Thursday, September 8, 2016

Oordenking 11 September 2016

Tema: Die veiligste plek van Godsgenade
Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig.”
(Lukas 18:13b)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. Hier in Lukas 18 leer ons meer by Hom oor die gesindheid waarmee ons tot Hom kan nader in gebed.

Die wetsgetroue Fariseër en die korrupte tollenaar bid altwee in die tempel. Die wetsgehoorsame en pligsgetroue Fariseër spog in sy gebed oor sy eie voortreflikhede. Ons lees dat die vooraanstaande Fariseërs onder andere sewe keer per dag gebid het. Hulle was so getrou in die fynste uitvoering van die wet van God, dat hulle saam met die ander tiendes, selfs ‘n tiende van hulle kruie uit die tuin, vir die Here gegee het. Daarteenoor was die tollenaar die mees korrupte spul van hulle tyd, wat om elke hoek en draai met skelm geldsake besig was. Die geweldige kontras tussen hierdie twee partye, is uiters belangrik in die verstaan van hierdie lewensstorie van Jesus.

Net so kontrasterend soos hierdie twee karakters in die gelykenis is, is die inhoud van hulle gebede. Die Fariseër bid lank en selfsugtig, hy spreek homself letterlik skuldvry op grond van sy eie hoedanighede, en veroordeel sommer die tollenaar net daar op die plek. Daarteenoor bid die tollenaar kort en kragtig, soos hierbo aangehaal in Lukas 18: 13b. Hy bely dat hy ‘n sondaar is wat 100% afhanklik is van God se genade – net dit!

Wat leer ons by Jesus oor hierdie twee uiteenlopende karakters se gebede? Die fokuspunt van elkeen se gebed, is die lewensles wat ons hieruit kan neem. Die Fariseër se gebed draai rondom homself, en daaruit kan ons aflaai dat hy nie ‘n liefdevolle verhouding met God gehad het nie. Die uiterlike nakom van geestelike rituele het baie waarde vanuit ‘n persoonlike verhouding met die lewende Here in ons. Die tollenaar fokus in sy gebed op God en sy persoonlike afhanklikheid van God se genade. Hy besef dat hy niks het om aan te bied vir God nie, en gee homself dan oor in totale afhanklikheid aan God.

Ons het ‘n onbeskryflike genadige God aan ons kant, al lewe ons in ‘n liefdelose en genadelose wêreld. Elkeen van ons se innige kontak met God deur gebed, bied vir ons die veiligste weg-vlug-plek binne ‘n innerlike werklikheid waar God se Gees binne-in ons is.

Thursday, September 1, 2016

Oordenking 4 September 2016

Tema: Die vrymaking om te kan vergewe
“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” (Matteus 18:35)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Matteus 18 leer ons meer by Hom oor vergifnis, moontlik een van die heel belangrikste lewenswaarhede om waarlik vry te kan wees.

‘n Koning skryf ‘n buitengewone groot bedrag geld af, wat een van sy amptenare aan hom skuld. Direk hierna loop hierdie selfde skuld-vrye amptenaar een van sy medeamptenare raak wat hom slegs ‘n klein bedraggie geld skuld. Die pas vrygeskelde amptenaar weier om ‘n paar rand af te skryf, al het hy self miljoene rand se kwytskelding gekry. Hy laat sommer sy medeamptenaar in die tronk gooi. Die koning kom hiervan te hore, verloor dit natuurlik heeltemal en gee onmiddellik opdrag dat hierdie buitengewoon begenadigde en kwytgeskelde amptenaar gemartel word, totdat die miljoene rande se skuld aan die koning terugbetaal is.

Ek en jy is vir ewig kwytgeskeld van alle sonde! Jesus het eenmalig volledig al ons skuld aan die kruis betaal. Ons skuld niks meer nie. Ons gehoorsaamheid en ons diensbaarheid is nie ons bydrae om skuld af te betaal nie. Ons is volledig vergewe deur ons hemelse Vader op grond van sy enigste Seun se versoeningsoffer aan die kruis. In God se oë, is vergifnis vir altyd afgehandel.

Maar wat maak ons elke dag met hierdie ongelooflike geloofswaarheid? Hoe beïnvloed dit ons optrede teenoor mekaar? Hoe lyk die swartboekies wat ons byhou van die kwaad wat ons mekaar aandoen? Hoe maklik grawe ons nie ou koeie uit die sloot nie? Hoeveel wrokke, dis nou “grudges”, hou ons nie teenoor mekaar nie? Hoe moeilik is dit nie vir ons om sewentig maal sewe keer te vergewe nie?

Nie een van ons kan vergewe soos ons hemelse Vader vergewe nie! Slegs en alleen wanneer en indien ons dit wel soek en toelaat, kan sy Gees in ons, vergifnis moontlik maak. Geen mens is van nature daartoe in staat om ander te vergewe en ander waarlik vry te spreek nie. Niemand van ons is al op daardie plek in ons lewe, waar ons ‘n kwaadwillige ervaring met ‘n ander persoon in die verlede, volledig afgeskryf het nie. Elkeen wat dit valslik beweer, veroorsaak daarmee self ‘n blokkasie in sy of haar eie vryheid.

Hierdie lewensstorie sluit af met ‘n baie ernstige waarskuwing: elkeen wat nie deur God se Gees met vergewensgesindheid lewe nie, loop die gevaar om self nie vergifnis raak te lewe nie!

Thursday, August 25, 2016

Oordenking 28 Augustus 2016

Tema: Ons Vader weet wat en wanneer ons vra
“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?”
(Lukas 18:7)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Lukas 18 leer ons meer by Hom oor gebed, ons heel belangrikste kontak wat ons met Hom het.

‘n Weduwee kom smeek by ‘n regter vir hulp met iemand wat haar erge skade aandoen. Dit moes ‘n baie ernstige saak gewees het, want sy hou eenvoudig net nie op om die regter lastig te val om hulp nie. Die regter is egter ‘n baie harde en gewetenlose mens – hy het geen ontsag vir God of vir enige ander mens nie. Die weduwee se herhaaldelike lastig val en sy vrese dat sy hom kan klap, maak dat die regter ingee.

Wat het dit presies met gebed te doen? Die agtergrond van hierdie vertelling van Jesus, is Jesus se dissipels wat Hom uitvra oor die wederkoms waarvan Hy hulle vertel het. Dit help ons om te verstaan, dat al voel dit asof die Here uitstel om weer te kom en ons in die proses moedeloos kan word, is dit nie nodig om moedeloos te word nie.

As hierdie ongenadige regter uiteindelik tog ingee, is hy geensins te vergelyk met ons hemelse Regter nie. Ons hemelse Vader is die genadige Een by uitnemendheid. Hy hoor as ons in gebed by Hom pleit vir hulp. Hy weet die heel beste wat sy uitverkorenes die nodigste het. Hy ken ons behoeftes beter as wat ons dit self besef. Hy hoor wel as ons aanhoudend vra, al ervaar ons baie keer dat Hy nie gee wat ons vra nie. Sonder dat ons dit dadelik of soms enigsins agterkom, gee Hy wel. Baie keer gee Hy beter as wat ons vra, ons kom dit nie noodwendig altyd agter nie.

Ek weet nie waarmee jy op die oomblik stoei in jou lewe nie? Maar daar is ‘n Vader in die hemel wat weet! Ek weet nie wat maak jou moedeloos in jou gebedslewe nie? Daar is Iemand baie besonders, wat jou wel duidelik raaksien op moed-verloor-se-vlakte!

Glo met jou hele mens-wees: jy is ‘n uitverkorene van God! Hou aan om dag en nag tot Hom te roep, Hy sal reg doen in jou lewe! Want, Hy is Wie Hy is!!!

Thursday, August 11, 2016

Oordenking 14 Augustus 2016

Tema: Die hemelse realiteit van ons Vader se liefde
“Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by Pa, en alles wat Pa het, is ook joune.” (Lukas 15:31)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In die gelykenis van die verlore seun, kry ons te doen met ‘n Vader wat ware liefde demonstreer – dit is daardie liefde wat elkeen van ons innig na smag.

Met die eerste lees of luister na die gelykenis van die verlore seun, lyk dit asof die klem val op die eerste seun wat sy pa se huis verlaat het en in die vreemde sy erfporsie gaan uitmors met ‘n losbandige lewe. Dan beland hy met niks tussen die varke en verlang terug huis toe. So gaan hy terug na sy pa en word soos ‘n eregas terug ontvang deur sy pa. Die pligsgetroue oudste seun wat tuis alles vir sy pa gedoen het, reageer met woede op hierdie helde ontvangs van sy slegte broer.

Kyk ons mooier na die eintlike betekenis van hierdie storie vir lewe, gaan dit baie eerder hier oor die Pa se optrede teenoor sy kinders. In die Pa se reaksie op die twee seuns se uiteenlopende gedrag teenoor Hom, ontdek ons meer van ons hemelse Vader se liefde vir ons. Die hemelse realiteit, of dan goddelike werklikheid, van God se liefde, verander die lewe vir soekende en gebroke mense. Sy liefde is onvoorwaardelik, permanent en innig.

In hierdie storie ontmoet ons die God in wie ons wil glo: ‘n Vader wat nog altyd met uitgestrekte arms op ons wag en Hom op niemand afforseer nie. Sy diepste begeerte is om ons te seën en nie om ons te straf nie.

Ons leefwêreld bestaan uit verskillende klasse wat mekaar vergelyk en oordeel en selfs veroordeel. Die Pa in die storie, vergelyk nie die twee seuns nie. Ons Vader se liefde vergelyk ons nie met mekaar nie, maar is ‘n baie spesiale en unieke liefde wat elkeen se besonderse persoonlikheid verryk. In sy liefde, wil Hy my vind, net so graag as wat ek Hom wil vind. En ons God spesialiseer daarin om die inisiatief te behou om ons te vind op die manier wat elkeen van ons dit die nodigste het.

Elkeen van ons is ‘n geliefde in God se oë. Die kern van ons geestelike stryd is om net meer te ontdek dat elkeen van ons sy liefde werd is. Meer en meer groei ons in hierdie lewe daarin dat God se liefde ons lewens stuur en verryk en omvou.

Thursday, July 28, 2016

Oordenking 31 Julie 2016

Tema: Ons hét ‘n plig, maar ...
“Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:10b)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk.

Na aanleiding van Hebreërs 10:14, “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.”, maak ek die radikale stelling: ons kan nooit weer by God in die moeilikheid wees nie! Maar na aanleiding van Jesus se vertelling in Lukas 17, wil ek byvoeg: ons wil nooit weer by God in die moeilikheid wees nie! Hoekom, vra jy?

‘n Slaaf werk getrou vir sy eienaar. Na ‘n dag se baie harde werk, kom hy by die huis én dan moet hy nog sy eienaar na-ure bedien sonder enige teëpraat. Eers wanneer hy eendag klaar is met alles wat sy eienaar na ‘n lang dag van hom verwag, mag hy self eet en drink, en iets vir homself doen.

Hier is dit baie belangrik dat dit is slaaf is wat deur ‘n eienaar besit word. Vir slawe is daar geen vergoeding en geen vaste werksure nie. Slawe verskil van dagloners, wat wel vergoed word en net sekere ure hoef te werk. In Jesus se gelykenis gaan dit nie oor die onredelike eise van die eienaar van die slaaf nie, maar eerder oor die gesindheid van die slaaf teenoor sy eienaar.

Binne die geestelike dimensie van God se koninkryk gaan dit oor ons, die slawe, se gesindheid teenoor ons Eienaar. Ons is baie duur gekoop deur die bloed van Jesus om nooit weer in die moeilikheid by God te kan wees nie. Maar wanneer en juis omdat, ons besef hoe duur die prys vir ons vryheid is, wil ons dan ook nooit weer in die moeilikheid by God wees nie.

Ons hét dus ‘n plig as vrygekoopte slawe binne God se koninkryk om Hom gewillig en heelhartig te dien. Eers wanneer ons werklik ontdek wat dit beteken om ‘n vry slaaf in God se ryk te wees, is ons bereid om met die regte gesindheid alles, ja ALLES, te doen wat ons Eienaar van ons verwag. Hy gee besliste beginsels in sy Woord en deur sy Gees in ons, wat ons met toewyding en met blydskap navolg.

Hoe meer ons verstaan waarmee ons God besig is en waarvoor Hy ons nodig het in sy koninkrykswerk, hoe meer sal ons Hom met vreugde dien. Hierdie koninkrykbeginsels verryk ons lewe, want dit is in die eerste plek nie in ons eie belang nie. Ons dien omdat ons wil en omdat ons kan en omdat dit van ons vereis word. Daarom word ons nooit moeg om te dien in die koninkryk nie. Ons werk ook nie om met onsself tevrede te wees nie, maar omdat ons weet hoe belangrik dit is dat God tevrede met ons sal wees!

Thursday, July 21, 2016

Oordenking 24 Julie 2016

Tema: Die grootste en waardevolste rykdom in alle tye!
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ...” (Matteus 13:44a)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is in terme van die ewigheid. Vir Jesus het die ewigheid te doen met “die koninkryk van die hemel”, of op ander plekke “die koninkryk van God” genoem.

Nou vertel Hy twee baie kort gelykenisse, wat baie maklik verkeerd verstaan kan word. Eers is daar “’n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê.” Waarskynlik is dit ‘n gewone dagloner wat besig is om in hierdie saailand te werk en wat hierdie baie kosbare skat ontdek. Omdat dit nie sy eie saailand is waarin hy werk nie, kan hy nie net sommer die skat vat nie. Hy “gaan verkoop alles wat hy het, en koop daardie land.” Hier is geen sprake daarvan dat hy enige iets oneerlik doen in hierdie transaksie nie. In die tweede soortgelyke vertelling, loop ‘n juwelierhandelaar “’n baie waardevolle pêrel” raak. Ook hy “gaan verkoop alles wat hy het, en koop die pêrel.”

Nou is die belangrike vraag: waarna verwys die skat in die land en die waardevolle pêrel in terme van die koninkryk van die hemel? Maklik kan die skat en die pêrel verkeerd verstaan word as dat dit verwys na Jesus self as Verlosser, of na die Woord van God, of na die kerk van Christus op aarde. Baie eerder verwys die skat en die pêrel na die voorreg en die gawe om deel te wees van die koninkryk van God. Die grootste en waardevolste skat wat ons kan kry, is om vir ewig te behoort aan God se ryk van heerskappy en liefde!

Nog ‘n belangrike vraag na aanleiding van Jesus se vertelling: wat beteken “gaan verkoop alles wat hy het”? In ander woorde, sal ons ook kan vra: wat kan elkeen van ons doen om hierdie grootste en waardevolste skat te kry? So maklik kan hierdie waaghalsige verkoop van alles, weer neerkom op eie inspanning en verdienstelike opoffering. Op hierdie manier kan niemand die skat bekom nie.

Die enigste manier om God se beheer van jou lewe, deur Sy Gees, vir ewig deel te maak van jou lewe, is:

          Om die rykdom te ontdek van sy ewige beloftes;

          Om met jou hele hart te glo in Hom;

          Om bereid te wees om alles op te offer ter wille van die ewige rykdom wat in Hom alleen te vind is!

Thursday, July 14, 2016

Oordenking 17 Julie 2016


Tema: Om soos Jesus jammer te kry ...
“Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” (Lukas 10:33)

So maklik kan ons dink ons verstaan. Ons verstaan waaroor die lewe gaan, ons verstaan wat in ander se lewe aangaan, ons verstaan die Bybel. Maar soms het ons ‘n kans om net weer nuut te dink. Ek nooi jou uit om nuut te dink oor die tweede bekendste vertelling van Jesus, naamlik die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die heel bekendste gelykenis van Jesus is die een oor die verlore seun.

‘n Onbekende persoon word deur rowers op ‘n gevaarlike pad oorval, beroof en baie seergemaak. En dan sommer half kaal daar langs die pad gelos. Eers kom die baie godsdienstige en wetsgetroue priester ver verby en ignoreer die beseerde langs die pad. Nog ‘n kerkmens, die Leviet, kom verby en doen ook sonder enige rede, niks.

Dan kom die Samaritaan verby. Ons kan met sekerheid sê dat die beseerde persoon, die priester en die Leviet Jode was. En dit is juis die punt: die Jode en die Samaritane het mekaar in Jesus se tyd gehaat soos pes. Op geen manier sou enige Jood enige moeite doen met ‘n Samaritaan nie. Nou gebeur die ongehoorde en onaanvaarbare ding: ‘ n Samaritaan help ‘n beseerde Jood!

Let op die omvang van die hulp: hy doen eers noodhulp net daar op die plek, dan laai hy die beseerde persoon op sy rydier én dan gee hy vir hom blyplek in ‘n herberg vir die waarde van amper een maand, met die ooreenkoms dat hy enige uitstaande koste sal betaal met sy terugkoms! Vir Jesus se luisteraars iets totaal ongehoords!

Nou is jou kans om nuut te luister: wie is hierdie Samaritaan in Jesus se vertelling?

Die Samaritaan is die verwerpte een, geminag en verstote. Die Jode wat luister het, het letterlik niks gedink van die Samaritane nie, wat nog om te dink dat hulle iets vir ‘n Jood sou doen. Duidelike grense: geen simpatie, geen gevoel.

Miskien hoor jy vir die eerste keer: Jesus is self hierdie Samaritaan in sy eie vertelling!

Kan of is jy bereid om soos Hy innig jammer te kry?