Wednesday, February 5, 2014

Oordenking 9 Februarie 2014

Die Godstad: perfekte ewige blyplek

“Die engel ... het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.” (Openbaring 21:15)

Jy is verseker “ok” in God se oë, as jy nog gewonder het. Daar is geen fout met jou nie. Hy is nie kwaad vir jou nie. Om die waarheid te sê, Hy het jou na sy beeld gemaak en jou as sy verteenwoordiger op aarde geplaas. Hy het jou so verskriklik baie lief, dat Hy die hoogste prys betaal het vir jou redding, sy eie geliefde Seun het vir jou gesterf. En toe stop dit nie daar nie, Hy kom woon sommer self in jou deur sy Heilige Gees, sodat jy eerstehands die heel beste hulp in die hele wêreld in jou kan hê – WOW!!!

Jy is God se perfekte ewige blyplek!!!

Gemeet met ‘n goue meetstok, só kosbaar is jy! Simbolies beteken dit dat jy aan God behoort en dat Hy sy eiendom sal beskerm. Die Godstad, jy as Jesus-mens, word ewig die mees beskutte blyplek vir God self! Hy kom maak jou sy eiendom om in te woon deur sy volledige Gees en dan beskerm Hy op hierdie manier self sy verhouding met jou.

Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, dit is ‘n kubus-vorm soos Salomo se tempel se allerheiligste: “Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog.” (1 Konings 6:20). ‘n Volmaakte vorm van letterlik 2 220 km in elke rigting om die volmaakte woonplek vir die Inwonende Een te wees en waarin daar geen beperkte ruimte is nie. Simbolies die allerbeste en gerieflikste en luuksste blyplek vir Hom, wat sy heerlikheid in jou aan die verlore wêreld wil wys.

Die getal 12 000 is die 12 stamme van Israel, die volk van God, in die volkomendheid (1000 maal) daarvan. Die volle getal van Jesus-mense van alle tye, sal die volkomendheid ervaar binne hulle inwoning in en deur die volheid van die Gees van God.

Die dik muur (144 x 22cm) wys simbolies na die beskerming vir die inwoners, veral om die bose uit te hou. Die see, as blyplek van die bose, het reeds verdwyn (Openbaring 21:1), maar nou is die inwoners ook beskut teen enige moontlike aanslag van die bose en watter slegte invloede daar ook mag wees.

Jesus-mense het genoeg veilige blyplek vir altyd, naamlik in Hom self!

Laat ons soekend lewe met die woorde: “Meester-Bouer, dankie vir die volmaakte huis wat ek vir U is.”

Wednesday, January 29, 2014

Oordenking 2 Februarie 2014


Die Godstad: gebou met Aantrekkingskrag
“Die stad het die heerlikheid van God ...” (Openbaring 21:11a)

Wat sou jy graag wil hê dat die Gees in jou lewe moet verander? Wat laat jou minderwaardig voel? Hoe kan jy verander dat jy meer geliefd voel?
Hierdie vrae klink moontlik ydel of selfgerig. Tog dink ek dat dit die vrae is wat gedurig iewers in ons elkeen leef. Dis tog lekker om mooi dinge oor jouself te hoor. Dis tog sinvol om goed met ander mense oor die weg te kom omdat hulle jou aangenaam belewe. Dit is lekker om goed oor jouself te voel. En dit is alles werklik moontlik vir elke inwoner van die Godstad, want ...

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5:25) Die Een wat in elke Jesus-mens is, is besig met die bouwerk in jou. En doel met sy Gees-werk in jou, is sy eie eer. En wanneer ons in Openbaring 21 lees hoe beeldskoon en pragtig en luuks die stad beskrywe word, dan is dit simbolies God se doel met elkeen van ons: beeldskoon van binne en buite, pragtige unieke persoonlikheid en al die mooiste eienskappe om almal rondom ons se lewens te verryk. Hy herbou jou lewe sodat jy al hoe meer “na Hom lyk”, bedoelende al hoe meer lewe soos wat Hy wil hê jy behoort te lewe.
Hierdie Gees-gedrewe bouwerk hou nooit op nie. Tog is dit ons geleentheid om net al hoe meer in Hom te ontdek waarmee Hy in ons besig is, naamlik om ons totaal en al oor te maak en volledig nuut te laat lewe. “... sal die Gees julle op ‘n splinternuwe manier laat leef.” (Romeine 8:10, Die Boodskap) En hoe langer en hoe meer word elke Jesus-mens so aantreklik en aanloklik dat ander ook soos ons wil wees. Die mooi en die goeie in ons, wat slegs deur die Gees se werk sigbaar word, lok ander vreemdelinge nader aan die Godstad om ook inwoners te word.

Hiervoor is die baie poorte van die Godstad nóú oop in alle windrigtings vir enige een om in te kom. Die aanskoulikheid van die Godstad lok alle verlorenes om nader te kom en te keuse te maak om in te kom. Hier is geen sprake van lang lyste vereistes om ‘n inwoner van die stad te word nie. Die engele by die poorte is daar om diegene wat reeds inwoners is, te beskerm. Dis al die pad die moeite werd om binne die Godstad te kom lewe ... is jy in, of is jy nog op pad?
Inwoner van die Godstad, jy kan meer geliefd wees wanneer jy bly sê:
Herbouer in my lewe, dankie vir U puik Gees-werk in my!”

Wednesday, January 22, 2014

Oordenking 26 Januarie 2014

Die Godstad: versier vir Jesus

“Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Openbaring 21:2b)

Die Godstad verwys na die plek waar God woon. Vir ons as Jesus-mense woon Hy nie op ‘n ver en vreemde plek nie. Hy is nie onbereikbaar verwyderd in die hoë hemel nie. Nee, God is volledig deur sy Gees woonagtig en werksaam in elke mens wat sy hart vir Jesus oopgemaak het. Jesus het self gesê: “Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.” (Johannes 14:20) Jý is die Godstad waarin Hy gekies het om in te trek met sy Gees.

Die bruid is al die Jesus-mense, dus almal wat aan die kerk van Jesus Christus behoort, almal wat in die Godstad woon. In Johannes se denke het die bruilof reeds plaasgevind, Christus as Bruidegom en die uitverkorenes is reeds verenig, reeds een. Ons as uitverkore Jesus-mense sukkel ongelukkig met die sonde in ons en in ander om ons, maar leef reeds as oorwinnaars met Hom in ons. Die voltooiing en die vervolmaking wag natuurlik eers in die lewe hierna, maar dit is gewaarborg in Hom. En so is Hy in ons besig om ons te versier.

Hoe word Jesus-mense versier? “God het haar vergun ... fyn klere (wat) die regverdige dade van die gelowiges is.” (Openbaring 19:8) Alles wat Hy in ons wil verander en ons mee wil help en ons lewens mee wil verryk en van ons beter mense in sy oë maak, neem Hy voor verantwoordelikheid. In onsself kan ons nie goed wees nie, God kan ons nie regverdig verklaar op grond van ons eie goedheid en gehoorsaamheid nie, ons is nie daartoe in staat nie – daarom doen Hy juis heiligmaking in ons, so versier Hý ons!

Hoekom wil Hy ons versier? Om die prys wat die Lam, dit is die gekruisigde Jesus, vir elke Jesus-mens se vergifnis en redding betaal het, die moeite werd te maak. Hoor hoe sê Johannes dit: “... ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” (Openbaring 21:9b) Op grond van Jesus se volmaakte opoffering wat steeds voortgaan deur sy inwoning deur die Gees in ons, kom verbind Hy Homself in ‘n ewige liefdesverhouding met elke Jesus-mens.

En hoe voel Hy oor jou? “Soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.” (Jesaja 62:5b)

Daarom kan elkeen eg en opreg bid: Inwonende Gees, trek my asseblief aan om vir U mooi te lyk.

Thursday, January 16, 2014

Oordenking 19 Januarie 2014

Die Godstad: erken die Troon

“Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”” (Openbaring 21:5a)

‘n Nuwe jaar gee geleentheid vir ‘n nuwe begin. Elkeen van ons kry geleenthede om ‘n nuwe begin te maak. Moontlik ‘n nuwe werk, of nuwe kollegas, of nuwe skooljaar, of nuwe projek, of nuwe huis, of nuwe fase in jou huwelik, of wat ook al vir jou nuut mag wees.

In jou geloofsverhouding met God as Jesus-mens, wil Hy ook vir jou nuwe ervaringe en nuwe ontdekkings gee om jou te laat groei. En juis in die simboliek van die nuwe Jerusalem kan elkeen van ons nuwe groei ervaar en ontdek. In die volgende weke wil ek fokus op verskillende simbole in die nuwe Jerusalem se betekenis, en veral in die praktiese toepassing vir ons. Ek gaan kies om eerder van die “Godstad” te praat omdat Jerusalem vir meeste van ons ‘n ver en vreemde plek is.

Die Godstad verwys na die plek waar God woon. Vir ons as Jesus-mense woon Hy nie op ‘n ver en vreemde plek nie. Hy is nie onbereikbaar verwyderd in die hoë hemel nie. Nee, God is volledig deur sy Gees woonagtig en werksaam in elke mens wat sy hart vir Jesus oopgemaak het. Jý is die Godstad waarin Hy gekies het om in te trek met sy Gees. En waarmee is Hy nie besig in jou lewe nie ...

... Hy sit op die troon van jou hart. Ja, die troon as simbool van heerskappy en in beheer wees. Hy wil so baie graag jou lewe liefdevol en sonder dwang help beheer. Hy wil jou help met jou gedagtes, keuses, besluite, emosies, verhoudings, behoeftes, en wat jy ook al nodig het. Hy is nie die oorneem-tipe nie, Hy wil net dáár wees vir jou, Hy wil net déél wees van alles in jou lewe. Sy manier van in beheer wees, is gerieflik en met wysheid. Dit is sonder twyfel die moeite werd om Hom op die troon van jou hart te verwelkom. Hoe?

Hy wil ‘n nuwe geleentheid vir jou gee om sy heerskappy in jou lewe te erken:

• Dink gedurig aan Hom;
• Praat soveel as moontlik met Hom;
• Maak tyd in jou lewe vir Hom;
• Soek maniere wat vir jou werk om Hom beter te ken;
• Raak bewus in jou alledaagse dat HY IS!

Doom Charl

Sunday, January 5, 2014

Oordenking 12 Januarie 2014

Geliefd in God se oë

“Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” (Markus 1:11b)

Kom ons lê ʼn fondament om 2014 op te bou: Sien raak wie jy in God se oë is. Kyk na jouself deur sy oë: Wat sien Hy as Hy na jou kyk? Wie sien Hy as Hy na jou kyk?
Hier is die sleutel om 2014 mee te leef, te oorleef en te groei: God sien sy geliefde Seun as Hy na jou kyk. Hy sien Jesus in jou.

Wie is hierdie Jesus in jou? God self in jou ... Liefde in jou ... Sagtheid in jou ... Goedheid in jou ... Blydskap in jou ... Geesvervuldheid in jou ... Egte lewe in jou ...

Elke keer, elke sekonde, as God na jou kyk, sien Hy eerste vir Jesus: Jesus in jou en jy in Hom ...

... én Jesus is “ok”, wat beteken jý is “ok”. Só ...

Hy sien jou seer ... Hy sien jou kommer ... Hy sien jou hart ...
Hy sien jou waar jy nou is, want Hy is in jou ... wat ook al?

Hy kyk nie heeldag teen jou foute en sonde vas nie. Hy is nie heeldag besig om die lewe vir jou moeilik te maak, net omdat jy nie gehoorsaam genoeg is nie. Hy skryf nie nuwe wette om ‘n lewe wat reeds ingewikkeld is, nog strenger te maak nie.

Die kern van ons bestaan is in Hom, wat in jou is, en God is voldoende en volledig en volmaak volgens wie Hy wil wees, in jou.

Só gebeur dit:
1. God gee sy geliefde Seun om ons te verlos;
2. God gee sy geliefde Gees om ons te beheer;
3. God gee sy liefde in ons;
4. Óns IS liefde in sy se oë ... Hy spesialiseer by uitnemendheid presies hierin!

Dit ís net so! Dit staan vas! Niemand kan dit verander nie! Dit ís die waarheid!

• Jy ís geliefd in sy oë, want Hy ís!!
• Én Hy is bly oor jou!! Hy jubel oor jou!!
• Hy spring van blydskap oor jou as sy geliefde!! Hy geniet jou vir wie jy is!!
• Hy is 100% tevrede met wie jy is!!

Die sleutel om 2014 en vir altyd, mee te lewe:
God sien ons geliefde Jesus in jou ... en Hy is bly oor jou!

Doom Charl

Monday, December 9, 2013

Oordenking 15 Desember 2013

Johannes 1 Advent: Sy heerlikheid “IS”!

“Ons het sy heerlikheid gesien ... vol genade en waarheid.” (Johannes 1:14)

Feitlik elke Kersfees dink ek hoe gelukkig was al die mense wat Jesus persoonlik gesien het terwyl Hy fisies hier op aarde was. Gewone mense soos ek en jy: Maria, Josef, sy dissipels, almal wat Hom hoor praat het by die Bergpredikasie, die geestelike leiers van daardie tyd, die politieke leier Pilatus, en nog honderde ander mense by verskeie geleenthede. Ja, Jesus wás ‘n gewone mens wat tussen die mense rondbeweeg het. En ongelukkig dink die meerderheid mense dat ons Hom eers in die hemel weer sal sien, en intussen ...

Intussen is dit glad nie so sleg nie, daarom het Hy juis destyds mens geword: dat ons God reeds vandag kan síén! Én die ongelooflike waarheid is dat Hy in elke Jesus-mens gesien kan word. Ons moet net mooi kyk in onsself en in die Jesus-mense rondom ons. Niemand van ons kan en sal ooit soos Hy lyk nie, maar Hy kom gee deur sy Gees sý karaktereienskappe ín ons.

In Johannes 1 word na twee uitsonderlike sigbare Jesus-waarhede ín ons verwys. Ín hierdie waarhede sien ons “sy heerlikheid”, sien ons wie Jesus in ons is en word. Én Hy maak ons “vol” van sy heerlikheid, tot oorlopens toe vol van Homself. Hy maak ons “vol van God”, want Jesus is ons enigste toegang tot wie God sigbaar is. Gee Hom net die volle kans ...

• Gee Jesus die volle kans om jou vol te maak met sy genade: sonder verdienste ís jy sy kind; sonder inspanning kán jy waarlik lewe; gratis ontvang jy ál die rykdom van sy koninkryk; jy ís reeds vir al jou sonde vergewe; Jesus ís besig om Homself meer sigbaar in jou te maak; Hý IS Jesus-mens ín jou!

• Gee Jesus die volle kans om jou vol te maak met sy waarheid: Hy hét mens geword; Hy ís jou unieke Redder; Hy wíl jou laat lewe vol van sý Gees; Hy wíl Geluk ín jou wees; Hý is jou enigste troos in lewe en in sterwe; Hý maak van jou ‘n nuwe mens; Hý IS Jesus-mens ín jou!
Die baie goeie nuus oor die waarheid van Jesus wat mens geword het en mens is, is dat Hy vandag dié Sigbare Een ín ons “IS. Die werklikheid is dat Hy teenwoordig “IS”.

Sien Hom in Advent 2013 vir Wie Hy werklik “IS”!

Jesus ís ín óns! Jesus ís ín jóú!

Doom Charl

Tuesday, December 3, 2013

Oordenking 8 Desember 2013

Johannes 1 Advent: Die Lewe “IS”!

“In Hom was daar lewe ...” (Johannes 1:4a)

Kom ons fokus vir ‘n oomblik op die waarhede ten opsigte van die Lewe/lewe wat direk te doen het met Jesus se menswording:

• Jesus het nodig gehad om die hemelse heerlikheid as ware God te verlaat, steeds volledig God te wees en ter wille van ons sonde-verdoemenheid op aarde mens te word vir ons, sodat Hy die Lewe/lewe vir ons kan wees: Hy IS Lewe, ter wille van óns! Hierdie eerste waarheid oor “lewe” het vir my met tyd te doen: Jesus lewe as Beginlose van ewigheid af; as Lewende Een kom Hy as mens aarde toe vir die dood-veroordeelde mens; SLEGS deur Jesus se sterwe aan die kruis én direk gekoppelde opstaan uit die dood, IS Hy Lewe in elke Jesus-mens vandag; én Hy sál alleen Lewe bly tot in ewigheid!

• Die tweede evangeliese waarheid oor die “lewe” het te doen met sterwe: sonder Jesus is alle sondaars verdoem tot die ewige dood, waar daar geen Lewe (geen God), sal wees nie. Nadat die mens van nature, dit is uit eie vrye wil waarmee elke mens gebore word, van die boom van die lewe in die tuin van Eden geëet het, sal elke mens fisies sterwe: “Stof is jy, en jy sal weer stof word.” (Genesis 3:19c) Om hierdie gegewe waarheid wat vir alle mense van alle tye op aarde geld, om te keer, was dit nodig dat ons Jesus eers ter wille van ons Lewe, sterwe aan die kruis: Hy IS daarom weer en enigste Lewe/lewe.

• ‘n Ander waarheid oor “lewe” wat direk met Jesus te doen het, is elke mens se posisie ten opsigte van Lewe/lewe: Hy het vir alle dood-veroordeeldes redding uit die dood kom bewerk met sy reddingsdaad van sterf en opstaan uit die dood. Maar alle mense stel nie belang in die Lewe/lewe nie. Die Lewe/lewe is vir ALMAL beskikbaar, maar almal erken nie die Lewe/lewe nie. Mense kies om te lewe sonder die Lewe. Slegs dié mens (en almal van hulle) “... wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Johannes 1:12)

• Die laaste waarheid gaan oor die keuse om te skryf “Lewe/lewe”: Niemand kan lewe sonder die Lewe, dis is sonder die Gees van Jesus, nie! “Lewe” met ‘n hoofletter en “lewe” met ‘n kleinletter, is EEN vir Jesus-mense!

Jesus lewe vandag hier op aarde waar Hy mens geword het en gesterwe het; Jesus lewe vandag deur sy Gees in elke Jesus-mens vir wie Hy aan die kruis gesterwe het; Jesus IS LEWE vir jou en vir my!

Doom Charl