Wednesday, May 21, 2014

Oordenking 25 Mei 2014

Vertel van Jesus-reeks:  Wanneer vertel ek?

“... daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:7)

Om die wonderlikste, die beste, die grootste nuus aangaande Jesus se verlossing deur woord en daad in liefde aan almal te vertel – wanneer vertel ek dit vir wie in watter omstandighede?

Daar gebeur so ‘n verskeidenheid van dinge in ons eie en mense wat daagliks op ons pad kom, se lewens. Dit kan goeie en slegte dinge wees wat in mense se lewens gebeur. En al hierdie gebeure bied geleenthede om van Jesus te vertel. Ons kan dalk net verras wees hoe ontvanklik mense is om van Jesus te hoor in hulle spesifieke omstandighede.

Kom ons kyk net na drie kategorieë van gebeure in ons daaglikse lewens waar Jesus deel van wil wees:

1.       Eerstens is daar persoonlike omstandighede soos jou eie worsteling met wie jy werklik is en wat maak jy met jou lewe; of jou eie unieke verhouding met God; of jou intieme verhoudingslewe; of wat ook al jou as individu direk raak. Elkeen van ons het een of ander tyd behoefte om met iemand oor een of meer van hierdie persoonlike sake te praat – en Jesus sal altyd deel wil wees van so ‘n gesprek.

 

2.       Dan is daar omstandighede wat meer met ander mense in jou lewe te doen het: dink aan jou werk, skool of studies waar jy ander mense nodig het en met hulle oor die weg moet kom; dink aan jou gesin en familie wat ons almal op een of ander wyse raak; dink aan jou vriendekring en die invloed wat hulle op jou het. Almal van ons is altyd op een of ander wyse aan ander mense gekoppel – goed of sleg, en dit raak ons lewe, en dit bied geleentheid om Jesus daarvan deel te maak.

 

3.       Die ander groot lewensuitdaging wat ons almal in die gesig moet kyk, is die groter prentjie van ander mense of omstandighede wat ons lewens direk beïnvloed. Hier is die politiek, die ekonomie, die weerpatrone en ander globale invloede ter sprake. Ons teenwoordige Jesus wil ook daarin geken wees en deel wees van hoe ons hierdie sake beredeneer.

Jesus bepaal nie ons omstandighede nie, Hy veroorsaak nie die probleme wat ons moet hanteer nie, Hy neem ook nie altyd die probleme weg nie, maar Hy gee ons die geleentheid om met ander oor Hom te praat, wat die omstandighede ook al is.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.