Thursday, January 14, 2016

Oordenking 17 Januarie 2016

Die stof van Sy voete spat op Jesus-mense

“Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” (Matteus 25: 40)

Stephan Joubert skryf in die Beeld van 12 Januarie 2016: “God is steeds oral hoorbaar, voelbaar en sigbaar. Ons moet maar net naby genoeg aan Jesus loop dat die stof van sy voete ook op ons begin spat, dan sien ons Hom op 10 000 plekke raak.”

‘n Beter lewe vir jouself, ‘n beter lewe vir mense wat op jou pad kom en ‘n beter lewe vir almal in hierdie wêreld, begin by die naleef van Jesus se voorbeeld. Tydens Jesus se relatiewe kort fisiese optrede hier op aarde, baie lank gelede, het Hy kom wys hoe Jesus-mense lewe. Na sy fisiese vertrek met die hemelvaart, het Hy met die uitstorting van die Heilige Gees ‘n manier geskep om deur meer mense op meer plekke oor alle tye wat kom, sy voorbeeld voort te leef.

Kom ons noem net kortliks wat ons by Jesus leer:

·         Hy breek weg van alle valse vorme van godsdienstigheid en verdienstelikheid deur wetsgehoorsaamheid;

·         Hy vereenselwig Homself met mense wat swaarkry, met mense wat minderbevoorreg is en met mense wat deur die samelewing eenkant gestoot word;

·         Hy kom leer vir sy volgelinge vir alle tye wat sou kom, hoe om werklik bevrydend en met liefde gevul, te lewe;

·         Op ‘n nederige én vernederende manier bewerkstellig Hy eenmalig die redding van alle mense van alle tye wat in Hom glo;

·         Hy leer sy volgelinge dat sy Goddelike terrein, waar Hy alomteenwoordig is, op ‘n misterieuse én fantastiese wyse deur Hom beheer word;

·         Hy kies aktief om voort te leef deur sy Gees in elkeen wat bewustelik kies om in Hom te glo en Hom te dien; en

·         Hy is elke sekonde steeds besig om elkeen wat aan Hom behoort, voor te berei vir die ewigheid wat ons saam met Hom gaan deurbring.

Wat beteken hierdie Jesus-lering vandag vir my en vir jou?

1.      Jesus is ons enigste Verlosser;

2.      Jesus leef voort in ons deur sy Gees; en

3.      Jesus is besig om in ons ‘n beter lewe te skep!

Leef Jesus dus raak in 10 000 plekke ...

Thursday, January 7, 2016

Oordenking 10 Januarie 2016

Óns of Sý manier van lewe

“... ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” (2 Korintiërs 5: 7)

‘n Nuwe jaar met nuwe uitdagings en nuwe geleenthede – baie spesifiek vir ons as Jesus-mense. Ons wil groei en positief verander om beter mense te wees wat beter lewe as verlede jaar, maar hoe?

Paulus skryf baie realisties oor die lewe van kinders van die Here. Hy besef dat ons elkeen op een of ander manier swaarkry en bekommerd is oor die uitdagings van elke dag. Hy praat van “sug en voel bedruk” (2 Korintiërs 5:4), omdat “ons nog nie by die Here woon nie.” (vers 6). Die uiteindelike toekoms om vir altyd in die hemel by die Here te wees, gee ons egter moed. Maar ons is nog nie daar nie, en op pad daarheen wil ons die beste manier van lewe bemeester.

Hiervoor sorg God self!!! Hy gee die Heilige Gees as “waarborg”, wat ook vertaal kan word met “deposito” of “eerste paaiement”. So die wonderbaarlike innerlike vernuwende werk van God se Gees in ons elkeen, is net die begin van die allerbeste manier van lewe waarvoor God alleen sorg. Sonder dat ons presies verstaan of regtig kan sien wat die Gees in ons doen, ís die Gees besig in en met en deur ons. Hy is besig om ons aan te trek met die goeie tydens ons aardse tydelike lewe, sodat die dag wanneer ons “voor die regterstoel van Christus verskyn” (2 Korintiërs 5: 10), ons die ewige hemelse lewe sal ontvang.

Wat kan ek en jy doen om seker te weet ons lewe op die regte manier?

1.      NIKS – God sorg vir die goeie in ons;

2.      ALLES – gee 100% oor aan Hom: soek, smeek, begeer, verlang, verbind, bid, gee en ...

Hierdie soort van teenstrydigheid is deel van die misterie om in ‘n lewende verhouding van God te lewe elke dag. Maar Hy weet dit die beste, en daarom is Hy daar as die Beste Een om ons presies hiermee te help. Hoe meer ek en jy kan oorgee aan sy manier van dinge doen in ons lewe, hoe beter sal Hy in elkeen van ons vaar.

Mag 2016 vir jou die jaar wees waarin jy beter ervaar dat God reeds besig is om sy wil in jou lewe ‘n werklikheid te maak – dit is Sý manier om jou voor te berei vir “die vaste gebou in die hemel” (2 Korintiërs 5:1).

Wednesday, December 2, 2015

Oordenking 6 Desember 2015

Tyd om te fokus op die Bron van sterkte, sekuriteit en stabiliteit

“Jy is my seun, vandag het Ek jou Vader geword.” (Psalm 2: 7b)

Psalm 2 is een van die dele uit die Ou Testament wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word. Hierdie Psalm wys dat die beloftes van die Ou Testament waar geword het. Daarom wys dit dan ook spesifiek vir ons op die Jode se messiaanse verwagting. Wie is die Messias wat die Jode verwag het? En terwyl ons dan vas glo, dat ons Jesus wel die Messias is, wat deur die Jode verwag word, is Hy vandag steeds die Een van wie ons leer in Psalm 2.

Hierdie Psalm het een groot doel en dit is om te wys dat God die Here is en dat Hy so raakgesien moet word. God is die belangrikste. Die groot woord wat dit mooi beskrywe, is teosentries. Hier gaan dit dus nie vandag oor die huidige regerings en owerhede met hulle vyande nie, dit gaan veel eerder oor God en sy vyande.

Om teen God in opstand te kom, is die grootste dwaasheid en domste ding om te doen. Vandag kan hierdie opstand verskillende vorme aanneem. Dit kan die openlike vyande van die kerk van Jesus wees. In ons persoonlik lewe kan dit ons geneigdheid wees om onsself, die eie-ek, bo God te stel en in die proses te weier om sy gesag in ons lewe te aanvaar.

Die Here is die Oppermagtige God. Hy heers oor alle lewensterreine. Die wêreld is deurmekaar en onstabiel en verward, maar Hy is steeds die Bron van sterkte, sekuriteit en stabiliteit. Sy heerskappy oor al die eeue, sal nooit kan wankel of omvergewerp word nie.

Vandag nog is die hele bekende wêreld met al die mense daarin, die ruimte waar sy koninkryk is. Hier gebruik Hy steeds mense as sy gevolmagtigdes om in sy krag en namens Hom op te tree. Elkeen van ons as Jesus-mense, wat vrygekoop is deur die bloed van Jesus Christus, tree daagliks met gesag op. Elkeen van ons is geroep om met selfvertroue sy koninkryk hier op aarde te bevorder – ons kan dit doen omdat Hy is Wie Hy is!

In die lig van Psalm 2 word ons opgeroep om die onverskillige wêreld waarin ons is, tot verantwoording teenoor Hom op te roep. Die mens-sonder-Hom moet hoor die opstand teenoor Hom beteken vernietiging. Deur Hom te aanbid, beteken veiligheid. Tog het hierdie waarhede steeds nie volledig waar geword nie. Weereens moet ons daaraan vashou, eendag op die nuwe aarde, sal daar werklike sterkte, sekuriteit en stabiliteit wees.

Thursday, November 26, 2015

Oordenking 29 November 2015


 
Die nuwe en finale afwagting van Hom!

“Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.” (Jesaja 9: 6a)

In die volgende weke maak almal van ons op een of ander manier gereed vir Kersfees. Daar word planne gemaak van waar ons gaan wees, saam met wie ons gaan wees en wat ons gaan doen. Daar is min tye van die jaar waarin daar soveel moeite deur so baie mense gedoen word om vir ‘n spesifieke geleentheid gereed te maak. ‘n Mooi woord wat dit beskrywe is “afwagting”.

In die Ou Testament was daar ‘n “afwagting” dat vir die volk van die Here ‘n Messias sou kom wat ‘n baie sterk leier vir hulle sou wees. ‘n Beskrywing van hierdie afwagting, kry ons in Jesaja 9: 5-6: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring ... Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”

Met Kersfees vier ons fees dat hierdie afwagting van destyds in alle opsigte waar geword het. Om die waarheid te sê, die Een wat wel op aarde mens kom word het, is baie meer as wat verwag was. Hy het die enigste Verlosser vir alle mense van alle tye geword en sal dit altyd wees. Sy heerskappy deur sy Gees in sy kinders oortref alle fasette van afwagting. Daar is nie genoeg name of woorde om reg te laat geskied aan Wie Hy werklik is nie. Hy oortref alle verwagtinge!

Maar Hy het self gesê terwyl Hy hier was: “En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem ...” (Johannes 14:3). Hierdie woorde van Jesus beteken dat daar steeds by ons ‘n afwagting is. Die afwagting van die Ou Testament wat waar geword het, maak plek vir ‘n totaal nuwe afwagting vir ons vandag. En Kersfees bied elke jaar die ideale geleentheid om nuwe inhoud aan hierdie nuwe afwagting te gee. Die afwagting van Jesus se eerste koms, word vervang met ‘n nuwe afwagting vir sy tweede en finale koms.

Hierdie finale afwagting dat Jesus verseker weer kom, dra direk by tot ‘n groeiende dringendheid dat Hy so gou moontlik weer moet kom. Die chaos in die wêreld, persoonlike omstandighede én veral die intense begeerte van elke Jesus-mens om Hom self te ontmoet, dryf hierdie groeiende finale afwagting.

Hy en Hy alleen sal alle verwagtinge oortref! Weereens!

Thursday, November 19, 2015

Oordenking 22 November 2015

God se oop koninkryk

“Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” (Matteus 19: 14)

Jesus gebruik kinders as voorbeeld om te verduidelik dat sy koninkryk oop is vir ALMAL.

In hierdie demonstrasie kry ons die beste manier om na mekaar in die kerk en na ander buite die kerk te kyk. Ons is van nature so geneig om etikette om mense se nekke te hang. Bewustelik en onbewustelik deel ons mense in groepe: diegene van wie ons hou en met wie ons saamstem; die ander van wie ons nie hou nie en ook nie soos hulle dink, leef of praat nie. En dan maak ons selfs binne die kerk die grootste fout: ons deel mense in volgens sekere sondes; of dalk meer vroom, volgens hulle kerklike bydrae, betrokkenheid of spirituele voorkeure.

By ons klein kindertjies kan ons baie leer oor hoe hulle onvoorwaardelik maats maak. Hulle speel so maklik met mekaar oor grense heen. Ons sal almal kan vertel van hoe ons tot ‘n sekere ouderdom meer vriende gehad het en sonder enige vooroordele goed met ander oor die weg gekom het. Ja, ons sou wel een dag met mekaar baklei oor onbenullighede en net die volgende dag is ons weer die grootste maatjies.

In die koninkryk van die hemel waar Jesus se reëls geld, kan ons net van dag tot dag groei in die wyse waarop Hy almal as sy vriende sien. Hy kan nie kwaad bly vir sy vriende nie. Hy hou nie boek van die kwaad nie. Hy het nie witbroodjies of swartskape nie. Hy beloon nie sommiges met groter geskenke as vir ander nie. Hy het een prys, sy eie lewe, vir almal betaal. Die resultaat van hierdie liefde van Hom aan sy vriende, is die werk van sy Gees in elkeen van sy vriende.

En waar die Gees werk, word grense afgebreek en vooroordele teenoor ander mense verdwyn. Met ‘n Jesus-hart is almal altyd welkom binne die koninkryk van God. Hoe meer intens ons die Gees toelaat om ons lewens van binne nuut te maak, hoe meer ontdek ons iets van die misterie van die koninkryk van die hemel. En daar geld totaal ander norme en reëls as in ons alledaagse lewe. Hoe langer hoe meer word dit duidelik dat ons nie al die antwoorde het en alles kan verklaar nie.

Thursday, November 12, 2015

Oordenking 15 November 2015

Volkome bevryding deur God se hand

“Hoe ontsagwekkend is u werk!” (Psalm 66: 3)

Elkeen van ons wil graag vry voel, innerlik tot rus kom. Hierdie pad loop elkeen een of ander tyd. Kom ons raak bewus van een wesentlike deel van geestelike bevryding.

Die Psalm-skrywer vertel van die groot werke van die Here in die geskiedenis van Israel. Die indrukwekkende trek op droë grond deur die Rietsee. Hoe die Here met Israel se vyande afgereken het. Al die struikelblokke wat Hy uit hulle pad geneem het. Steeds is Hy vandag besig om ons almal kollektief te beïndruk met wat Hy vir ons beteken.

Ook op individuele vlak, is die Psalm-skrywer net so dankbaar oor alles wat die Here vir hom in tye van nood beteken. Hy wil graag vertel en selfs uitroep, oor hoe die Here na hom geluister het toe daar sonde in sy hart was. Dieselfde Here gee steeds rede dat elkeen van ons rus kan vind in daardie dinge wat Hy in ons lewe laat gebeur.

Volkome bevryding het dus te doen met alles wat ons kan waarneem wat God doen. Soos reeds lank gelede in die geskiedenis van Israel, is Hy steeds besig in en rondom die lewens van sy kinders vandag. Tussen die gebeure van lank gelede in die Ou Testament en vandag, weet en glo ons van Jesus. Die te-goed-om-waar-te-wees-liefde-van-God, soos wat Hy vir ons kom wys het met Jesus, is die heel belangrikste bousteen vir volkome bevryding.

Hierdie God-se-liefde-in-Jesus-daad, gee direk geleentheid vir elkeen van ons om waarlik rus in Hom te vind. Niemand kan en sal of wil iets groter vir ander ooit doen nie. Hierdie liefdesdaad van God aan ons, saamgevat in die woord “Jesus”, gee geleentheid dat elkeen van ons ook kan uitroep:

            “Hoe ontsagwekkend is u werk!”

Die woord “ontsagwekkend” is so ‘n akkurate beskrywing van God se werk in en rondom elkeen van ons. In daardie dinge wat ons wel agterkom dat dit net Hy was wat iets spesifiek kon laat gebeur, en selfs dan soms ons asem wegslaan in verwondering daaroor, ontwikkel elke Jesus-mens respek en ontsag vir Hom. Innerlike bevryding het te make met die bewustelike gewaarwording van God-aan-die-werk.

Innerlike vryheid en rus kom deur jou oë oop te maak vir God se hand aan die werk, en dan met jou hart teenoor Hom te reageer.

Thursday, November 5, 2015

Oordenking 8 November 2015


Die nuwe mens in wording

“Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.” (Titus 2: 11)

Die oorgang van die ou lewe na ‘n nuwe lewe, is ‘n lewenslange stryd waarmee elke Jesus-mens elke dag besig is. Die ou sondige natuur moet gedurig en stelselmatig sterwe om ruimte te maak vir die nuwe mens. Ou verkeerde gewoontes is later nie meer lekker nie. Met nuwe gedagtes en ‘n ander manier van kyk, gaan God se kinders groeiend vorentoe op pad na sy doel met elkeen van ons.

Hierdie geestelike groei en heiligmaking, wat deur die Heilige Gees in ons aan die gang is, is baie ingewikkeld maar tegelyk baie eenvoudig. Dit is ingewikkeld omdat ons van nature makliker terug neig na ons ou lewenswyse voor ons bekering. Dit kom meer outomaties om net vir jouself te lewe, in plaas daarvan om selfloos God en ander eerste te stel. Dit voel aanvanklik net baie lekkerder om eerste vir jouself te sorg, voordat jy vir ander iets hoef te doen.

Tog is dit tegelyk ook baie eenvoudig. Die beste Spesialis in vernuwing, is binne in elke Jesus-mens. Niks is vir Hom ‘n probleem nie. Niks staan in sy pad nie. Niemand kan sy werk keer of ongedaan maak nie. Geen struikelblok of hardkoppigheid of verharde hart, kan Hom keer nie. Elke bekeerde kind van God het geleentheid om net eenvoudig en met erns, sonder skuldgevoelens of enige verdienste, oor te gee aan Hom.

Maar hoe? Soos Paulus vir Titus sê: “... God (dit is die Gees in ons) ... voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe ...” (Titus 2:12)

Alle mense kan nou reeds voorberei word vir die hemel, maar sonder rede stel almal nie belang nie.

Vrywillig, sonder dwang, openhartig, opreg, eerlik, liefdevol, soekend, sonder skuldgevoel, toegewyd, gefokus ... almal woorde wat iets beskryf van elke Jesus-mens se daaglikse geleentheid om meer en meer die nuwe mens in wording te wees. Hierdie nuwe mens in wording, is 100% God se Gees se verantwoordelikheid in ons. Ons kan self niks doen om “... met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug ... te lewe” nie. Moenie eers probeer nie. Elke probeerslag, vertraag God se genadewerk in jou.
 
Gee God se genadewerk ‘n volledige kans in jou lewe ...