, word Hy van godslastering beskuldig deur die Joodse leiers. Sonder dat die Joodse leiers werklik besef met wie hulle te doen het, al sê Hy dit uitdruklik vir hulle, is hulle tevrede dat hulle ‘n rede gevind het om Hom skuldig te vind.

Moontlik vra jy ook: “Wie is u, Jesus?” Dan antwoord Hy:
• Ek is die Een wat in liefde vir JOU na hierdie aarde toe gekom het!
• Ek is die Een wat onskuldig tot die DOOD veroordeel is in jou plek!
• Ek is die Een wat die lydensweg na Golgota geloop het vir AL jou sondes!
• Ek is die Een wat aan die kruis gesterf het om vir ALTYD oorwinning oor alle boosheid te bewerk!
• Ek is die Een wat op die derde dag uit die dood opgestaan het sodat jy kan LEWE!
• Ek is die Een wat steeds elke dag deur Ons Gees jou lewe NUUT wil maak!
• Ek is die Een wat jou kom haal wanneer Ek WEER KOM!

Ken jy hierdie Jesus? Hy is die Woord en sy Woord is die lewe. Lees dit, glo dit, en jy sal Hom leer ken!

Lees jy jou Bybel? Hoeveel tyd spandeer jy alleen in die teenwoordigheid van die Here? Hoe belangrik is dit vir jou om geestelik te groei? Hoe graag wil jy dat Jesus jou ook beter leer ken?

Doom Charl

Thursday, March 22, 2012

Oordenking 25 Maart 2012

Oordenking 25 Maart 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (5)

“Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk.” (Lukas 22:61a)

Al vier Evangelies berig oor Petrus wat Jesus verloën het in die nag waarin Jesus gevange geneem is, voordat die haan gekraai het. Hoekom is dit slegs Lukas wat vertel dat Jesus omgedraai en Petrus aangekyk het, nadat dit gebeur het? Een moontlikheid is dat Jesus te ver van Petrus was om hoorbaar vir hom iets te sê, maar dat Jesus se kyk alles gesê het wat nodig was in daardie omstandighede. Wat het daardie kyk van Jesus vir Petrus gesê?

• “Ek het gesê, jy gaan My verloën!” Amper vermakerig. Met daardie kyk, wys Jesus vir Petrus dat hy uitgevang is. Hy is toe nie so lojaal soos hy gedink het nie. Nee, drie keer ontken hy dat hy vir Jesus ken. En nou het Jesus hom uitgevang. Nee, daardie kyk kon geensins vermakerig gewees het omdat Petrus uitgevang is nie. Jesus is nie so nie, Hy was nie so nie, en Hy is nie nou so nie!

• “Hoekom laat jy My so in die steek wanneer Ek jou die nodigste het?” Veroordelend kyk Jesus na Petrus. Petrus ontken openlik en hoorbaar dat hy Jesus nie ken nie. In die ander Evangelies vloek hy selfs diegene wat beweer dat hy een van Jesus se volgelinge is. Nee, Jesus het nie hier veroordelend na Petrus gekyk nie. Hý is hier die Een wat onskuldig veroordeel gaan word.

• “Ek maak op jou staat, Petrus!” So asof Jesus in daardie kyk vir Petrus wil teregwys. Lukas het geweet hy gaan beskryf hoe die eerste gemeente in Handelinge onder Petrus se leiding gaan begin. Jesus het dit ook geweet. Nee, teregwysing pas nie in hierdie konteks nie.

• “Ek is lief vir jou, Petrus!” ‘n Kyk met ‘n liefdesverklaring in baie moeilike omstandighede. Jesus is verseker daartoe in staat. Moontlik kon sy liefde, vir Petrus in trane laat uitbars het.

• “Dink aan my, Petrus.” ‘n Kyk vol hartseer en pyn, en vir ‘n oomblik sien Petrus Jesus se pyn. Vir ‘n oomblik kom Petrus naby genoeg aan die lydende Jesus om sy pyn raak te sien. En Jesus se pyn veroorsaak dat Petrus bitterlik huil. Die oomblik toe die haan kraai, sien ons in Jesus se oë die pyn wat Hy moes verduur vir die sonde van die wêreld. So word Jesus se kyk, uiteindelik ‘n kyk vir elkeen van ons!

Doom Charl

Thursday, March 15, 2012

Oordenking 18 Maart 2012

Oordenking 18 Maart 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (4)

Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!” (Lukas 22:51a)

Jesus stop onmiddellik enige moontlike fisiese geweld. Kort tevore is daar met die dissipels gepraat oor swaarde koop, en die oomblik toe die slaaf van die hoëpriester se oor afgekap word, stop Jesus dit met ‘n duidelike opdrag: “Hou op daarmee!”

In al vier evangelies word vertel hoe Judas vir Jesus in Getsemane verraai het. Dit is weer Johannes wat dit heelwat anders vertel: hy gee die naam van die slaaf wie se oor afgeslaan word, naamlik Malgus; en hy sê ook dit was Petrus, wat dit gedoen het.

Maar ons aandag is by Lukas se laaste woorde van Jesus. Dit is net in Lukas waar Jesus die fisiese geweld stop met die spesifieke woorde: “Hou op daarmee!” Die betekenis kom neer op: “Laat Ek maar gevang word, moet hulle nie keer nie.” Jesus het geweet dat Hy die lydensweg moet loop. Sy gevangeneming in Getsemane was deel van sy lyding. Dit is dan hier waar “een van die twaalf” Hom met ‘n soen verraai het!

Dit is net Lukas wat vertel dat die slaaf se oor dadelik deur Jesus aangeraak en genees is. Hierdie wondergenesing word deur Lukas simbolies aangewend om aan te dui dat dit deur Jesus alleen is dat daar geestelike genesing kan wees. Deur sy lyding en uiteindelike vergifnis, draai Hy die booshede van mense om. Jesus speel hier die hoofrol, in elke toneel doen Hy dit, Hy doen dit vandag ook.

Kom ons maak dit vandag persoonlik! Waar staan jy tydens Jesus se gevangeneming? Hier is ‘n paar moontlikhede:

• Is jy dalk deel van die klomp mense wat Jesus kom vang het? Dit beteken jy het ‘n stok of ‘n swaard in die hand omdat jy jou vyand verkeerd aanpak. Vir jou sê Jesus: “Hou op daarmee!”

• Is jy dalk ‘n Judas wat Jesus met ‘n soen verraai? Jy ken al die regte antwoorde, maar jou hart is glad nie daarin nie. Vir jou sê Jesus: “Hou op daarmee!”

• Is jy dalk van die godsdienstiges wat dag vir dag saam met Jesus in die tempel is? Dit beteken jy is deel van die kerngroep van die gemeente, maar jy het nog nie ‘n openheid om moeite te doen met die nuwe mense in die gemeente nie. Vir jou sê Jesus: “Hou op daarmee!”

Doom Charl

Thursday, March 8, 2012

Oordenking 11 Maart 2012

Oordenking 11 Maart 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (3)

Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” (Lukas 22: 46)

Nog ‘n paar treë verder saam met Jesus op sy lydensweg, nou in Getsemane in, nog ‘n tree nader aan baie groter drama wat kom!

By hulle aankoms in die tuin, kry die dissipels opdrag om te bid. Jesus sonder Homself klipgooi van hulle af om self te bid. Hy smeek by sy Vader dat die lydensbeker by Hom weggeneem word, as dit sy Vader se wil is. ‘n Engel uit die hemel kom Hom versterk, Hy bid nog ernstiger en sy sweet val soos bloeddruppels op die grond. Intens, dramaties, traumaties – Jesus kry bitter swaar, die emosionele pyn moes onbeskryflik erg gewees het, maar die eintlike stryd is geestelik. Weer word die opdrag aan die dissipels om te bid, herhaal.

Die intensiteit van die geestelike stryd kan uit die volgende afgelei word: in die vorige gedeelte moes die dissipels swaarde koop vir die stryd en in die volgende gedeelte probeer hulle vir Jesus veg met ‘n swaard. Tussenin kry die dissipels twee keer opdrag om te bid en tussen hierdie twee gebedsopdragte, bid Jesus so ernstig dat sy sweet soos bloed op die grond val.

Hoekom is hierdie laaste woorde van Jesus so spesiaal?
• Dit was die laaste keer wat Jesus alleen met sy dissipels gepraat het;
• Jesus se geestelike stryd het te doen met ons geestelike stryd; en
• Jesus se opdrag om te bid geld ook vir ons vandag.

Kom ons maak die sprong na vandag: daar is vandag ook ‘n geestelike stryd wat woed. Hierdie stryd is teen ons geloof in Jesus Christus gerig, dit is teen die kerk van Jesus, dit is teen alles wat van God af is! En ons veg met God aan ons kant in hierdie stryd deur lewende kontak met God te hou. Hierdie kontak hou ons met Hom wanneer ons bid. En wanneer ons bid, word ons meer en meer deel van God se daaglikse stryd teen die booshede van ons dag.

Soos Paulus ons herinner in Efesiërs 6:12, ons stryd is teen die bose magte van hierdie sondige wêreld. En die enigste manier om onsself te beskerm en deel van die wenspan te wees, is vanuit ‘n lewende verhouding met die oorwinnende Jesus wat vir my gekruisig was.

Doom Charl