Thursday, June 30, 2016

Oordenking 3 Julie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: God is niks aan niemand verskuldig nie!
“Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” (Job 41:2)

Ons is besig met tydlose lewenswaarhede in die boek Job. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie. Swaarkry is nie altyd die gevolg van sonde nie, en God kan nie beskuldig word vir die verkeerde nie. Soos wat ons Hom beter ken, is ons beter voorbereid om die uitdagings van hierdie lewe te kan hanteer.

Die Here praat vir die eerste keer direk met Job in hoofstukke 38 tot 41. Eintlik is Hy besig om vir Job te ondervra en uit te daag om Hom te antwoord op baie direkte vrae. Hierdie reaksie van die Here self, kan moeilik in net ‘n paar sinne opgesom word, maar kom volgens my op die volgende neer:

·         Wie het die aarde en die sterrehemel gemaak? Wie sorg vir lig en donkerte, vir dag en nag? Wie is in beheer van die natuurelemente soos reën, donderstorms en sneeu?

·         Kan die mens die leeu, die wildedonkie, die volstruis, die perd of die valk werklik beheer, en watter nut het hierdie diere vir die mens?

·         Wie het die mag en uniekheid aan die seekoei en die krokodil gegee?

Tussendeur hierdie lang beskrywings van hoe die Here die enigste Een is wat werklik in beheer is van sy skepping, konfronteer Hy vir Job met vrae soos:

·         “Wil jy ‘n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys?” (Job 39:35)

·         “Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word?” (Job 40:3)

·         “Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” (Job 42:2)

So min of meer in die middel van die Here se konfrontasie, sê Job: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe kan ek U antwoord? Ek sal liewer stilbly.” (Job 39:37)

God is tot onbeskryflik meer in staat as die mens. Hy het niks van enige mens op hierdie aarde nodig nie. Alles is ondergeskik aan sy mag en Hy kan enigiets doen wat Hy wil. Elke mens op hierdie aarde is een honderd persent aan Hom ondergeskik en is direk van Hom afhanklik.

Mens, aanvaar net: God skuld jóú NIKS! Maar mens, onthou ALTYD: Hy ís BAIE lief vir jou!

Wednesday, June 22, 2016

Oordenking 26 Junie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: kan jy waag om God te bevraagteken?
“God is meer as die mens ...” (Job 33:12b)

Ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en met ander mense oor die weg te kom. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie. Swaarkry is nie altyd die gevolg van sonde wat ons doen nie. God kan ook nie altyd beskuldig word vir die dinge wat verkeerd loop in ons lewe nie.

Elihu, ‘n vierde en jonger vriend van Job, is in Job 32 tot 37 aan die woord. Hy help vir Job en die ander drie vriende reg in hulle verkeerde redenasies. Dit is nogal moeilik om kortliks saam te vat wat hy alles sê, die ideaal sal wees dat elkeen van ons dit self sal lees. Ek gaan tog probeer om die hooflyne van sy betoog te gee.

Een van Elihu se belangrike waarhede, is dat God en die mens nie werklik met mekaar vergelyk kan word nie. Soos ons teksvers sê: “God is meer as die mens ...” (Job 33:12b). Hierdie is die rede waarom ons nie vir God kan beskuldig dat Hy onregverdig optree nie. Ons behoort eerder die fout by onsself te soek vir dinge wat verkeerd loop in die lewe. Soos Elihu sê: “Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen ...” (Job 34:12a).

Dan maak Elihu ‘n groot ding van hoe God verskillende maniere gebruik om die mens aan te spreek en sodoende te red van die graf. Onder andere praat God met die mens terwyl hy slaap (Job 33: 12 tot 18). “Of Hy spreek die mens aan met ernstige siekte ...” (Job 33:19a). Elihu beskrywe hierdie maniere waarop ons God se wil in ons lewe kan ken, baie realisties. Volgens hom kom dit nie altyd maklik nie, maar juis deur worsteling en baie vrae wat ons vra in tye van nood.

Vir my is Elihu se breedvoerige beskrywing van God se grootheid en majesteit amper die belangrikste. Hy beskrywe God se grootsheid in die skepping as motivering waarom ons Hom nie behoort te bevraagteken nie. Hoor net een van Elihu se ongelooflike uitsprake: “God stuur die storm óf om te straf óf om vir die aarde te sorg óf om sy liefde te betoon.” (Job 37:13).

Wat is ons gevolgtrekking uit Elihu se toespraak? Ons het elkeen die geleentheid om in ons uiteenlopende omstandighede, beter te ontdek wie ons God is. Soos wat ons Hom beter ken (al sal ons Hom nooit volledig kan verstaan nie), is ons beter voorbereid om die uitdagings van hierdie lewe te kan hanteer.

Thursday, June 9, 2016

Oordenking 12 Junie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: Is swaarkry die gevolg van sonde?
“Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God ...” (Job 4:17a)

Ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en met ander mense oor die weg te kom. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie!

Drie van Job se vriende voer ‘n baie lang gesprek (Job 4 tot 31, dit is 27 hoofstukke) met hom oor die rede dat iemand wat so vroom en opreg is, so bitter swaar kan kry. Hulle gee volledig erkenning aan al Job se goeie hoedanighede. Hulle praat baie oor God, maar hulle praat nooit in hierdie lang dialoog, met God self nie. Hulle betoon dus simpatie met Job se ellende, maar nie een keer bid hulle vir hom nie. Wanneer mens dit lees, klink dit asof hulle in sirkels redeneer en dieselfde ding net oor en oor herhaal. Job probeer sy beste om sinvol op hulle argumente te reageer, maar in hierdie lang redenasies met hierdie drie vriende, klink nie asof Job by ‘n goeie verklaring van sy swaarkry uitkom nie.

Die grootste fout wat Job se vriende maak, is om te redeneer dat sonde altyd die oorsaak van swaarkry is. Hulle eenvoudige antwoord aan Job is dat hy net sover moet kom om sy sonde te bely. Vriend EEN, Elifas sê onder andere: “Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God ...” (Job 4:17a). Vriend TWEE, Bildad sê: “As jy ... die Almagtige om genade smeek ... sal Hy ... jou gesond in jou huis terugbring.” (Job 8:5-6). Vriend DRIE, Sofar sê: “As God maar wou begin praat ... dan sou jy weet dat God jou nog nie eers vir ál jou sondes straf nie.” (Job 11:5-6).

In Job se reaksie op sy vriende se argumente, worstel hy met die gevolge van reg en verkeerd doen. So sê hy onder andere: “Al is my saak reg, my woorde sou my skuldig maak; al is ek ook onskuldig, ek sou oor my woorde veroordeel word.” (Job 9:20). Die opregte en vroom Job soek na ‘n rede waarom dinge so verkeerd geloop het in sy lewe.

So maklik kan ons dieselfde fout maak wanneer dinge in ons lewe verkeerd loop. Ons kan net so maklik redeneer dat daar iets verkeerd is in ons lewe wat die direkte oorsaak is vir ons teenspoed. Laat ons egter dadelik ook sê dat daar verseker in sommige gevalle wel probleme op ons pad kom, wat die gevolg is van verkeerde keuses wat ons maak. Eenvoudig gesê: sonde kan swaarkry veroorsaak, maar nie altyd nie!

Thursday, May 26, 2016

Oordenking 29 Mei 2016

Persoonlik op reis saam met Job: die vroom een
“In die land Us was daar ‘n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy.” (Job 1:1)

Ek nooi jou uit om in die volgende weke saam met my op ‘n persoonlike reis saam met Job te gaan. Kom ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en ander oor die weg te kom.

Kom ons kyk eers na Job se agtergrond:
          Hy het naby aan God gelewe;
          Hy was buitengewoon ryk;
          Hy was die belangrikste persoon in sy omgewing;
          Hy bring gereeld offers indien sy tien kinders sonde sou doen op hulle wilde partytjies.

Hierdie is genoeg om te besef dat Job iemand baie besonders was.  Iemand van wie se lewensondervindinge ons graag sal wil leer.

Op ‘n dag vind daar ‘n gesprek plaas tussen die hemelwesens, Satan en die Here. Satan daag die Here uit om toe te laat dat Job se voorspoed eindig met die verlies van al sy besittings. So gee die Here alles wat Job het oor aan Satan se mag, slegs met die voorwaarde dat Job self niks mag oorkom nie. En so verloor Job ALLES wat hy besit, ook sy tien kinders sterf! En Job se reaksie: “Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.” (Job 1:22)

Die gesprek tussen die hemelwesens, Satan en die Here gaan dan verder. Satan daag die Here ‘n tweede keer uit om Job self siek te laat word. Weer word Job aan Satan se mag oorgegee, maar ook met die voorwaarde dat Job moet bly lewe. Job word van kop tot tone met pynlike swere getref. Hy sit op die ashoop en Job se vrou moedig hom aan om God te vervloek. Maar steeds lees ons: “Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.” (Job 2:10)

Van hierdie man wil ek graag leer. Ek kan nie dink dat ek sou kon doen wat hy reggekry het, onder sulke uiters slegte omstandighede nie.

Hoe dink jy sal jy reageer as jy ALLES verloor? Wat was jou reaksie teenoor God toe jy iemand na aan jou verloor het? En siekte? Verbind jy dit aan sonde?

Ek herhaal my uitnodiging waarmee ek begin het: kom reis saam met Job!

Thursday, May 12, 2016

Oordenking 15 Mei 2016

Wees gasvry
“Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want om gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Hebreërs 13:2)

Aan die einde van die boek Hebreërs, kom die onbekende skrywer van hierdie vrysprekende boodskap, by die praktiese gewoontes vir Jesus-mense. Die skrywer doen baie moeite om baie deeglik die volledigheid van Jesus Christus se kruisoffer vir elkeen wat in Hom glo, te beskrywe. Met hierdie vaste fondament vir ons geloof, is daar sigbare en prakties uitvoerbare gewoontes wat kan help in ‘n dieper verhouding met ons Jesus in ons.

Om teenoor vreemdelinge en selfs mense van wie ons nie hou nie, gasvry te wees, is een van hierdie uitvoerbare gewoontes. Hier het die skrywer veral mense buite ons vriendekring en selfs buite die kerk, in gedagte. In ons daaglikse lewe, kruis ons paaie met ander kulture en ook ander gelowe. In meeste gevalle, is dit mense wat ons van nature eerder wil vermy.

Gaan ons vir ‘n oomlik weer terug toe Jesus as ware mens, hier op aarde was, sien ons hoe Hy vir ons die voorbeeld stel. Hy was nie skaam of snobisties om vreemdelinge of moontlike vyande van Hom, te vermy nie. Hy eet saam met die uitgeworpenes van sy tyd en genees siekes wat deur die samelewing van destyds verwerp is. Hy huiwer nie om Homself te assosieer met kinders of die werkersklas nie. En dan betaal Hy aan die einde van sy aardse optrede die hoogste prys vir die verlossing van ALMAL. Hy sterf eenmalig volledig vir alle sondaars se verlossing.

Nou roep sy Gees in ons, om juis sy voorbeeld voort te sit. Niemand van ons sal ooit nodig hê om ter wille van iemand anders se verlossing te sterf nie. Jesus het dit vir eens en vir altyd afgehandel. Maar Jesus se voorbeeld om geassosieer te word met die uitgeworpenes en ons moontlike vyande, word deur sy Gees in ons voortgesit. Dit is iets wat van binne af kom. Dit begin met ‘n innerlike veranderde nuwe gesindheid. Eers dink ons anders oor ander. Dan begin ons anders oor hulle praat. En uiteindelik word dit ‘n spontane gewoonte om anders teenoor hulle op te tree.

Daar is iets bevrydend hierin:

·         Jy doen dit nie omdat jy beter is as ander nie;

·         Jy doen dit nie om deur ander raak gesien te word nie;

·         Jy doen dit opreg en met liefde.

Hierdie tipe gasvryheid verryk jou daaglikse lewe op ‘n baie spesiale manier, bewustelik én onbewustelik. Jy doen dit nie om beter oor jouself te voel nie, maar as jy dit klaar gedoen het, kan jy moontlik ‘n innerlike vrede in jouself ervaar.

Mag dié geloofsgewoonte van gasvryheid bydra tot ‘n verdiepte verhouding met Hom in jou!

Thursday, April 21, 2016

Oordenking 24 April 2016

Die groot geskenk van nuwe lewe!
“In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.” (1 Petrus 1:3)

Ons is besig om beter te verstaan wat die “nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Mag elkeen besef: ek ís die nuwe mens in wording!

Hoor die ongelooflike woorde wat Petrus aan die begin van sy brief gebruik: “uitverkorenes van God; vreemdelinge in die wêreld; deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus; lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis ...”

Ons daaglikse uitdaging en geleentheid is om beter te ontdek wat ons reeds as nuwe mense is. Deur die bloed van Jesus aan die kruis en die oorwinning deur die opstanding, ontvang elke Jesus-mens die geskenk van nuwe lewe. Hierdie nuwe lewe is gewaarborg deur Iets en Iemand buite die mens self, en juis daarom is dit permanent en onaantasbaar. God self is die volledige en volmaakte waarborg. Die opoffering en prys wat sy eie Seun vir hierdie nuwe lewe betaal het, is net te groot dat daar enige gebrek of tekort daarin kan wees.

Op pad na die finale voltooiing van God se werk in elke Jesus-mens, vind daar ‘n proses van suiwering plaas. Petrus skryf baie realisties oor hierdie pad. Hy noem dit “beproewings”, wat onder andere verwys na die moontlike pyn en teenspoed op ons pad. Ons elkeen se lewenspad het opdraandes en afdraandes, en deur elke ervaring van die negatiewe en die positiewe, het ons geleentheid om te groei of nie. Hoe beter ons besef wie ons reeds in Jesus Christus is, hoe beter groei ons deur hierdie ervaringe. Anders gestel, eers met die ontdekking van die groot geskenk van nuwe lewe, kan ek en jy die uitdagings van die lewe hanteer.

Hierdie nuwe lewe begin en eindig by God, wat van ewigheid tot ewigheid is Wie Hy is. In sy onveranderlike en onvoorwaardelike liefde, het Hy elkeen van sy Jesus-mense geskep en uitverkies om deel te vorm van sy ewige plan met alles. Nou is dit vir ons as Jesus-mense om gedurig meer van God in ons, en sy plan met ons, te ontdek.

Kom ek nooi jou uit om vandag bietjie vooruit te dink. Waar wil jy graag oor ‘n jaar wees in jou verhouding met Hom in jou? Waarmee sukkel jy die meeste in jou geestelike groei? Hoe sal jy die graagste hierdie nuwe lewe wil belewe? Weet dan: Hy is jou antwoord!

Thursday, April 14, 2016

Oordenking 17 April 2016


Die nuwe mens in wording
“... en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God.” (Kolossense 3: 10)

Ons is besig om beter te verstaan wat die “nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Hoe wil die Gees van God van jou lewe ‘n getuie maak van hierdie nuwe lewe?

In Kolossense 3 gee Paulus ‘n baie mooi beskrywing van wat ons kan verwag wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lewens vernuwe. Sonder om by sy lysie van moontlike veranderinge stil te staan (gaan lees dit maar self as jy wil), kom dit min of meer op die volgende neer:

Sekere gewoontes of optredes in jou lewe, begin om te verander: sommige drasties en onmiddellik, ander moeilik en baie stadig; sommige bewustelik en ander onbewustelik; sommige is spesifieke besluite wat jy neem en ander is jy nie gereed om oor te besluit nie. Soos wat jy deur verskillende lewenservaringe gaan en met jare se ondervinding, groei jy in kennis en beter gewoontes. Ongelukkig vind die mees drastiese veranderinge plaas wanneer jy deur krisisse moet gaan.

In hierdie geloofsreis van lewensvernuwing, gebeur dit dat jy in sekere opsigte al hoe meer ontuis en vreemd voel teenoor sekere goed in jou verlede en sekere goed wat deel is van hierdie goddelose wêreld. Nuwe gewoontes en ‘n nuwe gesindheid in jou eie unieke persoonlike lewe, word die vertrekpunt om meer vir ander te beteken. Jou eie behoeftes word minder belangrik in belang van ander se behoeftes. Oppervlakkigheid maak plek vir diepte. Godsdienstigheid word vervang met ‘n verhoudings-gerigte lewenswyse.

En die grootste wonder van dit alles is, daar is nie ‘n vaste patroon of een resep wat vir almal geld nie. Hier is nie voorskrifte of vaste reëls wat gevolg word nie. Elkeen se lewensreis en lewenservaringe verskil, en het gevolglik ‘n unieke vernuwing tot gevolg. Met respek gesê, natuurlik is dit God se manier om dit vir Homself interessant te hou. Ons kan wel by mekaar leer en dit geniet om in mekaar se lewens die vernuwing raak te sien waarmee die Gees besig is.

Die enigste voorwaarde vir hierdie “nuwe mens in wording”, is dat dit alles oor God gaan. Hierdie vernuwing is nie in ons eie belang en tot ons eie voordeel nie. Om “al hoe meer vernuwe (te) word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God” (Kolossense 3: 10), is sodat “... Christus alles en in almal is.” (Kolossense 3:11c).

Let net op: jy ís die nuwe mens in wording!