Wednesday, February 27, 2013

Oordenking 3 Maart 2013

Oordenking 3 Maart 2013

Jesus-mens is ‘n werkwoord: leer

“... bly by wat jy geleer het ...” (2 Timoteus 3:14)

Geen plig om die gewete te sus nie, spontaan, dit is lekker ... só kan Jesus-mense leef.

Hoe is dit moontlik? Slegs in die proses waarin God se doen-lysie geleidelik my doen-lysie word. En amper soos wat ons God net kan “sien” in wat Hy doen, kan ander sien Wie God in ons is, in wat ons doen. Ons het ‘n altyd-aktiewe-teenwoordige-nooit-slaap-God. En deel van sy groot doen, is gefokus in wat Hy deur sy Gees in ons doen. En hierin is daar vir ons ‘n wonderlike uitnodiging: kom val in by dit wat God reeds doen. Hoe?

Een moontlikheid is: LEER. Ja, die werkwoord soos “bestudeer”, daardie ding wat ons op skool doen en gedoen het, en waarvan baie glad nie hou nie. Maar hierdie doen word lekker vir Jesus-mense, dit word selfs lekkerder. Want Jesus-mense het die allerbeste en die slimste Tutor. Hy wil jou eie persoonlike Leermeester wees met sy Gees in jou. Ja, hierdie Tutor gebruik ander mense en boeke en omstandighede en ervaringe. Hy begelei Jesus-mense tot ‘n dieper kennis van Homself op baie algemene maniere, maar soms ook op baie buitengewone maniere.

Soos wat Paulus vir die jongman Timoteus aanmoedig, “... bly wat jy geleer het ...” Elkeen van ons het iewers op ons pad in die verlede, geleenthede gehad om sekere geloofswaarhede te ontdek by spesifieke mense, of in unieke gebeurtenisse in ons lewe, of in boeke wat ons gelees het, of in ander uitsonderlike bewuswordings. Miskien was dit in jou ouerhuis, of ‘n onderwyser, of ‘n krisis in jou lewe, of ‘n spesifieke boek wat jy gelees het, of wat ookal – almal moontlike geleenthede waaruit jy geleer het en gevorm is.

Maar vir ons as kerkmense, en meer spesifiek vir ons as Jesus-mense, is die Woord van God die basisbron van geloofskennis wat ons inwonende Tutor wil gebruik om ons te leer. By uitstek te leer Wie Hy is, maar ook hoe ons Hom kan ken, Hom kan ontmoet, in Hom kan glo, Hom kan dien, Hom kan eer. Ons persoonlike Tutor wil self ons help om suiwer te glo, dwaling te vermy en opreg te lewe.

En hier kom die beste nuus: by hierdie persoonlike Tutor is daar nie eksamens wat geslaag moet word nie – in Jesus self is ons geloofstoets met die hoogste lof geslaag. Die grootste toets wat ons dop, is om ons doof te hou vir Stem, om nie Sy raad te volg nie, en nie in besit te neem wat Hy vir ons aanbied nie.

Jesus-mens kom LEER by Jesus self!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.