Thursday, August 28, 2014

Oordenking 31 Augustus 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 3:  Die Bron van my hoop

“Hy is my helper en my God!” (Psalm 42:12)

Ware hoop het alleen met God te doen!

Hoe dink ek oor Hom, as daar steeds hoopdiewe is: twyfel, vyande, mense wat my in die steek laat, geldprobleme, siekte, versteurde verhoudings, of ander moontlike ellende? Hoe kan ware hoop vir my iets beteken, indien daar steeds moeilike omstandighede is om te hanteer?

Die skrywer van Psalm 42 is in ‘n hooplose situasie: “Dag en nag is ek in trane ...” (vers 4); die vyande vra en spot: “En waar is jou God nou?” (verse 4,11); ‘n paar keer vra hy: “Waarom is ek so in vertwyfeling?” (verse 6,7,12); “... waarom het U my vergeet?” (vers 10). Ons weet nie presies wat die skrywer se ellende is nie, maar dit is duidelik dat dit baie sleg gaan. Én daar verander niks aan hierdie slegte omstandighede terwyl hy sekere hoopvolle ontdekkings maak nie.

Terwyl dinge steeds hooploos is, dink hy terug aan die verloop van sy lewe. Hy dink aan die verlede en hoe hy na die Here gegaan het toe dinge moeilik was. Hy dink terug aan die tye wat daar fees gevier is en die redes vir die blydskap in sy lewe. En die verrassende ontdekking: hy het dit reggekry om fees te vier, al was daar storms. En dit voel asof “U het golf na golf oor my laat slaan.” (vers 8)

MAAR die Bron van hoop, is steeds sy helper en sy God ...

... vir my en jou bly God steeds wie Hy is, niks of niemand kan dit verander nie: Hy is die lewende God, Hy is my helper en my God, my Rots, my skuiling!

Vandag leef ek Hom raak, al lyk dinge hoe sleg, want “tog sal die Here weer op ‘n dag sy trou laat blyk ...” (vers 9). “Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.” (vers 12)

Hier is die geleentheid vir elkeen wat hooploos voel: leef jou eie persoonlike Bron van hoop raak in jou eie unieke ellende, én vertel vir ander hooplose mense Wie Hy vir jou is! Raak eerstehands bewus van jou eie woorde om Hom te beskrywe, of praat die Psalmskrywer na in die woorde in sy Woord oor wie Hy vir jou is.

Laat die Gees op jou hart skrywe wie die Bron van hoop vir jou, in jou eie lewe is!

Thursday, August 21, 2014

Oordenking 24 Augustus 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 2:  Ek soek ware hoop

“... om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie ...” (Klaagliedere 3:21b-22a)

Die werklikheid waarmee ons elke dag gekonfronteer word, is nie altyd maklik nie. Sonder dat ons dikwels ‘n keuse het, loop dinge verkeerd en het ons rede om moedeloos te wees. Daar is ook mense wat voorgee dat alles “oukei” en “fine” is, en dan is dit alles behalwe so. Wat is die antwoord vir Jesus-mense om wel positief te wees oor die lewe, ten spyte van ...

Die boek Klaagliedere het ontstaan in ‘n tyd wat dit regtig baie sleg gegaan het met die volk van die Here in die Ou Testament. Die tempel in Jerusalem is geplunder en afgebreek tydens ‘n inval deur die Babiloniërs in die jaar 587 voor Christus. Hulle koning word onttroon, en die leiers en geleerdes onder die volk, word in ballingskap weggevoer. Wat het nou geword van hulle God? Nou is die troon van Dawid leeg! Die volk verloor hulle tempel, hulle koning en hulle land! Waar is God? Waar is ons hoop?

Hoor hoe erg gaan dit: “Ek is die man wat ellende belewe het ... (die Here) weier om my gebed te verhoor ... ek het al vergeet van voorspoed ... “ (aanhalings uit Klaagliedere 3). Hier word God beskuldig van alles wat verkeerd loop, want die hoop-lose skrywer het nog altyd daaraan vasgehou dat Hy alles voorspoedig sal laat verloop. En sonder dat alles weer oornag herstel, ja, eintlik is dinge steeds ellendig, kan hy sê: “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop ... ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot ... (ook uit Klaagliedere 3).

Ons het reeds met mekaar ooreengekom dat ons besef dat niemand van ons enige hoop kan plaas op geld om voorspoed te bring nie, vir niemand is goeie gesondheid gewaarborg nie, en dat ons nie op mense ons vertroue kan plaas vir ‘n vreugdevolle en kommerlose lewe nie. Die groot ontdekking in die lewe, is dat ten spyte van wat ook al verkeerd loop in jou lewe, niks aan God se kant verander nie. Hy bly getrou en Hy het ons lief. En dit is net so, die verlede wys wie Hy is. Ons geloof in Hom bevestig sy liefde vir ons. Hy is ‘n Man van sy Woord, ons hou vas aan sy beloftes.

Ware hoop het alleen met God te doen!

Thursday, August 14, 2014

Oordenking 17 Augustus 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 1:  Ek kan nie sonder hoop lewe nie

“Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare ...” (2 Korintiërs 4: 18a)

Vir die volgende sewe weke gaan ons ‘n reeks oor “Hoop” volg saam met ongeveer 80 ander gemeentes in die land. Vanuit soveel rigtings hoor ons die geluide dat ons mense moedeloos is en hoor ons die verkeerde slimmighede as oplossing vir “alles” wat verkeerd loop. Kom ontdek saam met ons as Jesus-mense wat dit beteken “om kelners van hoop” in vandag se moeilike tye te wees.

Paulus hou reken met die werklikheid waarmee ons elke dag gekonfronteer word: terneergedruk,  radeloos, vervolg, op die grond neergegooi, uiterlik besig om te vergaan. Ons sal hierdie redes tot moedeloosheid ook ander name kan gee: finansiële druk, spanning in verhoudings, gesondheidsprobleme, die bedreiging van misdaad in ons land, en al die uitdagings waarmee ons daagliks te doen kry. Hierdie is alles werklike of potensiële bedreigings wat ons hoop steel en ons rede gee om moedeloos te wees.

Maar so kry ons in die Woord van God die enigste oplossing vir ons hooploosheid (eie woord), naamlik “ons het dieselfde Gees wat geloof wek ...” (2 Korintiërs 4:13). Alleen in ‘n definitiewe lewende verhouding met Jesus deur die inwonende werk van die Heilige Gees, glo ons in die nabyheid en teenwoordigheid van die onsigbare God in ons. Jesus het sy lewe vir ons redding gegee en daarmee kry ons deur geloof ‘n onlosmaaklike en onvoorwaardelike verbintenis met Hom. En alleen met hierdie verbintenis met die (weereens) onsigbare Jesus, kyk ons met ander oë na ons eie lewe en die sigbare uitdagings rondom ons.

Die Fondament vir hoop wat groei en groei, is Jesus self in ons. En om op hierdie Fondament te bou, is die enigste manier om hoop te vind en hoop uit te deel. Kom ons as Jesus-mense word kelners van hoop wat vir ander mense moed inpraat met die regte Vertrekpunt. Let wel hoofletter “V”, want dit kan nét ons Here in ons wees, wat die Bron van hoop is.

So baie mense vra moedeloos: “Is daar nog hoop vir my, Here?” En dan kom die antwoord in dieselfde vers: “U is my enigste hoop.” (Psalm 39:8)

Thursday, August 7, 2014

Oordenking 10 Augustus 2014


Riglyne vir stilte in jou hart

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5: 25)

Ons is besig met praktiese lewenslesse vir Jesus-mense. Vandag wil ons fokus op die plek van stilte in die lewe van elke Jesus-mens.

Waarom is stilte belangrik?

·         So kan jy God beter raak lewe.

·         Ons lewens is dikwels so besig, dat dit nodig is om spesifieke tyd by sy voete deur te bring.

·         Onder andere ontdek jy beter, hoe geliefd jy in God se oë is.

Praktiese inrig van stilte:

Kies ‘n plek waar en ‘n tyd wanneer, niks of niemand jou in die stilte sal steur nie. Doen dit vrywillig en soos wat die geleentheid ontstaan. Kies om tyd daarvoor te maak.

Riglyne vir stilte:

·         Ontspan, raak rustig en vergeet van tyd.

·         Maak jou oë toe en sluit jou af van alles om jou.

·         Vra die Here om jou bewus te maak van Hom.

·         Ontspan rondom enige gedagte wat by jou opkom wat met God te doen het.

·         Laat enige gedagte oor God so lank as moontlik jou besig hou.

·         Sodra jou gedagtes begin dwaal, wees ingestel op ‘n volgende gedagte oor God.

·         Laat hierdie proses rustig toe om die stilte te vul.

Thursday, July 31, 2014

Oordenking 3 Augustus 2014


Leef jou tweede kans!

“As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle in my liefde bly...” (Johannes 15:10 Direkte Vertaling)

Volgens vaste ooreenkoms op grond van Woordbeloftes en die oortuigende influistering van die Gees van God, is ons as Jesus-mense vrygestel van enige pligte of wette om vir altyd volledig gered te kan wees. Beteken dit dat ons nou maar handjies gevou kan sit en wag vir die hemel om aan te breek? Allermins, ek kan nie, ek wil nie niks doen nie. Ek het dan juis die allerbeste rede om my alles op die altaar te sit – ja, my ALLES in reaksie op die grootste en die beste en die blywende geskenk van die lewe in Jesus!

Soos die Bybel dit op verskillende plekke uitspel: elke mens is dood tot en met die wonderlike ontmoeting en verhouding met Jesus begin – dan kry ons elkeen ‘n tweede kans op die ware lewe in Jesus. Die groot vraag is: wat maak jy met jou tweede kans?

Daar is twee staande opdragte, let wel, nie wette of pligte nie, wat steeds geld vir elke Jesus-mens:

·         Opdrag nommer 1:          leef Jesus-liefde.

·         Opdrag nommer 2:          gaan vertel van Jesus.

Beide hierdie opdragte is bedoel om vir elke Jesus-mens ‘n spontane daaglikse lewenswyse te wees, die een nooit los van die ander nie. Soos wat ek Jesus raak leef in elkeen se unieke lewensomstandighede met my eie geliefde geaardheid, kry ek die geleentheid dat Jesus vir ander kan wys wie Hy in my is. Maar hiervoor het ek ‘n vrywillige keuse om met sy Gees in my saam te werk. En hierdie keuse vra dissipline, spesifieke besluite en veral opofferinge, dikwels ten koste van myself.

Om die tweede kans op ware lewe in Jesus werklik te benut, beteken ek is veronderstel om my tyd, gerief, geld of wat ook al tot my eie beskikking is, spesifiek beskikbaar te stel om Jesus-liefde te leef. Soos Jesus self so mooi verduidelik in Johannes 15: ons is nie sy slawe wat ‘n las moet dra nie, ons is sy vriende – daarom het Hy sy lewe vir ons as sy vriende aan die kruis laat offer. Vriende maak vrywillige en spontane opofferinge vir mekaar, opofferinge wat sonder voorwaardes is, sommer omdat dit soms lekker is of net sin maak.

Kom ek vra weer: wat maak jy as Jesus-mens met die tweede kans in jou lewe?

Wednesday, June 18, 2014

Oordenking 22 Junie 2014

As ek klaar vertel het van Jesus ...

“... hoop ... vestig ... op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.” (1 Timoteus 6:17)

As ek klaar vir iemand van Jesus vertel het, wat Hom dan ingenooi het in sy lewe, wat dan? Gewoonlik volg daar dan in evangelisasie ‘n lysie van doen-dinge om te kan groei as Jesus-mens, dinge soos bid, Bybel lees, kerk toe gaan en getuig. Die verkeerde gevolge hiervan is dat nuwe Jesus-mense nie altyd so maklik hierdie lysie doen-dinge regkry nie en dan van vooraf met skuldgevoelens lewe. Hierdie lysie word nuwe godsdienstige reëls wat nagekom moet word, anders is jy net weer in die moeilikheid by God.

God verwag niks van Jesus-mense nie, Hy het absoluut niks nodig van ons af nie. Indien Hy wel iets nodig het vir sy koninkryk, dan gee Hy dit – Hy gee en doen alles wat Hy nodig vind, in en deur elke Jesus-mens. Dit is sy hoofaktiwiteit dag en nag! Jy kan as Jesus-mens nooit weer in die moeilikheid kom by Hom vir iets wat jy doen of nie gedoen het nie. Hierdie is die kern-leefwyse wat nuwe en ou Jesus-mense nodig het om raak te lewe met Hom in jou!

Om werklik vry te wees as Jesus-mens, beteken dat Hy ryk is. Ja, skatryk in alles wat goed is en Hy deel dit so graag uit en Hy doen dit in ons. Soos jy jou hart oopmaak dat Hy in jou woon en beheer neem in jou, net so gaan dit elke dag voort. Maak jou hart elke dag (eintlik elke sekonde) oop vir sy goeie alles in jou spesifiek ter wille van wie Hy vir jou wil wees. Hy maak jou wat Hy wil hê jy veronderstel is om te wees in sy oë: mededeelsaam, goedhartig, vergewensgesind ...

... dit is ware genot vir Jesus-mense!

Genot is nie jy wat oulik is deur beter te wees as ander, meer pligsgetrou, ryker, slimmer, mooier – dis alles nie-Jesus-mense se idee van genot. Vir elke Jesus-mens is genot Jesus in jou – Hy is en word jou grootste geluk en geniet en lag!

Gaan vertel van die korrekte prentjie van wie God is, maar veral dan wat elke Jesus-mens van Hom in jou kan verwag. Swaarkry, probleme, spanning, krisis, seerkry ... dit is alles deel van elke mens op aarde se lewe, ook vir Jesus-mense. Vertel dit ook vir nie-Jesus-mense, vir nuwe en ou Jesus-mense!
NS Die volgende Oordenking sal weer op 27 Julie 2014 verskyn.

Thursday, June 5, 2014

Oordenking 8 Junie 2014


Hoe vertel ek van Jesus?             Geduldig en nooit met dwang

Wat vertel ek van Jesus?             Lewe God raak in die GEWONE LEWE

“... want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” (Handelinge 17:28a)

Elke Jesus-mens dra die sleutel om God se koninkryk vir nie-Jesus-mense oop te sluit: die sleutel is jou tong waarmee jy vir ander van Jesus vertel. Prakties beteken dit dat ons met mense wat ons lewenspad kruis, met vriendelikheid en geduld kan vertel hoe Jesus in ons, vir ons die grootste sekuriteit en rustigheid bied. Natuurlik kan ons nie die werk van die Heilige Gees afdwing nie, en daarom ook nie iemand met dwang Jesus laat innooi in sy lewe nie.

Wat het nie-Jesus-mense nodig om by ons te hoor van Jesus?

·         Jesus het lank gelede volledig betaal vir al ons sonde aan die kruis: dit beteken alle sonde is reeds vergewe!

·         Jesus is die ware God en Hy is die enigste God wat goed is en nooit meer iets teen ons hou nie!

·         Niemand het nodig om enige iets te doen, te gee of op te offer om ‘n Jesus-mens te wees nie – die lewe saam met Jesus is gratis en sonder enige voorskrifte en voorwaardes.

·         Jesus gee ons sy beste, naamlik die Heilige Gees, om ons volledig vol te maak met Homself en vry te maak om werklik te lewe.

·         Jesus-mense is 24/7@365dae in Jesus se teenwoordigheid, en daarom hoef jy nie bang te wees vir enige gevare of probleme nie – Hy is in, by, rondom, onder, bo, langs jou!

·         Jesus is vandag lewendig en kragtig en aktief deur sy Gees besig om jou meer te laat word wat jy reeds vir Hom is.

·         Jy is kosbaar, geliefd, gered, mooi en alles wat jy bedoel is om te wees in God se oë!

Is al hierdie waarhede te teoreties of te veel “kerklike taal”? Dan het dit dringend tyd geword dat ons baie duideliker vir die wêreld sonder Jesus, gaan vertel dat Hy vandag lewe. Gaan vertel hoe jy Hom daagliks raak lewe in klein en groot dinge wat in jou lewe gebeur. Hy is nie ‘n vreemde wese van ‘n ander planeet nie, Hy is planeet aarde se enigste Koning, Hy is steeds in beheer, en Hy wil deel wees van ons daaglikse doen en late op ‘n baie natuurlike en gemaklike wyse.

Ons het nodig om asem te haal om aan die lewe te bly – ware lewe is net so slegs moontlik met God se Gees in jou!