Thursday, April 7, 2016

Oordenking 10 April 2016

Die nuwe opstandingslewe in Christus
“Gaan ... verkondig ... die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” (Handelinge 5: 20)

Nadat ons so naby aan Jesus gestap het, dat die stof van sy voete ook op ons gekom het en ons mooi kon luister na wat Hy vir ons geleer het, wil ons nou verder stap. Hy is gekruisig, maar het uit die dood opgestaan. Die Heilige Gees is in volle krag uitgestort om in elke Jesus-mens lewensveranderend teenwoordig te wees. Hierdie Gees van Jesus self, is besig om ‘n opgestane Jesus se lewenswyse sigbaar te maak in elke Jesus-mens. Hierdie nuwe lewenswyse word regdeur die Bybel die “nuwe lewe” genoem. Kom ons ontdek saam in die weke wat kom wat hierdie “nuwe lewe” werklik vandag vir ons beteken.

In Psalm 119:25 bid die digter: “... gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het.” In die wysheidsliteratuur van Spreuke lees ons: “... ‘n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.” (13:12b). Na die ballingskap, hoor die volk Israel: “... julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit ...” (Jesaja 66:14).

In Handelinge 5 word die apostels gevange geneem deur die godsdienstige leiers omdat die apostels siekes gesond gemaak en bose geeste uitgedryf het. Hulle word deur ‘n engel met ‘n wonderwerk uit die tronk bevry, met die opdrag: “Gaan ... verkondig ... die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” (Handelinge 5: 20) Met hulle verskyning voor die Joodse Raad, antwoord Petrus en die ander apostels: “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” (Handelinge 5:29 tot 32) Op aanbeveling van die leermeester Gamaliël, word die apostels weer vrygelaat.

Waar laat dit ons vandag? Dieselfde Heilige Gees is deur God aan elkeen van ons, wat glo in Jesus Christus, gegee. Begeer jy ‘n dieper persoonlike verhouding met ons Here? Wil jy ook graag vry van enige oppervlakkige godsdienstigheid voluit vir Jesus lewe? Is jy gereed om sigbaar meer en meer die nuwe lewe wat alleen deur die opgestane Jesus moontlik is, te lewe?

Wees dan meer aan God gehoorsaam as aan mense. Maak elke faset van jou lewe oop vir die Gees van God se nuwe lewe in jou! Laat die Gees van jou lewe ‘n getuie maak van hierdie nuwe lewe.

Thursday, March 17, 2016

Oordenking 20 Maart 2016

Jesus-mense hoor Sy hart aan die kruis
“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27: 46)

Ons is nou in die laaste paar dae voordat ons die kruisiging van Jesus herdenk. Wat hoor ons vandag in Jesus se hart terwyl Hy aan die kruis was?

Daar is ‘n paar intense gedagtes wat ons kan raak hoor in die kruiswoorde van Jesus. Hy was verseker volledig mens, wat in sy pyn en lyding egte Godverlatenheid ervaar het, al is Hy steeds waarlik God. In Matteus en Markus kom net hierdie een kruiswoord van Jesus voor: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27: 46; Markus 15:34) Hy het ook gewone fisiese dors ervaar toe Hy sê: “Ek is dors.” (Johannes 19: 28) In sy sterwensoomblikke toon Hy genade en liefde teenoor iemand soos ‘n misdadiger wat langs Hom aan ‘n kruis hang: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43) Hy is besorgd oor sy dierbares wat daar by die kruis teenwoordig is, wanneer Hy volgens Johannes vir sy ma sê: “Daar is u seun.”, en vir Johannes: “Daar is jou moeder.” (Johannes 19: 26 en 27). Sy volledige Een-wees met sy Vader, kom duidelik na vore in: “Vader in u hande gee Ek my gees oor.” (Lukas 23: 46) Die volmaakte voltooiing van sy verlossingswerk aan die kruis, hoor ons in: “Dit is volbring!” (Johannes 19: 30)

Ons Jesus aan die kruis beteken dus vandag:
o   Ons Jesus is God én mens, en DAAROM is Hy die énigste Verlosser ooit! Daar sal nooit weer ‘n ander Verlosser nodig wees nie. Hy is finaal vir altyd volledig vir almal wat in Hom glo, die ewige Redder en Bewerker van lewe tot in die oneindigheid! 

o   Ons Jesus verstaan elke mens se pyn en lyding. Enige vorm van menslike nood en krisis ken Hy, Hy was en is híér! Dit maak nie saak wat jou swaarkry is nie, Hy het ware omgee-meelewing-begrip-empatie-simpatie. Hy wil in jou seer met jou wees, al gaan dit nie noodwendig weg nie.

o   Ons Jesus se genade en liefde is tydloos vir elke mens op aarde bedoel. Juis omdat genade en liefde deel is van die wese van God, is dit in elke nuwe tydvak van die geskiedenis, onveranderlik vir elke mens op aarde beskikbaar. Tog leef so baie mense sonder die liefde en genade van God.

o   Ons Jesus is besig om sy verlossingswerk op aarde deur ons te voltooi. Elke Jesus-mens is deel van God se plan met hierdie wêreld. Hy ís besig, nou, vandag, in en deur jou en my met sý koninkrykswerk!

Thursday, March 10, 2016

Oordenking 13 Maart 2016

Jesus-mense staan bymekaar in tye van nood
“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matteus 26: 39)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer oor die lewe vandag. In ons Christelike kerkjaar, is ons nou midde die lydenstyd en wil ‘n paar tree saam met Jesus loop toe Hy baie swaar gely het ter wille van ons.

Jesus bid een van die mees intense gebede van alle tye daar in die tuin van Getsemane. Drie keer bid Hy dieselfde woorde (soos in Matteus 26:39). ‘n Seun praat baie ernstig met sy Pa. Omdat Hy self waarlik God is, het Hy geweet wat op Hom wag. Maar juis omdat Hy ook waarlik mens is, het Hy nie werklik kans gesien vir die pyn en lyding nie. Ons is baie bevoorreg, ons ken die uiteinde van wat gebeur het. Hy het enduit die lydensweg geloop, ja, totdat Hy sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het.

Dit is juis in sy egte menslikheid dat Hy sy vriende nodig gehad het in sy uur van nood. Dit was nie vir Hom enigsins makliker omdat Hy tegelyk ook God is nie. Maar dit is in die nag, die dag was lank en uitputtend. Sy nabyvriende raak aan die slaap, toe Hy eintlik wou hê dat hulle saam met Hom wakker moes wees. Soos Hy self sê: “Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” (Matteus 26:41)

Kom ons maak die sprong vanaf Jesus se tyd op aarde na vandag. Die intensiteit van Jesus se lyding sal ons nooit kan begryp nie. Tog kan ons by Hom leer: Hy bid baie ernstig toe Hy as mens nie kans sien vir die pyn wat sou kom nie. En ons leer iets van hoe ons mekaar nodig het in tye van nood.

Ons wat iets begryp van Jesus se intense lyding destyds, kyk met ander oë na mekaar en na ander. Mense se pyn, word ons pyn, dit kruip onder ons velle in. Ons kan ons nie blind hou as ander seer het nie. En dan praat ons van enige vorm van seer: siekte, hartseer, gebroke verhoudings, fisiese omstandighede, en vele meer. Nie een van ons kan sê dat ons self nooit ander gaan nodig hê wanneer seerkry op ons pad kom nie. Eenvoudig beteken dit: ons hét mekaar nodig, én ander het óns nodig in tye van nood!

Thursday, March 3, 2016

Oordenking 6 Maart 2016

Jesus-mense hou vas aan die Waarheid alleen
“Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22: 29)

Ons is besig om by Jesus self te leer oor die lewe vandag. Ons fokus op nog van sy wyshede.

In Matteus 22 probeer ‘n groep van die destydse godsdienstige leiers, die Sadduseërs, Hom vastrek met ‘n strikvraag. Hierdie groep het nie geglo in die lewe na die dood nie, omdat hulle nie bewyse daarvoor kon kry in die eerste vyf boeke van die Ou Testament nie. In daardie tyd was dit uiters belangrik dat ‘n man se naam voortgesit word deur ‘n seun-erfgenaam. Die voorskrif was dat, as ‘n man sterf sonder enige seun, moet die weduwee trou met die volgende broer van die oorledene. En so moes dit aangaan totdat die oudste broer uiteindelik ‘n nageslag het. Nou probeer hierdie Sadduseërs Jesus vasvra oor wie gaan met wie getroud wees in die hemel indien een vrou met meer mans getroud was.

Dan kom Jesus se verrassende antwoord. Hy gee ‘n antwoord oor die lewe vandag en NIE oor die detail van huwelike in die hemel nie. Dit sou gevaarlik wees om te veel te lees in sy woorde: “Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos engele in die hemel.” (Matteus 22:30) Sy antwoord gaan oor kennis van die Bybel en oor kennis van God. Kom ek pas hierdie antwoord van Jesus toe op vandag.

Daar is vandag, soos destyds, baie strikvrae wat in die kerk gevra word. Dan gebeur daar nog slegte dinge in Jesus-mense se lewens, wat net nie sin maak nie. Binne die kerk is daar ook verwarrende ervaringe deurdat alles nie altyd seepglad verloop nie. In ons land en wêreldwyd is daar groot vraagstukke wat onopgelos bly. Hierdie uiteenlopende ervaringe en onbeantwoorde vrae, maak Jesus se antwoord belangrik.

Wanneer jy nie antwoorde op vandag se vrae het nie, neem jou toevlug na die waarhede in die Bybel en fokus op wie God self is. Elke onbeantwoorde vraag en elke onopgeloste krisis, bied geleentheid om by Hom uit te kom. Ons God is vandag lewend teenwoordig, soos nog altyd. Nog nooit het Hy en nooit sal Hy, sy eie verloste kinders in die steek laat nie – Hy kan nie! Leef Hom raak binne die verwarring wat daar vandag is.

Thursday, February 25, 2016

Oordenking 28 Februarie 2016

Jesus-mense plaas AL hul vertroue op Hom!
“As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die geloof vra.” (Matteus 21: 22)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe.

In een of ander opsig sien elkeen van ons uit na iets beter in die toekoms. Natuurlik sal almal nie saamstem met hierdie stelling nie. Daar is diegene wat altyd heeltemal tevrede is met alles in hulle lewe en geen behoefte het dat enige iets verander nie. Maar dan is daar definitief ‘n groep mense onder ons wat ernstig verlang na beter dae om baie uiteenlopende redes. Jesus self wil ons leer hoe om ‘n beter toekoms te benader.

In Matteus 21 word Jesus honger en loop verby ‘n vyeboom vol blare, maar sonder vrugte. Hy vervloek net daar op die plek hierdie vrugtelose boom! Hoekom so drasties? Hierdie vrugtelose vyeboom verwys na die Joodse volk. Reeds in die Ou Testament het die Here die volk Israel by herhaling gewaarsku deur verskillende profete dat hulle nie volgens sy wil lewe nie. Nou bevind Jesus Hom self hier tussen die Jode van sy tyd en spreek hierdie drastiese vloek uit oor die Joodse volk. Hy het aarde toe gekom om vir Hom ‘n nuwe volk te kom uitkies met ‘n nuwe toekoms. Ons kan by Jesus self leer wat dit beteken om deel te wees van sy nuwe volk met ‘n nuwe toekoms.

In Jesus se nuwe koninkryk is Hy die enigste hoop op ‘n beter toekoms. En waar Hy volledig verantwoordelikheid neem in sy ryk, gebeur groot dinge: “Julle sal vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.” (Matteus 21:21) Met Jesus in beheer en met sy volmaakte standaarde waarvolgens Hy optree, sal alles gebeur wat moet gebeur ... en Hy nooi elkeen van ons persoonlik uit om te kom inval by sý magtige dade!

Prakties beteken dit vir elke Jesus-mens:
o   maak daagliks seker jy is nie besig om jou eie kop te volg ten koste van Jesus se plan in jou lewe nie;
o   doen moeite en wees meer oplettend van waar Jesus reeds besig is om jou lewe te verbeter; en
o   gee jou volle medewerking met Jesus se Gees in jou.

Hiermee gee ek vir jou die waarborg dat jy presies sal bid en ontvang wat Hy die graagste wil!

Wednesday, February 17, 2016

Oordenking 21 Februarie 2016

Jesus-mense dien graag nederig soos Hy!

“Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” (Matteus 20: 28)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe.

Fokus vir die oomblik op die Een wat aan die Woord is: Jesus, ons reddende en genadige ware Verlosser; die belangrikste Een wat ooit sy voete op ons aarde kom sit het; die lewende Here deur sy Gees teenwoordig vandag ... hoe sal jy Hom vir jouself beskryf?

In Matteus 20 is Hy besig om sy volgelinge in te lig oor die doel waarom Hy hier op aarde as mens kom optree het. Hy berei hulle voor om sy werk voort te sit na sy vertrek. Terwyl Hy hier was, het sy volgelinge moeilik verstaan wat Hy alles vir hulle gesê het. Dit was eers na sy vertrek en toe hulle terugdink aan alles wat hulle by Hom gehoor en beleef het, dat dit vir hulle duideliker geword het.

Twee leringe van Jesus staan uit in hierdie uitspraak van Jesus:

1.      Die belangrikste Een wat ooit sy voete op ons aarde kom sit het, “het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien”.

Die ma van twee van Jesus se klein binnekring dissipels, onderhandel vir die vernaamste plekke in Jesus se koninkryk. Mense soek erkenning en wil raakgesien word. Jesus draai dit om met sy eie woorde en sy eie voorbeeld. Vir Hom gaan dit nie oor baasspeel en mag nie. Vir Hom gaan dit oor nederigheid en dienswilligheid - twee Gees-gedrewe eienskappe in Jesus-mense.

2.      Ons reddende en genadige ware Verlosser, het “sy lewe gegee as losprys vir baie mense.”

Die kernmotivering vir nederigheid en dienswilligheid, vind ons in die opoffering en pyn wat Jesus vir ons Jesus-mense deurgegaan het. Hy is verneder, bespot, valslik veroordeel, gegesel, moes sy eie kruis dra, sterf die vloekdood aan die kruis. Ja, Hy gee sý lewe as losprys vir elkeen wat dit wil glo. Die groeiende verstaan van wat Hy betaal het vir óns redding, word deur die Gees gebruik om ons lewens te verbeter.

Die vernietigende vernedering en die intense pyn van Jesus, motiveer vir my en jou om met ‘n nuwe ingesteldheid Hom te dien in ons daaglikse lewe.
 
Luister mooi: Jesus in jóú, verbeter jou en ánder se lewens!

Thursday, February 4, 2016

Oordenking 7 Februarie 2016


Jesus-mense reageer op Sy influistering

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe. Ons loop so naby aan Hom, dat die stof van sy voete op ons kom. Ons loop so naby aan Hom, dat ons kan hoor wat Hy vir ons voorsê:

1.      “Kom tot inkeer ...” (Matteus 4:17)

Jesus begin, letterlik vertaal, sy eerste preek met hierdie woorde. Die bekender vertaling is “bekeer julle”. Hierdie is die begin en voortsetting van elke Jesus-mens se daaglikse verbintenis aan Hom en jou aanhoudende rug draai op alles wat verkeerd is. En tegelyk jou gesig draai na Hom, die enigste Een wat goed is.

2.      “Kom agter My ...” (Matteus 4:19)

Ook vertaal met “volg My”. Hoe ons dit ook al sê, die keuse is om ons Leier te volg in alles wat ons by Hom kan leer. Hy wys nie net die pad nie, Hy ís die enigste Pad!

3.      “Gaan verkondig ...” (Matteus 10:7)

Ons het IETS om te vertel en IEMAND om oor te vertel. Ons kan nie stilbly nie, by ons mond kom die woorde uit waarvan ons Jesus-harte oorloop. Elkeen van ons word vol gemaak van sy liefde en genade, dat dit oorloop en oorspoel en oorstroom na almal wat ons paaie kruis.

4.      “Kom na My toe ...” (Matteus 11:28)

Die mees gerusstellende aanmoediging van Hom. Baie spesifiek en gefokus gerig aan elkeen wat swaar kry en moed opgee. By Hom en slegs by Hom, is daar altyd rus en vrede. Soek en vind dit net op die regte Manier en die enigste Plek.

5.      “... homself verloën ...” (Matteus 16:24)

Letterlik in die Grieks behoort elke Jesus-volgeling, homself “afsweer/ontken”. Kies om van jouself gestroop te word om vir Hom plek te maak in jou lewe. Hierdie selfverloëning kry nooit klaar nie en maak plek vir God-verheerliking.

6.      “God liefhê ...” (Matteus 22:37)

Geen inspanning, geen verdienste, geen prestasie, geen vergelyking met ander – nee, God se Gees skryf liefde op Jesus-harte. En só word liefde ons uitstaande eienskap tot eer van Hom!

7.      “Moenie bang wees nie.” (Matteus 28:10)

Die uit-die-dood-opgewekte-reeds-gekruisigde-Jesus se eie woorde, steeds vandag aan elke liewe kind van Hom!