Wednesday, April 24, 2013

Oordenking 28 April 2013

Oordenking 28 April 2013

Jesus waarborg ‘n nuwe beter ooreenkoms

“Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.” (Hebreërs 8:6)

Die uitverkorenes, die gelukkiges, die bevoorregtes, die begenadigdes, die geredde sondaars, die geliefdes van Hom, die geseëndes, die Gees-gesalfdes ..., dit is almal beskrywings van Jesus-mense (kan jy aan nog dink?). En die beste van alles is, dit is waar, want Gód sê so! Die Hebreërskrywer fokus vir ’n oomblik op die nuwe verbond/ooreenkoms wat ons ewige Hoëpriester, Jesus, self waarborg en waar maak.

Kom ons bedink drie beloftes wat God in hierdie nuwe ooreenkoms vir Jesus-mense maak:

1. “... sal Ek ... aan hulle sondes nooit meer dink nie.” (Heb.8:12b) Vergifnis op grond van Jesus se kruisdood, is baie meer as om die ewige straf vry te spring. Vergifnis is ook meer as dat God nie meer dink aan ons alledaagse sondetjies nie. Sy vergifnis is omvattend en geld vir eens en vir altyd. Vergifnis is ook meer as om met jou verstand saam te stem dat daar vergifnis beskikbaar is. Uiteindelik neem die Gees so deeglik oor in ‘n Jesus-mens se lewe, dat daar nie meer plek vir ongehoorsaamheid is nie.

2. “Ek sal ... my wette ... op hulle harte ...skrywe.” (Heb.8:10b) Wanneer God deur sy Gees op Jesus-mense se harte skrywe, word hulle van binne af skoongemaak van alle onheilighede. Die gewone goeie vroom Christen groei na ‘n innige Gees-lewe wat die wag op God om in en deur hom te werk. En hierdie innerlike werking word ‘n volwasse Jesus-lewe, waar Jesus-mense al hoe meer lewe soos God in sy Woord wil.

3. “... ons het ‘n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemel.” (Heb.8:1) Jesus is op hierdie oomblik in die Allerheiligste in die teenwoordigheid van die Allerheiligste. Hier is Hy in beheer van die hemelse koninkryk, Hy tree vir altyd vir ons in by dié Majesteit. MAAR Hy doen dit nie vanuit die hoë onbereikbare hemelwoning nie, Hy doen dit in die hart/binneste/innerlike van Jesus-mense.

‘n Nuwe ooreenkoms, ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe verstaan word ‘n beter ooreenkoms, ‘n beter lewe, ‘n beter verstaan – moontlik gemaak deur ‘n voortrefliker Hoëpriester en op grond van uitnemender beloftes van God.

Prakties beteken dit: Jesus-mense is die gelukkigstes op aarde, want ons het die allerbeste Advokaat!

Doom Charl

Wednesday, April 17, 2013

Oordenking 21 April 2013

Oordenking 21 April 2013

Selfloos, moeiteloos, tydloos – ons Priester!

“Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” (Hebreërs 7:25)

Jesus-mense leef in Christus: Hy is jou en jy in Hom. Dit is die kern, die hoogtepunt, die samevatting, die volmaakte simbiose van God en sondaar-mens – slegs én volmaak deur die volheid van God se Gees. Sjoe ... hoekom, hoe, wanneer, waar?

• Hoekom? Want God is besig om sy hemelse koninkryk uit te brei, op te bou en te vestig omdat Hy is Wie Hy is! Hy is die volle rede hoekom Jesus-mense in Christus leef, daar is geen ander rede hiervoor nie.
• Hoe? Op ‘n misterieuse manier wat ons nietige skepselle nie volledig kan verstaan of dit verklaar nie, word Jesus se verlossingswerk in Jesus-mense voortgesit deur die Heilige Gees se werking. Hierdie Gees-werking kan ons nie beheer, of eis, of verdien nie – God doen dit net omdat Hy kan en wil!
• Wanneer? Van altyd af is God al hiermee besig: Hy het geen begin of geen einde nie: Hy is nog altyd, Hy is vandag, Hy sal ook altyd wees. Maar nou maak Hy Jesus-mense deel van sy tydloosheid: elke bekeerde sondaar het reeds die ewige lewe en word daarmee ook soos Hy tydloos!
• Waar? In die Gees- en geesdimensie wat vanuit die innerlike mens sigbaar word oral en altyd waar Jesus-mense is. Dit word en is ‘n permanente bestaanswyse wat nie aan- en afgeskakel kan word nie.

Kom ons vind motivering vir hierdie grootse uitsprake. Jesus se Hoëpriesterskap volgens die orde van Melgisedek beteken, opgesom en eenvoudig verklaar:
1. Die enigste Seun van God het selfloos, dit is liefdevol, aan die kruis gesterf as die volmaakte offer vir alle mense van alle tye se volledige sondigheid.
2. Ons Vader in die hemel het hierdie Jesus van ons moeiteloos uit die dood opgewek, om daardeur vir ons die hemelpoorte vir altyd oop te sluit.
3. Nóú tree ons Here Jesus Christus vir ons in by die Vader sodat ons tydloos soos Hy deel is van sy verheerlikte koninkryk.

Doom Charl

Wednesday, April 10, 2013

Oordenking 14 April 2013

Oordenking 14 April 2013

Ons Voorloper – ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker

“... besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker ... Jesus, ons Voorloper ...” (Hebreërs 6: 19-20)

Die Hebreërskrywer moedig sy lesers aan om geestelik te groei deur vaste kos in te neem, en gaan selfs nog verder om te waarsku teen permanente afvalligheid deur nie verder te wil groei nie. Kom ons fokus vir ‘n oomblik op ‘n paar sake wat vaste geestelike spyse is:

• Sigbare vrugte: Die beeldspraak van grond wat “bruikbare gewasse voortbring” (Heb.6:7) plaas die klem op die groeiproses wat uitloop op “die liefde wat julle vir sy Naam betoon deurdat julle julle medegelowiges dien” (Heb.6:10). Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat die seëninge van God in my as grootmens-gelowige, spontaan bestaan uit ‘n lewe in belang van ander. Dus: vaste kos = sigbare medemenslikheid.

• Ywer wat groei: Die regverdige God gaan kragtig voort met sy volmaakte reddingsplan deur geredde gelowiges. En hoe nader aan die voltooiing van hierdie plan, hoe meer Gees-energie sal na vore kom in ons wat volhard (Heb.6:11-12). Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat geestelik volwassenes al hoe meer deel is van God se koninkryksaksie. Dus: vaste kos = toenemende Gees-energie.

• Permanente belofte: God hou by sy Woord, Hy kan nie ‘n leuen vertel nie, Hy lê ‘n eed van getrouheid by die Hoogste Gesag (dit is Homself) af (Heb.6:17). En hierdie belofte waarborg die beste moontlik uitkoms vir diegene wat Hom ernstig en ernstiger opneem. Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat die grootmense in die geloof met baie meer selfvertroue leef en praat oor die toekoms op aarde en hierna. Dus: vaste kos = positief wees oor die toekoms.

• Vaste anker: Met die mens Jesus wat sondeloos aan die kruis gesterf het, kry die hoopgevulde sondaars Iemand wat binne die allerheiligste van God aktief optree in hulle belang (Heb.6:20). Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat Jesus vir ons wat wonder oor die toekoms, “’n veilige en onbeweeglike lewensanker” (Heb.6:19) in hierdie teenswoordige tyd is. Dus: vaste kos = Jesus in my!

Moenie tevrede wees met jou medemenslikheid nie – God wil deur jou ‘n seën wees vir ander!
Moenie tevrede wees met jou Gees-energie nie – God wil deur jou ander red!
Moenie negatief wees oor die toekoms nie – God waarborg die heel beste vir jou!
Moenie vaskyk teen die gemors hier op aarde nie – jou Voorloper is reeds hemel in jou!

Doom Charl

Wednesday, March 6, 2013

Oordenking 10 Maart 2013

Oordenking 10 Maart 2013

Jesus-mense bou verstandig

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.” (Matteus 7:24)

Persoonlik voel ek baie tuis in die boubedryf. Dit is vir my so lekker om die beplanning, uitvoering en voltooiing te beleef van iets wat gemaak of gebou word. Die resultate is sigbaar en kan waardeer word, veral as dit deeglik en netjies gedoen is. So gebruik Jesus dan ook die bou van ‘n huis as simboliek vir geestelike bouwerk. Maar met Jesus se verduideliking is dit baie belangrik hoe die bouwerk begin is, hoe goed is die fondament van die huis. Die fondament bepaal of die huis die toets van storms sal deurstaan. Wat is dié fondament?

Jesus gebruik hierdie simboliek volgens Matteus aan die einde van die bergrede wat handel oor praktiese Jesus-mens-wees. Met my praktiese lewe as Jesus-mens word die fondament van my geestelike huis gelê. Wie lê hierdie fondament (1) en waaruit bestaan hierdie fondament (2) van my geestelike huis?

(1) My geestelike huis se fondament word deur die Heilige Gees se deeglike werk in my gelê. Maar my meewerking en samewerking, is mý keuse. Hy werk/bou en ek werk/bou saam; ek laat toe dat Hy werk/bou; Hy kan nie werk/bou sonder dat ek Hom nooi, of vra, of soek, of smeek, of aanmoedig nie.

(2) Die rotsfondasie bestaan uit boumateriaal soos die bloed van Jesus aan die kruis; én die onverdiende guns van God om my te kies as Jesus-mens; én die bevrydende en vernuwende werk van die Heilige Gees in elke Jesus-mens; én alles wat die hemelse Boumeester wil gebruik. EN OOK is die duursame boumateriaal van die fondament elke Jesus-mens se positiewe aanvaarding van God se vergifnis; én die waarderende erkenning van God se genade; én die gehoorsame meewerking met die Gees in elke Jesus-mens; én alles wat God skenk vir ons om aan Hom terug te gee.

God bou dus, maar ek werk saam met sy bouwerk. God voorsien die boumateriaal, maar ek word die sigbare resultaat van sy bouwerk. Hy ontwerp die huis, Hy voorsien die boumateriaal, Hy is die Bouer; maar ék is die huis, in mý lewe word die boumateriaal gebruik en ék is die sigbare bewys van Wie die Bouer is. Daarom:

• Maak seker jy kén die Bouer (want Hy ken jóú)!
• Verstaan wat die boumateriaal is (en maak daarvan gebruik)!
• Word die sigbare bewys van God se bouwerk (sodat Hý verheerlik kan word)!

Doom Charl

Wednesday, February 27, 2013

Oordenking 3 Maart 2013

Oordenking 3 Maart 2013

Jesus-mens is ‘n werkwoord: leer

“... bly by wat jy geleer het ...” (2 Timoteus 3:14)

Geen plig om die gewete te sus nie, spontaan, dit is lekker ... só kan Jesus-mense leef.

Hoe is dit moontlik? Slegs in die proses waarin God se doen-lysie geleidelik my doen-lysie word. En amper soos wat ons God net kan “sien” in wat Hy doen, kan ander sien Wie God in ons is, in wat ons doen. Ons het ‘n altyd-aktiewe-teenwoordige-nooit-slaap-God. En deel van sy groot doen, is gefokus in wat Hy deur sy Gees in ons doen. En hierin is daar vir ons ‘n wonderlike uitnodiging: kom val in by dit wat God reeds doen. Hoe?

Een moontlikheid is: LEER. Ja, die werkwoord soos “bestudeer”, daardie ding wat ons op skool doen en gedoen het, en waarvan baie glad nie hou nie. Maar hierdie doen word lekker vir Jesus-mense, dit word selfs lekkerder. Want Jesus-mense het die allerbeste en die slimste Tutor. Hy wil jou eie persoonlike Leermeester wees met sy Gees in jou. Ja, hierdie Tutor gebruik ander mense en boeke en omstandighede en ervaringe. Hy begelei Jesus-mense tot ‘n dieper kennis van Homself op baie algemene maniere, maar soms ook op baie buitengewone maniere.

Soos wat Paulus vir die jongman Timoteus aanmoedig, “... bly wat jy geleer het ...” Elkeen van ons het iewers op ons pad in die verlede, geleenthede gehad om sekere geloofswaarhede te ontdek by spesifieke mense, of in unieke gebeurtenisse in ons lewe, of in boeke wat ons gelees het, of in ander uitsonderlike bewuswordings. Miskien was dit in jou ouerhuis, of ‘n onderwyser, of ‘n krisis in jou lewe, of ‘n spesifieke boek wat jy gelees het, of wat ookal – almal moontlike geleenthede waaruit jy geleer het en gevorm is.

Maar vir ons as kerkmense, en meer spesifiek vir ons as Jesus-mense, is die Woord van God die basisbron van geloofskennis wat ons inwonende Tutor wil gebruik om ons te leer. By uitstek te leer Wie Hy is, maar ook hoe ons Hom kan ken, Hom kan ontmoet, in Hom kan glo, Hom kan dien, Hom kan eer. Ons persoonlike Tutor wil self ons help om suiwer te glo, dwaling te vermy en opreg te lewe.

En hier kom die beste nuus: by hierdie persoonlike Tutor is daar nie eksamens wat geslaag moet word nie – in Jesus self is ons geloofstoets met die hoogste lof geslaag. Die grootste toets wat ons dop, is om ons doof te hou vir Stem, om nie Sy raad te volg nie, en nie in besit te neem wat Hy vir ons aanbied nie.

Jesus-mens kom LEER by Jesus self!

Doom Charl

Wednesday, February 20, 2013

Oordenking 24 Februarie 2013

Oordenking 24 Februarie 2013

In Jesus-mense wórd gedoen

“Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is.” (Hebreërs 13:21b)

Uiteindelik kom ons by Jesus-mense se doen-lysie. MAAR dit is ‘n heel anderste doen-lysie as wat ons oor die algemeen dink. Ons doen-lysie is eintlik altyd God se doen-lysie. Hy is met en in ons besig om te doen. Natuurlik is daar dinge wat ons kan doen, sodat Hy makliker en meer in ons kan doen. Maar eers wil ons verstaan waarmee is Hy steeds en reeds in ons besig. Kom ek verduidelik:

Hy het al baie lank terug, ja, reeds by die skepping met ons en in ons begin doen: Hy het ons sy verteenwoordigers na sy beeld gemaak. Reeds daar het Hy volledig en volmaak gedoen, daar is nie fout met wat Hy gedoen het nie. Ons is ongelukkig geneig om sy goeie werk op te voeter. Maar daarvoor het Hy ook ‘n plan: met ons Jesus se bloed word ‘n ewige ooreenkoms met ons aangegaan en is Hy uit die dood teruggebring – die twee grootste doen-dinge van God vir ons. En net om dubbel seker te maak, doen Hy deur die Gees wat ons die nodigste het: Hy word die lewe in ons! En die lewe wat Hy gee, het direk te doen met alles wat Hy nodig vind om in alle tye in ons as Jesus-mense te doen.

So word die Gees se doen-dinge in ons, stadig maar seker, ons doen-lysie:
• om te glo in die enigste ware lewende God;
• om met God-liefde te leef in verskillende verhoudings;
• om sy Stem te hoor in sy Woord op so ‘n manier dat dit ons manier van lewe beïnvloed;
• om so van sy teenwoordigheid in ons bewus te wees, dat ons geen vrees vir Hom het nie;
• om sy wil te ken en te doen verskaf ons groot blydskap én vryheid;
• om aangenaam, aanneemlik, aanvaarbaar vir ander en almal te wees; en
• om met verlange uit te sien na en saam te doen aan die voltooiing van sy werk in ons.

Ja, ja, ek weet, die Gees kan hierdie doen-dinge net in my doen wanneer ek in gebed met Hom kontak hou, en/of wanneer ek my Bybel lees, en/of wanneer ek saam met ander gelowiges Hom aanbid, en/of wanneer ek na die Skepper oplet in die natuur, en/of wanneer ek aan Hom uitgelewer voel in ‘n krisis, en/of wanneer ookal. Maar nie een hiervan is plig, of las, of my bydrae, of deur my opoffering nie. God se Gees doen in en deur my, eintlik ten spyte van my.

Doom Charl

Wednesday, February 13, 2013

Oordenking 17 Februarie 2013

Oordenking 17 Februarie 2013

Jesus-mense weet net Hy kán (PUNT)

“... sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:13)

In die beginjare na my bekering, het ek dikwels gehoor van geloofsekerheid. Daardie tyd het ek verstaan dat my geloof in die Here Jesus sal groei en dat ek met verloop van tyd al hoe meer sekerheid sal hê oor my verlossing. Maar toe gebeur daar iets baie vreemd (volgens my): ek twyfel met tye erg, en die dinge wat sekerheid moet gee, bring eerder onsekerheid. Dit is dinge soos dat ek sukkel om sekere sondes te laat staan. Dit is dinge soos dat ek getroue kerkmense wil vertrou as ek swaarkry, en dan tot my teleurstelling ontdek, ek kan selfs op hulle nie staat maak nie. Ek het al hoe meer gesukkel met geloofsekerheid, veral omdat materiële dinge steeds vir my belangriker is as geestelike dinge.

Maar genadiglik het ek aanhou soek na antwoorde, ek wou al hoe beter verstaan wat dit is om ‘n kind van die Here te wees, ek wil God beter ken en dan ook beter dien. In my soeke het ek wyd gelees, met baie gepraat en verskriklik baie gedink (of eerder geworstel). En groot was my verbasing: ek het al hoe meer ontdek dat die vrae is meer as die antwoorde; ek sal altyd in myself en in ander as kinders van die Here teleurgesteld wees; God sal ek nooit volledig kan ken nie; en Hy is nie afhanklik daarvan dat ek Hom beter dien nie!

En baie geleidelik het my fokus begin verskuif: al hoe weg van myself en al hoe meer gerig op Hom; minder van die dinge wat ek kan en meer van die dinge wat Hy kan; minder skuldig voel oor al my tekortkominge en al hoe meer beïndruk deur sy volmaaktheid; al hoe minder pogings om Hom te beïndruk en al hoe meer oorgawe dat Hy beheer neem; al hoe minder vasgevang in die materiële en al hoe meer oorgeneem deur die Gees; ens. ens.

Hoe gebeur dit? Net Hy kán dit laat gebeur. Net Hy kán my laat glo. Net Hy kán die eie-ek in my kruisig. Net Hy kán besluit om beheer te neem in my lewe. Net Hy kán van my sy kind maak. Net Hy kán my ‘n beter kind van Hom maak. Net Hy kán vir my ‘n doen-lysie laat doen om in Hom te groei. Net Hy kán my aan Hom gehoorsaam maak. Ens. Ens.

Net Hy kán ... PUNT

Doom Charl