Thursday, September 10, 2015

Oordenking 13 September 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 8:       Gelukkig om vervolg te word

“Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
(Matteus 5:10)

Dit is baie onwaarskynlik dat enige een van ons al ooit vervolg is omdat ons Jesus-mense is. Nie een van ons het al ons werk verloor omdat ons Jesus bely as die belangrikste Een in ons lewe nie. Nie een van ons se lewe was al in gevaar omdat ons onsself Christene noem nie. Dit bring ons by die vraag: van watter vervolging is hier ter sprake?

Teen die agtergrond van Jesus se geheime tot geluk in Matteus 5, gaan dit oor ‘n vorm van geluk wat vreemd is in ons daaglikse leefwêreld. Jesus se geluk gaan oor ‘n totaal ander lewenswyse. Hemelse en aardse, sienlike en onsienlike kom hier bymekaar. Dis asof die hemel op die aarde neergedaal het, sodat mense ware geluk op aarde kan ontdek, beleef en geniet. Daarom word ons “geseëndes” genoem, “drie maal gelukkiges”, “welgeluksaliges”. Jesus se koms deur sy Gees in jou, keer jou hele lewe om: jou “eie ek” sterf om te kan lewe, jy gee om te kan ontvang, jy verloor om te kan wen ...

Geheim 8 se geluk in vervolging het dan te doen met ‘n ervaring dat jy as Jesus-mens al hoe meer soos ‘n vreemdeling voel in die wêreld van vandag. Jy voel net nie meer tuis tussen mense wat geluk in verkeerde goed soek nie. Jou dieper dimensie wat God raak leef, beteken dat jy ander standaarde het vir reg en verkeerd. Die geestelike word belangriker as die materiële, die ewige word belangriker as die tydelike, die innerlike word belangriker as die uiterlike, wat God wil hê word belangriker as wat mense vereis ...

... en so word “vervolg” ‘n ervaring van “ek is in die minderheid, die meerderheid voel nie soos ek nie”, “ek wil liewer minder besit, as om nog bymekaar te maak”, “aardse pret is leeg en sonder betekenis”.

En op hierdie ewigheidspad na God se volmaakte heerlikheid, leef ek as Jesus-mens al hoe meer binne die ervaring van God se wil. Vanuit ‘n diep innerlike geluk, vind ek ‘n kalmte binne in my wat na buite sigbaar word vir ander. Al hoe meer word God alles in my en word my eie dinge minder belangrik. So word ek al hoe meer eg deel van “die koninkryk van die hemel.”

Jesus se geheim tot geluk is SLEGS in God!!!

Thursday, September 3, 2015

Oordenking 6 September 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 7:       Gelukkige vredemakers

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
(Matteus 5:9)

Permanent innerlik opreg waarlik gelukkig wees – waar en hoe? IN GOD ALLEEN !!!

Hierdie is die kernwaarheid regdeur ons reeks oor Jesus se geheime tot geluk. Maar soos ons ontdek het: hierdie geluk begin deur die Gees binne-in elkeen van ons én vloei deur ons na ander. Om saam met ander hartseer te beleef, om met ‘n sagte gesindheid en liefdevolle omgee daagliks in kontak met ander te wees, is die Géés in elke Jesus-mens. En dit gaan verder ...

Kinders van God hou nie van baklei of enige spanning in verhoudings met ander nie. Self wil ek en jy nie in onvrede leef met enige ander persoon nie. En waar daar ongelukkigheid tussen ander mense is, wil ons graag sien dat dit uitgesorteer word. Elke dag word ons gekonfronteer met mense van wie ons nie hou nie, of met wie ons nie saamstem nie. Ons leefwêreld bestaan uit selfsugtige belange, botsende idees en uiteenlopende opinies. Selfs binne ons eie kerke is daar spanning tussen die oulikste Jesus-mense. Wat is Jesus se geheim om hierdie werklike probleem te hanteer?

Te maklik, en amper onrealisties gereeld hoor ons, dat ons net met Jesus se gesindheid konflik moet hanteer. Ja, dit is waar, maar dit sê nie vir ons hoe ons presies Jesus se gesindheid verkry nie. Hoe kry ons ‘n “Jesus-hart”?

Weer terug na ons besluit-neem-sentrum-van-die-lewe, ons eie persoonlike nugter keuses wat ons maak, in die Bybel verteenwoordig met die woordjie “hart”. Waar die Gees van God jou “hart” beheer, het jy GEEN behoefte om met enige persoon vas te sit nie, jou diepste hartsverlange is om in vrede met alle mense te lewe. As Gees-beheerde vredemaker, vind jy maniere wat by jou persoonlikheid pas om vrede tussen ander mense te maak.

Deurdat ons die Heilige Gees volledig geleentheid gee dat ons afstand doen van ons eie selfsugtige belange en onsself oopstel vir ander se idees en opinies, leef ons in harmonie met die mense in ons lewe.

Daar is drie keuses vir elke Jesus-mens-vredemaker, wat al drie altyd geld:

1.      Kies voortdurend om Jesus, die Vredemaker, se Gees in beheer te maak van jou hele lewe;

2.      Kies om met sý vrede teenoor ander te lewe; en

3.      Kies om sý vrede tussen ander aktief te help maak.

So lewe Jesus-mense, so word ons kinders van God genoem. Ja, geseënde kinders van God!

Thursday, August 27, 2015

Oordenking 30 Augustus 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 6:       Gelukkig met ‘n rein hart

“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
(Matteus 5:8)

Ek wonder hoeveel mense wil God regtig graag sien? Moontlik is baie mense nog bang om God regtig te sien? Of Hy is net so ver en vreemd en onbekend, dat hulle glad nie belangstel om Hom te sien nie? Of moet die vraag anders wees: hoekom is dit belangrik om God te wil sien?

Die Woord van God leer ons dat alles en almal is op pad na die hemel waar God alles vir alles sal wees (1 Korintiërs 15:28). Dit kom moontlik daarop neer dat ons eers in die lewe hierna, werklik sal sien wie God en hoe God is. Alles is onder weg na ‘n toestand of bestaanswyse of dimensie waar God se heerlikheid en teenwoordigheid alles sal oorheers. Nie almal is ewe opgewonde oor hierdie gedagte nie, waarom nie?

Die ervaring van ons eie onrein hart, maak dat ons bang is vir God. Ons eie tekortkominge laat ons gedurig skuldig voel in die teenwoordigheid van die volmaakte God. Ons valse tevredenheid met ons eie pogings om ‘n beter mens te wees, maak dat ons traag is om God beter te leer ken. Ons eie beheptheid met betekenislose wêreldse geluk, briek ons soeke na ware geluk wat by God alleen te vind is.

Dit bring ons terug by die enigste regte oorsprong van ware geluk: God self. En onverstaanbaar en onverklaarbaar, soek alle mense Hom nie, wil hulle Hom nie sien nie. Hulle is doodtevrede met net die “self”, die “eie ek”, in hulle. Hulle harte het geen plek vir God nie, en so mis hulle uit op ware geluk.

‘n Rein hart, is elke Jesus-mens wat gestroop word van die “self” en “eie ek”, om werklik plek te maak vir God in jou. Ja, natuurlik, sy Gees in jou. ‘n Rein hart beteken nie ‘n sondelose hart, of ‘n volmaakte hart, of reeds volledig heilige hart nie. In die Bybel is die hart elke mens se innerlike, vanwaar jy self besluit wie jy is en hoe jy lewe. ‘n Rein hart is elke Jesus-mens wat aan God oorgegee lewe en deeglik besef dat ek nie sonder Hom kan of wil lewe nie.

Hoekom is dit belangrik om God te wil sien? Geen mens kan sonder Hom gelukkig lewe nie! Maak dus baie seker dat jy werklik plek maak vir Hom in jou hart! Dit is ware geluk!

Thursday, August 20, 2015

Oordenking 23 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 5:       Gelukkig in ‘n barmhartige lewenswyse

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
(Matteus 5:7)

Hoe lekker sal dit nie wees as ek iets nuuts kan sê oor ‘n barmhartige lewenswyse waaraan niemand van ons nog ooit gedink het nie! Of nog beter, as ek iets kan sê, wat regtig die direkte oorsaak is vir ‘n totaal veranderde lewenswyse vir elkeen van ons! Wel, dit moet ons aanvaar: slegs die Gees van God in elke Jesus-mens kan ou bekende waarhede gebruik om ons lewens te verander – laat ons Hom dan presies daarvoor vertrou!

‘n Veranderde lewenswyse begin by ‘n veranderde hart. ‘n Nuwe lewenswyse kan slegs blywend en tot werklike voordeel van ander wees, waar die Heilige Gees in ons aktief werksaam is. Binnekant, innerlik, wie jy werklik is as mens soos jy is, word gevorm en verander om millimeter vir millimeter meer te groei om met God se hart te lewe. Spontaan en vrywillig, maar ook soekend en met inspanning, kry elkeen van ons geleentheid om met ‘n sagte hart soos God se hart te lewe.

Die gevolg van ‘n meer en meer Gees-beheerde hart: hardheid word met sagtheid vervang; haat word met liefde vervang; selfgerigtheid word met selfloosheid vervang; jou ego maak plek vir God self in jou; jou eie belange skuif uit die pad om ruimte te gee vir ander; jou beheptheid met besittings word eerder ‘n gesindheid van weggee wat jy kan; jou blindheid vir ander se seer word genees en jy kry oë en hande wat ander se pyn sien en verlig; jou traagheid om te loop na ander se nood word met energie gevul om te hardloop om verligting te bring. Ja, ‘n totaal nuwe lewenswyse vol barmhartigheid!

Anders gesê: ‘n barmhartige lewenswyse is ‘n Goddelike werking met doelbewuste samewerking van elke Jesus-mens!

Wie van ons wil nie baie graag met sagte liefdevolle woorde en dade behandel word nie?
Wie van ons wil nie graag in volkome vrede met ander lewe nie?
Wie van ons wil nie ontspan in al my verhoudinge sonder eise wat gestel word nie?

Soek dringend daarna om meer volledig van God afhanklik te wees.
Soek met groter toewyding na opregte innerlike geluk by Hom.
Soek maniere om werklik te hoor en te doen wat vir Hom reg is.

Die gevolg van hierdie soeke:  ware geluk!

Thursday, August 13, 2015

Oordenking 16 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 4:       Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

(Matteus 5:6)

Vreemde geluk: jy kan gelukkig wees deur afhanklikheid, tevrede wees as daar hartseer is, sag wees wanneer jy eintlik hard wil wees ... en nou nog ook: jy kan seën ervaar wanneer jy honger en dors is!

Waarna dors jy?  Watter diep begeertes sit daar in jou hart?

Dié nommer EEN dors: om reg met God te wees.  Elke Jesus-mens se diepste behoefte is om te weet dat my verhouding met die Here in orde is. Moontlik voel jy nog dat jou goeie en toegewyde lewe vir God aanvaarbaar is. Die Bybel roep dit uit: “Jy kan nie self nie!”  Dis onmoontlik vir ‘n besoedelde sondaar om toegewyd genoeg te kan wees om in die teenwoordigheid van die heilige God te kan verskyn.  Jou kleed is vuil, jou gedrag stink...

Daarom het God self die mooiste plan gemaak om hierdie verhouding tussen jou en Hom te herstel.  Hy het sy eie Seun gestuur om al die vieslike sondigheid wat aan jou kleef op Hom te neem.  Toe het Hy daardie skuld aan die kruis van Golgota gestraf met Jesus se marteldood. Wil jy in die regte verhouding met God staan?  Gee jou oor aan Hom.  Hy kom woon in jou lewe, Hy was jou helder skoon met sy bloed, Hy vernuwe jou deur sy Heilige Gees.  Al jou sonde is reeds vergewe!

Die nommer TWEE dors: dat die onreg in hierdie wêreld sal stop!  Al die uitbuiting van mense, die mishandeling van kinders en diere, bejaardes en armes, rassisme, die vernietiging en besoedeling van die natuur, korrupsie en verdraaiing van die reg. Hierdie tweede honger en dors vloei voort uit die eerste.  Omdat jy ‘n kind van God is, wil jy graag soos God wees.  Dié dinge wat Hom pla, wat sy hart seermaak, wat Hom laat huil, hinder jou.  En jy kry ‘n passie om daardie dinge reg te stel.

Het jy diep in jou hart ‘n ernstige hunkering daarna dat jou verhouding met die Here heel sal wees?  Kom beleef die vervulling van daardie honger, daardie dors by Hom alleen.

Pla onreg jou?  Doen iets!  God is aan jou kant.  Jy sal versadig word.

Friday, July 31, 2015

Oordenking 2 Augustus 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 2: Gelukkig as jy treur

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matteus 5: 4)

Hoe vreemd klink dit nie om gelukkig te wees wanneer jy eintlik hartseer is nie?

Ja, en daar is so baie redes vir baie trane stort: die dood van iemand naby aan jou; ‘n liefdesverhouding wat verbreek word; fisiese pyn tydens ongelukke, swak gesondheid of operasies; iets van sentimentele waarde wat ons verloor. Enige iemand naby aan ons of enige iets baie kosbaar vir ons, kan baie trane veroorsaak. Tog gaan hierdie tweede saligspreking nie werklik oor ons gewone hartseer in ons daaglikse lewe nie, dit gaan oor ‘n baie dieper saak: God se hartseer!

Waaroor treur Hy en watter troos is hier van sprake dat dit iets met geluk te doen het?

Eerstens treur Hy oor elke Jesus-mens se traagheid om Hom toe te laat om sy/haar ALLES te wees. En omdat geheim een vir geluk gegaan het oor ons totale oorgawe aan Hom alleen as enigste fondament vir ware geluk, beleef ons iets van sy hartseer oor ons eie geestelike traagheid. Dit is nie langer ons sonde waaroor ons treur nie, daarvoor is ons reeds volledig deur Jesus se kruisdood vergewe. Ons het elkeen nodig om saam met Hom te treur oor ons eie selfsugtige gebrek aan geloofsdissiplines. Treur oor jou besige of nuttelose lewe wat nie genoeg tyd maak om stil te raak by Hom nie. Treur oor jou oppervlakkige soeke na meer van Hom in en deur jou ... MAAR laat dan die Gees toe dat jy vrywillig en spontaan ALLEEN by Hom troos vind vir hiérdie hartseer, daarin ALLEEN is ware geluk te vind.

Tweedens treur ons dan saam met Hom oor die verlorenheid van en gebrokenheid in ons daaglikse leefwêreld. Al die pyn, seer, haat, plesiersug, selfsug, magsug en ander stukkendheid van hierdie lewe, kan nie anders as om onder ‘n Jesus-mens se vel in te kruip nie. Hoe nader en dieper ons groei in Hom in ons, hoe meer word sy hartklop oor hierdie stukkende wêreld ook ons hartseer. MAAR dan kom sy Gees so aktief werksaam in ons, dat ons sy ware troos uitdra en uitleef daar waar Hy dit die nodigste vind. Ware geluk vir Jesus-kinders is ALLEEN te vind in die troos en Troos wat ons aan ons stukkende wêreld gee.

Jesus-mense is aktief besig om vertroosting te bring vir ander en God se skepping deur byvoorbeeld te luister na ander se seer, lyding te verlig waar jy kan, brood te gee waar nodig, siekes by te staan, bewaring van ons aarde se hulpbronne – die lysie van vertroosting wat ware geluk vir ander bring, is oneindig – besluit om aan te meld vir geluk in jóú lewe!

Thursday, July 23, 2015

Oordenking 26 Julie 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 1: Gelukkig in nederige afhanklikheid

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Matteus 5: 3)

Elkeen van ons soek op een of ander manier na geluk ... maar voel daar kort iets.

Jesus klim op die berg en kom leer ook vir ons vandag ‘n paar Goddelike geheime vir ware geluk. Kom ons gaan sit by Hom in die volgende klompie weke en leer om Jesus-waarhede oor geluk raak te leef.

Ongelukkig kan ek nie anders as om net kortliks te noem van die verkeerde maniere om na geluk te soek nie: moet nie geluk in die genot van die goddelose wêreld se pret en plesier soek nie; geld gee nie blywende geluk nie; moenie daarna streef om geseën te word net ter wille van jouself en jou eie behoeftes nie; wees gewaarsku teen die teleurstelling wat mense en tydelike goed hier op aarde aan jou belowe; daar is geen waarborg vir ewige seëninge tydens jou aardse lewe nie.

Die kern van ware seën en opregte geluk, is slegs in God self te vind. En wat met God te doen het tydens ons aardse lewe, het alles te doen met sy koninkryk. En sy koninkryk is reeds hierdie kant van die graf ‘n leefbare werklikheid vir elkeen wat in ‘n lewende verhouding met Hom lewe. En ‘n lewende verhouding met Hom beteken, my hele aardse (en hemelse) bestaan het ALLES met Hom te make. En sy ALLES in my, beteken my enigste geluk is in Hom te vind, in belang van wat Hy deur my in ander wil bereik.

Geluk opgesom: God leef binne-in my, in belang van wat Hy in ánder wil bereik!

Hoe word hierdie Jesus-geheim vir geluk deel van my lewe? Hy gee vir my maniere om te ontdek hoe ek dit met doelbewuste vrywillige keuses voortdurend kan maak. Opregte geluk en innerlike blydskap, val nie in my skoot nie, dit word ‘n lewenswyse waarin ek leer om te groei. Met ‘n Gees-beheerde lewe in werklike neerbuigende toewyding, ontdek ek maniere om meer weg van myself, bewus van Hom in my, gedring deur sy liefde, my daaglikse lewe meer en meer vol te maak met aktiwiteite wat sy koninkryk en sy eer dien.