Wednesday, May 14, 2014

Oordenking 18 Mei 2014


Vertel van Jesus-reeks:  Vir wie vertel ek?

“Deur die verkondiging van die evangelie is ek in Christus Jesus julle vader.” (1 Korintiërs 4: 15b)

Om die wonderlikste, die beste, die grootste nuus aangaande Jesus se verlossing deur woord en daad in liefde aan almal te vertel -  die voorreg wat elke Jesus-mens het, juis omdat my eie lewe deur Jesus se Gees nuut gemaak word!

Jesus se opdrag was “gaan na die nasies toe ...” (Matteus 28:19) én Hy gee ‘n belofte vir ons: “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ...” (Handelinge 1:8). Paulus sê dat “die verkondiging van die evangelie” maak van hom “vader” oor diegene wat dit hoor (1 Korintiërs 4:15b). Vir wie moet ek as Jesus-mens hierdie baie goeie nuus oor Jesus vertel?

·         Dink aan mense met wie ek elke dag kontak het, soos by die huis, die werk, die skool, op die sportveld, by die winkel, ja, enige plek. Raak bewus dat die Here daagliks mense op ons pad stuur teenoor wie ons kan getuig. Meeste mense met wie ons elke dag te doen kry, het reeds van Jesus gehoor, maar baie van hulle ken Hom nie persoonlik nie. En juis omdat Jesus-mense kan vertel dat ons Hom persoonlik leer ken in ons, kan ons vir ander ook help om ‘n persoonlike vaste verhouding met Hom te hê. In die weke wat kom, wil ons prakties ontdek hoe ons dan vir verskillende mense op ons daaglikse pad, kan vertel van die ware Jesus – en dan sommer in die proses Hom ook nog nader leer ken in ons eie lewe.

 

·         Dan kry sommige van ons die geleentheid om verder te gaan, na ver plekke – en ons hoef nie amptelike sendelinge te wees wat deur die kerk gestuur word, om dit te doen nie. Dit is wel nodig dat daar steeds sendelinge is wat na ander lande gaan om vir ander van Jesus te gaan vertel. So baie van ons reis deesdae na ander lande of gaan werk vir tye op ver plekke. Dink net aan die baie Suid-Afrikaners wat geëmigreer het, en baie van hulle ken Jesus – moedig hulle aan ons Jesus te leef daar ver in die vreemde.

Daar is dus twee groepe om van Jesus te vertel: die mense wat elke dag ons pad kruis, én die mense op ver plekke in ander lande, na wie toe ons kan gaan.

Na wie stuur Jesus jou om te vertel?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.