Thursday, April 21, 2016

Oordenking 24 April 2016

Die groot geskenk van nuwe lewe!
“In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.” (1 Petrus 1:3)

Ons is besig om beter te verstaan wat die “nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Mag elkeen besef: ek ís die nuwe mens in wording!

Hoor die ongelooflike woorde wat Petrus aan die begin van sy brief gebruik: “uitverkorenes van God; vreemdelinge in die wêreld; deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus; lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis ...”

Ons daaglikse uitdaging en geleentheid is om beter te ontdek wat ons reeds as nuwe mense is. Deur die bloed van Jesus aan die kruis en die oorwinning deur die opstanding, ontvang elke Jesus-mens die geskenk van nuwe lewe. Hierdie nuwe lewe is gewaarborg deur Iets en Iemand buite die mens self, en juis daarom is dit permanent en onaantasbaar. God self is die volledige en volmaakte waarborg. Die opoffering en prys wat sy eie Seun vir hierdie nuwe lewe betaal het, is net te groot dat daar enige gebrek of tekort daarin kan wees.

Op pad na die finale voltooiing van God se werk in elke Jesus-mens, vind daar ‘n proses van suiwering plaas. Petrus skryf baie realisties oor hierdie pad. Hy noem dit “beproewings”, wat onder andere verwys na die moontlike pyn en teenspoed op ons pad. Ons elkeen se lewenspad het opdraandes en afdraandes, en deur elke ervaring van die negatiewe en die positiewe, het ons geleentheid om te groei of nie. Hoe beter ons besef wie ons reeds in Jesus Christus is, hoe beter groei ons deur hierdie ervaringe. Anders gestel, eers met die ontdekking van die groot geskenk van nuwe lewe, kan ek en jy die uitdagings van die lewe hanteer.

Hierdie nuwe lewe begin en eindig by God, wat van ewigheid tot ewigheid is Wie Hy is. In sy onveranderlike en onvoorwaardelike liefde, het Hy elkeen van sy Jesus-mense geskep en uitverkies om deel te vorm van sy ewige plan met alles. Nou is dit vir ons as Jesus-mense om gedurig meer van God in ons, en sy plan met ons, te ontdek.

Kom ek nooi jou uit om vandag bietjie vooruit te dink. Waar wil jy graag oor ‘n jaar wees in jou verhouding met Hom in jou? Waarmee sukkel jy die meeste in jou geestelike groei? Hoe sal jy die graagste hierdie nuwe lewe wil belewe? Weet dan: Hy is jou antwoord!

Thursday, April 14, 2016

Oordenking 17 April 2016


Die nuwe mens in wording
“... en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God.” (Kolossense 3: 10)

Ons is besig om beter te verstaan wat die “nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Hoe wil die Gees van God van jou lewe ‘n getuie maak van hierdie nuwe lewe?

In Kolossense 3 gee Paulus ‘n baie mooi beskrywing van wat ons kan verwag wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lewens vernuwe. Sonder om by sy lysie van moontlike veranderinge stil te staan (gaan lees dit maar self as jy wil), kom dit min of meer op die volgende neer:

Sekere gewoontes of optredes in jou lewe, begin om te verander: sommige drasties en onmiddellik, ander moeilik en baie stadig; sommige bewustelik en ander onbewustelik; sommige is spesifieke besluite wat jy neem en ander is jy nie gereed om oor te besluit nie. Soos wat jy deur verskillende lewenservaringe gaan en met jare se ondervinding, groei jy in kennis en beter gewoontes. Ongelukkig vind die mees drastiese veranderinge plaas wanneer jy deur krisisse moet gaan.

In hierdie geloofsreis van lewensvernuwing, gebeur dit dat jy in sekere opsigte al hoe meer ontuis en vreemd voel teenoor sekere goed in jou verlede en sekere goed wat deel is van hierdie goddelose wêreld. Nuwe gewoontes en ‘n nuwe gesindheid in jou eie unieke persoonlike lewe, word die vertrekpunt om meer vir ander te beteken. Jou eie behoeftes word minder belangrik in belang van ander se behoeftes. Oppervlakkigheid maak plek vir diepte. Godsdienstigheid word vervang met ‘n verhoudings-gerigte lewenswyse.

En die grootste wonder van dit alles is, daar is nie ‘n vaste patroon of een resep wat vir almal geld nie. Hier is nie voorskrifte of vaste reëls wat gevolg word nie. Elkeen se lewensreis en lewenservaringe verskil, en het gevolglik ‘n unieke vernuwing tot gevolg. Met respek gesê, natuurlik is dit God se manier om dit vir Homself interessant te hou. Ons kan wel by mekaar leer en dit geniet om in mekaar se lewens die vernuwing raak te sien waarmee die Gees besig is.

Die enigste voorwaarde vir hierdie “nuwe mens in wording”, is dat dit alles oor God gaan. Hierdie vernuwing is nie in ons eie belang en tot ons eie voordeel nie. Om “al hoe meer vernuwe (te) word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God” (Kolossense 3: 10), is sodat “... Christus alles en in almal is.” (Kolossense 3:11c).

Let net op: jy ís die nuwe mens in wording!

Thursday, April 7, 2016

Oordenking 10 April 2016

Die nuwe opstandingslewe in Christus
“Gaan ... verkondig ... die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” (Handelinge 5: 20)

Nadat ons so naby aan Jesus gestap het, dat die stof van sy voete ook op ons gekom het en ons mooi kon luister na wat Hy vir ons geleer het, wil ons nou verder stap. Hy is gekruisig, maar het uit die dood opgestaan. Die Heilige Gees is in volle krag uitgestort om in elke Jesus-mens lewensveranderend teenwoordig te wees. Hierdie Gees van Jesus self, is besig om ‘n opgestane Jesus se lewenswyse sigbaar te maak in elke Jesus-mens. Hierdie nuwe lewenswyse word regdeur die Bybel die “nuwe lewe” genoem. Kom ons ontdek saam in die weke wat kom wat hierdie “nuwe lewe” werklik vandag vir ons beteken.

In Psalm 119:25 bid die digter: “... gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het.” In die wysheidsliteratuur van Spreuke lees ons: “... ‘n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.” (13:12b). Na die ballingskap, hoor die volk Israel: “... julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit ...” (Jesaja 66:14).

In Handelinge 5 word die apostels gevange geneem deur die godsdienstige leiers omdat die apostels siekes gesond gemaak en bose geeste uitgedryf het. Hulle word deur ‘n engel met ‘n wonderwerk uit die tronk bevry, met die opdrag: “Gaan ... verkondig ... die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” (Handelinge 5: 20) Met hulle verskyning voor die Joodse Raad, antwoord Petrus en die ander apostels: “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” (Handelinge 5:29 tot 32) Op aanbeveling van die leermeester Gamaliël, word die apostels weer vrygelaat.

Waar laat dit ons vandag? Dieselfde Heilige Gees is deur God aan elkeen van ons, wat glo in Jesus Christus, gegee. Begeer jy ‘n dieper persoonlike verhouding met ons Here? Wil jy ook graag vry van enige oppervlakkige godsdienstigheid voluit vir Jesus lewe? Is jy gereed om sigbaar meer en meer die nuwe lewe wat alleen deur die opgestane Jesus moontlik is, te lewe?

Wees dan meer aan God gehoorsaam as aan mense. Maak elke faset van jou lewe oop vir die Gees van God se nuwe lewe in jou! Laat die Gees van jou lewe ‘n getuie maak van hierdie nuwe lewe.

Thursday, March 17, 2016

Oordenking 20 Maart 2016

Jesus-mense hoor Sy hart aan die kruis
“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27: 46)

Ons is nou in die laaste paar dae voordat ons die kruisiging van Jesus herdenk. Wat hoor ons vandag in Jesus se hart terwyl Hy aan die kruis was?

Daar is ‘n paar intense gedagtes wat ons kan raak hoor in die kruiswoorde van Jesus. Hy was verseker volledig mens, wat in sy pyn en lyding egte Godverlatenheid ervaar het, al is Hy steeds waarlik God. In Matteus en Markus kom net hierdie een kruiswoord van Jesus voor: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27: 46; Markus 15:34) Hy het ook gewone fisiese dors ervaar toe Hy sê: “Ek is dors.” (Johannes 19: 28) In sy sterwensoomblikke toon Hy genade en liefde teenoor iemand soos ‘n misdadiger wat langs Hom aan ‘n kruis hang: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43) Hy is besorgd oor sy dierbares wat daar by die kruis teenwoordig is, wanneer Hy volgens Johannes vir sy ma sê: “Daar is u seun.”, en vir Johannes: “Daar is jou moeder.” (Johannes 19: 26 en 27). Sy volledige Een-wees met sy Vader, kom duidelik na vore in: “Vader in u hande gee Ek my gees oor.” (Lukas 23: 46) Die volmaakte voltooiing van sy verlossingswerk aan die kruis, hoor ons in: “Dit is volbring!” (Johannes 19: 30)

Ons Jesus aan die kruis beteken dus vandag:
o   Ons Jesus is God én mens, en DAAROM is Hy die énigste Verlosser ooit! Daar sal nooit weer ‘n ander Verlosser nodig wees nie. Hy is finaal vir altyd volledig vir almal wat in Hom glo, die ewige Redder en Bewerker van lewe tot in die oneindigheid! 

o   Ons Jesus verstaan elke mens se pyn en lyding. Enige vorm van menslike nood en krisis ken Hy, Hy was en is híér! Dit maak nie saak wat jou swaarkry is nie, Hy het ware omgee-meelewing-begrip-empatie-simpatie. Hy wil in jou seer met jou wees, al gaan dit nie noodwendig weg nie.

o   Ons Jesus se genade en liefde is tydloos vir elke mens op aarde bedoel. Juis omdat genade en liefde deel is van die wese van God, is dit in elke nuwe tydvak van die geskiedenis, onveranderlik vir elke mens op aarde beskikbaar. Tog leef so baie mense sonder die liefde en genade van God.

o   Ons Jesus is besig om sy verlossingswerk op aarde deur ons te voltooi. Elke Jesus-mens is deel van God se plan met hierdie wêreld. Hy ís besig, nou, vandag, in en deur jou en my met sý koninkrykswerk!

Thursday, March 10, 2016

Oordenking 13 Maart 2016

Jesus-mense staan bymekaar in tye van nood
“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matteus 26: 39)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer oor die lewe vandag. In ons Christelike kerkjaar, is ons nou midde die lydenstyd en wil ‘n paar tree saam met Jesus loop toe Hy baie swaar gely het ter wille van ons.

Jesus bid een van die mees intense gebede van alle tye daar in die tuin van Getsemane. Drie keer bid Hy dieselfde woorde (soos in Matteus 26:39). ‘n Seun praat baie ernstig met sy Pa. Omdat Hy self waarlik God is, het Hy geweet wat op Hom wag. Maar juis omdat Hy ook waarlik mens is, het Hy nie werklik kans gesien vir die pyn en lyding nie. Ons is baie bevoorreg, ons ken die uiteinde van wat gebeur het. Hy het enduit die lydensweg geloop, ja, totdat Hy sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het.

Dit is juis in sy egte menslikheid dat Hy sy vriende nodig gehad het in sy uur van nood. Dit was nie vir Hom enigsins makliker omdat Hy tegelyk ook God is nie. Maar dit is in die nag, die dag was lank en uitputtend. Sy nabyvriende raak aan die slaap, toe Hy eintlik wou hê dat hulle saam met Hom wakker moes wees. Soos Hy self sê: “Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” (Matteus 26:41)

Kom ons maak die sprong vanaf Jesus se tyd op aarde na vandag. Die intensiteit van Jesus se lyding sal ons nooit kan begryp nie. Tog kan ons by Hom leer: Hy bid baie ernstig toe Hy as mens nie kans sien vir die pyn wat sou kom nie. En ons leer iets van hoe ons mekaar nodig het in tye van nood.

Ons wat iets begryp van Jesus se intense lyding destyds, kyk met ander oë na mekaar en na ander. Mense se pyn, word ons pyn, dit kruip onder ons velle in. Ons kan ons nie blind hou as ander seer het nie. En dan praat ons van enige vorm van seer: siekte, hartseer, gebroke verhoudings, fisiese omstandighede, en vele meer. Nie een van ons kan sê dat ons self nooit ander gaan nodig hê wanneer seerkry op ons pad kom nie. Eenvoudig beteken dit: ons hét mekaar nodig, én ander het óns nodig in tye van nood!

Thursday, March 3, 2016

Oordenking 6 Maart 2016

Jesus-mense hou vas aan die Waarheid alleen
“Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22: 29)

Ons is besig om by Jesus self te leer oor die lewe vandag. Ons fokus op nog van sy wyshede.

In Matteus 22 probeer ‘n groep van die destydse godsdienstige leiers, die Sadduseërs, Hom vastrek met ‘n strikvraag. Hierdie groep het nie geglo in die lewe na die dood nie, omdat hulle nie bewyse daarvoor kon kry in die eerste vyf boeke van die Ou Testament nie. In daardie tyd was dit uiters belangrik dat ‘n man se naam voortgesit word deur ‘n seun-erfgenaam. Die voorskrif was dat, as ‘n man sterf sonder enige seun, moet die weduwee trou met die volgende broer van die oorledene. En so moes dit aangaan totdat die oudste broer uiteindelik ‘n nageslag het. Nou probeer hierdie Sadduseërs Jesus vasvra oor wie gaan met wie getroud wees in die hemel indien een vrou met meer mans getroud was.

Dan kom Jesus se verrassende antwoord. Hy gee ‘n antwoord oor die lewe vandag en NIE oor die detail van huwelike in die hemel nie. Dit sou gevaarlik wees om te veel te lees in sy woorde: “Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos engele in die hemel.” (Matteus 22:30) Sy antwoord gaan oor kennis van die Bybel en oor kennis van God. Kom ek pas hierdie antwoord van Jesus toe op vandag.

Daar is vandag, soos destyds, baie strikvrae wat in die kerk gevra word. Dan gebeur daar nog slegte dinge in Jesus-mense se lewens, wat net nie sin maak nie. Binne die kerk is daar ook verwarrende ervaringe deurdat alles nie altyd seepglad verloop nie. In ons land en wêreldwyd is daar groot vraagstukke wat onopgelos bly. Hierdie uiteenlopende ervaringe en onbeantwoorde vrae, maak Jesus se antwoord belangrik.

Wanneer jy nie antwoorde op vandag se vrae het nie, neem jou toevlug na die waarhede in die Bybel en fokus op wie God self is. Elke onbeantwoorde vraag en elke onopgeloste krisis, bied geleentheid om by Hom uit te kom. Ons God is vandag lewend teenwoordig, soos nog altyd. Nog nooit het Hy en nooit sal Hy, sy eie verloste kinders in die steek laat nie – Hy kan nie! Leef Hom raak binne die verwarring wat daar vandag is.

Thursday, February 25, 2016

Oordenking 28 Februarie 2016

Jesus-mense plaas AL hul vertroue op Hom!
“As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die geloof vra.” (Matteus 21: 22)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe.

In een of ander opsig sien elkeen van ons uit na iets beter in die toekoms. Natuurlik sal almal nie saamstem met hierdie stelling nie. Daar is diegene wat altyd heeltemal tevrede is met alles in hulle lewe en geen behoefte het dat enige iets verander nie. Maar dan is daar definitief ‘n groep mense onder ons wat ernstig verlang na beter dae om baie uiteenlopende redes. Jesus self wil ons leer hoe om ‘n beter toekoms te benader.

In Matteus 21 word Jesus honger en loop verby ‘n vyeboom vol blare, maar sonder vrugte. Hy vervloek net daar op die plek hierdie vrugtelose boom! Hoekom so drasties? Hierdie vrugtelose vyeboom verwys na die Joodse volk. Reeds in die Ou Testament het die Here die volk Israel by herhaling gewaarsku deur verskillende profete dat hulle nie volgens sy wil lewe nie. Nou bevind Jesus Hom self hier tussen die Jode van sy tyd en spreek hierdie drastiese vloek uit oor die Joodse volk. Hy het aarde toe gekom om vir Hom ‘n nuwe volk te kom uitkies met ‘n nuwe toekoms. Ons kan by Jesus self leer wat dit beteken om deel te wees van sy nuwe volk met ‘n nuwe toekoms.

In Jesus se nuwe koninkryk is Hy die enigste hoop op ‘n beter toekoms. En waar Hy volledig verantwoordelikheid neem in sy ryk, gebeur groot dinge: “Julle sal vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.” (Matteus 21:21) Met Jesus in beheer en met sy volmaakte standaarde waarvolgens Hy optree, sal alles gebeur wat moet gebeur ... en Hy nooi elkeen van ons persoonlik uit om te kom inval by sý magtige dade!

Prakties beteken dit vir elke Jesus-mens:
o   maak daagliks seker jy is nie besig om jou eie kop te volg ten koste van Jesus se plan in jou lewe nie;
o   doen moeite en wees meer oplettend van waar Jesus reeds besig is om jou lewe te verbeter; en
o   gee jou volle medewerking met Jesus se Gees in jou.

Hiermee gee ek vir jou die waarborg dat jy presies sal bid en ontvang wat Hy die graagste wil!