Wednesday, February 13, 2013

Oordenking 17 Februarie 2013

Oordenking 17 Februarie 2013

Jesus-mense weet net Hy kán (PUNT)

“... sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:13)

In die beginjare na my bekering, het ek dikwels gehoor van geloofsekerheid. Daardie tyd het ek verstaan dat my geloof in die Here Jesus sal groei en dat ek met verloop van tyd al hoe meer sekerheid sal hê oor my verlossing. Maar toe gebeur daar iets baie vreemd (volgens my): ek twyfel met tye erg, en die dinge wat sekerheid moet gee, bring eerder onsekerheid. Dit is dinge soos dat ek sukkel om sekere sondes te laat staan. Dit is dinge soos dat ek getroue kerkmense wil vertrou as ek swaarkry, en dan tot my teleurstelling ontdek, ek kan selfs op hulle nie staat maak nie. Ek het al hoe meer gesukkel met geloofsekerheid, veral omdat materiële dinge steeds vir my belangriker is as geestelike dinge.

Maar genadiglik het ek aanhou soek na antwoorde, ek wou al hoe beter verstaan wat dit is om ‘n kind van die Here te wees, ek wil God beter ken en dan ook beter dien. In my soeke het ek wyd gelees, met baie gepraat en verskriklik baie gedink (of eerder geworstel). En groot was my verbasing: ek het al hoe meer ontdek dat die vrae is meer as die antwoorde; ek sal altyd in myself en in ander as kinders van die Here teleurgesteld wees; God sal ek nooit volledig kan ken nie; en Hy is nie afhanklik daarvan dat ek Hom beter dien nie!

En baie geleidelik het my fokus begin verskuif: al hoe weg van myself en al hoe meer gerig op Hom; minder van die dinge wat ek kan en meer van die dinge wat Hy kan; minder skuldig voel oor al my tekortkominge en al hoe meer beïndruk deur sy volmaaktheid; al hoe minder pogings om Hom te beïndruk en al hoe meer oorgawe dat Hy beheer neem; al hoe minder vasgevang in die materiële en al hoe meer oorgeneem deur die Gees; ens. ens.

Hoe gebeur dit? Net Hy kán dit laat gebeur. Net Hy kán my laat glo. Net Hy kán die eie-ek in my kruisig. Net Hy kán besluit om beheer te neem in my lewe. Net Hy kán van my sy kind maak. Net Hy kán my ‘n beter kind van Hom maak. Net Hy kán vir my ‘n doen-lysie laat doen om in Hom te groei. Net Hy kán my aan Hom gehoorsaam maak. Ens. Ens.

Net Hy kán ... PUNT

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.