Wednesday, September 18, 2013

Oordenking 22 September 2013

Hoop in ‘n tyd van wanhoop

“Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Petrus 3:15b)

Het jy dalk ‘n storie van hoop om in ‘n wanhopige tyd vir ander te vertel?

Daar is eintlik net twee groepe mense vandag, diegene wat hoop en die ander wat hoop verloor het. En dit is juis die wanhopiges wat gedurig negatief en pessimisties is. Volgens hulle loop alles op die oomblik verkeerd en gaan alles agteruit en lyk die toekoms donker. Baie gou neem die hoop-verloorders die geselskap oor met hulle verdoemende praatjies en net so gou praat almal saam in ‘n koor. Selfs die positiewes voel dat die geskiedenis verkeerd verloop. Ons ontdek ‘n teenstrydigheid: die innerlike mens wat vrede het by God teenoor die uiterlike omstandighede wat daagliks ons vrede steel.

Maar vir Jesus-mense en eintlik net vir Jesus-mense, is daar altyd hoop. En dit ten spyte van probleme wat hulle lewe baie moeilik maak, ten spyte van onredelike en onverdiende swaarkry, ten spyte daarvan dat hulle sleg behandel word en sleg gesê word, ten spyte daarvan dat hulle onskuldig skuldig bevind word, ten spyte van wat ookal ...  Jesus-mense bly hoop om die regte redes.

Want Jesus-mense se hoop is ...

·         Om in die sagte liefde van God rus te vind;

·         In Christus te lewe wat gesterf en opgestaan het;

·         Om vergifnis uit te deel omdat ek reeds vergewe is;

·         Die Gees in jou wat begrip gee in die lewe;

·         Om aan ander hoop te gee omdat jy in die Hoop lewe;

·         Baie meer as om net vir hemel gereed te wees en ‘n pynlose toekoms te verwag;

·         Om soms net te wees ...

Prakties beteken hoop ...

1.       Soek en vind hoop in Hom (God is hoop);

2.       Gebruik tye/tydjies van stilte en afsondering om te ontvlug uit omstandighede van wanhoop (jy kan jou hoop kies); en

3.       Fokus op ander wat sonder hoop is en doen iets opbouend vir hulle (ander het ook hoop bitter nodig).

Hoe klink jou storie van hoop?

Doom Charl (082 469 2499)

Wednesday, September 11, 2013

Oordenking 15 September 2013


Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 9: Die sleutel tot egte godsdiens

“Span al julle kragte saam om by die smal deur in te gaan.” (Lukas 13:24)

Egte godsdiens? Is daar so iets? Is dit nie juis die probleem nie? Godsdiens het soveel valsheid in die kerk ingedra. Daar is so baie goeie kerkmense wat erg godsdienstig is, maar dit sonder die Lewe, sonder die lewende Jesus!

Kom ons praat dan eerder van egte Jesus-mense, mense soos ek en jy wat die Sleutel van die lewe hét, wat op die smal pad by die smal deur ingaan, vir wie die hemel reeds wawyd oopstaan, wie se leefwyse deur die Gees van God bepaal word ...

Mý opinie: valse godsdiens het tot binne-in die kerk gekom deur die klem op gehoorsaamheid en my eie verantwoordelikheid om goed te lewe. Die gevolg is ‘n wavrag skuldgevoelens wat getroue kerkmense met hulle saam dra. My eie gesukkel om self rein te kan lewe en vry van enige wêreldsgesindhede te wees, het my laat ontdek dat die antwoord vir ‘n vrygemaakte lewe iewers anders is. Die kerk met sy valse leraars het dit so in ons koppe ingeprent dat ons nie “heilig” genoeg lewe nie, dat ons net nie vry kom van ons alewige “ek”-pogings nie.

Hoe kan ek weet dat ek ‘n egte Jesus-mens is? Eers moet ek baie goed besef dat ek nie self kan verander nie. Net God maak my deur sy Gees sy eie kind. Dit voel meer gereeld vir my dat hoe harder ek self probeer om ‘n oulike kind van Hom te wees, hoe meer stel ek teleur – is ek oor myself teleurgesteld. Ek dink nie dat Hy so baie in óns teleurgesteld is nie, óns is dan sy handewerk en sy liefdeswerk en sy vernuwingswerk en sy beeld-draende-lofrede! Hy verstaan ons gesukkel met onsself 100% en help 100% met die 100% oplossing: Jesus! Ja, selfs Jesus ín my!

Ek bly by my standpunt: ek gee (gedurig, aanmekaar, elke dag, elke sekonde) oor ... aan Hom, ek gee my pogings en probeerslae oor aan Jesus in my. En soos wat Hy in my is, wil en kan en is Hy besig in sý egte Jesus-mens/-kind. Ek is en bly 100% afhanklik van Jesus ... nét Hý het die sleutels van die Lewe in sy hand. Sý prys vir my lewe is só GROOT dat géén poging of probeerslag van my vermelding werd is nie.

Jesus is die EGTE EEN ín my – dít is egte Jesus-mens!

Doom Charl

Wednesday, August 21, 2013

Oordenking 25 Augustus 2013

Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 6: Die sleutel tot liefde vir jou vyand

“Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê ...” (Lukas 6: 35a)

Ons grootste uitdaging om soos Jesus-mense te lewe, is wanneer ons sleg behandel word. Daar is soveel haat in ons alledaagse lewe, dat dit so maklik is om saam met die stroom ook maar net links en regs te haat.

Ons haat die gemors wat op soveel terreine na vore kom, en ons haat veral die mense wat verantwoordelik is vir die gemors. Ons haat dit om al ewig agter ons alles te moet toesluit vir ons eie veiligheid, maar ons haat eintlik die boosdoeners wat om elke hoek en draai vir ons loer. Ons haat die onveilige paaie, maar eintlik verpes ons die onverskillige bestuurders op ons paaie. Ons haat dit om te sien hoe baie goed verval wat óns opbou, maar dis veral die onbekwame mense wat die agteruitgang toelaat, vir wie ons woedend is. Haat is naby elkeen van ons: as ek dalk valslik beweer ek haat nie, dan is daar ander wat my haat, wetend en onwetend.

God se Gees in elke Jesus-mens wil, kan en is besig om alle haat in ons in God-liefde te omskep. Hy wat God is spesialiseer en blink uit in liefde. Hy ís liefde (1 Johannes 4:8). Hy haat wel die sonde en is regverdig en straf sonde. Maar Jesus-mense se sonde is reeds klaar gestraf, klaar, afgehandel, “finito”, einde daarvan. Hoe so? Eenvoudig: Jesus, en spesifiek Jesus sterf aan die kruis as straf vir alle Jesus-mense se volledige pakkie (eintlik groot pak) sonde. Dít is liefde, dít is haat wat verander in liefde, dít is die heel enigste manier hoe óns haat in liefde sal verander:

SLEGS in die ontdekking, besef, begryp, verstaan, snap, bewus raak ... en gepaardgaande glo, glo dat God my sonde haat, glo dat God my sonde reeds gestraf het toe Jesus vir my aan die kruis gesterf het, glo dat ek reeds vergewe is, glo dat ek nie meer in haat sal, wil, kan lewe nie!

Dan eers, dan eers kyk ek met ander oë na my vyande, dan eers ontwikkel ek ‘n totaal ander houding teenoor diegene wat sleg is en slegte goed ook aan my doen. God het my onvoorwaardelik lief, sodat ek ook ander onvoorwaardelik lief kan hê, ten spyte van wat hulle ookal ... God haat steeds die sonde, waarvan haat die kern is, en Hy sál steeds die sonde/haat straf van hulle wat nie Jesus-mense is nie. Los die vergelding en wraak vir Hom ...

... wees lief vir alle mense, want ek en jy is Jesus-mense!

Doom Charl

Wednesday, August 14, 2013

Oordenking 18 Augustus 2013

Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 5: Die sleutel tot swaarkry-vir-Jesus

“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg ...” (Matteus 5:11a)

Met die teorie/teologie vir ‘n Jesus-mens-lewe in plek, kom ons nou meer by die praktiese. En by sleutel 5 gaan dit oor ons hantering van swaarkry. En swaarkry is nie lekker nie. En swaarkry is nie so maklik om te verstaan nie. So hierdie sal nie die laaste woord oor swaarkry wees nie ...

Om hierdie moeilike saak eenvoudig te hou, gaan ek fokus op Jesus se radikale uitspraak oor swaarkry in die Saligsprekinge van Matteus 5. Om deur die veranderende werk van die Gees van God ‘n totaal-oorgegewe-volgeling van Jesus te wees, gaan ‘n definitiewe opoffering en gepaardgaande pyn tot gevolg hê. Hier is sprake van fisiese en emosionele pyn, wat dan as swaarkry beleef word. Dit beteken selfs dat indien jy geen pyn of ongerief ervaar nie, dan is jy glad nie ‘n Jesus-mens nie. Hoekom? Is dit dan só drasties? JA ... hier is slegs ‘n paar kante van Jesus-mense se swaarkry:

• Die Gees-veranderde-gedrag van Jesus-mense is presies die teenoorgestelde van die verdorwe-sondige-verlore-gaande-wêreld waarin ons is: liefde teenoor haat; rein teenoor besmet; arm teenoor ryk; sag teenoor hard; honger teenoor ooreet; beledig teenoor ophemel; waarheid teenoor valsheid ... en hierdie lys is nimmereindigend. Dis gewoon swaar vir elke Jesus-mens in hierdie wêreld ...
• Om Jesus met my hele bestaan te volg, beteken dat Hy die belangrikste is, belangriker as ekself is en belangriker is as die wêreld waarin ek is. En dít is die swaarste vir alle mense. Elkeen van ons wil graag belangrik wees en so wil die verlore-gaande-wêreld waarin ons is, ons elkeen se lewe oorneem en ten volle beheer. En waar die Gees my beheer, word ek deel van God se nuwe wêreld waar totaal ander maatstawwe geld. En dit laat ons “suffer” ...
• Al word ons nie fisies vervolg omdat ons Jesus-mense is nie, laat die Gees ons keuses maak wat ons ongewild maak. Die Gees-gedrewe-besluit om nie agter genot en “bling” van die God-lose-wêreld aan te veg nie, beteken self-prysgawe, self-kruisiging, self-loosheid, on-self-sugtigheid ter wille van ander. Jy begin gee tot jou eie skade; jy spandeer tyd ter wille van Hom; jy doen meer vir ander as vir jouself; jy praat meer oor Hom as oor jouself ... van nature swaar vir ons elkeen!

Is jy moontlik net ‘n bewonderaar van Jesus wat baie beïndruk is met Hom? Of is jy dalk ‘n leerling van Jesus wat baie graag meer van Hom wil hoor (sonder enige doen)?

Of is jy ‘n Jesus-mens wat sy pyn en jou eie pyn deur sy Genade-Gees hanteer!

Doom Charl

Wednesday, August 7, 2013

Oordenking 11 Augustus 2013

Oordenking 11 Augustus 2013

Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 4: Die sleutel tot selfverloëning

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en my volg...” (Lukas 9:23)

Ons is besig met ‘n reeks radikale uitsprake van Jesus om as Jesus-mense te leer wat dit beteken om radikaal vir Hom te lewe. Opgesom beteken die eerste drie sleutels dat ons God 100% nodig het om Jesus met volle oorgawe te volg, hiervoor gee Hy sy Gees as enigste en beste hulp om alle sonde-struikelblokke uit ons pad uit te neem.

Hier is die 3 grootste leuens oor ‘n Jesus-lewe:
• Jesus het net vir sommige mense gesterwe aan die kruis;
• Net goeie mense kan Jesus-mense wees; en
• Dit is maklik om ‘n Jesus-mens-lewe te leef.

Om die erns van hierdie leuens te besef, het elkeen van ons nodig om die waarheid (of eerder die Waarheid) te leer ken. Daar is soveel valse profete, daar is so baie valsheid selfs in die kerk en daar is so baie mense wat gereeld in die kerk kom, wat nog nie die W-/waarheid ontdek het nie. Hier is die onbevlekte, die opregte en die enigste W-/waarheid:
• Jesus is die enigste en volledige Verlosser vir alle mense;
• Slegs deur die Heilige Gees se lewens-veranderende vernuwing word Jesus-mense gered en gereining; en
• Jesus-mense lewe selfloos deur permanent met groot inspanning aan hulleself te sterwe.

Hoe sterwe Jesus-mense prakties aan onsself? ... deur alle ander mense met respek te benader; deur ander se pyn te verlig; deur eerder te gee as te ontvang; deur ander onvoorwaardelik te vergewe; deur ander se behoeftes belangriker te ag as ons eie; deur oorheersend vrygewig te wees; deur ander se opinie bo ons eie te stel; deur uit ons pad te gaan om ander te help; deur meer te luister as om te praat; deur respek te hê vir ander se goed ...

Hiervoor is nodig dat die “self” in my doodgaan; dat die eie-ek sterwe; dat selfloosheid oorneem in my lewe; dat die Gees van God meer beheer neem van my denke, woorde en dade; dat ander vir Jesus in my kan sien: dit wil God baie graag in jou en vir jou en deur jou doen! DIT IS DIE SLEUTEL TOT DIE LEWE!!!

Doom Charl

Wednesday, July 31, 2013

Oordenking 4 Augustus 2013

Oordenking 4 Augustus 2013

Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 3: Die sleutel tot ‘n rein lewe

“As jou regterhand jou laat struikel, kap hom af ...” (Matteus 5:30a)

100% van God afhanklik sodat jy 100% toegewy aan Hom kan lewe – die eerste twee sleutels vir ‘n radikale lewe as Jesus-mens. Maar wat dan nou van die sonde waarmee ek so erg sukkel?

Daar is so baie sondes, hoor net wat haat die Here alles: “... oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ’n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.” (Spreuke 6:17 tot 19). En dan nog al die wette wat in die Bybel vir ons die sonde deeglik uitspel. En Paulus wat sê hoe alle mense van nature is: “Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig.” (Romeine 1:29 tot 31)

Dis mos maklik: bly net weg van die sonde, breek met die sonde, draai jou rug op die sonde, moenie toegee aan versoekings nie, doen net wat reg is, leef ‘n rein lewe ...

NEE! NEE! NEE! 1000 maal NEE!

As ek en jy sélf van die sonde kon wegbly, sélf met die sonde kon breek, sélf ons rug op die sonde kon draai, sélf nie toegegee het aan versoekings nie, sélf doen wat reg is, sélf rein kon lewe ... dan het Jesus onnodig vir my en vir jou aan die kruis gesterwe! “As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.” (Galasiërs 2:21b)

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5:25) Hierdie is die antwoord tot ‘n radikale Jesus-mens-lewe. My gees en God se Gees werk saam aan my reinheid en gehoorsaamheid. Soos wat die Gees God se wet op my hart skrywe, gee ek spesifiek my spontane samewerking. So min mense hoor dit of verstaan dit. Solank my Jesus-lewe van my eie inspanning en eie pogings afhanklik is, sal ek ‘n mislukking voel en wees.

Só werk dit: ek is sondig, ek hoor die goeie nuus van Jesus, sy Gees praat met my hart, Hy werk herskeppend in my sondige hart, Hy vernuwe en reinig my van binne, Hy maak my aan Hom gehoorsaam met my gewillige samewerking, ek word al hoe meer Wie Hy in my is – dit is alles net God se onverdiende guns aan my!

Die sleutel tot ‘n rein lewe is 100% in God se Gees se hand en ek gee 100% my samewerking – Hy alleen laat jou rein lewe soos Hy wil en alleen kán, maar jy wíl rein lewe! Allegories toegepas op ons fokusteks: as jou eie pogings jou laat struikel, laat kap dit af!

Doom Charl

Thursday, July 25, 2013

Oordenking 28 Julie 2013

Oordenking 28 Julie 2013

Hooftema: Jesus sê wat?

Sleutel 2: Die sleutel tot verbintenis

“Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” (Lukas 9:62)

‘n Gelukkige lewe is alleen moontlik deur in totale afhanklikheid van God te lewe, dit was ons eerste sleutel tot ‘n Jesus-mens-lewe. Die tweede sleutel vra jóú 100%. Bedoelende as jy God 100% nodig het om gelukkig te wees, vra Hy 100% van jóú!

‘n Jesus-lewe vra alles, maar gee ook alles. Jy kan nie vir Jesus halfhartig volg en dien nie. Jy kan nie ‘n agterdeur oop hou om nog in die wêreld soos die wêreld te lewe nie. God laat nie met Hom onderhandel dat jy die beste van twee wêrelde kan probeer geniet nie. Jy kan nie met een voet in die koninkryk van God staan en met die ander voet vastrap in die vernietigende genot van die goddelose wêreld nie. Jy kan ook nie voorgee dat jy finaal en volledig gekies het vir ‘n Jesus-lewe, maar eintlik is jou hart nie daarin nie. Jy kan nie “probeer om reg te lewe” nie, jy gaan dit nie regkry nie. Self “probeer” sonder God, is dieselfde as om terug te verlang na ‘n lewe sonder Jesus.

In ons teksvers in Lukas 9 is Jesus aan die woord oor die verskonings wat daar kan wees om Hom nie onmiddellik en volledig te volg nie. Jakkalse en voëls het blyplekke, maar Jesus self het nie op aarde ‘n vaste blyplek nie – want so kan Hy 100% gee. Die tweede verskoning klink so geldig, die persoon wil eers sy pa gaan begrawe – om Jesus te verkondig is selfs belangriker as hierdie familie-verantwoordelikheid. Die eise wat Jesus stel is meer bindend en strenger as enige familiebande, Hy duld geen halfhartige navolging nie. Iemand terugkyk terwyl hy ploeg, doen dit skeef en oneffektief – elke kerkmens wat terugverlang na die lewe sonder Jesus, is nog nie ‘n Jesus-mens nie!

Jesus vra ‘n 100% oorgawe aan Hom, Hy vra jou heel beste, Hy vra dit onmiddellik ...

... dit beteken: HY GEE ALLES VIR JOU sodat:
• Jy Hom 100% sal volg;
• Jy jou beste vir Hom sal doen;
• Jy jou beste vir Hom sal gee;
• Jy jou hele lewe aan Hom sal wy;
• Jy Hom bo alles sal lief hê;
• Jy Hom 24 uur per dag en 7 dae van die week sal dien; en
• Jy die heel meeste uitsien om Hóm in die hemel te sien!

Doom Charl