Thursday, October 27, 2016

Oordenking 30 Oktober 2016

Tema: Die uitsonderlike waarde van gebedsvertroue
“Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!” (Psalm 84:13)

In die stilte van jou binnekamer, verinnig jou verhouding met die stil Een in jou! Elke Jesus-mens het gebed nodig in jou persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in jou.

In Psalm 84 word die onbeskryflike positiewe waarde van ‘n besoek aan die tempel soos in die tyd van die Ou Testament beskrywe. In die denke van die gelowige voor die uitstorting van die Heilige Gees, is God op ‘n besonderse wyse teenwoordig in die tempel in Jerusalem. Daar in die tempel woon God. Om ‘n pelgrimtog aan te pak Jerusalem toe om die voorgeskrewe offers te bring, bring groot seën en voorspoed vir die getroue Jood. Daar waar God is, is rus en vrede. Waar Hy is, ontvang die gelowige nuwe krag. Simboliek beskrywe iets van die uitsonderlike ervaring in God se teenwoordigheid. Die mossie en die swaeltjie maak nes daar. Dit is soos fonteine water na droogte, soos vroeë reën wat seën bring.

Maar dan met die afsluiting van die Ou Testament, kom ‘n totaal nuwe en beter bedeling vir elke Jesus-mens. Jesus Christus word gebore as mens op aarde en kom Self vertel wat sy koms beteken. Hy kom gee die belofte van die Heilige Gees wat sou kom en kort na sy volledige verlossingswerk op aarde afgehandel is, word die Heilige Gees uitgestort. En watter verskil het dit nie gemaak nie! Nou is God nie meer beperk om net in die tempel in Jerusalem teenwoordig te wees nie, maar Hy kom woon deur sy Gees in elke Jesus-mens!

Vandag en elke ander dag, kan elke Jesus-mens die besondere ervaring en wete hê dat God teenwoordig is. En waar Hy is, word die onbeskryflike waarde van ‘n besoek aan die tempel waar. By Hom is rus en vrede, by Hom is nuwe krag, by Hom is nuwe lewe. By Hom is alles wat elke Jesus-mens nodig het, vir ‘n intieme en persoonlike liefdesverhouding met Hom.

Ons elkeen se binnekamer, waar ons alleen by Hom is om te bid, is die plek en die geleentheid om iets baie besonders en baie spesiaal te ervaar van God se teenwoordigheid. Hierdie ervaring kom nie noodwendig dadelik en op ‘n bonatuurlike wyse nie. Elke Jesus-mens word aangemoedig om sy of haar eie ontdekking en gewaarwordings in sy of haar binnekamer te maak. Daar is nie bindende voorskrifte of swaar pligte vir hierdie wonderlike geleentheid nie.

Raak bewus van die waarde om die lewende teenswoordige God te vertrou in gebed!

Thursday, October 20, 2016

Oordenking 23 Oktober 2016

Tema: My binnekamer om Stilte te vind
“... as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie.” (Matteus 6:6a)

Elke Jesus-mens het gebed nodig in ons persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in ons. Deur gebed leer ons meer verstaan en ontdek wie Hy in ons is. Ons grootste motivering om meer te bid, is om Hom beter te ken en meer te groei in ons verhouding met Hom. Ons is besig om by Jesus self te leer oor gebed.

Ons groot Leermeester moedig ons aan om na jou kamer toe te gaan en die deur toe te maak as jy bid. So het die term “binnekamer” ontstaan as daardie unieke en spesiale plek waar elke Jesus-mens hom- of haarself afsonder om te bid. Vir eers wil ons net fokus op die belangrikheid en waarde van ‘n binnekamer vir elkeen van ons. Soos die reeks vorder sal ons meer kom by die inhoud en daardie dinge waarmee ons besig kan wees in ons binnekamer.

Prakties kan jou binnekamer enige plek of ruimte wees waar jy regtig alleen en sonder enige steurings van buite is. Moontlike voorbeelde kan jou slaapkamer, studeerkamer, ‘n hoekie in die sitkamer, ja, enige vertrek in jou blyplek wees. Dit kan ook ‘n plekkie in die tuin of natuur wees. By die werk kan dit ‘n stoortjie of ander afgesonderde plek wees. Dit is sterk aan te beveel dat dit ‘n vaste en gerieflike plek sal wees. Dit is ook belangrik dat ander in die huis of by die werk sal weet dat wanneer jy in jou binnekamer is, wil jy nie gesteur word nie. Verkieslik moet jy ook so goed as moontlik van harde geluide of geraas afgesluit wees.

Saam met die plek waar jou binnekamer is om te bid, is die keuse van die tyd van die dag of nag wanneer jy tyd daar spandeer belangrik. Hier is dit ook verkieslik min of meer dieselfde tyd in jou eie 24 uur dag, sodat dit in ‘n gesonde roetine kan ontwikkel. Tog is dit bedoel dat dit so ‘n aangename ervaring vir jou is, dat jy uitsien om dit getrou te doen, sonder om skuldig te voel as dit toevallig nie uitwerk nie.

Hoekom is die plek soos ‘n binnekamer en die tyd in die binnekamer belangrik? Dit is bedoel om die uiterlike ervaring vir jou te gee van die innerlike rus en krag van wie God reeds in jou is. In jou binnekamer spandeer jy en die onsienlike God tyd in mekaar se teenwoordigheid. Soos die reeks oor gebed vorder, sal ons meer leer oor die bewuste teenwoordigheid van God wat op ‘n baie unieke manier moontlik is in jou binnekamer. In die stilte van jou binnekamer, verinnig jou verhouding met die stil Een in jou!

Thursday, October 13, 2016

Oordenking 16 Oktober 2016

Tema: Hoekom sal ek meer en “beter” wil bid?
“So moet julle bid ...” (Matteus 6:9a)

Een van die heel belangrikste geloofsdissiplines vir Jesus-mense, is gebed. Gebed vorm ‘n integrale deel van ons elkeen se lewende verhouding met ons Here Jesus self. Gebed is ons 24 uur 7 dae van die week permanente kontak met Hom wat kragtig in ons teenwoordig is. Maar juis omdat hierdie verhouding gedurig bedoel is om te groei en te verdiep, is daar vir elkeen van ons meer om te ontdek van Hom, spesifiek deur middel van gebed. Nie een van ons behoort tevrede te wees as ons agterkom ons gebede het, of is besig, om te stagneer nie. Mag God se Gees ons inspireer om meer en “beter” te bid!

Kom ons vra vir Jesus self om ons te leer bid. Hy leer sy volgelinge oor die belangrikheid van gebed. Hy praat oor die moets en die moenies van gebed. Hy gee riglyne oor die inhoud van gebede. Hy het self gebid terwyl Hy hier op aarde was. Die Evangelieskrywers doen moeite om soveel as moontlik te skrywe oor Jesus se eie gebedslewe, en daar is verseker praktiese lesse wat ons daaruit kan leer. Ons wil graag in die volgende paar weke spesifiek prakties raak oor gebed.

Maar voordat ons by die praktiese lering oor gebed kom, is dit eers belangrik dat elkeen van ons gemotiveer word om meer en “beter” te bid. Eers wanneer elkeen ‘n dieper honger en dors na ‘n dieper en intiemer verhouding van ons Here in ons ontwikkel, sal ons graag meer intieme kontak met Hom wil hê deur gebed. Iets van hierdie misterieuse liefdesverhouding met God, is baie eenvoudig: hoe meer kontak deur gebed, hoe intiemer is die verhouding. Anders gesê: hoe meer ek bid, hoe beter ken ek Hom!

Hoekom plaas ek die hele tyd “beter” in aanhalingstekens? Weer dink ek dis eintlik eenvoudig: sodra ons as Jesus-mense beter verstaan van gebed, behoort daar nie trappe van vergelyking te wees as ons bid nie. Omdat gebed primêr met ons verhouding met die Here te doen het, en omdat die Heilige Gees in ons volledig in beheer is van ons verhouding met Hom, beoordeel Hy nie ons gebede as “goed, beter, beste” nie!

Met hierdie motivering kan elkeen meer bid vir geestelike herlewing persoonlik en globaal, meer bid vir persoonlike probleme, meer bid vir reën, meer bid vir ons leiers, ja, meer bid vir enige saak wat die Gees in jou wakker maak ...

Thursday, September 22, 2016

Oordenking 25 September 2016

Tema: Die waarde wat jy toevoeg om Jesus te volg
“Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.” (Lukas 19:26)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Lukas 19 leer ons by Hom watter waarde ons tot sy koninkryk kan byvoeg.

Oor en oor het ons al vir mekaar herinner dat alles wat ons ontvang vanuit ons lewende verhouding met die Here, net genade is. Maar hierdie groot geskenk van genade gewaarborg, is dit net onmoontlik om handjies gevou te sit en wag vir die hemel om aan te breek. In Jesus se gelykenis van die tien goue muntstukke, word ons gemotiveer om te woeker met die rykdom wat ons reeds ontvang het.

Dié storie vir lewe gaan so: ‘n koning gee aan tien slawe elkeen ‘n goue muntstuk om mee te woeker terwyl hy vir ‘n lang periode weg gaan wees. Met sy terugkoms, het die een slaaf sy muntstuk vermeerder na tien muntstukke en hy word die bestuurder van tien stede. Die tweede slaaf het sy muntstuk vermeerder na vyf en hy word die bestuurder van vyf stede. Maar ‘n volgende slaaf het sy muntstuk net mooi veilig weggebêre en niks moeite gedoen nie. Hy word deur die koning uitgeskel as ‘n slegte slaaf, en sy een muntstuk word sommer nog aan die slaaf met die tien muntstukke gegee.

‘n Groot oproer word ontlok onder die slawe, waarop die koning reageer met: “Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.” (Lukas 19:26)

As vrygekoopte slawe binne God se koninkryk, het ons soveel rykdom en voorregte ontvang om mee te woeker. Noem dit wat jy wil: talente, gawes, vaardighede, bekwaamhede, materiële middele, intellektuele vermoëns of wat ook al. Die bedoeling hiervan, is dat dit nou, vandag, in hierdie leefwêreld van ons gebruik word in diens van die groot Koning.

Hoekom verstaan so min mense, ja, selfs kerkmense hierdie waarheid: hoe meer ek die spirituele rykdom wat ek reeds besit, gebruik en ontwikkel, met hoe meer word ek vertrou. Die teenoorgestelde is ongelukkig dan ook die vermaning: skeep God se werk af waartoe jy geroep word en jy gaan bitter spyt wees!

Wednesday, September 14, 2016

Oordenking 18 September 2016


Tema: Die waarde om Jesus te volg
“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen ... van sy eie lewe.” (Lukas 14:26)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Lukas 14 leer ons by Hom oor hoe waardevol dit is om die keuse te maak om deel van sy wêreld te wees. In twee kort stories vir die lewe, vertel Jesus hoe belangrik dit vir elkeen van ons is om mooi na te dink oor die onbeskryflike rykdom binne die geloof- en liefdesverhouding waarin ons nou reeds met Hom is.

Met die eerste lees en onder die invloed van die later bygevoegde opskrif van hierdie gelykenisse, lyk asof dit hier gaan oor die eise en opofferinge wat dit vra om vir Jesus te volg. ‘n Amper onmoontlike vereiste word deur Jesus gestel, van alles waarvan afstand gedoen moet word om Hom te volg: jou pa en ma, jou vrou en kinders, jou broers en susters, jou lewe selfs en al jou besittings. Hierdie onredelike prysgawe van alles wat vir ons baie kosbaar is, klink net “too much”!

Maar dan verduidelik Jesus wat Hy bedoel, met die twee gelykenisse. Eers val die klem op die belangrikheid om ‘n deeglike kosteberekening te doen voordat enige bouprojek begin word. Maak baie seker voordat daar begin word om te bou, dat daar enduit genoeg geld gaan wees om die gebou te voltooi. ‘n Halfvoltooide projek sal ‘n groot spottery ontlok. Dan is daar ook die koning wat regmaak vir oorlog. Ook hy moet eers somme maak oor die getalle van sy eie soldate in vergelyking met sy vyand se getalle. As die vyand ‘n oormag soldate het, is dit beter om by voorbaat ‘n vredesooreenkoms met die vyand aan te gaan.

In kort: bereken die prys! Die vraag is, die prys van wat? Is dit die prys wat jy moet betaal om Jesus te volg? Of is dit dalk eerder die waarde wat aan jou lewe toegevoeg word, omdat die prys vir jou lewe klaar betaal is? Vir my gaan dit oor laasgenoemde: die onberekenbare rykdom en verryking om deel te kan wees van God se koninkryk!

God het sy somme gemaak: Hy het die duurste prys betaal dat sy koninkryk vir altyd sal bly staan. Die prys was sy eie Seun se kruisdood en oorwinningswerk op aarde. Elkeen wat Hom volg en in Hom glo, word mede-erfgename van hierdie duurgekoopte hemelse rykdom. Niks wat vir ons hier op aarde kosbaar lyk, kan in waarde vergelyk met hierdie rykdom nie!

Thursday, September 8, 2016

Oordenking 11 September 2016

Tema: Die veiligste plek van Godsgenade
Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig.”
(Lukas 18:13b)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. Hier in Lukas 18 leer ons meer by Hom oor die gesindheid waarmee ons tot Hom kan nader in gebed.

Die wetsgetroue Fariseër en die korrupte tollenaar bid altwee in die tempel. Die wetsgehoorsame en pligsgetroue Fariseër spog in sy gebed oor sy eie voortreflikhede. Ons lees dat die vooraanstaande Fariseërs onder andere sewe keer per dag gebid het. Hulle was so getrou in die fynste uitvoering van die wet van God, dat hulle saam met die ander tiendes, selfs ‘n tiende van hulle kruie uit die tuin, vir die Here gegee het. Daarteenoor was die tollenaar die mees korrupte spul van hulle tyd, wat om elke hoek en draai met skelm geldsake besig was. Die geweldige kontras tussen hierdie twee partye, is uiters belangrik in die verstaan van hierdie lewensstorie van Jesus.

Net so kontrasterend soos hierdie twee karakters in die gelykenis is, is die inhoud van hulle gebede. Die Fariseër bid lank en selfsugtig, hy spreek homself letterlik skuldvry op grond van sy eie hoedanighede, en veroordeel sommer die tollenaar net daar op die plek. Daarteenoor bid die tollenaar kort en kragtig, soos hierbo aangehaal in Lukas 18: 13b. Hy bely dat hy ‘n sondaar is wat 100% afhanklik is van God se genade – net dit!

Wat leer ons by Jesus oor hierdie twee uiteenlopende karakters se gebede? Die fokuspunt van elkeen se gebed, is die lewensles wat ons hieruit kan neem. Die Fariseër se gebed draai rondom homself, en daaruit kan ons aflaai dat hy nie ‘n liefdevolle verhouding met God gehad het nie. Die uiterlike nakom van geestelike rituele het baie waarde vanuit ‘n persoonlike verhouding met die lewende Here in ons. Die tollenaar fokus in sy gebed op God en sy persoonlike afhanklikheid van God se genade. Hy besef dat hy niks het om aan te bied vir God nie, en gee homself dan oor in totale afhanklikheid aan God.

Ons het ‘n onbeskryflike genadige God aan ons kant, al lewe ons in ‘n liefdelose en genadelose wêreld. Elkeen van ons se innige kontak met God deur gebed, bied vir ons die veiligste weg-vlug-plek binne ‘n innerlike werklikheid waar God se Gees binne-in ons is.

Thursday, September 1, 2016

Oordenking 4 September 2016

Tema: Die vrymaking om te kan vergewe
“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” (Matteus 18:35)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Matteus 18 leer ons meer by Hom oor vergifnis, moontlik een van die heel belangrikste lewenswaarhede om waarlik vry te kan wees.

‘n Koning skryf ‘n buitengewone groot bedrag geld af, wat een van sy amptenare aan hom skuld. Direk hierna loop hierdie selfde skuld-vrye amptenaar een van sy medeamptenare raak wat hom slegs ‘n klein bedraggie geld skuld. Die pas vrygeskelde amptenaar weier om ‘n paar rand af te skryf, al het hy self miljoene rand se kwytskelding gekry. Hy laat sommer sy medeamptenaar in die tronk gooi. Die koning kom hiervan te hore, verloor dit natuurlik heeltemal en gee onmiddellik opdrag dat hierdie buitengewoon begenadigde en kwytgeskelde amptenaar gemartel word, totdat die miljoene rande se skuld aan die koning terugbetaal is.

Ek en jy is vir ewig kwytgeskeld van alle sonde! Jesus het eenmalig volledig al ons skuld aan die kruis betaal. Ons skuld niks meer nie. Ons gehoorsaamheid en ons diensbaarheid is nie ons bydrae om skuld af te betaal nie. Ons is volledig vergewe deur ons hemelse Vader op grond van sy enigste Seun se versoeningsoffer aan die kruis. In God se oë, is vergifnis vir altyd afgehandel.

Maar wat maak ons elke dag met hierdie ongelooflike geloofswaarheid? Hoe beïnvloed dit ons optrede teenoor mekaar? Hoe lyk die swartboekies wat ons byhou van die kwaad wat ons mekaar aandoen? Hoe maklik grawe ons nie ou koeie uit die sloot nie? Hoeveel wrokke, dis nou “grudges”, hou ons nie teenoor mekaar nie? Hoe moeilik is dit nie vir ons om sewentig maal sewe keer te vergewe nie?

Nie een van ons kan vergewe soos ons hemelse Vader vergewe nie! Slegs en alleen wanneer en indien ons dit wel soek en toelaat, kan sy Gees in ons, vergifnis moontlik maak. Geen mens is van nature daartoe in staat om ander te vergewe en ander waarlik vry te spreek nie. Niemand van ons is al op daardie plek in ons lewe, waar ons ‘n kwaadwillige ervaring met ‘n ander persoon in die verlede, volledig afgeskryf het nie. Elkeen wat dit valslik beweer, veroorsaak daarmee self ‘n blokkasie in sy of haar eie vryheid.

Hierdie lewensstorie sluit af met ‘n baie ernstige waarskuwing: elkeen wat nie deur God se Gees met vergewensgesindheid lewe nie, loop die gevaar om self nie vergifnis raak te lewe nie!