Thursday, September 25, 2014

Oordenking 28 September 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 7:  Ek verwag Hom binnekort

“... Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie.” (2 Petrus 3:9b)

Ons kan so maklik ongeduldig raak as dinge nie vinnig genoeg gebeur na ons sin nie. Of dalk voel ons soms net lui en traak-my-nie-agtig. Of ons stel maklik uit om iets klaar te kry, want môre is nog ‘n dag. Of ons kan sommer net nie omgee wat gebeur nie, net geen bekommernis oor die uitkoms van ‘n saak nie. Al hierdie moontlikhede, en dalk sommer nog ander minder positiewe uitkomste, kan vir ons persoonlike lewe geld, maar ongelukkig is dit ook baie keer waar binne die kerk ...

... en ons Here is glad nie so nie!!!

Ons Here het sy eie tydsberekening: duisend jaar is soos een dag en een dag soos duisend jaar – niemand kan die tyd van sy weer kom na die aarde bereken volgens tyd nie. Hy slaap nooit nie en neem nooit verlof nie. Hy maak altyd die goeie werk, wat Hy reeds met Jesus in ons deur sy Gees begin het, klaar – volgens sy volmaakte tydsberekening. Hy is 100% betrokke by die volmaakte uitkoms van elke saak wat sy koninkryk raak. Wat sal die voorwaarde wees dat jy ook volledig deel is van die volmaakte uitkoms vir sy koninkryk?

Wees ‘n Jesus-mens met hoop, dit wil sê, kry ‘n positiewe uitkyk op die lewe vandag by die Bron van hoop, en daar sal vir jou ‘n beter môre wees!

Hoe onrustig voel jy oor die lewe in die algemeen? Hoeveel dringendheid ervaar jy as Jesus-mens dat dinge moet regkom? Hoe ernstig neem jy jou roeping om ander van Jesus te vertel? Hoe baie lê jy wakker in die nag oor die moontlikheid dat iemand naby aan jou verlore sal gaan sonder Jesus? Hoe direk raak die stukkende wêreld waarin ons elke dag moet oorleef, vir jou?

Ons Jesus is onrustig oor die verlore wêreld waarin ons is. Hy is dringend, Hy is ernstig, Hy gee regtig om, die stukkende wêreld raak Hom direk. Hy is in jou deur sy Gees en wil in jou dieselfde erns laat groei om hoop te gee vir elke situasie waarin ons lewe.

Hoe gouer jy met sekerheid ware hoop deur jou laat bring, hoe gouer kom Hy weer!!! Elke Jesus-mens is só reeds deel van die volmaakte voltooiing van God se koninkryk!!!

Thursday, September 18, 2014

Oordenking 21 September 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 6:  Ek sien ewigheidshoop

“Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” (Filippense 3:14)

Vir my as Jesus-mens, het hoop daarmee te doen dat ek vandag by God moed sal skep om gereed te wees vir die beter môre wat op ons wag. Moontlik stem dit ooreen met ander beskrywings van hoop wat ek raak gelees het tydens hierdie reeks van hoop waarmee ons besig is. Hoop het verseker te doen met ‘n positiewe uitkyk op die toekoms.

In die teologie word baie gemaak van die “reeds” en die “nog nie”, bedoelende dat daar reeds baie beloftes van die Bybel waar geword het, maar dat daar ook beloftes in die Bybel is wat nog nie waar geword het nie. So kan ons met geloofsekerheid bely dat Jesus as enigste Seun van God reeds volledig ons verlossing bewerk het, maar dat ons nog nie die volle betekenis daarvan duskant die graf ervaar nie. Of dat ons reeds 100% vergewe is vir alle sonde, maar nog nie 100% oorwinning in ons eie lewe oor sonde het nie. Of dat ons reeds ‘n vaste plek in die hemel het, maar nog nie in die hemel is nie. So is daar nog baie ander “reeds” en “nog nie” waarhede vir ons as Jesus-mense.

Nou gebruik Paulus die beeldspraak van ‘n wedloop waarmee ons reeds besig is. Jesus-mense het reeds weggespring in die ewigheidswedloop die oomblik toe ons Jesus in ons ingenooi het, in reaksie op sy roepstem. Tydens hierdie wedloop is daar hindernisse wat baie moeilik is om oor te kom en wat ons moedeloos maak. Maar ons  moedig mekaar, en ander wat saam hardloop aan, om moed te hou en veral gefokus te bly op die eindstreep. Tydens die wedloop is ons nog nie sonder swaarkry nie en is daar nog nie volkome rus nie, maar die vooruitsig van geen swaarkry en ware ewigheidsrus, help dat ons reeds aanhou en vasbyt.

Die wenstreep wat reeds wag beteken die hemelse prys vir elkeen wat daar uitkom. En die enigste manier om by die wenstreep en die hemelse prys (dit is die nog nie) te kom, is deur die krag en die uithouvermoë wat die Heilige Gees reeds in ons geloofspiere gee. Hierdie inspanning het alles te doen met ‘n volkome afhanklikheid van die Gees in ons – en so is ons as Jesus-mense reeds op pad hemel toe! Dit is reeds ons ewigheidshoop!

Wednesday, September 10, 2014

Oordenking 14 September 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 5:  Ek dra hoop uit

“Mag God ... julle vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.” (Romeine 15:13)

Wat kan ek as Jesus-mens doen om hoop uit te dra?

1.       Laat die Gees op jou hart skrywe wie die Bron van hoop vir jou, in jou eie lewe is!
 

2.       Laat die Gees jou oë oopmaak vir diegene wat nie sterk is in die geloof nie, en begin self iets daaraan doen om ‘n verskil in mense se lewens te maak.
 

3.       Laat die Gees jou selfloos iets goed laat doen aan jou naaste, juis omdat die Bron van hoop dit reeds vir jou doen.


4.       Laat die Gees toe om die voorbeeld van Christus jou hoogste motivering te maak, om ‘n draer van hoop na ‘n stukkende wêreld te wees.


5.       Laat die Gees-geïnspireerde-Skrif vir jou en ander standvastigheid en bemoediging bied.
 

6.       Laat die Gees vir jou ‘n gesindheid van eengesindheid onder mede-Jesus-mense bewerk.


7.       Laat die Gees jou vul met lof aan ons enigste Bron van hoop, op so ‘n wyse dat ander Hom in jou kan sien.


8.       Laat die Gees toe om alle vooroordele teenoor alle ander mense te verwyder, want Christus aanvaar jou onvoorwaardelik.


9.       Laat die Gees van jou ‘n dienaar maak in belang van sy koninkryk, en nie jou eie koninkryk nie.


10.   Laat die Gees jou ‘n draer maak van die beloftes van hoop wat oor geslagte heen oorgedra is met ‘n vaste sekerheid in die Bron van hoop.
 

11.   Laat die Gees vir jou egte vreugde gee in die uitdra van hoop.
 

12.   Mag die Gees jou vul met ware Goddelike vrede, omdat jy ‘n draer van hoop is.
 

Werk saam met die Gees om waarlik ‘n draer van hoop te wees!

Thursday, August 28, 2014

Oordenking 31 Augustus 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 3:  Die Bron van my hoop

“Hy is my helper en my God!” (Psalm 42:12)

Ware hoop het alleen met God te doen!

Hoe dink ek oor Hom, as daar steeds hoopdiewe is: twyfel, vyande, mense wat my in die steek laat, geldprobleme, siekte, versteurde verhoudings, of ander moontlike ellende? Hoe kan ware hoop vir my iets beteken, indien daar steeds moeilike omstandighede is om te hanteer?

Die skrywer van Psalm 42 is in ‘n hooplose situasie: “Dag en nag is ek in trane ...” (vers 4); die vyande vra en spot: “En waar is jou God nou?” (verse 4,11); ‘n paar keer vra hy: “Waarom is ek so in vertwyfeling?” (verse 6,7,12); “... waarom het U my vergeet?” (vers 10). Ons weet nie presies wat die skrywer se ellende is nie, maar dit is duidelik dat dit baie sleg gaan. Én daar verander niks aan hierdie slegte omstandighede terwyl hy sekere hoopvolle ontdekkings maak nie.

Terwyl dinge steeds hooploos is, dink hy terug aan die verloop van sy lewe. Hy dink aan die verlede en hoe hy na die Here gegaan het toe dinge moeilik was. Hy dink terug aan die tye wat daar fees gevier is en die redes vir die blydskap in sy lewe. En die verrassende ontdekking: hy het dit reggekry om fees te vier, al was daar storms. En dit voel asof “U het golf na golf oor my laat slaan.” (vers 8)

MAAR die Bron van hoop, is steeds sy helper en sy God ...

... vir my en jou bly God steeds wie Hy is, niks of niemand kan dit verander nie: Hy is die lewende God, Hy is my helper en my God, my Rots, my skuiling!

Vandag leef ek Hom raak, al lyk dinge hoe sleg, want “tog sal die Here weer op ‘n dag sy trou laat blyk ...” (vers 9). “Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.” (vers 12)

Hier is die geleentheid vir elkeen wat hooploos voel: leef jou eie persoonlike Bron van hoop raak in jou eie unieke ellende, én vertel vir ander hooplose mense Wie Hy vir jou is! Raak eerstehands bewus van jou eie woorde om Hom te beskrywe, of praat die Psalmskrywer na in die woorde in sy Woord oor wie Hy vir jou is.

Laat die Gees op jou hart skrywe wie die Bron van hoop vir jou, in jou eie lewe is!

Thursday, August 21, 2014

Oordenking 24 Augustus 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 2:  Ek soek ware hoop

“... om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie ...” (Klaagliedere 3:21b-22a)

Die werklikheid waarmee ons elke dag gekonfronteer word, is nie altyd maklik nie. Sonder dat ons dikwels ‘n keuse het, loop dinge verkeerd en het ons rede om moedeloos te wees. Daar is ook mense wat voorgee dat alles “oukei” en “fine” is, en dan is dit alles behalwe so. Wat is die antwoord vir Jesus-mense om wel positief te wees oor die lewe, ten spyte van ...

Die boek Klaagliedere het ontstaan in ‘n tyd wat dit regtig baie sleg gegaan het met die volk van die Here in die Ou Testament. Die tempel in Jerusalem is geplunder en afgebreek tydens ‘n inval deur die Babiloniërs in die jaar 587 voor Christus. Hulle koning word onttroon, en die leiers en geleerdes onder die volk, word in ballingskap weggevoer. Wat het nou geword van hulle God? Nou is die troon van Dawid leeg! Die volk verloor hulle tempel, hulle koning en hulle land! Waar is God? Waar is ons hoop?

Hoor hoe erg gaan dit: “Ek is die man wat ellende belewe het ... (die Here) weier om my gebed te verhoor ... ek het al vergeet van voorspoed ... “ (aanhalings uit Klaagliedere 3). Hier word God beskuldig van alles wat verkeerd loop, want die hoop-lose skrywer het nog altyd daaraan vasgehou dat Hy alles voorspoedig sal laat verloop. En sonder dat alles weer oornag herstel, ja, eintlik is dinge steeds ellendig, kan hy sê: “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop ... ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot ... (ook uit Klaagliedere 3).

Ons het reeds met mekaar ooreengekom dat ons besef dat niemand van ons enige hoop kan plaas op geld om voorspoed te bring nie, vir niemand is goeie gesondheid gewaarborg nie, en dat ons nie op mense ons vertroue kan plaas vir ‘n vreugdevolle en kommerlose lewe nie. Die groot ontdekking in die lewe, is dat ten spyte van wat ook al verkeerd loop in jou lewe, niks aan God se kant verander nie. Hy bly getrou en Hy het ons lief. En dit is net so, die verlede wys wie Hy is. Ons geloof in Hom bevestig sy liefde vir ons. Hy is ‘n Man van sy Woord, ons hou vas aan sy beloftes.

Ware hoop het alleen met God te doen!

Thursday, August 14, 2014

Oordenking 17 Augustus 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 1:  Ek kan nie sonder hoop lewe nie

“Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare ...” (2 Korintiërs 4: 18a)

Vir die volgende sewe weke gaan ons ‘n reeks oor “Hoop” volg saam met ongeveer 80 ander gemeentes in die land. Vanuit soveel rigtings hoor ons die geluide dat ons mense moedeloos is en hoor ons die verkeerde slimmighede as oplossing vir “alles” wat verkeerd loop. Kom ontdek saam met ons as Jesus-mense wat dit beteken “om kelners van hoop” in vandag se moeilike tye te wees.

Paulus hou reken met die werklikheid waarmee ons elke dag gekonfronteer word: terneergedruk,  radeloos, vervolg, op die grond neergegooi, uiterlik besig om te vergaan. Ons sal hierdie redes tot moedeloosheid ook ander name kan gee: finansiële druk, spanning in verhoudings, gesondheidsprobleme, die bedreiging van misdaad in ons land, en al die uitdagings waarmee ons daagliks te doen kry. Hierdie is alles werklike of potensiële bedreigings wat ons hoop steel en ons rede gee om moedeloos te wees.

Maar so kry ons in die Woord van God die enigste oplossing vir ons hooploosheid (eie woord), naamlik “ons het dieselfde Gees wat geloof wek ...” (2 Korintiërs 4:13). Alleen in ‘n definitiewe lewende verhouding met Jesus deur die inwonende werk van die Heilige Gees, glo ons in die nabyheid en teenwoordigheid van die onsigbare God in ons. Jesus het sy lewe vir ons redding gegee en daarmee kry ons deur geloof ‘n onlosmaaklike en onvoorwaardelike verbintenis met Hom. En alleen met hierdie verbintenis met die (weereens) onsigbare Jesus, kyk ons met ander oë na ons eie lewe en die sigbare uitdagings rondom ons.

Die Fondament vir hoop wat groei en groei, is Jesus self in ons. En om op hierdie Fondament te bou, is die enigste manier om hoop te vind en hoop uit te deel. Kom ons as Jesus-mense word kelners van hoop wat vir ander mense moed inpraat met die regte Vertrekpunt. Let wel hoofletter “V”, want dit kan nét ons Here in ons wees, wat die Bron van hoop is.

So baie mense vra moedeloos: “Is daar nog hoop vir my, Here?” En dan kom die antwoord in dieselfde vers: “U is my enigste hoop.” (Psalm 39:8)

Thursday, August 7, 2014

Oordenking 10 Augustus 2014


Riglyne vir stilte in jou hart

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5: 25)

Ons is besig met praktiese lewenslesse vir Jesus-mense. Vandag wil ons fokus op die plek van stilte in die lewe van elke Jesus-mens.

Waarom is stilte belangrik?

·         So kan jy God beter raak lewe.

·         Ons lewens is dikwels so besig, dat dit nodig is om spesifieke tyd by sy voete deur te bring.

·         Onder andere ontdek jy beter, hoe geliefd jy in God se oë is.

Praktiese inrig van stilte:

Kies ‘n plek waar en ‘n tyd wanneer, niks of niemand jou in die stilte sal steur nie. Doen dit vrywillig en soos wat die geleentheid ontstaan. Kies om tyd daarvoor te maak.

Riglyne vir stilte:

·         Ontspan, raak rustig en vergeet van tyd.

·         Maak jou oë toe en sluit jou af van alles om jou.

·         Vra die Here om jou bewus te maak van Hom.

·         Ontspan rondom enige gedagte wat by jou opkom wat met God te doen het.

·         Laat enige gedagte oor God so lank as moontlik jou besig hou.

·         Sodra jou gedagtes begin dwaal, wees ingestel op ‘n volgende gedagte oor God.

·         Laat hierdie proses rustig toe om die stilte te vul.