Thursday, November 6, 2014

Oordenking 9 November 2014

Ek is vergewe!

“Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?  ... Ek doen dit ook nie.” (Johannes 8:10 en 11)

 Die resultaat van die Gees van God se werk in elke Jesus-mens, is net onbeskryflik bevrydend. Soos wat ons die Gees toelaat om al hoe meer ons gedrag te bepaal, kyk ons met totaal ander oë na elke mens op hierdie aarde. Ja, ons kyk deur Jesus se genade-gevulde oë, nie-veroordelend na elke sondaar en elke skuldenaar en elke boef. Die vrug van die Gees is, om met ‘n nuwe hart onvoorwaardelike vergewensgesindheid teenoor alle mense te openbaar!

 ‘n Vrou, wat die groot sonde van seksuele ontrou in haar huwelik gepleeg het, en in amper alle mense se oë sleg en verdoem is, word na Jesus gebring. Dis juis die oënskynlike onskuldige kerkleiers wat met ‘n gesindheid van veroordeling, Jesus self probeer plaas in die beskuldigde bank. In Jesus se tyd was owerspel met die doodgooi van klippe strafbaar - vandag nog word hierdie tipe oortreding steeds figuurlik met steniging gestraf.

 Dan skryf Jesus iets op die grond. Vir eeue sedertdien, word bespiegel wat Jesus geskryf het. Hy het eintlik twee keer iets geskrywe op die grond. Moontlik die eerste keer ‘n boodskap aan die aanklaers, wie Jesus uitnooi om die eerste klip te gooi. Dalk was die tweede boodskap aan die veroordeelde vrou gerig. Ons weet nie. Maar nadat Jesus op die grond geskrywe het, is niemand bereid om ‘n klip te gooi nie en vertrek die aanklaers een vir een. Ek raai Jesus kon vir die vrou geskrywe het: “Jy is vergewe!”

 Sonder enige teenprestasie van die oortreder, sonder enige skuldbelydenis, sonder enige verduideliking deur die sondaar, spreek Jesus haar vry. Net die positiewe aanmoediging om nie meer te sondig nie. Die nie-veroordelende optrede van Jesus, het ‘n nuwe lewe vir ‘n verworpene tot gevolg. Sonde-oorwinning volg op vergifnis en vryspraak.

 Die vermoë om mekaar nie te veroordeel nie, is die werking van die Gees in ons. Net so is dieselfde Gees in ons besig om ons lewensbenadering te herprogrammeer, sodat sonde al hoe minder ‘n rol in ons lewe speel. Soos wat elke Jesus-mens ontdek: “Ek is vergewe!”, net so groei ons daarin om vir elke ander mens op aarde te kan sê: “Jy is vergewe!” Vergifnis maak vry: dit bevry myself én is bevrydend teenoor ander mense.

Thursday, October 30, 2014

Oordenking 2 November 2014

Om vrugte te dra

“Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.” (Lukas 13:8)

 So maklik dink ons Jesus-mense dat dit met ons eie inspanning is dat ons vrugte dra wat by ons bekering pas. So maklik word die dinge wat ons vir die Here doen 'n las en plig. Die wonderlike dinge wat ons vir die Here doen, word maklik iets om mee te spog. Ons het dan tyd en geld opgeoffer. Bewustelik en onbewustelik verdien ons krediete agter ons goeie naam!

 In die gelykenis van onvrugbare vyeboom leer ons egter iets totaal anders. Hierdie vyeboom staan in die eienaar se wingerd geplant. Vir drie jaar soek hy elke jaar in vyetyd vrugte aan die boom en dan is daar niks. Nou gee die eienaar opdrag aan die tuinier om die vyeboom sonder vrugte uit te kap, want dit put net die grond uit. Die tuinier vra grasie, ja, nog 'n kans om iets aan die vrugtelose boom te doen. Die tuinier neem verantwoordelikheid, vra nog 'n jaar kans om, om te spit en te bemes.

Ons enigste God is die eienaar van die wingerd en die vyeboom daarin. Die vyeboom is simbool vir ons as Jesus-mense. Ons staan in God se wingerd geplant. Jesus is die tuinier wat deur die Gees van God verantwoordelikheid neem vir die wingerd met die vyeboom in. Die Tuinier met 'n hoofletter werk in die wingerd van God. Hy sorg dat dit omgespit en bemes word, sodat die vrugtebome vrugte kan dra. Geen vrugteboom is in staat om sonder die Tuinier se ingryping vrugte te dra nie.

 Wat beteken dit vir ons? Ons kan net seker maak ons staan geplant in God se wingerd, daar wil ons wees met alles in ons. En binne die kragveld van die Gees se werk, sal daar vrug wees! Soms gaan die "omspit en bemes" met pyn en seerkry gepaard. Ander kere is dit pure plesier om te ervaar dat daar net die wonderlikste dinge deur ons gebeur, sonder enige inspanning deur ons.

 Die verrassing is dus, dat vrug dra in God se koninkryk 'n Gees-werking is, solank ons net in die wingerd is.

Friday, October 24, 2014

Oordenking 26 Oktober 2014

Die impak van elke Jesus-mens

“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Johannes 20:21)

Die groot uitdaging wat elkeen van ons Jesus-mense elke dag het, is om 'n impak in God se koninkryk te maak.

Hiervoor sê die opgestane Jesus, "ontvang die Heilige Gees"! Dit beteken elkeen van ons ontvang die beste en volledige hulp van God self met sy Gees in ons. En dit is met een spesifieke doel, om 'n impak in God se koninkryk te maak. Elkeen word gestuur om 'n impak te maak deur liefde, vrede en vergifnis vir ander spontaan te leef. Hoe kan ons dit doen?

  1. Ons leef tussen ander mense wat bang, onseker en/of verlore is of voel - self kan ons ook so voel. Ons leef agter geslote deure en hekke, misdaad bedreig ons almal op een of ander wyse. Daar is so baie wat ons leefwêreld deurmekaar maak, dinge verander soms baie vinnig en die toekoms lyk baie onseker. Te veel beleef ons die agteruitgang op so baie fronte  in die samelewing en dit maak ons moedeloos. Op te veel terreine is dit sigbaar dat mense sonder Jesus leef en nie eers skaam is daaroor nie. Hiermee word ons daagliks gekonfronteer.

  1. MAAR ons het Jesus, ons volmaakte Verlosser, wat volledig vergifnis van sonde vir alle mense is - hierdie waarheid staan op ons enigste Rots! Ons elkeen se persoonlike redding is slegs en alleen gebou op hierdie onverdiende guns van ons Here. Hierdie guns is vir alle mense beskikbaar, ongeag wie of wat die omstandighede is. En die enigste wyse waarop verlore en onseker en bang mense met die liefde van ons God in aanraking kan kom, is deur ons lewe en deur ons woorde. Geen ander waarheid, as die waarheid van God se liefde vir alle mense, kan groter impak hê op die omstandighede waarmee ons elke dag gekonfronteer word nie.

  1. Daarom kan elke Jesus-mens vrymoedig, met liefde en met die gawes wat elkeen het, soos dit op ons pad kom, vrede en vergifnis leef en vertel. Ons het die geleenthede om die allerbeste nuus van Jesus se liefdevolle opoffering vir almal, nie net te leef nie, maar ook verder uit te dra. Waar ek en jy elke dag besig is met ons dagtaak tussen ander mense, is elkeen van ons die kanaal van Jesus-liefde na verwarde en verlore mense.

Ons Here wil jou baie graag gebruik om ‘n impak te maak ter wille van sy koninkryk – jy is reeds aan diens!

Thursday, October 9, 2014

Oordenking 12 Oktober 2014

Elke Jesus-mens se tweede bekering!

“... en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” (Lukas 10:33b)

Ons het reeds op verskeie maniere beskrywe wat dit beteken om ‘n Jesus-mens te word. ‘n Jesus-mens leef God elke dag raak in die gewone dinge. ‘n Jesus-mens het die genadige belewenis dat vergifnis volledig in plek is op grond van Jesus se volmaakte offer aan die kruis. ‘n Jesus-mens se lewe word deur die Heilige Gees gevorm en beheer. En so kan daar nog baie beskrywings wees van hoe jy ‘n Jesus-mens word. Kom ons noem hierdie soort beskrywings die eerste bekering wat plaasvind.

Maar nadat jy ‘n Jesus-mens geword het, wil die Gees van God in jou, van jou meer maak soos wat Jesus reeds in jou is. Kom ons noem hierdie vormingsproses deur die Gees die tweede bekering. Hierdie tweede bekering kan op baie maniere beskrywe word, soos heiligmaking, dissipelskap, meer en meer soos Jesus, geestelike groei, ensovoorts.

En net soos die eerste bekering ‘n wilsbesluit van elke mens is, is die tweede bekering letterlik ‘n daaglikse wilsbesluit van samewerking met die Gees van God in jou. Ek en jy het ‘n keuse om die Gees toe te laat om anders te dink en nuut te lewe. Ons eerste bekering bespreek ons plekkie in die hemel, maar op pad hemel toe bied ons tweede bekering vir ons geleentheid om reeds hemel op aarde te belewe deur ‘n bepaalde Gees-beheerde lewenswyse.

Hierdie Gees-beheerde tweede bekering behels onder andere die wyse waarop ons oë oopgaan vir die nood langs die pad elke dag. Dat ons soos die Barmhartige Samaritaan verby ons eie voorkeure en gemaksug, die seer van ander sal sien, hulle innig jammer kry en prakties iets daaraan doen. Ons eerste bekering staan vas op Jesus se onvoorwaardelike liefde en genade, en net so kan ons onvoorwaardelik liefde leef in ons stukkende wêreld. Vrywillige gehoorsaamheid aan die wil van God wat die Gees op my hart skrywe, is bevrydend!

Tweede bekering vir Jesus-mense het te doen met mense met wie ek elke dag in aanraking kom, mense wat net soos elke Jesus-mens ook probleme en krisisse belewe. Een bedelaar vertel vir die ander bedelaar waar om die brood/Brood van die lewe/Lewe te kry. In my eie rykdom/Rykdom verlig ek die armoede/Armoede van ander. In my eie seerkry en Gees-genesing, gee ek salf/Salf vir die wonde van die beseerdes langs my pad.

Geniet net elke sekonde van jou tweede bekering!

Thursday, September 25, 2014

Oordenking 28 September 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 7:  Ek verwag Hom binnekort

“... Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie.” (2 Petrus 3:9b)

Ons kan so maklik ongeduldig raak as dinge nie vinnig genoeg gebeur na ons sin nie. Of dalk voel ons soms net lui en traak-my-nie-agtig. Of ons stel maklik uit om iets klaar te kry, want môre is nog ‘n dag. Of ons kan sommer net nie omgee wat gebeur nie, net geen bekommernis oor die uitkoms van ‘n saak nie. Al hierdie moontlikhede, en dalk sommer nog ander minder positiewe uitkomste, kan vir ons persoonlike lewe geld, maar ongelukkig is dit ook baie keer waar binne die kerk ...

... en ons Here is glad nie so nie!!!

Ons Here het sy eie tydsberekening: duisend jaar is soos een dag en een dag soos duisend jaar – niemand kan die tyd van sy weer kom na die aarde bereken volgens tyd nie. Hy slaap nooit nie en neem nooit verlof nie. Hy maak altyd die goeie werk, wat Hy reeds met Jesus in ons deur sy Gees begin het, klaar – volgens sy volmaakte tydsberekening. Hy is 100% betrokke by die volmaakte uitkoms van elke saak wat sy koninkryk raak. Wat sal die voorwaarde wees dat jy ook volledig deel is van die volmaakte uitkoms vir sy koninkryk?

Wees ‘n Jesus-mens met hoop, dit wil sê, kry ‘n positiewe uitkyk op die lewe vandag by die Bron van hoop, en daar sal vir jou ‘n beter môre wees!

Hoe onrustig voel jy oor die lewe in die algemeen? Hoeveel dringendheid ervaar jy as Jesus-mens dat dinge moet regkom? Hoe ernstig neem jy jou roeping om ander van Jesus te vertel? Hoe baie lê jy wakker in die nag oor die moontlikheid dat iemand naby aan jou verlore sal gaan sonder Jesus? Hoe direk raak die stukkende wêreld waarin ons elke dag moet oorleef, vir jou?

Ons Jesus is onrustig oor die verlore wêreld waarin ons is. Hy is dringend, Hy is ernstig, Hy gee regtig om, die stukkende wêreld raak Hom direk. Hy is in jou deur sy Gees en wil in jou dieselfde erns laat groei om hoop te gee vir elke situasie waarin ons lewe.

Hoe gouer jy met sekerheid ware hoop deur jou laat bring, hoe gouer kom Hy weer!!! Elke Jesus-mens is só reeds deel van die volmaakte voltooiing van God se koninkryk!!!

Thursday, September 18, 2014

Oordenking 21 September 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 6:  Ek sien ewigheidshoop

“Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” (Filippense 3:14)

Vir my as Jesus-mens, het hoop daarmee te doen dat ek vandag by God moed sal skep om gereed te wees vir die beter môre wat op ons wag. Moontlik stem dit ooreen met ander beskrywings van hoop wat ek raak gelees het tydens hierdie reeks van hoop waarmee ons besig is. Hoop het verseker te doen met ‘n positiewe uitkyk op die toekoms.

In die teologie word baie gemaak van die “reeds” en die “nog nie”, bedoelende dat daar reeds baie beloftes van die Bybel waar geword het, maar dat daar ook beloftes in die Bybel is wat nog nie waar geword het nie. So kan ons met geloofsekerheid bely dat Jesus as enigste Seun van God reeds volledig ons verlossing bewerk het, maar dat ons nog nie die volle betekenis daarvan duskant die graf ervaar nie. Of dat ons reeds 100% vergewe is vir alle sonde, maar nog nie 100% oorwinning in ons eie lewe oor sonde het nie. Of dat ons reeds ‘n vaste plek in die hemel het, maar nog nie in die hemel is nie. So is daar nog baie ander “reeds” en “nog nie” waarhede vir ons as Jesus-mense.

Nou gebruik Paulus die beeldspraak van ‘n wedloop waarmee ons reeds besig is. Jesus-mense het reeds weggespring in die ewigheidswedloop die oomblik toe ons Jesus in ons ingenooi het, in reaksie op sy roepstem. Tydens hierdie wedloop is daar hindernisse wat baie moeilik is om oor te kom en wat ons moedeloos maak. Maar ons  moedig mekaar, en ander wat saam hardloop aan, om moed te hou en veral gefokus te bly op die eindstreep. Tydens die wedloop is ons nog nie sonder swaarkry nie en is daar nog nie volkome rus nie, maar die vooruitsig van geen swaarkry en ware ewigheidsrus, help dat ons reeds aanhou en vasbyt.

Die wenstreep wat reeds wag beteken die hemelse prys vir elkeen wat daar uitkom. En die enigste manier om by die wenstreep en die hemelse prys (dit is die nog nie) te kom, is deur die krag en die uithouvermoë wat die Heilige Gees reeds in ons geloofspiere gee. Hierdie inspanning het alles te doen met ‘n volkome afhanklikheid van die Gees in ons – en so is ons as Jesus-mense reeds op pad hemel toe! Dit is reeds ons ewigheidshoop!

Wednesday, September 10, 2014

Oordenking 14 September 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 5:  Ek dra hoop uit

“Mag God ... julle vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.” (Romeine 15:13)

Wat kan ek as Jesus-mens doen om hoop uit te dra?

1.       Laat die Gees op jou hart skrywe wie die Bron van hoop vir jou, in jou eie lewe is!
 

2.       Laat die Gees jou oë oopmaak vir diegene wat nie sterk is in die geloof nie, en begin self iets daaraan doen om ‘n verskil in mense se lewens te maak.
 

3.       Laat die Gees jou selfloos iets goed laat doen aan jou naaste, juis omdat die Bron van hoop dit reeds vir jou doen.


4.       Laat die Gees toe om die voorbeeld van Christus jou hoogste motivering te maak, om ‘n draer van hoop na ‘n stukkende wêreld te wees.


5.       Laat die Gees-geïnspireerde-Skrif vir jou en ander standvastigheid en bemoediging bied.
 

6.       Laat die Gees vir jou ‘n gesindheid van eengesindheid onder mede-Jesus-mense bewerk.


7.       Laat die Gees jou vul met lof aan ons enigste Bron van hoop, op so ‘n wyse dat ander Hom in jou kan sien.


8.       Laat die Gees toe om alle vooroordele teenoor alle ander mense te verwyder, want Christus aanvaar jou onvoorwaardelik.


9.       Laat die Gees van jou ‘n dienaar maak in belang van sy koninkryk, en nie jou eie koninkryk nie.


10.   Laat die Gees jou ‘n draer maak van die beloftes van hoop wat oor geslagte heen oorgedra is met ‘n vaste sekerheid in die Bron van hoop.
 

11.   Laat die Gees vir jou egte vreugde gee in die uitdra van hoop.
 

12.   Mag die Gees jou vul met ware Goddelike vrede, omdat jy ‘n draer van hoop is.
 

Werk saam met die Gees om waarlik ‘n draer van hoop te wees!