Thursday, May 21, 2015

Oordenking 24 Mei 2015


PINKSTERFEES

Leef deur die Gees:    Eintlike Eindresultaat.           

“... wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” (Galasiërs 6:8)

 Pinkster is vir ons dié tyd van jaar om spesiaal te fokus op die Gees van God in elke Jesus-mens. Tog kan ons elke liewe sekonde van elke liewe dag weet Wie Hy reeds in ons is.

In die brief aan die gemeentes in Galasië, is daar ‘n rykdom van waarhede oor die Heilige Gees: God stuur sy eie Gees tot in ons, sodat Hy altyd in ons is (4:6a); niemand kan glo in Jesus, sonder die Heilige Gees nie (5:5); God se Gees is die enigste Hulp teen ons sondige natuur (5:16); slegs die Gees maak ons werklik vry van die swaar las van reg en verkeerd (5:18); Hy in ons, is volledig verantwoordelik vir die uitnemende kwaliteite wat reeds in ons is (5:22); slegs deur die leiding van die Gees, kan ons radikaal liefdevol teenoor ander wees (6:1).

Hierdie samevatting uit Galasiërs van die Heilige Gees se werk in ons, is allesbehalwe volledig – Hy is nog tot baie meer en groter dinge in staat in elkeen van ons!

Maar dit bly belangrik om reg te dink en korrek te glo, oor presies waarheen God deur sy Gees met elkeen van ons op pad is: Wat wil Hý uiteindelik in en deur elkeen van ons bereik? Wat is die einddoel van die Heilige Gees se werk in ons? En hier is dit dan natuurlik ongelooflik belangrik dat Sý einddoel en mý einddoel uiteindelik presies dieselfde sal wees!

Ons fokusteks gee die antwoord:

 “... wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” (Galasiërs 6:8)

Die Gees van die Drie-enige God is die eintlike Eindresultaat in elke Jesus-mens se bestaan! Net in ander woorde: God self is die einddoel van elke Jesus-mens se lewe. En die enigste manier waarop ons elkeen se einddoel 100% kan sinkroniseer met God se einddoel vir ons, is deur die voortgaande werk van God se Gees in ons.

Prakties sal dit onder andere kan beteken: Maak meer tyd om op ‘n manier wat vir jou werk, in God se teenwoordigheid te wees. Soek en vind jou innerlike rus by Hom alleen, veral in moeilike tye. Kom vry van enige laste en selfopgelegde pligte in jou verhouding met Hom. Wees oplettend in jou daaglikse lewe om Hom in die klein en groot dinge raak te leef.

Leef dus deur die Gees !!!

Friday, May 15, 2015

Oordenking 17 Mei 2015


Leef deur die Gees

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5: 25)

 Wie van ons begeer nie om ‘n goeie mens in alle opsigte te wees nie!

 Wel, dit is werklik moontlik om ‘n goeie mens te wees, as ons net reg verstaan hoe dit moontlik gemaak word. Daar is verseker slegs EEN manier om van ‘n slegte mens te groei na ‘n goeie mens: SLEGS deur die werk van die Heilige Gees van God in elke Jesus-mens!

 Hoe die Gees in ons werk, is die groot antwoord:

 ·         God stuur sy eie Gees tot in ons harte sodat Hy altyd en vir ewig in ons is. “En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur ...” (Galasiërs 4:6a)

·         Die Gees is die eksklusiewe Geloofsgewer vir ALMAL. Anders gesê, niemand kan glo in Jesus sonder die Heilige Gees nie. “... deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.” (Galasiërs 5:5)

·         God se Gees in elke Jesus-mens, is die enigste Hulp in ons grootste stryd, naamlik ons stryd teen ons sondige natuur. En die maklikste verstaan van ons sondige natuur, is ons elkeen se selfsugtige obsessie met onsself. “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Galasiërs 5:16)

·         Volkome Vryheid is Wie die Gees in ons is. Slegs Hy neem die swaar las van reg en verkeerd heeltemal van ons skouers af. “Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.” (Galasiërs 5:18)

·         Hy in ons, is die volledige Antwoord vir die uitnemende kwaliteite wat vir ‘n goeie mens bedoel is. Die volledige pakkie kom nét van Hom af! “Die vrug van Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22)

·         Alleen deur sy werk in ons, kyk ons radikaal Vrysprekend na ander. Geen afguns, geen afbrekende kritiek, geen status – slegs liefde, slegs omgee, slegs opbouend. “... as iemand in een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp.” (Galasiërs 6:1)

·         Die Gees van die Drie-enige God is die eintlike Eindresultaat in elke Jesus-mens se bestaan! “... wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” (Galasiërs 6:8)

Só leef ons deur die Gees !!!

Friday, May 8, 2015

Oordenking 10 Mei 2015

Elkeen is uniek in diens van God

“Ons is medewerkers in diens van God ...” (1 Korintiërs 3: 9a)

 Een van die wonderlikste ontdekkings vir elkeen van ons, is ons elkeen se uniekheid in so baie opsigte. Een van die baie maniere om dit te ontdek, is die verskillende persoonlikheidstoetse wat in die werksomgewing gebruik word. So word daar in die Myers Briggs-persoonlikheidsanalise sestien verskillende persoonlikhede, hoofsaaklik vir die werksomgewing onderskei. Die baie ouer ontleding van verskille tussen ons, word in die Enneagram beskryf as ‘n dinamiese psigo-spirituele hulpmiddel vir bewuswording en groei. My gewilde skrywer M. Scott Peck onderskei vier spiritualiteite, wat hy beskryf as: (1) “chaotic/antisocial”, (2) “formal/institutional”, (3) “skeptic/individual” en (4) “mystical/communal”. Daar is nog baie ander onderskeidings van die verskille tussen ons, wat elkeen se uniekheid bevestig.

 In die Bybel lees ons ook van die verskille wat daar tussen ons as Jesus-mense is. Vir God om ons te kan gebruik om sy werk hier op aarde te doen, het Hy ons elkeen eiesoortig en uniek gemaak, met baie spesiale gawes en nie-dupliserende geleenthede. Dan verander tye en behoeftes ook oor die jare in die kerk en in elkeen van ons se lewens. Ons elkeen en die kerk gaan deur fases van swaarkry en groei, en dit stel ook unieke eise aan alle betrokkenes. In hierdie proses vind daar groei en ontwikkeling plaas, maar almal voel nie altyd veilig as dinge te drasties verander nie.

Vir Paulus was dit ook waar in die Korinte-gemeente. Hy vra die vrae: “Wat is Apollos dan? Wat is Paulus?” Dan antwoord hy homself: “Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.” (uit 1 Korintiërs 3). Dan gebruik hy die beeldspraak van ‘n plant wat versorg moet word om te kan groei en wys hy daarop dat elkeen se werk ewe belangrik is vir die groei. Die enigste uitsondering is God! Hy is die enigste Een wat kan laat groei.

 Verder in sy briewe aan die Korinte, noem Paulus verskillende gawes wat mense binne die gemeente het. Hierdie was spesifieke gawes wat vir daardie tyd en daardie spesifieke gemeente nodig was. Weereens is een persoon se gawes nie beter of belangriker as ‘n ander persoon se gawes nie. Soos hy sê, “... daar is mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het.” (1 Korintiërs 12:28).

 Vandag is daar ander gawes nodig vir God se werk. Vandag het Hy jou nodig met jou unieke persoonlikheid. Vandag is niemand beter of belangriker as ‘n ander om ‘n “medewerker in diens van God” te wees nie! God het jou nodig in sy diens net soos jy is!

Thursday, April 23, 2015

Oordenking 26 April 2015

Geroep om te ...

“Jy is ..., op hierdie rots sal Ek my kerk bou ...” (Matteus 16:18)

 In minder as twee dae, was ek deel van twee uiteenlopende gesprekke waarin die betekenis van ons tweede bekering ter sprake kom. In die een gesprek gaan dit oor die gevolg wat bekering in elke Jesus-mens se lewe het, naamlik dat elkeen van ons geroep word om spesifiek deel te neem aan God se koninkrykswerk. In die ander gesprek gaan dit oor die betekenis wat ons almal na smag in die sogenaamde tweede helfte van ons lewe. Op een of ander manier soek elkeen van ons bevestiging dat my lewe die moeite werd is en in albei van hierdie gesprekke kom dit ter sprake.

Dit bring my by die groot vraag vir elke Jesus-mens: Wat is mý roeping?

Petrus word as doodgewone visserman geroep om vir Jesus te volg. Hy word saam met Johannes en Jakobus deel van Jesus se intieme en nabygroepie binne die dissipelgroep. Regdeur Jesus se aardse bediening speel Petrus ‘n sentrale rol, soveel so dat Jesus hom die “rots” noem waarop die kerk gebou sal word. Voor Paulus se bekering, speel Petrus die leidende rol in die vroeë kerk. Tog bly hy eg mens, deurdat dit hy was wat Jesus verraai en misken tydens Jesus se verhoor die laaste nag, voordat Hy gekruisig is. Gewone visserman, eksklusiewe dissipel, verraaier, kerkleier ... maar geroep om in God se koninkryk ‘n baie groot verskil te maak!

 Waarvoor roep Jesus jóú vandag?

 Jy hoef nie geleerd, gewild, mooi, geestelik sterk, dinamies, of wat ook al te wees nie. Net soos wat jy is: Jesus het jou baie nodig binne sy kerk en in sy koninkryk. Hy is lief vir jou net soos jy is, want onthou, jy kan nooit weer in die moeilikheid by Hom wees nie (daarvoor was Hy vir jou aan die kruis). Jy sal ook nie in die moeilikheid kom as jy nie jou roeping begin leef nie, dit is jou eie vrywillige keuse. Jesus gee egter sy heel beste Hulp in jou, naamlik sy eie Gees. So rus Hy jou toe, maak jou bekwaam (Paulus se woorde) en bring die geleenthede op jou pad – leef net jou roeping.

 Maar wees gewaarsku: dit gaan nie noodwendig lekker wees nie; jy kan dalk teenstand en teenspoed in God se werk kry; almal gaan nie van jou hou en met jou saamstem nie; jy kan moontlik dinge doen wat nie jy is nie of waarvan jy nie hou nie. Want onthou: dit gaan NIE oor jóú NIE, maar oor Hóm in jou!

Thursday, April 16, 2015

Oordenking 19 April 2015

Wees daar vir mekaar!

“Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die Woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie.” (Handelinge 6:2b)

Reeds in 1959 skryf Murray Janson ‘n boekie “Sodat ons weer waarlik kerk kan wees” waarin hy waarsku teen die Roomse gevaar dat ons ‘n “domineeskerk” is. Hy skryf 56 jaar gelede: “Vandag neig dit darem al te gevaarlik daarheen dat feitlik alles van die dominee afhang en op die dominee neerkom. ‘n Gemeente se aktiwiteite en entoesiasme staan of val met die aktiwiteit en entoesiasme van hulle dominee!”

Nog baie langer gelede, in die eerste gemeentes waarvan ons in Handelinge lees, was daar uitdagings en geleenthede dat die werk in gemeentes tussen almal verdeel word. Die eerste dissipels kom agter dat hulle roeping om vir soveel as moontlik mense van Jesus te vertel skade ly, omdat daar ook van hulle verwag word om mense wat swaarkry, te help. So word die eerste diakens in die kerk gekies om te help met spesifieke take in die gemeente. Nêrens is daar sprake daarvan dat die een se werk in die gemeente belangriker as ‘n ander se werk is nie. Saam neem almal gelyke verantwoordelikheid vir die gemeente.

 Vandag is dit steeds ons uitdaging dat almal gelyke verantwoordelikheid neem in die gemeente. Niemand is belangriker as ‘n ander nie. Selfs die aanspreekvorm en titel “dominee” skep ‘n probleem omdat dit eintlik “domineer, baasspeel, oorheers” beteken. Soos Janson skrywe: “... die predikant al man is wat van die dinge genoeg weet en word hy as vanselfsprekend op die verhoog bokant die ander geplaas. Die begaafdheid van die predikant gee in die gemeente deurslag: is hy inskiklik en welsprekend en gaaf en geliefd genoeg, en het hy oral organisatoriese vermoë, dan slaag hy daarin om die mense te paai en bymekaar te hou.”

 Ware kerk-wees en deel wees van enige geloofsgemeenskap, sal dus beteken dat almal op gelyke voet met mekaar is. Waar hierdie Bybelse beginsel geld, neem Jesus-mense verantwoordelikheid vir elke geleentheid vir Koninkrykswerk volgens elkeen se spesifieke gawes. Kritiek oor mekaar se werk, word baie versigtig en liefdevol hanteer. Elkeen wat opreg en selfloos betrokke is, word raakgesien en erken – tog word niemand bo ander verhef nie. Die fokus en doel is goeie en gesonde verhoudings waarin die liefde van Jesus in ons, sigbaar en eerlik geleef word.

 Die vraag vir jou vandag: wat is jou spesiale plekkie in God se werk?

Thursday, February 19, 2015

Oordenking 22 Februarie 2015

Genade slegs vir soekers.

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

(2 Korintiërs 12:9)

 Daar is al baie debatte gevoer en daar is uiteenlopende standpunte oor wat presies Paulus se “doring in die vlees” sou wees. Dis eenvoudig, as ons moes geweet het, sou hy vertel het. Die belangrikste is dat dit verseker iets baie moeilik was om te hanteer, en dat Paulus ‘n geweldige stryd daarteen gehad het – hy koppel selfs Satan se naam daaraan!

 Ek weet nie wat is jou grootste stryd of mees intense krisis of wakker-lê-in-die-nag-bekommernis nie, ja, jou “doring in die vlees”! Dit kan enige iets wees wat jou moedeloos, magteloos, broos, gefrustreerd, swak, hooploos, kragteloos, onseker, of hoe ook al laat voel. Dis verseker iets in jou lewe wat jy nie self kan verander nie. Dit is waarskynlik iets waarvoor jy nie gekies het nie. Dit kan ook iets wees wat niemand anders van weet nie, of wat niemand anders sal verstaan nie.

 Jy het al alles onder die son probeer om uit of deur of oor hierdie “DING” in jou lewe te kom. Jou planne is op, ander se raad is uitgeput, jy is in ‘n doodloopstraat, daar is geen lig in die tonnel nie. Moontlik is daar mense wat hier lees en redeneer dat dit nie vir hulle geld nie – sal ons sê, gelukkige hulle, of oneerlike hulle dalk? Verseker is daar baie wat ‘n “DING” het wat hulle mee loop, dag en nag.

 Die harde werklikheid vir diegene wat wel ‘n “DING” het, dit staan lynreg en radikaal teenstrydig teenoor God se genade! Die botsende kontras is onverstaanbaar en onverklaarbaar. Die “DING” en genade bots so erg, dat ons slegs tot een gevolgtrekking kan kom: ons verstaan glad nie. In ander woorde sou ons kan sê, Jesus-mense behoort nie ‘n “doring in die vlees” te hê nie.

 Tog is Jesus-mense die enigstes wie se “doring in die vlees” vir hulle hanteer word. Dis so eg deel van God se genadeplan vir ons op pad na volmaaktheid. Hoe meer ons ons eie magteloosheid besef, hoe beter is ons kans om genade raak te leef. Juis waar God se genade my enigste uitkoms is, waar ek totaal gestroop is van my eie bydrae om daaroor te kom, dan gebeur die onvoorspelbare en grenslose ingrype van God. Maar let wel, hierdie ingrype van God is op sy manier en tyd, ter wille van sy doel: Hy is met my op pad na volmaaktheid.

Thursday, February 5, 2015

Oordenking 8 Februarie 2015


Hoe ontvang ek egte genade?

“Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand kan roem nie.” (Efesiërs 2:9 Direkte Vertaling)

 Definisie:  Egte genade is God wat elke Jesus-mens deur sy Gees volledig verander om volmaak te word!

 Wat kan ek of moet ek nie doen nie, om hierdie genade te ontvang?

 ·         Ek leef egte genade alleen raak wanneer my alledaagse bestaan gelewe word in die permanente teenwoordigheid van God. Solank as wat ek net bid vir my eie behoeftes en wanneer my gebede meeste van die tyd net met alledaagse dinge te doen het, mis ek God se doel in my.

·         Alle geestelike verryking wat ek kan bekom deur Bybel te lees, ander Gees-geïnspireerde literatuur deur te werk, aan opbouende geloofsgesprekke deel te neem en enige blootstelling aan “geestelike kos” – vir wie of wat doen ek dit? Vir myself? Of vir wie God in my is? Daar is ‘n lewensbelangrike verskil!

·         Hoekom gaan ek kerk toe? Hoekom gee ek geld vir armes? Hoekom breek dit my hart as ander swaar kry? Hoekom wil ek vir ander raad gee wat uit my ervaringe baat kan vind? Is hierdie alles “goeie werke” wat ek onbewustelik nastreef om my posisie teenoor God te verbeter? Egte genade ontvang ek sonder enige bydrae of opoffering van my kant af!
 
·         Egte genade het volgens bogenoemde definisie te doen met God se einddoel van my lewe – wat is God se droom met my lewe op aarde? Daarom het egte genade te doen met die manier waarop God met my op pad is na sy doel met my.
 
·         Die “hoe ontvang ek”, het dus 100% te doen met wat God besig is om te doen op sý werkswyse en sý tyd en sý doel. Maar tog het ek ‘n keuse om saam te werk of nie, solank my vrywillige samewerking nie daarop neerkom dat ek dit vir my eie krediet neem nie.
 
·         Eintlik ontvang ek egte genade onverwags, onverdiend en onvoorspelbaar.
 
·         Egte genade ontvang ek in presies die regte “hoeveelheid’ wat ek kan hanteer op enige stadium van my lewe. Omdat dit God alleen is wat dit gee, gee Hy in volmaakte mates vir die groei na volmaaktheid.