Wednesday, May 7, 2014

Oordenking 11 Mei 2014

Om jou Lig te laat skyn

“Julle is die lig vir die wêreld ... Laat julle lig skyn ...” (Matteus 5: 14a en 16a)

Om te verstaan hoe uitsonderlike voorreg dit is om onvoorwaardelik deur God vergewe te word, moet elke Jesus-mens eers besef hoe verlore ons is as gevolg van die sonde. Om te verstaan hoe belangrik die Lig is wat ons laat skyn in hierdie wêreld, moet ons eers besef hoe donker is hierdie wêreld waarin ons is. Hierdie wêreld is donker hoofsaaklik as gevolg van twee faktore: die sonde wat daar in elke mens is en die duiwel wat nog werksaam is totdat Jesus finaal weer kom.

Die sonde sal ‘n faktor bly in alles wat verkeerd loop op hierdie aarde. Ons is almal sondaars wat van nature geneig is om die verkeerde te kies. Jesus-mense is egter sondaars wat vergifnis gewaarborg is op grond van Jesus se verdienste en word deur die Heilige Gees in ons van sonde vry gemaak. Daarteenoor bly nie-Jesus-mense om in die sonde voort te lewe, en dit is nag, want dit bederf die lewe van ander – die voortgaande sonde in verlore mense, is die direkte oorsaak van al die haat en chaos in vandag se wêreld.

Net so is die duiwel steeds ‘n aktiewe bewerker van haat en alle vorme van boosheid. Met Jesus se sterwe aan die kruis, is die Satan vasgebind om slegs met beperkte mag ‘n verwoestende invloed te wees in mense se lewens wat nie aan Jesus behoort nie. Hierdie demoniese werke sal voortgaan totdat Jesus finaal op die wolke verskyn tydens sy finale koms van hierdie wêreld. So tussen die sonde en die duiwel alleen, is daar totale duisternis op hierdie aarde, vandag nog!

MAAR met Jesus, kom die Lig, en die Lig is sterker as die donkerte, sterker as enige ander magte, ook sterkte as enige vorm van demoniese werking. So kom die ware Lig in elke Jesus-mens in, om ons te verlig en finaal alle vorme van duisternis te verdryf. Jesus in ons verdryf die duiwel finaal uit ons, en Jesus kom nie halfhartig of gedeeltelik in ons in nie.

Daarom aan elke Jesus-mens: die donker wêreld waarin ons elke dag veg om oorlewing, smag na die Lig, smag na Jesus, in ons – laat jou Lig skyn! Laat die Gees toe om deur jou die Jesus-Lig in jou, te laat skyn in ander se lewens.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.