Wednesday, February 20, 2013

Oordenking 24 Februarie 2013

Oordenking 24 Februarie 2013

In Jesus-mense wórd gedoen

“Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is.” (Hebreërs 13:21b)

Uiteindelik kom ons by Jesus-mense se doen-lysie. MAAR dit is ‘n heel anderste doen-lysie as wat ons oor die algemeen dink. Ons doen-lysie is eintlik altyd God se doen-lysie. Hy is met en in ons besig om te doen. Natuurlik is daar dinge wat ons kan doen, sodat Hy makliker en meer in ons kan doen. Maar eers wil ons verstaan waarmee is Hy steeds en reeds in ons besig. Kom ek verduidelik:

Hy het al baie lank terug, ja, reeds by die skepping met ons en in ons begin doen: Hy het ons sy verteenwoordigers na sy beeld gemaak. Reeds daar het Hy volledig en volmaak gedoen, daar is nie fout met wat Hy gedoen het nie. Ons is ongelukkig geneig om sy goeie werk op te voeter. Maar daarvoor het Hy ook ‘n plan: met ons Jesus se bloed word ‘n ewige ooreenkoms met ons aangegaan en is Hy uit die dood teruggebring – die twee grootste doen-dinge van God vir ons. En net om dubbel seker te maak, doen Hy deur die Gees wat ons die nodigste het: Hy word die lewe in ons! En die lewe wat Hy gee, het direk te doen met alles wat Hy nodig vind om in alle tye in ons as Jesus-mense te doen.

So word die Gees se doen-dinge in ons, stadig maar seker, ons doen-lysie:
• om te glo in die enigste ware lewende God;
• om met God-liefde te leef in verskillende verhoudings;
• om sy Stem te hoor in sy Woord op so ‘n manier dat dit ons manier van lewe beïnvloed;
• om so van sy teenwoordigheid in ons bewus te wees, dat ons geen vrees vir Hom het nie;
• om sy wil te ken en te doen verskaf ons groot blydskap én vryheid;
• om aangenaam, aanneemlik, aanvaarbaar vir ander en almal te wees; en
• om met verlange uit te sien na en saam te doen aan die voltooiing van sy werk in ons.

Ja, ja, ek weet, die Gees kan hierdie doen-dinge net in my doen wanneer ek in gebed met Hom kontak hou, en/of wanneer ek my Bybel lees, en/of wanneer ek saam met ander gelowiges Hom aanbid, en/of wanneer ek na die Skepper oplet in die natuur, en/of wanneer ek aan Hom uitgelewer voel in ‘n krisis, en/of wanneer ookal. Maar nie een hiervan is plig, of las, of my bydrae, of deur my opoffering nie. God se Gees doen in en deur my, eintlik ten spyte van my.

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.