Thursday, August 20, 2015

Oordenking 23 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 5:       Gelukkig in ‘n barmhartige lewenswyse

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
(Matteus 5:7)

Hoe lekker sal dit nie wees as ek iets nuuts kan sê oor ‘n barmhartige lewenswyse waaraan niemand van ons nog ooit gedink het nie! Of nog beter, as ek iets kan sê, wat regtig die direkte oorsaak is vir ‘n totaal veranderde lewenswyse vir elkeen van ons! Wel, dit moet ons aanvaar: slegs die Gees van God in elke Jesus-mens kan ou bekende waarhede gebruik om ons lewens te verander – laat ons Hom dan presies daarvoor vertrou!

‘n Veranderde lewenswyse begin by ‘n veranderde hart. ‘n Nuwe lewenswyse kan slegs blywend en tot werklike voordeel van ander wees, waar die Heilige Gees in ons aktief werksaam is. Binnekant, innerlik, wie jy werklik is as mens soos jy is, word gevorm en verander om millimeter vir millimeter meer te groei om met God se hart te lewe. Spontaan en vrywillig, maar ook soekend en met inspanning, kry elkeen van ons geleentheid om met ‘n sagte hart soos God se hart te lewe.

Die gevolg van ‘n meer en meer Gees-beheerde hart: hardheid word met sagtheid vervang; haat word met liefde vervang; selfgerigtheid word met selfloosheid vervang; jou ego maak plek vir God self in jou; jou eie belange skuif uit die pad om ruimte te gee vir ander; jou beheptheid met besittings word eerder ‘n gesindheid van weggee wat jy kan; jou blindheid vir ander se seer word genees en jy kry oë en hande wat ander se pyn sien en verlig; jou traagheid om te loop na ander se nood word met energie gevul om te hardloop om verligting te bring. Ja, ‘n totaal nuwe lewenswyse vol barmhartigheid!

Anders gesê: ‘n barmhartige lewenswyse is ‘n Goddelike werking met doelbewuste samewerking van elke Jesus-mens!

Wie van ons wil nie baie graag met sagte liefdevolle woorde en dade behandel word nie?
Wie van ons wil nie graag in volkome vrede met ander lewe nie?
Wie van ons wil nie ontspan in al my verhoudinge sonder eise wat gestel word nie?

Soek dringend daarna om meer volledig van God afhanklik te wees.
Soek met groter toewyding na opregte innerlike geluk by Hom.
Soek maniere om werklik te hoor en te doen wat vir Hom reg is.

Die gevolg van hierdie soeke:  ware geluk!

Thursday, August 13, 2015

Oordenking 16 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 4:       Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

(Matteus 5:6)

Vreemde geluk: jy kan gelukkig wees deur afhanklikheid, tevrede wees as daar hartseer is, sag wees wanneer jy eintlik hard wil wees ... en nou nog ook: jy kan seën ervaar wanneer jy honger en dors is!

Waarna dors jy?  Watter diep begeertes sit daar in jou hart?

Dié nommer EEN dors: om reg met God te wees.  Elke Jesus-mens se diepste behoefte is om te weet dat my verhouding met die Here in orde is. Moontlik voel jy nog dat jou goeie en toegewyde lewe vir God aanvaarbaar is. Die Bybel roep dit uit: “Jy kan nie self nie!”  Dis onmoontlik vir ‘n besoedelde sondaar om toegewyd genoeg te kan wees om in die teenwoordigheid van die heilige God te kan verskyn.  Jou kleed is vuil, jou gedrag stink...

Daarom het God self die mooiste plan gemaak om hierdie verhouding tussen jou en Hom te herstel.  Hy het sy eie Seun gestuur om al die vieslike sondigheid wat aan jou kleef op Hom te neem.  Toe het Hy daardie skuld aan die kruis van Golgota gestraf met Jesus se marteldood. Wil jy in die regte verhouding met God staan?  Gee jou oor aan Hom.  Hy kom woon in jou lewe, Hy was jou helder skoon met sy bloed, Hy vernuwe jou deur sy Heilige Gees.  Al jou sonde is reeds vergewe!

Die nommer TWEE dors: dat die onreg in hierdie wêreld sal stop!  Al die uitbuiting van mense, die mishandeling van kinders en diere, bejaardes en armes, rassisme, die vernietiging en besoedeling van die natuur, korrupsie en verdraaiing van die reg. Hierdie tweede honger en dors vloei voort uit die eerste.  Omdat jy ‘n kind van God is, wil jy graag soos God wees.  Dié dinge wat Hom pla, wat sy hart seermaak, wat Hom laat huil, hinder jou.  En jy kry ‘n passie om daardie dinge reg te stel.

Het jy diep in jou hart ‘n ernstige hunkering daarna dat jou verhouding met die Here heel sal wees?  Kom beleef die vervulling van daardie honger, daardie dors by Hom alleen.

Pla onreg jou?  Doen iets!  God is aan jou kant.  Jy sal versadig word.

Friday, July 31, 2015

Oordenking 2 Augustus 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 2: Gelukkig as jy treur

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matteus 5: 4)

Hoe vreemd klink dit nie om gelukkig te wees wanneer jy eintlik hartseer is nie?

Ja, en daar is so baie redes vir baie trane stort: die dood van iemand naby aan jou; ‘n liefdesverhouding wat verbreek word; fisiese pyn tydens ongelukke, swak gesondheid of operasies; iets van sentimentele waarde wat ons verloor. Enige iemand naby aan ons of enige iets baie kosbaar vir ons, kan baie trane veroorsaak. Tog gaan hierdie tweede saligspreking nie werklik oor ons gewone hartseer in ons daaglikse lewe nie, dit gaan oor ‘n baie dieper saak: God se hartseer!

Waaroor treur Hy en watter troos is hier van sprake dat dit iets met geluk te doen het?

Eerstens treur Hy oor elke Jesus-mens se traagheid om Hom toe te laat om sy/haar ALLES te wees. En omdat geheim een vir geluk gegaan het oor ons totale oorgawe aan Hom alleen as enigste fondament vir ware geluk, beleef ons iets van sy hartseer oor ons eie geestelike traagheid. Dit is nie langer ons sonde waaroor ons treur nie, daarvoor is ons reeds volledig deur Jesus se kruisdood vergewe. Ons het elkeen nodig om saam met Hom te treur oor ons eie selfsugtige gebrek aan geloofsdissiplines. Treur oor jou besige of nuttelose lewe wat nie genoeg tyd maak om stil te raak by Hom nie. Treur oor jou oppervlakkige soeke na meer van Hom in en deur jou ... MAAR laat dan die Gees toe dat jy vrywillig en spontaan ALLEEN by Hom troos vind vir hiérdie hartseer, daarin ALLEEN is ware geluk te vind.

Tweedens treur ons dan saam met Hom oor die verlorenheid van en gebrokenheid in ons daaglikse leefwêreld. Al die pyn, seer, haat, plesiersug, selfsug, magsug en ander stukkendheid van hierdie lewe, kan nie anders as om onder ‘n Jesus-mens se vel in te kruip nie. Hoe nader en dieper ons groei in Hom in ons, hoe meer word sy hartklop oor hierdie stukkende wêreld ook ons hartseer. MAAR dan kom sy Gees so aktief werksaam in ons, dat ons sy ware troos uitdra en uitleef daar waar Hy dit die nodigste vind. Ware geluk vir Jesus-kinders is ALLEEN te vind in die troos en Troos wat ons aan ons stukkende wêreld gee.

Jesus-mense is aktief besig om vertroosting te bring vir ander en God se skepping deur byvoorbeeld te luister na ander se seer, lyding te verlig waar jy kan, brood te gee waar nodig, siekes by te staan, bewaring van ons aarde se hulpbronne – die lysie van vertroosting wat ware geluk vir ander bring, is oneindig – besluit om aan te meld vir geluk in jóú lewe!

Thursday, July 23, 2015

Oordenking 26 Julie 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 1: Gelukkig in nederige afhanklikheid

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Matteus 5: 3)

Elkeen van ons soek op een of ander manier na geluk ... maar voel daar kort iets.

Jesus klim op die berg en kom leer ook vir ons vandag ‘n paar Goddelike geheime vir ware geluk. Kom ons gaan sit by Hom in die volgende klompie weke en leer om Jesus-waarhede oor geluk raak te leef.

Ongelukkig kan ek nie anders as om net kortliks te noem van die verkeerde maniere om na geluk te soek nie: moet nie geluk in die genot van die goddelose wêreld se pret en plesier soek nie; geld gee nie blywende geluk nie; moenie daarna streef om geseën te word net ter wille van jouself en jou eie behoeftes nie; wees gewaarsku teen die teleurstelling wat mense en tydelike goed hier op aarde aan jou belowe; daar is geen waarborg vir ewige seëninge tydens jou aardse lewe nie.

Die kern van ware seën en opregte geluk, is slegs in God self te vind. En wat met God te doen het tydens ons aardse lewe, het alles te doen met sy koninkryk. En sy koninkryk is reeds hierdie kant van die graf ‘n leefbare werklikheid vir elkeen wat in ‘n lewende verhouding met Hom lewe. En ‘n lewende verhouding met Hom beteken, my hele aardse (en hemelse) bestaan het ALLES met Hom te make. En sy ALLES in my, beteken my enigste geluk is in Hom te vind, in belang van wat Hy deur my in ander wil bereik.

Geluk opgesom: God leef binne-in my, in belang van wat Hy in ánder wil bereik!

Hoe word hierdie Jesus-geheim vir geluk deel van my lewe? Hy gee vir my maniere om te ontdek hoe ek dit met doelbewuste vrywillige keuses voortdurend kan maak. Opregte geluk en innerlike blydskap, val nie in my skoot nie, dit word ‘n lewenswyse waarin ek leer om te groei. Met ‘n Gees-beheerde lewe in werklike neerbuigende toewyding, ontdek ek maniere om meer weg van myself, bewus van Hom in my, gedring deur sy liefde, my daaglikse lewe meer en meer vol te maak met aktiwiteite wat sy koninkryk en sy eer dien.

Thursday, June 25, 2015

Oordenking 28 Junie 2015


Leef om weg te gee

“Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.” (Matteus 10: 8b)

Ons het almal iets om weg te gee, iets wat ons verniet ontvang het. Ons het almal iets om weg te gee, iets wat iemand anders nodig het. Een van die bevredigendste groei-ontdekkings wat ‘n Gees-gedrewe diens-gerigte Jesus-mens kan maak, is dat dit baie lekkerder is om te gee as om te ontvang.

Jesus is in Matteus 10 besig om sy naby-volgelinge opdragte te gee vir ‘n lewe van gee. Kom ons fokus net op vier van hierdie riglyne vir ‘n “gee-lewe”:

 1.      Gee eers aandag aan jou eie mense: “Gaan liewer na die verlore skape van Israel toe.” (vers 6):

Vir ons sal dit beteken om eers te kyk wie is die mense naby aan ons. Dit kan jou eie gesin- of familielede, eie kerkmense, jou bure, jou werksmense of skoolmaats wees. Begin gee aan die mense naaste aan jou – hulle is die “WIE” om aan te gee.

2.      Gee aandag waar daar nood is: “Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit.” (vers 8):

“WAT” jy kan gee, gaan oor die nood van iemand naaste aan jou. Dit kan ‘n wye verskeidenheid van behoeftes wees: siekte, hartseer, gemoedsversteurings, verhoudingsprobleme, geldnood, werksomstandighede ... ja, noem maar op. Die geheim is om naby genoeg aan die iemand naby aan jou te kom, dat hy of sy jou kan vertrou en jy so presies weet wat daardie persoon se nood is. Gee dan iets van jouself vir die ander een – jou tyd, hulp, raad, teenwoordigheid, wysheid, liefde – dit hoef jou nie geld te kos nie.
 
3.      Gee om ook te kan ontvang: “Moenie vir goud ... in julle beursies sorg nie ...” (vers 9):

Daar is ‘n groot geheim in ‘n gee-lewe. Hoe meer jy net vir jouself opgaar en vir jouself leef, hoe minder lewensvreugde sal jy hê. Sonder dat enige een van ons dit kan verwag wanneer ons onvoorwaardelik gee waar daar nood is, ontvang ons meer terug as wat ons weggegee het. Baie keer kry ons op heeltemal ander maniere terug as wat ons weggegee het. Hierdie is die geheim van die “HOE” van gee.

4.      Gee met die regte gesindheid: “As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf die vredeswens vir die huis.” (vers 13):

Vir my as Jesus-mens, gee die Gees van God in my ‘n nuwe gesindheid wat vanuit my binneste kom. Ek gee nie om raakgesien te word of om erkenning daarvoor te kry nie. Ek gee selfloos suiwer in belang van die behoefte van iemand anders, dis “HOEKOM” ek gee.

Geniet jou lewe van gee – jy ontvang so baie verniet!

Thursday, June 18, 2015

Oordenking 21 Junie 2015


Leef gereed, anders ...

“Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.” (Matteus 25:10b)

Hoe gemotiveerd is jy om Gees-gedrewe diensbaar te wees? Hoe ernstig is jy om die Gees van God geleentheid te gee om sy liefde deur jóú ten toon stel? Hoeveel moeite doen jy om regtig iets baie spesifiek vir die Here te doen?

Onthou tog net die hele tyd, Hy bied sy ALLES vir jou en my: liefde, genade en vergifnis! Die vraag is: met hoeveel erns, toewyding en dringendheid reageer ons op sy ALLES?

Soms voel dit vir my so gebrekkig binne die kerk: die onderlinge liefdesgesindheid skiet ver tekort; daar is nie altyd enige haas om aan sekere belangrike sake aandag te gee nie; almal is nie ewe getrou in hulle verantwoordelikheid van bywoning en gee nie; sommige verdwyn net en ons hoor nooit weer van hulle nie; debatte en energie word op onbenullighede gemors.

In Jesus se gelykenis oor die tien meisies, wat hulle lampe vol olie moes maak vir die bruidegom se koms, gaan dit spesifiek oor ons elkeen se diensbaarheid binne die kerk. Ja, die verstandiges en onverstandiges is vandag binne in die kerk. Elke Sondag sit daar mense binne in die kerk wat verstandig of onverstandig is, gereed of nie gereed vir die bruidegom se koms.

Die GROOT waarskuwing: daar sal ‘n spesifieke moment wees, wat dit vir altyd te laat sal wees om gereed te maak, en niemand van ons weet wanneer dit gaan wees nie! Hier is die enigste antwoord, hoe om gereed te lewe vir daardie finale laaste moment: Ken God self persoonlik en maak baie seker dat Hy jou ken! Maak sy onvoorwaardelike liefde deur oorgawe aan sy Gees, verseker deel van jou hele lewe. Leef gereed soos ‘n verstandige deur jou talente, tyd en energie heelhartig in diens te stel van sy koninkrykswerk hier op aarde.

Waaruit bestaan ‘n lewe wat gereed en verstandig is?

·         Vertel vir ander van Jesus;

·         Wys deur jou lewe wat sy liefde is;

·         Gee jou tyd, geld en energie;

·         Gee vir die armes;

·         Versorg die siekes;

·         Vertroos diegene wat hartseer is;

·         Hef die sukkelaars op;

·         Vermaan die onverskilliges;

·         Praat moed in vir die moedeloses; en

·         Wees Jesus se hande en voete.

Leef vandag gereed deur ... (soos die Gees jou lei), môre kan vir altyd te laat wees!

Thursday, June 4, 2015

Oordenking 7 Junie 2015


Jou uitverkore plek in God se werk

“Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.” (Efesiërs 4:16c)

 Ontdek jou gawes, lidmaatbemagtiging, betrokkenheid, inskakeling, meelewing, groei in getalle en geestelike diepte, geloofsgemeenskap, liefdesgemeenskap - almal uitdrukkings en woorde wat iets beskrywe van die kerk van Jesus Christus hier op aarde.

Ons het reeds die punt bereik dat niemand skuldig hoef te voel wat nie betrokke is nie; niemand hoef uit dwang of plig sy of haar deel te doen nie; oor geld wil ons glad nie met mekaar praat nie; niemand het ‘n belangriker verantwoordelikheid as ‘n ander nie; die speelveld in God se koninkryk is gelyk. Ek en jy het elkeen ons plekkie in God se span, en elkeen is ewe nodig en belangrik.

 Ons verskil van mekaar ten opsigte van persoonlikhede, talente, gawes van die Gees, spiritualiteit, omstandighede, en nog baie meer. Ons hoef ook nie van mekaar te hou nie, bedoelende ons kom van nature nie ewe goed met almal oor die weg nie. Daar is as gevolg verskillende redes, uiteenlopende standpunte oor dieselfde sake. Ons voel nie altyd ewe tuis in almal se geselskap nie. Daar is ‘n verstaanbare én onverklaarbare diversiteit tussen Jesus-mense.

 Om by Paulus se beeldspraak aan te sluit, daar is verskillende liggaamdele in die menslike liggaam wat radikaal van mekaar verskil, maar tog het elke liggaamsdeel die ander liggaamsdeel krities nodig. Een liggaamsdeel kan nie en hoef nie alle liggaamsfunksies te hanteer nie. Maar een liggaamsdeel wat nie sy of haar funksie verrig nie, het ‘n direkte en drastiese effek op ‘n spesifieke gedeelte of op die hele liggaam. Sekere liggaamsdele is onvervangbaar, maar nie onafhanklik van die minder belangrike liggaamsdele nie.

 Binne die liefdesband van Jesus-mense in elke geloofsgemeenskap of gemeente of kerk, geld hierdie onderskeiding en tegelyk spesialisering van funksies en take. Elke Jesus-mens se plek in God se werk is onvervangbaar en in baie opsigte interafhanklik. Eenvoudig gesê: God het ons verskillende gawes en persoonlikhede nodig om ‘n gesonde geheel te vorm. Tog is niemand vir Hom onmisbaar nie, Hy kan sonder my en jou regkom deur net ‘n ander plan te maak.

 Kom ons maak dit persoonlik: wat is jou spesifieke funksie in die opbou en uitbou van die kerk? Sit jy en wag om bedien te word, of is jy Gees-gedrewe diensbaar? Kan jy met eerlikheid sê dat jy vrywilliglik ‘n vertoonvenster van Jesus-liefde in elke moontlike situasie elke dag is? Die Gees van God wil só graag sy liefde deur jóú ten toon stel!