Thursday, February 19, 2015

Oordenking 22 Februarie 2015

Genade slegs vir soekers.

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

(2 Korintiërs 12:9)

 Daar is al baie debatte gevoer en daar is uiteenlopende standpunte oor wat presies Paulus se “doring in die vlees” sou wees. Dis eenvoudig, as ons moes geweet het, sou hy vertel het. Die belangrikste is dat dit verseker iets baie moeilik was om te hanteer, en dat Paulus ‘n geweldige stryd daarteen gehad het – hy koppel selfs Satan se naam daaraan!

 Ek weet nie wat is jou grootste stryd of mees intense krisis of wakker-lê-in-die-nag-bekommernis nie, ja, jou “doring in die vlees”! Dit kan enige iets wees wat jou moedeloos, magteloos, broos, gefrustreerd, swak, hooploos, kragteloos, onseker, of hoe ook al laat voel. Dis verseker iets in jou lewe wat jy nie self kan verander nie. Dit is waarskynlik iets waarvoor jy nie gekies het nie. Dit kan ook iets wees wat niemand anders van weet nie, of wat niemand anders sal verstaan nie.

 Jy het al alles onder die son probeer om uit of deur of oor hierdie “DING” in jou lewe te kom. Jou planne is op, ander se raad is uitgeput, jy is in ‘n doodloopstraat, daar is geen lig in die tonnel nie. Moontlik is daar mense wat hier lees en redeneer dat dit nie vir hulle geld nie – sal ons sê, gelukkige hulle, of oneerlike hulle dalk? Verseker is daar baie wat ‘n “DING” het wat hulle mee loop, dag en nag.

 Die harde werklikheid vir diegene wat wel ‘n “DING” het, dit staan lynreg en radikaal teenstrydig teenoor God se genade! Die botsende kontras is onverstaanbaar en onverklaarbaar. Die “DING” en genade bots so erg, dat ons slegs tot een gevolgtrekking kan kom: ons verstaan glad nie. In ander woorde sou ons kan sê, Jesus-mense behoort nie ‘n “doring in die vlees” te hê nie.

 Tog is Jesus-mense die enigstes wie se “doring in die vlees” vir hulle hanteer word. Dis so eg deel van God se genadeplan vir ons op pad na volmaaktheid. Hoe meer ons ons eie magteloosheid besef, hoe beter is ons kans om genade raak te leef. Juis waar God se genade my enigste uitkoms is, waar ek totaal gestroop is van my eie bydrae om daaroor te kom, dan gebeur die onvoorspelbare en grenslose ingrype van God. Maar let wel, hierdie ingrype van God is op sy manier en tyd, ter wille van sy doel: Hy is met my op pad na volmaaktheid.

Thursday, February 5, 2015

Oordenking 8 Februarie 2015


Hoe ontvang ek egte genade?

“Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand kan roem nie.” (Efesiërs 2:9 Direkte Vertaling)

 Definisie:  Egte genade is God wat elke Jesus-mens deur sy Gees volledig verander om volmaak te word!

 Wat kan ek of moet ek nie doen nie, om hierdie genade te ontvang?

 ·         Ek leef egte genade alleen raak wanneer my alledaagse bestaan gelewe word in die permanente teenwoordigheid van God. Solank as wat ek net bid vir my eie behoeftes en wanneer my gebede meeste van die tyd net met alledaagse dinge te doen het, mis ek God se doel in my.

·         Alle geestelike verryking wat ek kan bekom deur Bybel te lees, ander Gees-geïnspireerde literatuur deur te werk, aan opbouende geloofsgesprekke deel te neem en enige blootstelling aan “geestelike kos” – vir wie of wat doen ek dit? Vir myself? Of vir wie God in my is? Daar is ‘n lewensbelangrike verskil!

·         Hoekom gaan ek kerk toe? Hoekom gee ek geld vir armes? Hoekom breek dit my hart as ander swaar kry? Hoekom wil ek vir ander raad gee wat uit my ervaringe baat kan vind? Is hierdie alles “goeie werke” wat ek onbewustelik nastreef om my posisie teenoor God te verbeter? Egte genade ontvang ek sonder enige bydrae of opoffering van my kant af!
 
·         Egte genade het volgens bogenoemde definisie te doen met God se einddoel van my lewe – wat is God se droom met my lewe op aarde? Daarom het egte genade te doen met die manier waarop God met my op pad is na sy doel met my.
 
·         Die “hoe ontvang ek”, het dus 100% te doen met wat God besig is om te doen op sý werkswyse en sý tyd en sý doel. Maar tog het ek ‘n keuse om saam te werk of nie, solank my vrywillige samewerking nie daarop neerkom dat ek dit vir my eie krediet neem nie.
 
·         Eintlik ontvang ek egte genade onverwags, onverdiend en onvoorspelbaar.
 
·         Egte genade ontvang ek in presies die regte “hoeveelheid’ wat ek kan hanteer op enige stadium van my lewe. Omdat dit God alleen is wat dit gee, gee Hy in volmaakte mates vir die groei na volmaaktheid.

Thursday, January 29, 2015

Oordenking 1 Februarie 2015

Wat is egte genade?

“Almal ... word ... op grond van sy genade vrygespreek ...” (Romeine 3:23 en 24)

 Leef God se genade raak in jou lewe! Maar die vraag is, hoe doen ek dit?

 Ons hoor die woord “genade” so baie in kerklike kringe. Paulus gebruik die woord baie – aan die begin en einde van amper al sy briewe in die Nuwe Testament. Maar wat beteken die woord “genade” presies? Kan ons ooreenkom op een definisie, wat volledig beskrywe wat egte genade is? Met “egte genade” bedoel ek daardie genade wat ons as Jesus-mense spesifiek wil raak lewe in ons eie omstandighede. Dit is daardie genade waarvoor ons ‘n kanaal wil wees, na ander wat nog nie God se genade raak lewe nie. Om self hierdie genade te ervaar én ‘n kanaal daarvoor na ander te wees, wil ons graag weet wat egte genade is.

 Natuurlik kan ons slegs “genade” verstaan vanuit die Woord van God. In ‘n poging om by ‘n definisie vir genade uit te kom, kan ons verskillende waarhede oor genade uitlig:

 ·         Slegs God kan hierdie genade moontlik maak: Hy is die Gewer en Bewerker en Bewaarder en Beskermer en Bemiddelaar en Bemaker en Vervolmaker van egte genade.

·         Egte genade het direk te doen met alle mense se verlorenheid as gevolg van die sonde. Sonder egte genade, is die mens verewig verlore.

 ·         Die grootste liefdesdaad te alle tye, was die sterwe van Jesus Christus aan die kruis – om te glo dat Hy vir jou sonde gesterwe het, is egte genade.

 ·         Volledige en afgehandelde vergifnis van alle sonde deur Jesus se verdienste alleen, is egte genade.

 ·         Egte genade verander steeds voortdurend die totale lewe van elke Jesus-mens.

 Kom ons gebruik nou al hierdie waarhede om een eenvoudige definisie van genade te gee:

 Egte genade is God wat elke Jesus-mens deur sy Gees volledig verander om volmaak te word!

 Dadelik lei hierdie beskrywing van genade, tot ‘n klomp ander vrae: Wat kan ek of moet ek nie doen nie, om hierdie genade te ontvang? Hoekom stel almal nie regtig belang om hierdie God-bewerkte-genade te ontvang nie? Wat is die verskil tussen genade, liefde en goedheid wat net God kan gee? Hoekom is die pragtige skepping van God so ‘n genadelose-plek in soveel opsigte? Hoe kan elke Jesus-mens ‘n beter kanaal van egte genade wees? Kom ons kyk hoeveel van hierdie vrae en moontlik nog ander vrae oor genade, kan ons in die volgende weke antwoord.

Thursday, January 22, 2015

Oordenking 25 Januarie 2015

Grenslose genade!

“... sodat God ... sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is ...” (Efesiërs 2:7)

Op so baie terreine van ons lewe, lyk dit asof dinge erg verkeerd loop: die kerke loop leeg, die aarde word deur die mens vernietig, politieke geskille is aan die orde van die dag, ekonomies is baie onsekerhede, families skeur uitmekaar, persoonlike probleme word nie minder nie. In so baie opsigte is die wêreld waarin ons moet lewe, ‘n genadelose plek. Jammer vir die negatiwiteit, maar te veel hiervan is die werklikheid. En hierdie negatiewe werklikheid, maak ons baie maklik depressief en moedeloos.

Almal van ons hou op een of ander manier van goeie nuus, in die slegte dinge wat ons hoor en belewe. In tye waarin ons oordonder word deur slegte berigte en baie negatiwiteit, smag ons na enige moontlike opbouende boodskap. En as Jesus-mense wil ons mekaar moed inpraat en wil ons die positiewe invloed wees, ja, die lig in ons donker wêreld wees.

Maar selfs in die gevestigde kerk, het ons nie oor die jare daarin geslaag om goeie nuus in slegte tye op die regte manier oor te dra nie. Daar is te veel verskille binne die kerk oor so baie standpunte. Daar is so min liefde tussen kerkmense self. Die kerk is so veroordelend in die boodskappe oor die sonde en die wandade van die mensdom. Daar is heeltemal te veel skuldgevoelens en te veel wette wat oortree word. So baie kere stel ons mekaar teleur en maak ons mekaar selfs seer deur ons woorde en dade. Iets kort steeds baie drasties vir ons as Jesus-mense!

                Jesus-mense lief genade!!!

Ja, ons en alle ander mense, smag eintlik na genade! Maar wat is genade presies? Is dit nie net nog ‘n “kerk-woord” wat dogma en teorie bly nie? Hoekom ervaar ons so min genade, selfs binne die kerk, of selfs onderling tussen Jesus-mense?

Genade het volledig te doen met die goeie nuus, wat God aan ons bewys het met Jesus se volmaakte en liefdevolle verlossingsdaad aan die kruis. Hierdie goeie nuus van genade, het ‘n rykdom van fasette om raak te lewe. Die grootste en belangrikste waarheid rakende genade, is dat God die ware Gewer en Bewerker van suiwer en oorvloedige genade is! Hierdie God-gegewe-genade het geen grense in terme van hoeveelheid nie – daar is onberekenbaar baie by God self te kry. Hierdie God-gedrewe-genade is vir alle mense op aarde bedoel, ongeag wie of wat jy is, of hoe goed of sleg jy is!

                Leef God se genade raak in jou lewe – dis grensloos!

Thursday, January 15, 2015

Oordenking 18 Januarie 2015


Ons allerhoogste bestaansrede!

“... en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” (Filippense 1:11)

Aan die begin van ‘n nuwe jaar, is dit baie goed vir ons as Jesus-mense om die onbeweegbare en onbetwisbare fondasie van ons lewe net weer vas te maak. Ons kan vra: wat is ons belangrikste bestaansrede? Ons teksvers hierbo, is een van die mooi samevattings van die rede waarom elke Jesus-mens belangrik is. Maar hoe gebeur dit vir elkeen van ons? Hoe kan ek God se doel met my, raak lewe?

 ·         Leef God raak!

Elke Jesus-mens tel onder die gelukkigste bewoners van hierdie aarde, omdat ons die voorreg het om vir ewig en altyd aan God te behoort. Daarvoor het Hy sy enigste Seun vir ons gegee as volmaakte Verlosser. Die allerbeste Gees van God kom doen in elkeen van ons sy volledige herstelwerk, sodat ons hoe langer hoe meer raak leef wie Hy in elkeen van ons is. Ek en jy, leef en bestaan om God te ken, Hom bo alles lief te hê, en te groei in Godskennis!

 ·         Leef mede-Jesus-mense raak.

Met die groeiende bewuswording van Hom in my en in jou, kyk ons met ‘n radikale positiewe gesindheid na mekaar. In ons alledaagse lewe, bid ons vir mekaar, help mekaar waar nodig en is daarop ingestel om mekaar se lewe makliker te maak. Met egte God-liefde in elkeen van ons, leef ons spontaan en vrywillig en sonder vooroordele in liefde teenoor mekaar. Ons bestaan om te kan liefhê!

·         Leef nie-Jesus-mense raak.

Maar die goeie nuus dat God werklik met sy opregte liefde in elkeen van ons is, kan ons onmoontlik vir onsself hou. Daagliks het elkeen van ons op een of ander manier te doen met die seerkry in ander se lewens, ja, die geestelike en fisiese honger van ‘n verlore wêreld waarin ons lewe. Vandag is dit ons grootste voorreg om die honger van ander te verlig – ons het die Antwoord vir die wêreld se grootste nood: Jesus-liefde!

Hierdie is die allerhoogste rede waarom ons in 2015 hier op aarde is!

 

Thursday, December 11, 2014

Oordenking 14 Desember 2014

Om Hom sonder vrees te dien

"... dat ons ... Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe.” (Lukas 1:73 tot 75)

 God het sy Allerbeste vir ons gegee met die volmaakte verlossing wat Jesus vir ons op aarde kom voltooi het. Hoe kan ons dit die beste Kersfees ooit vir Jesus maak? Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel? Die beste Kersfees ooit, sal gaan oor wie Jesus is. In die raak leef van jou eie geringheid voor God, word Jesus die Grootse Een in Kersfees 2014.

 Ons is besig om te kyk na die Lukas Evangelie se weergawe van die Jesus-geboorte. Vir Lukas is die geboorte van Johannes die Doper, as wegbereider vir Jesus se geboorte, ‘n baie belangrike deel van die vertelling. Op ‘n gevorderde leeftyd word Elisabet swanger. Haar priesterman, Sagaria, besing die wonder van Jesus wat sou kom en die geboorte van hulle eie seun, Johannes, in ‘n loflied.

God se grootheid word besing omdat Hy die Jode se verwagting van ‘n Verlosser beantwoord. Oor baie geslagte is hierdie verlange na die Messias lewendig gehou. Maar Sagaria se eie seun sal ‘n uiters belangrike rol speel in die voorbereiding van Jesus se koms. Johannes die Doper sal reeds spesifieke waarhede bekend maak, voordat Jesus daarop sal voortbou.

 Die beste Kersfees ooit, sal onder andere beteken dat elkeen van ons, soos asof vir ‘n eerste keer, die grootheid van God se genade, wat in Jesus self vir ons ‘n werklikheid is, sal uitleef. Nooit kan enige een van ons sê dat ons reeds die hoogtepunt van erkenning aan God bereik het nie. Daar sal jaar na jaar, Kersfees na Kersfees, vir ons die ruimte wees om te verbeter, te groei, te vorder, te klim. Die ruimte vir hierdie vordering jaar na jaar, kan slegs wees in wie God besig is om in ons te word.

 Op pad na die beste Kersfees ooit, verdwyn alle vrees vir God, en word ons meer en meer met die hoogste ontsag en bewondering vir Hom gevul. In hierdie groeiproses word die behoefte om Hom te dien met opregtheid net al hoe groter en dringender. So sal niemand van ons kan sê dat ek as Jesus-mens dit regkry dat Hy my hele lewe totaal en al oorgeneem het nie – ons hou elkeen ‘n deeltjie vir onsself terug en vergeet selfs groot dele van die dag van Hom.

Johannes die Doper se boodskap voor Jesus se geboorte was, dat Jesus die weg en die waarheid en die lewe is. Maak hierdie Kersfees die beste deur Jesus met groter dringendheid uit te leef as die ENIGSTE WEG TOT DIE LEWE !!!

Thursday, December 4, 2014

Oordenking 7 Desember 2014


Om gering voor God te lewe

"... omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.” (Lukas 1:48a)

 Ons maak gereed vir die beste Kersfees ooit! Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel? Uiters bepalend is die gesindheid waarmee elkeen van ons gereed maak vir dié Jesus wat vir ons mens geword het.

 Ons is besig om te kyk na die Lukas Evangelie se weergawe van die Jesus-geboorte. Ons het reeds gehoor hoe die moeder van Jesus, haarself aan die Here beskikbaar stel vir die Heilige Gees se ingrype om swanger te word. Haar familielid Elisabeth is ook swanger met die wegbereider vir Jesus se koms, Johannes die Doper. En so ondersteun die twee swangervrouens mekaar sodat Elisabeth selfs van vreugde uitroep oor die moeder van die Here se Kindjie wat op pad is. Maar dan die merkwaardige “loflied van Maria”:

 Die grootheid van ons Verlosser word besing ... die mag waarmee Hy dinge sal doen ... sy opregte omgee oor geslagte heen ... die krag waarmee Hy in beheer sal wees ... sy passie vir diegene wat swaarkry ... die waarborg dat al die beloftes rondom Hom waar sal word ...

 ... en dit alles in die volgende gesindheid: "... omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.”

 Aan meer opregte nederigheid kan ek myself nie indink nie. Die vrou wat geboorte gegee het aan die enigste Verlosser van alle tye, beskou haarself as gering. Sy voel klein vir die voorreg om ma van Jesus te wees. In haar eenvoud begryp sy iets van die buitengewone kontras tussen haar en haar Kind! In die woorde van haar loflied, word daar baie oor die Kindjie in haar gesê en tog ook baie min oor haarself.

 Maar wat Maria oor haarself sê, is van grootse betekenis. Die grootsheid van wie Maria in haar geringheid is, word selfs buite verband geruk deur die ophef wat die Rooms Katolieke Kerk van haar maak. In buite-Bybelse Griekse literatuur is die moeder van God bekend as die Theotokos. Vir ons as Gereformeerdes het sy verseker nie haar bevoorregte posisie kop toe gevat nie. Vir haar het dit baie eerder gegaan oor wie Jesus is.

 Die beste Kersfees ooit, sal gaan oor wie Jesus is. Dit sal veral gaan oor wie Hy is, in kontras met elkeen van ons. In die raak leef van jou eie geringheid voor God, word Jesus die Grootse Een in Kersfees 2014.