Tuesday, September 22, 2015

Oordenking 27 September 2015


Volledige oorgawe, die ENIGSTE manier!

“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matteus 5:48)

Ek stoei steeds met die eenwording van die tydelike en die ewige in Jesus-mense. Die feit dat ons kan sê die Gees van die Lewende God is permanent binne in elke bekeerde sondaar, beteken dat die menslike en die goddelike konnekteer. Die geestelike en die fisiese lewe is nie vreemd vir mekaar nie, maar groei al hoe meer na volmaakte eenwording. MAAR, hoe gebeur dit?

Vir hierdie geheimenis het ek gaan kers opsteek by een van die grootste Christelike skrywers van alle tye, CS Lewis (1898-1963). In Mere Christianity skryf hy: “As ek koring wil produseer en nie gras nie, moet die verandering dieper gaan as die oppervlak. Ek moet omgeploeg en oorgesaai word.” Die nuwe lewe in Christus, is werklik ‘n totaal anderse manier van lewe. Ek kan nie maar net my ou gewoontes probeer afleer nie. Sekere dinge stop volledig. Ek kan nie dat die tydelike dinge van hierdie wêreld my lewe beheer en te gelyker tyd die ware innerlike geluk by God vind nie.

“Die Bybel sê dat alles vir Christus gemaak is en dat alles in Hom saamgevoeg gaan word.” (CS Lewis) Hiervoor vra Jesus volledige oorgawe, dat ek myself sal kruisig, my eie wil 100% ondergeskik aan sy wil sal maak. My “eie ding” word volledig vervang met “sy ding”.

Hierdie werking van die Heilige Gees in ons, is tegelyk baie eenvoudig én baie ingewikkeld: solank ek nog self probeer om te verbeter en nader aan volmaak te kom, sal dit onmoontlik en baie swaar wees vir my; MAAR as ek volledig oorgee en 100% geleentheid gee dat God se Gees in my, doen wat Hy graag doen, dan is ek verander en is dit baie maklik. Lewis haal Jesus so aan: “Gee jou gewone self vir My, met al jou begeertes – dié wat jy dink goed of onskuldig is, saam met dié wat jy as sondig beskou, die hele spul. Ek sal jou ‘n nuwe self gee. Om die waarheid te sê, gee Ek vir jou Myself. My eie wil sal nou jou wil word.”

Hiervoor staan ek en jy daagliks in ons gewone lewe voor baie keuses:

·         Wie of wat beheer my tyd?
·         Wie of wat is my dryfkrag?
·         Wie of wat maak my gelukkig?
·         Wie of wat beïnvloed my?

Wil jy ‘n “halwe Christen” wees, as daar so iets is? Of wil jy volledig aan Christus behoort?

Volledige oorgawe is die ENIGSTE manier!

Thursday, September 17, 2015

Oordenking 20 September 2015

Gee uit jou hart en nie uit jou beursie nie

“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matteus 6:21)

Ons kan so baie by Jesus leer, en in Matteus 5 tot 7 is Hy tydens die bergpredikasie besig om vir sy volgelinge belangrike praktiese lewenslesse te gee. Kom ons waag dit om ‘n slag oor die sensitiewe saak van geld en besittings eerstehands by Jesus te hoor hoe ons dit behoort te hanteer.

Kom ons fokus op ‘n paar toepaslike riglyne vir Jesus-mense as dit by geld kom:

·         Jesus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet ... ongeldig te maak nie ...” (Matteus 5:17) Die beginsel wat ons hier kry, is dat ons met dissipline en verantwoordelikheid ons geldsake sal hanteer – ook as dit gaan oor daardie gedeelte van ons inkomste wat ons uitdeel.

·         “As julle byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie.” (Matteus 6:2) Maak dit regtig ‘n saak tussen jou en die Here as jy gee. Net jy sal self weet of jy met ‘n ruim hart en skoon gewete onvoorwaardelik gee waar daar nood is.

·         Dan ons sleutelteks:  “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matteus 6:21) Jesus-mense is in die groeiproses om al hoe meer los te kom van die tydelike en aardse lewe se beheptheid met besittings, en al hoe meer na binne ingestel op die ewige en blywende waarde van die geestelike lewe.

·         “Julle kan nie God én Mammon dien nie.” (Matteus 6:24) Geld is nie jou baas nie. Laat die Gees jou lewe beheer, ook jou daaglikse besluite van hoe jy graag ander wil help, selfs ten koste van jouself.

·         Totale vryheid en regte lewenskwaliteit gewaarborg in Jesus se woorde: “... beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sy Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matteus 6:33) 

Gee.....                                                                         Want....

daarom met jou hart wat aan Jesus behoort,            dis nodig.

in liefde sonder om iets terug te verwag,                  dis lekker.

met ‘n mooi gesindheid,                                             dis bevredigend.

sonder om somme te maak,                                       dis die regte ding om te doen.

sodat dit ‘n verskil maak,                                            ander het dit nodig.

meer as wat gevra word,                                           meeste van ons kan gee.

iets van jouself,                                                           ons ALLES behoort aan Hom!

Thursday, September 10, 2015

Oordenking 13 September 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 8:       Gelukkig om vervolg te word

“Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
(Matteus 5:10)

Dit is baie onwaarskynlik dat enige een van ons al ooit vervolg is omdat ons Jesus-mense is. Nie een van ons het al ons werk verloor omdat ons Jesus bely as die belangrikste Een in ons lewe nie. Nie een van ons se lewe was al in gevaar omdat ons onsself Christene noem nie. Dit bring ons by die vraag: van watter vervolging is hier ter sprake?

Teen die agtergrond van Jesus se geheime tot geluk in Matteus 5, gaan dit oor ‘n vorm van geluk wat vreemd is in ons daaglikse leefwêreld. Jesus se geluk gaan oor ‘n totaal ander lewenswyse. Hemelse en aardse, sienlike en onsienlike kom hier bymekaar. Dis asof die hemel op die aarde neergedaal het, sodat mense ware geluk op aarde kan ontdek, beleef en geniet. Daarom word ons “geseëndes” genoem, “drie maal gelukkiges”, “welgeluksaliges”. Jesus se koms deur sy Gees in jou, keer jou hele lewe om: jou “eie ek” sterf om te kan lewe, jy gee om te kan ontvang, jy verloor om te kan wen ...

Geheim 8 se geluk in vervolging het dan te doen met ‘n ervaring dat jy as Jesus-mens al hoe meer soos ‘n vreemdeling voel in die wêreld van vandag. Jy voel net nie meer tuis tussen mense wat geluk in verkeerde goed soek nie. Jou dieper dimensie wat God raak leef, beteken dat jy ander standaarde het vir reg en verkeerd. Die geestelike word belangriker as die materiële, die ewige word belangriker as die tydelike, die innerlike word belangriker as die uiterlike, wat God wil hê word belangriker as wat mense vereis ...

... en so word “vervolg” ‘n ervaring van “ek is in die minderheid, die meerderheid voel nie soos ek nie”, “ek wil liewer minder besit, as om nog bymekaar te maak”, “aardse pret is leeg en sonder betekenis”.

En op hierdie ewigheidspad na God se volmaakte heerlikheid, leef ek as Jesus-mens al hoe meer binne die ervaring van God se wil. Vanuit ‘n diep innerlike geluk, vind ek ‘n kalmte binne in my wat na buite sigbaar word vir ander. Al hoe meer word God alles in my en word my eie dinge minder belangrik. So word ek al hoe meer eg deel van “die koninkryk van die hemel.”

Jesus se geheim tot geluk is SLEGS in God!!!

Thursday, September 3, 2015

Oordenking 6 September 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 7:       Gelukkige vredemakers

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
(Matteus 5:9)

Permanent innerlik opreg waarlik gelukkig wees – waar en hoe? IN GOD ALLEEN !!!

Hierdie is die kernwaarheid regdeur ons reeks oor Jesus se geheime tot geluk. Maar soos ons ontdek het: hierdie geluk begin deur die Gees binne-in elkeen van ons én vloei deur ons na ander. Om saam met ander hartseer te beleef, om met ‘n sagte gesindheid en liefdevolle omgee daagliks in kontak met ander te wees, is die Géés in elke Jesus-mens. En dit gaan verder ...

Kinders van God hou nie van baklei of enige spanning in verhoudings met ander nie. Self wil ek en jy nie in onvrede leef met enige ander persoon nie. En waar daar ongelukkigheid tussen ander mense is, wil ons graag sien dat dit uitgesorteer word. Elke dag word ons gekonfronteer met mense van wie ons nie hou nie, of met wie ons nie saamstem nie. Ons leefwêreld bestaan uit selfsugtige belange, botsende idees en uiteenlopende opinies. Selfs binne ons eie kerke is daar spanning tussen die oulikste Jesus-mense. Wat is Jesus se geheim om hierdie werklike probleem te hanteer?

Te maklik, en amper onrealisties gereeld hoor ons, dat ons net met Jesus se gesindheid konflik moet hanteer. Ja, dit is waar, maar dit sê nie vir ons hoe ons presies Jesus se gesindheid verkry nie. Hoe kry ons ‘n “Jesus-hart”?

Weer terug na ons besluit-neem-sentrum-van-die-lewe, ons eie persoonlike nugter keuses wat ons maak, in die Bybel verteenwoordig met die woordjie “hart”. Waar die Gees van God jou “hart” beheer, het jy GEEN behoefte om met enige persoon vas te sit nie, jou diepste hartsverlange is om in vrede met alle mense te lewe. As Gees-beheerde vredemaker, vind jy maniere wat by jou persoonlikheid pas om vrede tussen ander mense te maak.

Deurdat ons die Heilige Gees volledig geleentheid gee dat ons afstand doen van ons eie selfsugtige belange en onsself oopstel vir ander se idees en opinies, leef ons in harmonie met die mense in ons lewe.

Daar is drie keuses vir elke Jesus-mens-vredemaker, wat al drie altyd geld:

1.      Kies voortdurend om Jesus, die Vredemaker, se Gees in beheer te maak van jou hele lewe;

2.      Kies om met sý vrede teenoor ander te lewe; en

3.      Kies om sý vrede tussen ander aktief te help maak.

So lewe Jesus-mense, so word ons kinders van God genoem. Ja, geseënde kinders van God!

Thursday, August 27, 2015

Oordenking 30 Augustus 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 6:       Gelukkig met ‘n rein hart

“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
(Matteus 5:8)

Ek wonder hoeveel mense wil God regtig graag sien? Moontlik is baie mense nog bang om God regtig te sien? Of Hy is net so ver en vreemd en onbekend, dat hulle glad nie belangstel om Hom te sien nie? Of moet die vraag anders wees: hoekom is dit belangrik om God te wil sien?

Die Woord van God leer ons dat alles en almal is op pad na die hemel waar God alles vir alles sal wees (1 Korintiërs 15:28). Dit kom moontlik daarop neer dat ons eers in die lewe hierna, werklik sal sien wie God en hoe God is. Alles is onder weg na ‘n toestand of bestaanswyse of dimensie waar God se heerlikheid en teenwoordigheid alles sal oorheers. Nie almal is ewe opgewonde oor hierdie gedagte nie, waarom nie?

Die ervaring van ons eie onrein hart, maak dat ons bang is vir God. Ons eie tekortkominge laat ons gedurig skuldig voel in die teenwoordigheid van die volmaakte God. Ons valse tevredenheid met ons eie pogings om ‘n beter mens te wees, maak dat ons traag is om God beter te leer ken. Ons eie beheptheid met betekenislose wêreldse geluk, briek ons soeke na ware geluk wat by God alleen te vind is.

Dit bring ons terug by die enigste regte oorsprong van ware geluk: God self. En onverstaanbaar en onverklaarbaar, soek alle mense Hom nie, wil hulle Hom nie sien nie. Hulle is doodtevrede met net die “self”, die “eie ek”, in hulle. Hulle harte het geen plek vir God nie, en so mis hulle uit op ware geluk.

‘n Rein hart, is elke Jesus-mens wat gestroop word van die “self” en “eie ek”, om werklik plek te maak vir God in jou. Ja, natuurlik, sy Gees in jou. ‘n Rein hart beteken nie ‘n sondelose hart, of ‘n volmaakte hart, of reeds volledig heilige hart nie. In die Bybel is die hart elke mens se innerlike, vanwaar jy self besluit wie jy is en hoe jy lewe. ‘n Rein hart is elke Jesus-mens wat aan God oorgegee lewe en deeglik besef dat ek nie sonder Hom kan of wil lewe nie.

Hoekom is dit belangrik om God te wil sien? Geen mens kan sonder Hom gelukkig lewe nie! Maak dus baie seker dat jy werklik plek maak vir Hom in jou hart! Dit is ware geluk!

Thursday, August 20, 2015

Oordenking 23 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 5:       Gelukkig in ‘n barmhartige lewenswyse

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
(Matteus 5:7)

Hoe lekker sal dit nie wees as ek iets nuuts kan sê oor ‘n barmhartige lewenswyse waaraan niemand van ons nog ooit gedink het nie! Of nog beter, as ek iets kan sê, wat regtig die direkte oorsaak is vir ‘n totaal veranderde lewenswyse vir elkeen van ons! Wel, dit moet ons aanvaar: slegs die Gees van God in elke Jesus-mens kan ou bekende waarhede gebruik om ons lewens te verander – laat ons Hom dan presies daarvoor vertrou!

‘n Veranderde lewenswyse begin by ‘n veranderde hart. ‘n Nuwe lewenswyse kan slegs blywend en tot werklike voordeel van ander wees, waar die Heilige Gees in ons aktief werksaam is. Binnekant, innerlik, wie jy werklik is as mens soos jy is, word gevorm en verander om millimeter vir millimeter meer te groei om met God se hart te lewe. Spontaan en vrywillig, maar ook soekend en met inspanning, kry elkeen van ons geleentheid om met ‘n sagte hart soos God se hart te lewe.

Die gevolg van ‘n meer en meer Gees-beheerde hart: hardheid word met sagtheid vervang; haat word met liefde vervang; selfgerigtheid word met selfloosheid vervang; jou ego maak plek vir God self in jou; jou eie belange skuif uit die pad om ruimte te gee vir ander; jou beheptheid met besittings word eerder ‘n gesindheid van weggee wat jy kan; jou blindheid vir ander se seer word genees en jy kry oë en hande wat ander se pyn sien en verlig; jou traagheid om te loop na ander se nood word met energie gevul om te hardloop om verligting te bring. Ja, ‘n totaal nuwe lewenswyse vol barmhartigheid!

Anders gesê: ‘n barmhartige lewenswyse is ‘n Goddelike werking met doelbewuste samewerking van elke Jesus-mens!

Wie van ons wil nie baie graag met sagte liefdevolle woorde en dade behandel word nie?
Wie van ons wil nie graag in volkome vrede met ander lewe nie?
Wie van ons wil nie ontspan in al my verhoudinge sonder eise wat gestel word nie?

Soek dringend daarna om meer volledig van God afhanklik te wees.
Soek met groter toewyding na opregte innerlike geluk by Hom.
Soek maniere om werklik te hoor en te doen wat vir Hom reg is.

Die gevolg van hierdie soeke:  ware geluk!

Thursday, August 13, 2015

Oordenking 16 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 4:       Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

(Matteus 5:6)

Vreemde geluk: jy kan gelukkig wees deur afhanklikheid, tevrede wees as daar hartseer is, sag wees wanneer jy eintlik hard wil wees ... en nou nog ook: jy kan seën ervaar wanneer jy honger en dors is!

Waarna dors jy?  Watter diep begeertes sit daar in jou hart?

Dié nommer EEN dors: om reg met God te wees.  Elke Jesus-mens se diepste behoefte is om te weet dat my verhouding met die Here in orde is. Moontlik voel jy nog dat jou goeie en toegewyde lewe vir God aanvaarbaar is. Die Bybel roep dit uit: “Jy kan nie self nie!”  Dis onmoontlik vir ‘n besoedelde sondaar om toegewyd genoeg te kan wees om in die teenwoordigheid van die heilige God te kan verskyn.  Jou kleed is vuil, jou gedrag stink...

Daarom het God self die mooiste plan gemaak om hierdie verhouding tussen jou en Hom te herstel.  Hy het sy eie Seun gestuur om al die vieslike sondigheid wat aan jou kleef op Hom te neem.  Toe het Hy daardie skuld aan die kruis van Golgota gestraf met Jesus se marteldood. Wil jy in die regte verhouding met God staan?  Gee jou oor aan Hom.  Hy kom woon in jou lewe, Hy was jou helder skoon met sy bloed, Hy vernuwe jou deur sy Heilige Gees.  Al jou sonde is reeds vergewe!

Die nommer TWEE dors: dat die onreg in hierdie wêreld sal stop!  Al die uitbuiting van mense, die mishandeling van kinders en diere, bejaardes en armes, rassisme, die vernietiging en besoedeling van die natuur, korrupsie en verdraaiing van die reg. Hierdie tweede honger en dors vloei voort uit die eerste.  Omdat jy ‘n kind van God is, wil jy graag soos God wees.  Dié dinge wat Hom pla, wat sy hart seermaak, wat Hom laat huil, hinder jou.  En jy kry ‘n passie om daardie dinge reg te stel.

Het jy diep in jou hart ‘n ernstige hunkering daarna dat jou verhouding met die Here heel sal wees?  Kom beleef die vervulling van daardie honger, daardie dors by Hom alleen.

Pla onreg jou?  Doen iets!  God is aan jou kant.  Jy sal versadig word.