Thursday, June 5, 2014

Oordenking 8 Junie 2014


Hoe vertel ek van Jesus?             Geduldig en nooit met dwang

Wat vertel ek van Jesus?             Lewe God raak in die GEWONE LEWE

“... want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” (Handelinge 17:28a)

Elke Jesus-mens dra die sleutel om God se koninkryk vir nie-Jesus-mense oop te sluit: die sleutel is jou tong waarmee jy vir ander van Jesus vertel. Prakties beteken dit dat ons met mense wat ons lewenspad kruis, met vriendelikheid en geduld kan vertel hoe Jesus in ons, vir ons die grootste sekuriteit en rustigheid bied. Natuurlik kan ons nie die werk van die Heilige Gees afdwing nie, en daarom ook nie iemand met dwang Jesus laat innooi in sy lewe nie.

Wat het nie-Jesus-mense nodig om by ons te hoor van Jesus?

·         Jesus het lank gelede volledig betaal vir al ons sonde aan die kruis: dit beteken alle sonde is reeds vergewe!

·         Jesus is die ware God en Hy is die enigste God wat goed is en nooit meer iets teen ons hou nie!

·         Niemand het nodig om enige iets te doen, te gee of op te offer om ‘n Jesus-mens te wees nie – die lewe saam met Jesus is gratis en sonder enige voorskrifte en voorwaardes.

·         Jesus gee ons sy beste, naamlik die Heilige Gees, om ons volledig vol te maak met Homself en vry te maak om werklik te lewe.

·         Jesus-mense is 24/7@365dae in Jesus se teenwoordigheid, en daarom hoef jy nie bang te wees vir enige gevare of probleme nie – Hy is in, by, rondom, onder, bo, langs jou!

·         Jesus is vandag lewendig en kragtig en aktief deur sy Gees besig om jou meer te laat word wat jy reeds vir Hom is.

·         Jy is kosbaar, geliefd, gered, mooi en alles wat jy bedoel is om te wees in God se oë!

Is al hierdie waarhede te teoreties of te veel “kerklike taal”? Dan het dit dringend tyd geword dat ons baie duideliker vir die wêreld sonder Jesus, gaan vertel dat Hy vandag lewe. Gaan vertel hoe jy Hom daagliks raak lewe in klein en groot dinge wat in jou lewe gebeur. Hy is nie ‘n vreemde wese van ‘n ander planeet nie, Hy is planeet aarde se enigste Koning, Hy is steeds in beheer, en Hy wil deel wees van ons daaglikse doen en late op ‘n baie natuurlike en gemaklike wyse.

Ons het nodig om asem te haal om aan die lewe te bly – ware lewe is net so slegs moontlik met God se Gees in jou!

Wednesday, May 28, 2014

Oordenking 1 Junie 2014

Vertel van Jesus-reeks: Wat vertel ek? Daar is slegs EEN GOD wat goed is.

 “... één God en Vader van almal ...” (Efesiërs 4:6)

Kom ons gebruik al die sosiale media tot ons beskikking en elke moontlike ander geleentheid, om finaal vir die mense wat sonder God lewe, baie duidelik en ondubbelsinnig aan te kondig:

Daar is slegs EEN GOD wat goed is.

Kom ons vertel vir almal met wie ons kontak het, wie God is. Daar is so baie wat ons graag oor Hom wil vertel. Hy is enig in sy soort, ja, daar is slegs een Wese wat ons God noem. Hy is van altyd af hier en sal altyd wees. Ons kan Hom nie volledig verstaan nie, Hy is meer as wat ons van Hom kan weet. Ons kan Hom nie sien nie, tog is Hy werklik vir ons wat Hom leer ken. Hy bly altyd dieselfde, ja, Hy verander nie. Hy kan enige iets doen. Daar is niks wat Hy nie weet nie. Hy kan niks verkeerd of sleg doen nie. Hy is slegs goed, en sy goedheid kan nooit opraak en ken geen grense nie.

Ons as Jesus-mense het so baie wat ons uit ons eie ervaring van Hom kan vertel. Vir ons is Hy die enigste lewende ware God. En al noem ons Hom met tye Vader, ander kere Jesus, en ook soms Heilige Gees, is Hy vir ons een en dieselfde God – gaan vertel vir die mense ons aanbid nie drie verskillende gode nie.

Daar is so baie verwarring oor die verskillende godsdienste en te maklik word gesê ons aanbid tog almal dieselfde God, net op verskillende maniere. Gaan vertel vir die mense daar buite in die wye wêreld dat dit ‘n dwaling en ‘n groot fout is. Die ander gode van die ander godsdienste is nie dieselfde God as wat ons Jesus-mense aanbid nie. Een van die baie groot verskille tussen ons ware God en ander valse gode, is dat ons nooit meer in die moeilikheid by ons God kan wees nie – daarvoor het Hy Jesus as volmaakte “Hersteller” vir ons gegee.

Ons God word nooit weer kwaad of teleurgesteld met ons nie, ons God sal ons nooit weer hoef te straf nie, ons God se guns hoef ons nie te verdien nie – Hy is wie Hy is en ons is wie ons is.

Kom ons gaan vertel vir ander mense wie is ons God en hoe goed is Hy vir ons, kom ons doen dit omdat ons baie graag wil vertel wie Hy is!

Wednesday, May 21, 2014

Oordenking 25 Mei 2014

Vertel van Jesus-reeks:  Wanneer vertel ek?

“... daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:7)

Om die wonderlikste, die beste, die grootste nuus aangaande Jesus se verlossing deur woord en daad in liefde aan almal te vertel – wanneer vertel ek dit vir wie in watter omstandighede?

Daar gebeur so ‘n verskeidenheid van dinge in ons eie en mense wat daagliks op ons pad kom, se lewens. Dit kan goeie en slegte dinge wees wat in mense se lewens gebeur. En al hierdie gebeure bied geleenthede om van Jesus te vertel. Ons kan dalk net verras wees hoe ontvanklik mense is om van Jesus te hoor in hulle spesifieke omstandighede.

Kom ons kyk net na drie kategorieë van gebeure in ons daaglikse lewens waar Jesus deel van wil wees:

1.       Eerstens is daar persoonlike omstandighede soos jou eie worsteling met wie jy werklik is en wat maak jy met jou lewe; of jou eie unieke verhouding met God; of jou intieme verhoudingslewe; of wat ook al jou as individu direk raak. Elkeen van ons het een of ander tyd behoefte om met iemand oor een of meer van hierdie persoonlike sake te praat – en Jesus sal altyd deel wil wees van so ‘n gesprek.

 

2.       Dan is daar omstandighede wat meer met ander mense in jou lewe te doen het: dink aan jou werk, skool of studies waar jy ander mense nodig het en met hulle oor die weg moet kom; dink aan jou gesin en familie wat ons almal op een of ander wyse raak; dink aan jou vriendekring en die invloed wat hulle op jou het. Almal van ons is altyd op een of ander wyse aan ander mense gekoppel – goed of sleg, en dit raak ons lewe, en dit bied geleentheid om Jesus daarvan deel te maak.

 

3.       Die ander groot lewensuitdaging wat ons almal in die gesig moet kyk, is die groter prentjie van ander mense of omstandighede wat ons lewens direk beïnvloed. Hier is die politiek, die ekonomie, die weerpatrone en ander globale invloede ter sprake. Ons teenwoordige Jesus wil ook daarin geken wees en deel wees van hoe ons hierdie sake beredeneer.

Jesus bepaal nie ons omstandighede nie, Hy veroorsaak nie die probleme wat ons moet hanteer nie, Hy neem ook nie altyd die probleme weg nie, maar Hy gee ons die geleentheid om met ander oor Hom te praat, wat die omstandighede ook al is.

Wednesday, May 14, 2014

Oordenking 18 Mei 2014


Vertel van Jesus-reeks:  Vir wie vertel ek?

“Deur die verkondiging van die evangelie is ek in Christus Jesus julle vader.” (1 Korintiërs 4: 15b)

Om die wonderlikste, die beste, die grootste nuus aangaande Jesus se verlossing deur woord en daad in liefde aan almal te vertel -  die voorreg wat elke Jesus-mens het, juis omdat my eie lewe deur Jesus se Gees nuut gemaak word!

Jesus se opdrag was “gaan na die nasies toe ...” (Matteus 28:19) én Hy gee ‘n belofte vir ons: “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ...” (Handelinge 1:8). Paulus sê dat “die verkondiging van die evangelie” maak van hom “vader” oor diegene wat dit hoor (1 Korintiërs 4:15b). Vir wie moet ek as Jesus-mens hierdie baie goeie nuus oor Jesus vertel?

·         Dink aan mense met wie ek elke dag kontak het, soos by die huis, die werk, die skool, op die sportveld, by die winkel, ja, enige plek. Raak bewus dat die Here daagliks mense op ons pad stuur teenoor wie ons kan getuig. Meeste mense met wie ons elke dag te doen kry, het reeds van Jesus gehoor, maar baie van hulle ken Hom nie persoonlik nie. En juis omdat Jesus-mense kan vertel dat ons Hom persoonlik leer ken in ons, kan ons vir ander ook help om ‘n persoonlike vaste verhouding met Hom te hê. In die weke wat kom, wil ons prakties ontdek hoe ons dan vir verskillende mense op ons daaglikse pad, kan vertel van die ware Jesus – en dan sommer in die proses Hom ook nog nader leer ken in ons eie lewe.

 

·         Dan kry sommige van ons die geleentheid om verder te gaan, na ver plekke – en ons hoef nie amptelike sendelinge te wees wat deur die kerk gestuur word, om dit te doen nie. Dit is wel nodig dat daar steeds sendelinge is wat na ander lande gaan om vir ander van Jesus te gaan vertel. So baie van ons reis deesdae na ander lande of gaan werk vir tye op ver plekke. Dink net aan die baie Suid-Afrikaners wat geëmigreer het, en baie van hulle ken Jesus – moedig hulle aan ons Jesus te leef daar ver in die vreemde.

Daar is dus twee groepe om van Jesus te vertel: die mense wat elke dag ons pad kruis, én die mense op ver plekke in ander lande, na wie toe ons kan gaan.

Na wie stuur Jesus jou om te vertel?

Wednesday, May 7, 2014

Oordenking 11 Mei 2014

Om jou Lig te laat skyn

“Julle is die lig vir die wêreld ... Laat julle lig skyn ...” (Matteus 5: 14a en 16a)

Om te verstaan hoe uitsonderlike voorreg dit is om onvoorwaardelik deur God vergewe te word, moet elke Jesus-mens eers besef hoe verlore ons is as gevolg van die sonde. Om te verstaan hoe belangrik die Lig is wat ons laat skyn in hierdie wêreld, moet ons eers besef hoe donker is hierdie wêreld waarin ons is. Hierdie wêreld is donker hoofsaaklik as gevolg van twee faktore: die sonde wat daar in elke mens is en die duiwel wat nog werksaam is totdat Jesus finaal weer kom.

Die sonde sal ‘n faktor bly in alles wat verkeerd loop op hierdie aarde. Ons is almal sondaars wat van nature geneig is om die verkeerde te kies. Jesus-mense is egter sondaars wat vergifnis gewaarborg is op grond van Jesus se verdienste en word deur die Heilige Gees in ons van sonde vry gemaak. Daarteenoor bly nie-Jesus-mense om in die sonde voort te lewe, en dit is nag, want dit bederf die lewe van ander – die voortgaande sonde in verlore mense, is die direkte oorsaak van al die haat en chaos in vandag se wêreld.

Net so is die duiwel steeds ‘n aktiewe bewerker van haat en alle vorme van boosheid. Met Jesus se sterwe aan die kruis, is die Satan vasgebind om slegs met beperkte mag ‘n verwoestende invloed te wees in mense se lewens wat nie aan Jesus behoort nie. Hierdie demoniese werke sal voortgaan totdat Jesus finaal op die wolke verskyn tydens sy finale koms van hierdie wêreld. So tussen die sonde en die duiwel alleen, is daar totale duisternis op hierdie aarde, vandag nog!

MAAR met Jesus, kom die Lig, en die Lig is sterker as die donkerte, sterker as enige ander magte, ook sterkte as enige vorm van demoniese werking. So kom die ware Lig in elke Jesus-mens in, om ons te verlig en finaal alle vorme van duisternis te verdryf. Jesus in ons verdryf die duiwel finaal uit ons, en Jesus kom nie halfhartig of gedeeltelik in ons in nie.

Daarom aan elke Jesus-mens: die donker wêreld waarin ons elke dag veg om oorlewing, smag na die Lig, smag na Jesus, in ons – laat jou Lig skyn! Laat die Gees toe om deur jou die Jesus-Lig in jou, te laat skyn in ander se lewens.

Thursday, April 24, 2014

Oordenking 27 April 2014


Om brood wat Lewe gee, uit te deel

“Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie ...” (Johannes 6:35)

Daar is waarskynlik baie min van ons wat hier lees, wat ooit werklik honger gely het en nie geweet het waar môre se kos vandaan gaan kom nie. Ek kan my net indink hoe dit moet wees om regtig te voel dat jy wil doodgaan van die honger, en ek praat nie van ‘n besige dag waartydens ons nie tyd gehad het om te eet nie of sulke situasies nie. Aan die ander kant, is daar seker min van ons wat iemand wat vir brood of ietsie te eet vra, sal wegjaag of ten minste ‘n poging aanwend om ‘n regte honger mens te probeer help nie.

Die groot jammerte is dat fisiese honger nie dieselfde is as geestelike honger nie. En die werklikheid is dat ons daagliks met meer geestelik honger mense te doen kry en nie noodwendig dieselfde dringendheid beleef om hulle te help nie. En egte geestelike honger is baie erger as fisiese honger, want dit kan in die uiterste vorm, neerkom om volledig sonder God te lewe. En om sonder God te lewe, is om eintlik “dood’ te wees. Slegs met God is jou lewe, lewe jy werklik.

Maar naas geestelik “dood”-wees, is daar ook ander grade of toestande van geestelike honger: soos om God mis te lewe, veral as daar krisisse in jou lewe is; of om ‘n dieper behoefte aan God te ervaar in jou gewone lewe; of om valslik tevrede te wees met wie God in jou lewe is, dit beteken jy is met minder van Hom in jou tevrede as wat vir jou bedoel is. En so leef baie van ons al te maklik met ‘n geestelike honger wat onnodig is.

Met Jesus in jou hart en in jou lewe, het elke Jesus-mens dan die Lewe – dit is Lewe wat slegs deur Jesus se sterwe en opstanding vir ons moontlik gemaak is. En elkeen wat op hierdie wyse geestelike kos ontvang en so versadig word, kan dit nie vir homself of vir haarself hou nie. Ware Lewe in Christus, is selfloos en wil spontaan en vrywillig gedeel en uitgedeel word.

Jesus het die uitnodiging gerig “Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie”. Met Hom in jou as Jesus-mens, word jy self die uitnodiging aan elke geestelik honger mens. Laat jou lewe die brood word wat Lewe beteken vir ander ...

Wednesday, April 9, 2014

Oordenking 13 April 2014


Die finale Offer ooit!

“Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” (Hebreërs 10:14)

Ons is besig om onsself gereed te maak vir die herdenking van die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom, die kruisiging en die opstanding van Jesus, ons enigste Verlosser. Paasnaweek is vir ons belangriker as Kersdag. Ek is bereid om dit elke jaar te herhaal, so belangrik is dit vir my. Hier is die geloofswaarhede uit die heilige Skrif wat dit bevestig:

1.       “... Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring ...” (Hebreërs 10:12a) Die eenmalige sterwe van Jesus aan die kruis was vir ewig die volledige offer vir alle sondes van alle mense van alle tye ... JA, DIT IS WAAR!!!

2.       “... Jesus Christus ... het vir altyd aan die regterhand van God gaan sit.” (Hebreërs 10:12b) Met die finale afhandeling van die verlossing van alle sondaars, neem Jesus vir ewig die heerskappyposisie oor die hele mensdom en die ganse skepping in ... JA, DIT IS WAAR!!!

3.       “Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is.” (Hebreërs 10:13) Met die kruisiging is die satan finaal oorwin deur Jesus vir elkeen wat glo in Jesus, maar die satan en sy medewerkers het beperkte mag op aarde totdat die wederkoms van Jesus plaasvind ... JA, DIT IS WAAR!!!

4.       “... het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” (Hebreërs 10:14) Elkeen wat glo in Jesus se sterwe en opstanding se geloofswaarheid, dit is elke Jesus-mens, leef nie meer onder die las van die sonde nie ... JA, DIT IS WAAR!!!

5.       “Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons.” (Hebreërs 10:15) Die Gees van God in elke Jesus-mens maak die verlossingswerk van Jesus ‘n groeiende werklikheid in elkeen ... JA, DIT IS WAAR!!!

6.       “Aan hulle sondes ... sal Ek nooit meer dink nie.” (Hebreërs 10:17) God hou geen rekord van sonde in Jesus-mense se lewens nie ... JA, DIT IS WAAR!!!

7.       “Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.” (Hebreërs 10:18) Jesus-mense het glad nie nodig om enige bydrae te lewer of enige opoffering te maak om vergifnis vir enige sonde te ontvang nie ... JA, DIT IS WAAR!!!

Glo jy dat Jesus finaal vir al jou sondes gesterwe het? Hy hét! JA, DIT IS WAAR!!!