Wednesday, May 29, 2013

Oordenking 2 Junie 2013

Oordenking 2 Junie 2013

“Let op, Ek is!”

“Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”” (Eksodus 3:14)

Net nou die dag beskuldig ‘n nie-teoloog ons predikante dat ons geneig is om te sê in wie en wat ons moet glo, maar selde uitkom by hoe ons moet glo. Een moontlike rede wat ek self moet gee waarom ek wegskram van die hoe, is die gevaar dat dit ontaard in ‘n lysie van pligte vir Jesus-mense, amper soos ‘n lysie van moets en moenies. Jesus-mense is juis vrygemaak van enige vorm van dwang, verdienste en prestasie, want Jesus het reeds aan al die eise wat God stel, volledig voldoen. Tog wys Jakobus daarop dat geloof sonder die hoe of die doen dood is, vir hom is dit soos ‘n liggaam wat ophou asemhaal (Jakobus 2:26). Daarom is die hoe en die doen van geloof ‘n sigbare bewys dat jy wel ‘n Jesus-mens is. En juis deur die sigbare geloof, is daar groei en nuwe ervaringe in jou verhouding met God en met ander mense. Kom ons probeer in die volgende paar weke “doen-dinge” vir Jesus-mense beter verstaan.

Die eerste “doen-geloof” wat ek baie van bewus is, is die 24/7 teenwoordigheid van God in my lewe. Moses ontdek Wie God is by die brandende doringbos op Horeb, die berg van God. Vir Moses is Hy slegs daar teenwoordig, maar in God se bekendstelling van Wie Hy is, is daar meer van God as wat Moses besef. In die Ou Testament lyk dit asof God se teenwoordigheid beperk is tot sekere plekke of gebeurtenisse soos die berg van God, die wolk- en die vuurkolom tydens die woestyntog, die ark in die tabernakel en uiteindelik in die tempel in Jerusalem. Daar is ook ander verskyninge van die Here aan profete of ander Bybelfigure.

Maar toe kom die mens Jesus, wat ook volledig God is, na ons aarde toe. En Hy word die groot “Ek is” ... die lig vir die wêreld; die ware wingerdstok; die brood van die lewe; die weg en die waarheid en die lewe ... (Johannes-evangelie). En dan word die Heilige Gees in al sy volheid op Pinksterdag uitgestort op ons gebroke aarde om in elke Jesus-mens permanente woonplek te maak. Tot hier weereens net in Wie en wat ons glo, en niks hoe nie.

Hier word die hoe, “let op”! Amper soos skrik wakker, maak oop jou oë, skakel alle sensors aan, wees net ingestel, want God is steeds soos vir Moses, ook vir ons “Ek is”. Hy het nog nooit verander nie, al wat kan verander is ons oplettendheid na Hom. Let op hoe Hy in die groot en klein dingetjies in jou lewe ‘n verskil maak; let op hoe Hy jou dra deur moeilike tye; let op dat jou innerlike vrede net van Hom kom; let op dat Hy vir jou goed is op maniere wat jy nie vra of verwag nie; let op Wie Hy vir jou wil wees ... Doen die “let op”-ding!

Doom Charl

Wednesday, May 15, 2013

Oordenking 19 Mei 2013

Oordenking 19 Mei 2013

Nie net beter, dié Allerbeste!

“... omdat God vir ons iets beters beoog het ...” (Hebreërs 11:40a)

Beter as die geloofshelde van die Ou Testament, beter as die huidige ongelowiges en beter as voor ons glo. In watter opsig?
• Beter Verlosser, want Hy het ons reeds verlos deur sy kruisdood;
• Beter offer, want geen offers is meer nodig nie;
• Beter Priester, want Hy word self die offer vir ons;
• Beter verbond, want Hy kom God se deel volledig na;
• Beter vaderland, want Hy maak God se teenwoordigheid toeganklik vir ons;
• Beter uitkoms, want Hy waarborg ons ewige bestemming; en
• Beter geloof, want Hy is die kern van wat ons glo.

Maak asseblief jou hart en jou hele lewe oop vir hierdie “iets beter wat God vir ons beoog” deur:
• Meer tyd in sy teenwoordigheid te spandeer;
• Meer moeite te doen om sy Woord in te neem;
• Meer gesprekke met mede-gelowiges oor Hom te voer; en
• Meer te doen vir Hom in hierdie stukkende wêreld.

Dan sal:
• Jou lewe meer sin kry;
• Jy vir meer mense iets beteken;
• Jy meer deel word van wat God reeds doen;
• Jy meer bewus wees van sy teenwoordigheid in en om jou; en
• Jy reg wees as Hy weer kom.

Want:
• Ons glo in ons enigste liefdevolle Vader;
• Ons glo in ons enigste Verlosser;
• Ons glo dat sy Gees ons gedurig vernuwe;
• Ons glo in EEN WARE GOD!

Ons God is nie net die Enigste nie, Hy is dié Beste, ja, Hy is dié Allerbeste!

Doom Charl

Thursday, May 9, 2013

Oordenking 12 Mei 2013

Oordenking 12 Mei 2013

“Sien” die Onsigbare
“Om te glo, is om ...” (Hebreërs 11:1a)

Slegs en alleen deur geloof; op geen ander manier as deur geloof; God se enigste en volmaakte plan is deur geloof; gister, vandag en more is dit deur geloof – ja, slegs deur geloof lewe Jesus-mense in Hom en Hy in ons. Daarom is dit só belangrik ons oor geloof praat.

• Geloof is meer spiritueel en geestelik as wat dit intellektueel is;
• Geloof vloei uit die krag van God en nie uit die mens nie; en
• Geloof kan nie iets bewys nie, die Gees laat dit gebeur wanneer en hoe Hy wil.

In die Grieks het die woord πίστις (foneties “pistis”) die betekenis om te glo in die goeie nuus aangaande Jesus Christus en om ‘n volgeling van Hom te wees. Maar dit val ook in dieselfde semantiese veld as “vertrou, om staat te maak op, betroubaar”. Meer spesifiek dui dit op ‘n vaste stel oortuigings wat slegs moontlik is in ‘n spesiale interpersoonlike verhouding met God of Christus.

Prakties is geloof nie bedoel om iets bonatuurliks en onbereikbaar te wees nie. Net so vanselfsprekend as wat asem en suurstof is waardeur elke mens lewe, net so natuurlik is geloof in ons as Jesus-mense. Deur geloof word ons in aanraking gebring met die onsigbare wêreld rondom ons. In hierdie nog onbekende wêreld vir ons, bestaan God. So omring die ewigheid waarin die lewende God bestaan, ons.

Hoe kan ons seker wees hiervan? Slegs as ons die sekerheid buite onsself in God ontdek en dan dáárop bou. Geloof word Jesus-mense se oë om God raak te sien. Die wêreld wat sonder God lewe, gaan blind deur die lewe en sien God nie raak nie en gaan so verlore. Jesus-mense sien met geloof vir God en sy goedheid raak. Alleen deur geloof is God alomteenwoordig en liefdevol handelend in ons alledaagse lewe. Maar juis in die asem-wegslaan-wonder van die skepping, sien ons die handtekening van God op elke stukkie detail in die skepping. God het die onmoontlike duplisering van sy sigbare skepping vir ons gegee as sekerheid dat Hy ook in die onsigbare teenwoordig is.

Hoe kan ek iets verduidelik wat ons nie kan sien nie? Hoe oortuig ek ander van iets wat ons as abstrak beskou? Hoe kan ek geloof in God aan ander gee?

Ek kan nie! Net Hy kan!

Doom Charl

Wednesday, April 24, 2013

Oordenking 28 April 2013

Oordenking 28 April 2013

Jesus waarborg ‘n nuwe beter ooreenkoms

“Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.” (Hebreërs 8:6)

Die uitverkorenes, die gelukkiges, die bevoorregtes, die begenadigdes, die geredde sondaars, die geliefdes van Hom, die geseëndes, die Gees-gesalfdes ..., dit is almal beskrywings van Jesus-mense (kan jy aan nog dink?). En die beste van alles is, dit is waar, want Gód sê so! Die Hebreërskrywer fokus vir ’n oomblik op die nuwe verbond/ooreenkoms wat ons ewige Hoëpriester, Jesus, self waarborg en waar maak.

Kom ons bedink drie beloftes wat God in hierdie nuwe ooreenkoms vir Jesus-mense maak:

1. “... sal Ek ... aan hulle sondes nooit meer dink nie.” (Heb.8:12b) Vergifnis op grond van Jesus se kruisdood, is baie meer as om die ewige straf vry te spring. Vergifnis is ook meer as dat God nie meer dink aan ons alledaagse sondetjies nie. Sy vergifnis is omvattend en geld vir eens en vir altyd. Vergifnis is ook meer as om met jou verstand saam te stem dat daar vergifnis beskikbaar is. Uiteindelik neem die Gees so deeglik oor in ‘n Jesus-mens se lewe, dat daar nie meer plek vir ongehoorsaamheid is nie.

2. “Ek sal ... my wette ... op hulle harte ...skrywe.” (Heb.8:10b) Wanneer God deur sy Gees op Jesus-mense se harte skrywe, word hulle van binne af skoongemaak van alle onheilighede. Die gewone goeie vroom Christen groei na ‘n innige Gees-lewe wat die wag op God om in en deur hom te werk. En hierdie innerlike werking word ‘n volwasse Jesus-lewe, waar Jesus-mense al hoe meer lewe soos God in sy Woord wil.

3. “... ons het ‘n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemel.” (Heb.8:1) Jesus is op hierdie oomblik in die Allerheiligste in die teenwoordigheid van die Allerheiligste. Hier is Hy in beheer van die hemelse koninkryk, Hy tree vir altyd vir ons in by dié Majesteit. MAAR Hy doen dit nie vanuit die hoë onbereikbare hemelwoning nie, Hy doen dit in die hart/binneste/innerlike van Jesus-mense.

‘n Nuwe ooreenkoms, ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe verstaan word ‘n beter ooreenkoms, ‘n beter lewe, ‘n beter verstaan – moontlik gemaak deur ‘n voortrefliker Hoëpriester en op grond van uitnemender beloftes van God.

Prakties beteken dit: Jesus-mense is die gelukkigstes op aarde, want ons het die allerbeste Advokaat!

Doom Charl

Wednesday, April 17, 2013

Oordenking 21 April 2013

Oordenking 21 April 2013

Selfloos, moeiteloos, tydloos – ons Priester!

“Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” (Hebreërs 7:25)

Jesus-mense leef in Christus: Hy is jou en jy in Hom. Dit is die kern, die hoogtepunt, die samevatting, die volmaakte simbiose van God en sondaar-mens – slegs én volmaak deur die volheid van God se Gees. Sjoe ... hoekom, hoe, wanneer, waar?

• Hoekom? Want God is besig om sy hemelse koninkryk uit te brei, op te bou en te vestig omdat Hy is Wie Hy is! Hy is die volle rede hoekom Jesus-mense in Christus leef, daar is geen ander rede hiervoor nie.
• Hoe? Op ‘n misterieuse manier wat ons nietige skepselle nie volledig kan verstaan of dit verklaar nie, word Jesus se verlossingswerk in Jesus-mense voortgesit deur die Heilige Gees se werking. Hierdie Gees-werking kan ons nie beheer, of eis, of verdien nie – God doen dit net omdat Hy kan en wil!
• Wanneer? Van altyd af is God al hiermee besig: Hy het geen begin of geen einde nie: Hy is nog altyd, Hy is vandag, Hy sal ook altyd wees. Maar nou maak Hy Jesus-mense deel van sy tydloosheid: elke bekeerde sondaar het reeds die ewige lewe en word daarmee ook soos Hy tydloos!
• Waar? In die Gees- en geesdimensie wat vanuit die innerlike mens sigbaar word oral en altyd waar Jesus-mense is. Dit word en is ‘n permanente bestaanswyse wat nie aan- en afgeskakel kan word nie.

Kom ons vind motivering vir hierdie grootse uitsprake. Jesus se Hoëpriesterskap volgens die orde van Melgisedek beteken, opgesom en eenvoudig verklaar:
1. Die enigste Seun van God het selfloos, dit is liefdevol, aan die kruis gesterf as die volmaakte offer vir alle mense van alle tye se volledige sondigheid.
2. Ons Vader in die hemel het hierdie Jesus van ons moeiteloos uit die dood opgewek, om daardeur vir ons die hemelpoorte vir altyd oop te sluit.
3. Nóú tree ons Here Jesus Christus vir ons in by die Vader sodat ons tydloos soos Hy deel is van sy verheerlikte koninkryk.

Doom Charl

Wednesday, April 10, 2013

Oordenking 14 April 2013

Oordenking 14 April 2013

Ons Voorloper – ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker

“... besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker ... Jesus, ons Voorloper ...” (Hebreërs 6: 19-20)

Die Hebreërskrywer moedig sy lesers aan om geestelik te groei deur vaste kos in te neem, en gaan selfs nog verder om te waarsku teen permanente afvalligheid deur nie verder te wil groei nie. Kom ons fokus vir ‘n oomblik op ‘n paar sake wat vaste geestelike spyse is:

• Sigbare vrugte: Die beeldspraak van grond wat “bruikbare gewasse voortbring” (Heb.6:7) plaas die klem op die groeiproses wat uitloop op “die liefde wat julle vir sy Naam betoon deurdat julle julle medegelowiges dien” (Heb.6:10). Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat die seëninge van God in my as grootmens-gelowige, spontaan bestaan uit ‘n lewe in belang van ander. Dus: vaste kos = sigbare medemenslikheid.

• Ywer wat groei: Die regverdige God gaan kragtig voort met sy volmaakte reddingsplan deur geredde gelowiges. En hoe nader aan die voltooiing van hierdie plan, hoe meer Gees-energie sal na vore kom in ons wat volhard (Heb.6:11-12). Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat geestelik volwassenes al hoe meer deel is van God se koninkryksaksie. Dus: vaste kos = toenemende Gees-energie.

• Permanente belofte: God hou by sy Woord, Hy kan nie ‘n leuen vertel nie, Hy lê ‘n eed van getrouheid by die Hoogste Gesag (dit is Homself) af (Heb.6:17). En hierdie belofte waarborg die beste moontlik uitkoms vir diegene wat Hom ernstig en ernstiger opneem. Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat die grootmense in die geloof met baie meer selfvertroue leef en praat oor die toekoms op aarde en hierna. Dus: vaste kos = positief wees oor die toekoms.

• Vaste anker: Met die mens Jesus wat sondeloos aan die kruis gesterf het, kry die hoopgevulde sondaars Iemand wat binne die allerheiligste van God aktief optree in hulle belang (Heb.6:20). Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat Jesus vir ons wat wonder oor die toekoms, “’n veilige en onbeweeglike lewensanker” (Heb.6:19) in hierdie teenswoordige tyd is. Dus: vaste kos = Jesus in my!

Moenie tevrede wees met jou medemenslikheid nie – God wil deur jou ‘n seën wees vir ander!
Moenie tevrede wees met jou Gees-energie nie – God wil deur jou ander red!
Moenie negatief wees oor die toekoms nie – God waarborg die heel beste vir jou!
Moenie vaskyk teen die gemors hier op aarde nie – jou Voorloper is reeds hemel in jou!

Doom Charl

Wednesday, March 6, 2013

Oordenking 10 Maart 2013

Oordenking 10 Maart 2013

Jesus-mense bou verstandig

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.” (Matteus 7:24)

Persoonlik voel ek baie tuis in die boubedryf. Dit is vir my so lekker om die beplanning, uitvoering en voltooiing te beleef van iets wat gemaak of gebou word. Die resultate is sigbaar en kan waardeer word, veral as dit deeglik en netjies gedoen is. So gebruik Jesus dan ook die bou van ‘n huis as simboliek vir geestelike bouwerk. Maar met Jesus se verduideliking is dit baie belangrik hoe die bouwerk begin is, hoe goed is die fondament van die huis. Die fondament bepaal of die huis die toets van storms sal deurstaan. Wat is dié fondament?

Jesus gebruik hierdie simboliek volgens Matteus aan die einde van die bergrede wat handel oor praktiese Jesus-mens-wees. Met my praktiese lewe as Jesus-mens word die fondament van my geestelike huis gelê. Wie lê hierdie fondament (1) en waaruit bestaan hierdie fondament (2) van my geestelike huis?

(1) My geestelike huis se fondament word deur die Heilige Gees se deeglike werk in my gelê. Maar my meewerking en samewerking, is mý keuse. Hy werk/bou en ek werk/bou saam; ek laat toe dat Hy werk/bou; Hy kan nie werk/bou sonder dat ek Hom nooi, of vra, of soek, of smeek, of aanmoedig nie.

(2) Die rotsfondasie bestaan uit boumateriaal soos die bloed van Jesus aan die kruis; én die onverdiende guns van God om my te kies as Jesus-mens; én die bevrydende en vernuwende werk van die Heilige Gees in elke Jesus-mens; én alles wat die hemelse Boumeester wil gebruik. EN OOK is die duursame boumateriaal van die fondament elke Jesus-mens se positiewe aanvaarding van God se vergifnis; én die waarderende erkenning van God se genade; én die gehoorsame meewerking met die Gees in elke Jesus-mens; én alles wat God skenk vir ons om aan Hom terug te gee.

God bou dus, maar ek werk saam met sy bouwerk. God voorsien die boumateriaal, maar ek word die sigbare resultaat van sy bouwerk. Hy ontwerp die huis, Hy voorsien die boumateriaal, Hy is die Bouer; maar ék is die huis, in mý lewe word die boumateriaal gebruik en ék is die sigbare bewys van Wie die Bouer is. Daarom:

• Maak seker jy kén die Bouer (want Hy ken jóú)!
• Verstaan wat die boumateriaal is (en maak daarvan gebruik)!
• Word die sigbare bewys van God se bouwerk (sodat Hý verheerlik kan word)!

Doom Charl