Wednesday, May 28, 2014

Oordenking 1 Junie 2014

Vertel van Jesus-reeks: Wat vertel ek? Daar is slegs EEN GOD wat goed is.

 “... één God en Vader van almal ...” (Efesiërs 4:6)

Kom ons gebruik al die sosiale media tot ons beskikking en elke moontlike ander geleentheid, om finaal vir die mense wat sonder God lewe, baie duidelik en ondubbelsinnig aan te kondig:

Daar is slegs EEN GOD wat goed is.

Kom ons vertel vir almal met wie ons kontak het, wie God is. Daar is so baie wat ons graag oor Hom wil vertel. Hy is enig in sy soort, ja, daar is slegs een Wese wat ons God noem. Hy is van altyd af hier en sal altyd wees. Ons kan Hom nie volledig verstaan nie, Hy is meer as wat ons van Hom kan weet. Ons kan Hom nie sien nie, tog is Hy werklik vir ons wat Hom leer ken. Hy bly altyd dieselfde, ja, Hy verander nie. Hy kan enige iets doen. Daar is niks wat Hy nie weet nie. Hy kan niks verkeerd of sleg doen nie. Hy is slegs goed, en sy goedheid kan nooit opraak en ken geen grense nie.

Ons as Jesus-mense het so baie wat ons uit ons eie ervaring van Hom kan vertel. Vir ons is Hy die enigste lewende ware God. En al noem ons Hom met tye Vader, ander kere Jesus, en ook soms Heilige Gees, is Hy vir ons een en dieselfde God – gaan vertel vir die mense ons aanbid nie drie verskillende gode nie.

Daar is so baie verwarring oor die verskillende godsdienste en te maklik word gesê ons aanbid tog almal dieselfde God, net op verskillende maniere. Gaan vertel vir die mense daar buite in die wye wêreld dat dit ‘n dwaling en ‘n groot fout is. Die ander gode van die ander godsdienste is nie dieselfde God as wat ons Jesus-mense aanbid nie. Een van die baie groot verskille tussen ons ware God en ander valse gode, is dat ons nooit meer in die moeilikheid by ons God kan wees nie – daarvoor het Hy Jesus as volmaakte “Hersteller” vir ons gegee.

Ons God word nooit weer kwaad of teleurgesteld met ons nie, ons God sal ons nooit weer hoef te straf nie, ons God se guns hoef ons nie te verdien nie – Hy is wie Hy is en ons is wie ons is.

Kom ons gaan vertel vir ander mense wie is ons God en hoe goed is Hy vir ons, kom ons doen dit omdat ons baie graag wil vertel wie Hy is!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.