Wednesday, February 6, 2013

Oordenking 10 Februarie 2013

Oordenking 10 Februarie 2013

Jesus-mense is nie bang vir God nie

“Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld leef ons reeds deur die liefde net soos Jesus.” (1 Johannes 4:17)

Jesus-mense het reeds begin om die nuwe hemelse taal te praat, want volgens Johannes, het die hemel reeds begin die dag waarop Jesus-mense wedergebore is. Hierdie taal is God se taal, en God se taal is liefde, en liefde en God en Jesus-mense verstaan mekaar, hulle praat die nuwe hemelse taal. Die Herder se skape ken sy stem en volg Hom.

En wat is die inhoud van hierdie hemelse liefdestaal? Dat ons Here Jesus vir ons so ontsettend lief het, ja, Hy het ons eerste liefgehad en met volmaakte liefde. Ons soek mos altyd bewyse vir alles. Daar kan nie ‘n beter bewys van Jesus se volmaakte liefde wees, as dat Hy sy lewe vir ons afgelê het nie! (Johannes 3:16 en 1 Johannes 3:16)

Hoe kan ons hierdie volmaakte liefde verstaan? Die sonde wat in hierdie goddelose wêreld is, kan God nie verdra nie – Hy haat sonde, ook die sonde wat elke mens doen, ja, ook die sonde wat Jesus-mense nog elke dag mee sukkel. En ons regverdige God word kwaad vir die liefdeloosheid wat die mens van nature kies. En hierdie liefdeloosheid móét God straf. En elke selfsugtige mens weet dat hy in die moeilikheid is by God en dat God die sonde en die sondaar straf – en hiervoor is die sondaar baie bang, want ...

God se straf vir die sonde is die ewige dood, dit is om finaal en vir altyd van liefde verwyder te word. Simbolies is dit om in die vuurpoel gegooi te word (Openbaring 20:15) of om in die doderyk in pyn te verkeer (Lukas 16:23). En elke sondaar het rede om baie bang te wees vir hierdie moontlike uiteinde van sy lewe. En omdat elke mens van nature weet dat hy in die moeilikheid is by God (Romeine 1: 18-19), is die mens baie bang vir Hom. Behalwe ...

“... ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.” (1 Johannes 4:16a) Jesus het sover gegaan dat Hy eenmalig die volledige straf vir die haatlikheid in alle mense op Hom geneem het (Hebreërs 10:14) – dit is die enigste volmaakte liefde wat daar kan wees! Met hierdie liefde van Jesus maak ons die tydsprong na vandag: Hy is steeds Wie Hy is, Hy is God-liefde in ons en ons in Hom. Ons is nie bang vir God se straf nie (Jesus is klaar in ons plek gestraf) én ons is nie bang vir God nie (Hy is dan in ons deur sy Gees).

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.