Thursday, December 11, 2014

Oordenking 14 Desember 2014

Om Hom sonder vrees te dien

"... dat ons ... Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe.” (Lukas 1:73 tot 75)

 God het sy Allerbeste vir ons gegee met die volmaakte verlossing wat Jesus vir ons op aarde kom voltooi het. Hoe kan ons dit die beste Kersfees ooit vir Jesus maak? Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel? Die beste Kersfees ooit, sal gaan oor wie Jesus is. In die raak leef van jou eie geringheid voor God, word Jesus die Grootse Een in Kersfees 2014.

 Ons is besig om te kyk na die Lukas Evangelie se weergawe van die Jesus-geboorte. Vir Lukas is die geboorte van Johannes die Doper, as wegbereider vir Jesus se geboorte, ‘n baie belangrike deel van die vertelling. Op ‘n gevorderde leeftyd word Elisabet swanger. Haar priesterman, Sagaria, besing die wonder van Jesus wat sou kom en die geboorte van hulle eie seun, Johannes, in ‘n loflied.

God se grootheid word besing omdat Hy die Jode se verwagting van ‘n Verlosser beantwoord. Oor baie geslagte is hierdie verlange na die Messias lewendig gehou. Maar Sagaria se eie seun sal ‘n uiters belangrike rol speel in die voorbereiding van Jesus se koms. Johannes die Doper sal reeds spesifieke waarhede bekend maak, voordat Jesus daarop sal voortbou.

 Die beste Kersfees ooit, sal onder andere beteken dat elkeen van ons, soos asof vir ‘n eerste keer, die grootheid van God se genade, wat in Jesus self vir ons ‘n werklikheid is, sal uitleef. Nooit kan enige een van ons sê dat ons reeds die hoogtepunt van erkenning aan God bereik het nie. Daar sal jaar na jaar, Kersfees na Kersfees, vir ons die ruimte wees om te verbeter, te groei, te vorder, te klim. Die ruimte vir hierdie vordering jaar na jaar, kan slegs wees in wie God besig is om in ons te word.

 Op pad na die beste Kersfees ooit, verdwyn alle vrees vir God, en word ons meer en meer met die hoogste ontsag en bewondering vir Hom gevul. In hierdie groeiproses word die behoefte om Hom te dien met opregtheid net al hoe groter en dringender. So sal niemand van ons kan sê dat ek as Jesus-mens dit regkry dat Hy my hele lewe totaal en al oorgeneem het nie – ons hou elkeen ‘n deeltjie vir onsself terug en vergeet selfs groot dele van die dag van Hom.

Johannes die Doper se boodskap voor Jesus se geboorte was, dat Jesus die weg en die waarheid en die lewe is. Maak hierdie Kersfees die beste deur Jesus met groter dringendheid uit te leef as die ENIGSTE WEG TOT DIE LEWE !!!

Thursday, December 4, 2014

Oordenking 7 Desember 2014


Om gering voor God te lewe

"... omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.” (Lukas 1:48a)

 Ons maak gereed vir die beste Kersfees ooit! Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel? Uiters bepalend is die gesindheid waarmee elkeen van ons gereed maak vir dié Jesus wat vir ons mens geword het.

 Ons is besig om te kyk na die Lukas Evangelie se weergawe van die Jesus-geboorte. Ons het reeds gehoor hoe die moeder van Jesus, haarself aan die Here beskikbaar stel vir die Heilige Gees se ingrype om swanger te word. Haar familielid Elisabeth is ook swanger met die wegbereider vir Jesus se koms, Johannes die Doper. En so ondersteun die twee swangervrouens mekaar sodat Elisabeth selfs van vreugde uitroep oor die moeder van die Here se Kindjie wat op pad is. Maar dan die merkwaardige “loflied van Maria”:

 Die grootheid van ons Verlosser word besing ... die mag waarmee Hy dinge sal doen ... sy opregte omgee oor geslagte heen ... die krag waarmee Hy in beheer sal wees ... sy passie vir diegene wat swaarkry ... die waarborg dat al die beloftes rondom Hom waar sal word ...

 ... en dit alles in die volgende gesindheid: "... omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.”

 Aan meer opregte nederigheid kan ek myself nie indink nie. Die vrou wat geboorte gegee het aan die enigste Verlosser van alle tye, beskou haarself as gering. Sy voel klein vir die voorreg om ma van Jesus te wees. In haar eenvoud begryp sy iets van die buitengewone kontras tussen haar en haar Kind! In die woorde van haar loflied, word daar baie oor die Kindjie in haar gesê en tog ook baie min oor haarself.

 Maar wat Maria oor haarself sê, is van grootse betekenis. Die grootsheid van wie Maria in haar geringheid is, word selfs buite verband geruk deur die ophef wat die Rooms Katolieke Kerk van haar maak. In buite-Bybelse Griekse literatuur is die moeder van God bekend as die Theotokos. Vir ons as Gereformeerdes het sy verseker nie haar bevoorregte posisie kop toe gevat nie. Vir haar het dit baie eerder gegaan oor wie Jesus is.

 Die beste Kersfees ooit, sal gaan oor wie Jesus is. Dit sal veral gaan oor wie Hy is, in kontras met elkeen van ons. In die raak leef van jou eie geringheid voor God, word Jesus die Grootse Een in Kersfees 2014.

Wednesday, November 26, 2014

Oordenking 30 November 2014

Om tot beskikking van God te wees

"Ek is tot beskikking van die Here.” (Lukas 1:38a)

 Kom ons maak gereed vir die beste Kersfees ooit! Hoekom? Omdat dit elke Jesus-mens se eie wilsbesluit is om nie net te oorleef van jaar tot jaar nie, maar om elke dag met ‘n splinternuwe verwagting te lewe! Ja, nie net oorleef nie, maar meer intens te lewe en met baie groter invloed te lewe. Beplan ‘n spesiale Kersfees, neem nuwe besluite oor Kersfees, wees gereed vir ‘n totale ommekeer deur die Gees van God in jou! Hoe kan hierdie Kersfees die beste ooit vir jou as Jesus-mens wees?

 Kom ons gaan kuier vir ‘n tydjie by die Lukas Evangelie se vertelling rondom die geboorte van Jesus. Die engel Gabriël verskyn aan Maria om haar voor te berei op die geboorte van haar Seuntjie, Jesus. Hy vertel vir haar wie hierdie besondere Kind van haar gaan wees: Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” Maar dan is sy ‘n maagd, wat nog geen seksuele omgang met haar verloofde, Josef, gehad het nie, sodat sy moet hoor: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.” Want let op wat sê die engel: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

 Maar dan antwoord Maria met hierdie besonderse woorde: "Ek is tot beskikking van die Here.” Kersfees in hierdie wêreld het onder andere begin met Maria se gewilligheid om beskikbaar te wees vir die geboorte van die Verlosser van alle tye!

Jou en my beste Kersfees kan begin met ons elkeen se gewilligheid om beskikbaar te wees om die Verlosser van alle tye aan die wêreld bekend te maak en uit te leef. Die beste Kersfees ooit gaan oor ‘n nuwe beskikbaarheid vir Jesus self! Slaan ‘n totaal nuwe blaadjie om vir hierdie Kersfees. Laat die Gees toe om jou nuut te laat dink, oor hoe hierdie Kersfees die beste ooit vir Jesus kan wees!

Hoe gaan jy Kersfees deurbring? Waarop gaan jou hooffokus wees? Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel?

Friday, November 21, 2014

Oordenking 23 November 2014

Om aan God eer te gee

"Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee ... ?” (Lukas 17:18)

 Hoe dikwels lewe ons nie tussen die twee uiterstes nie: aan die een kant aanvaar ons te veel dinge as vanselfsprekend, en aan die ander kant kan ons voel dat ons nie genoeg waardeer wat ons het nie.  Elke Jesus-mens kan verskillend reageer op die grootste genesing van alle sonde, wat ons gratis en onvoorwaardelik, ontvang het: dit maak geen verskil in ons lewenswyse nie, of ons voel ons kan net nie genoeg doen om dankie te sê vir vergifnis nie.

In Lukas 17 word tien melaatses deur Jesus genees, en net EEN draai om nadat hy genees is, om Jesus te bedank! En dan is hy nog ‘n Samaritaan, die aartsvyande van die Jode! En Jesus se vraag aan die geneesde melaatse: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege?”

 Wat is die belangrikste genesing, waarsonder geen mens kan lewe nie? Ja, vergifnis van alle sonde is die grootste genesing wat Jesus alleen deur die gawe van geloof moontlik maak. Hierdie genesing ís reeds vir almal in plek – elkeen moet dit net hoor en aanvaar.

 Waarvoor wil ons na Jesus teruggaan, nadat ons genesing van alle sonde ontvang het?

1.       Om Hom alle eer te gee. Om 24 uur 7 dae 'n week 365 dae van die jaar bewustelik en onbewustelik erkenning aan Hom te gee vir wie Hy vir my persoonlik is. In my innerlike en intieme en unieke belewenis van Hom, groei ek in die weinig wat ek wel van Hom verstaan.

 2.       Om daadwerklik my lewe aan Hom te wy. Deel van my dankie-lewe-vir-vergifnis, is om Hom te soek, te vertrou, te laat oorneem deur sy Gees, te bemin, te ... Nooit is dit genoeg van Hom vir my, alhoewel Hy altyd sy oorvloed vir my beskikbaar het, volgens sy standaarde.

 3.       Om aan die mense in my lewe en op my pad en uit my pad te wys, wie Hy in my lewe is. Hiervoor verander die Gees my denke oor ander. Hiervoor verander my prioriteite van alles en almal in my lewe. Dit raak selfs diegene naaste aan my. Dit raak my beursie. Dit raak my sosiale lewe en vriende.

 Moenie teruggaan na Jesus met die deurbraak van volkome vergifnis om nog van jou eie selfsugtige behoeftes aan Hom oor te laat nie. Hy weet beter wat jy nodig het, sonder dat jy vra!

 86 400 sekondes elke dag omdraai na Jesus om Hom te bedank, dit is om God te eer!

Thursday, November 13, 2014

Oordenking 16 November 2014

Om te gee sonder om te ...

"Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed ...” (Lukas 14:14)

 Ons is besig om as Jesus-mense na te dink oor die praktiese effek van ons tweede bekering. Wat  kan ons verwag van hoe die Gees in ons, ons manier van dink en ons leefwyse verander?

 Jesus eet en kuier saam die belangrike mense van sy tyd, iets wat nie juis sy gewoonte was nie. Hy het baie eerder saam met die sukkelaars en siekes tyd deurgebring. Moontlik besef ons nie hoe groot die kloof tussen ryk en arm, tussen die gesienes en die agtergeblewenes in die Bybelse tyd was nie. Amper soos die verskil tussen die omstandighede in Woodhill Golflandgoed in die ooste van Pretoria en Refilwe nedersetting by Cullinan.

Die vooraanstaandes was baie eisend om die heel beste sitplekke in te neem by die samekoms van belangrike mense. Daar was 'n vasgestelde protokol waarvolgens die kerkleiers en die geleerdes posisie ingeneem het aan tafel en by ander geleenthede, onder andere soos by troues. Nou vertel Jesus hoe ons juis by sulke geleenthede iets kan ervaar van beskeidenheid en gasvryheid. Maar dit gaan oor baie meer as net die beste plekke by 'n bruilof - dit gaan oor 'n permanente, totaal ander lewensingesteldheid, teenoor alle ander mense, in alle omstandighede.

 Ons redeneer so maklik ons werk hard vir al die voorregte en luukshede wat ons geniet – daarom hoef ons nie daaroor skuldig te voel nie. Of ons redeneer dat, as ons darem net ook uitdeel vir ander wat nie so baie soos ons het nie, dan is ons mos oukei. Moontlik kry meeste van ons dit reg om nie openlik neer te sien op ander nie, solank hulle net nie te veel van ons verwag nie. Dit is darem gerieflik om nie bekommerd te wees oor môre se kos of die volgende vakansie se petrolgeld nie. Meer as 90% ander mense op aarde kan nie dieselfde sê nie.

 Te maklik gee ons voorwaardelik. Te maklik gee ons met die bedoeling om iets terug te kry. Ons nooi julle vir ete sodat julle ons kan terug nooi, of ons nooi net mense wat kan terug nooi. Nog erger, ek gee en doen vir die Here, want Hy kan so baie terug doen en Hy kan so baie vir ons gee.

 Mag die Gees ons omvorm om te gee sonder om te ... só gee Jesus!

Thursday, November 6, 2014

Oordenking 9 November 2014

Ek is vergewe!

“Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?  ... Ek doen dit ook nie.” (Johannes 8:10 en 11)

 Die resultaat van die Gees van God se werk in elke Jesus-mens, is net onbeskryflik bevrydend. Soos wat ons die Gees toelaat om al hoe meer ons gedrag te bepaal, kyk ons met totaal ander oë na elke mens op hierdie aarde. Ja, ons kyk deur Jesus se genade-gevulde oë, nie-veroordelend na elke sondaar en elke skuldenaar en elke boef. Die vrug van die Gees is, om met ‘n nuwe hart onvoorwaardelike vergewensgesindheid teenoor alle mense te openbaar!

 ‘n Vrou, wat die groot sonde van seksuele ontrou in haar huwelik gepleeg het, en in amper alle mense se oë sleg en verdoem is, word na Jesus gebring. Dis juis die oënskynlike onskuldige kerkleiers wat met ‘n gesindheid van veroordeling, Jesus self probeer plaas in die beskuldigde bank. In Jesus se tyd was owerspel met die doodgooi van klippe strafbaar - vandag nog word hierdie tipe oortreding steeds figuurlik met steniging gestraf.

 Dan skryf Jesus iets op die grond. Vir eeue sedertdien, word bespiegel wat Jesus geskryf het. Hy het eintlik twee keer iets geskrywe op die grond. Moontlik die eerste keer ‘n boodskap aan die aanklaers, wie Jesus uitnooi om die eerste klip te gooi. Dalk was die tweede boodskap aan die veroordeelde vrou gerig. Ons weet nie. Maar nadat Jesus op die grond geskrywe het, is niemand bereid om ‘n klip te gooi nie en vertrek die aanklaers een vir een. Ek raai Jesus kon vir die vrou geskrywe het: “Jy is vergewe!”

 Sonder enige teenprestasie van die oortreder, sonder enige skuldbelydenis, sonder enige verduideliking deur die sondaar, spreek Jesus haar vry. Net die positiewe aanmoediging om nie meer te sondig nie. Die nie-veroordelende optrede van Jesus, het ‘n nuwe lewe vir ‘n verworpene tot gevolg. Sonde-oorwinning volg op vergifnis en vryspraak.

 Die vermoë om mekaar nie te veroordeel nie, is die werking van die Gees in ons. Net so is dieselfde Gees in ons besig om ons lewensbenadering te herprogrammeer, sodat sonde al hoe minder ‘n rol in ons lewe speel. Soos wat elke Jesus-mens ontdek: “Ek is vergewe!”, net so groei ons daarin om vir elke ander mens op aarde te kan sê: “Jy is vergewe!” Vergifnis maak vry: dit bevry myself én is bevrydend teenoor ander mense.

Thursday, October 30, 2014

Oordenking 2 November 2014

Om vrugte te dra

“Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.” (Lukas 13:8)

 So maklik dink ons Jesus-mense dat dit met ons eie inspanning is dat ons vrugte dra wat by ons bekering pas. So maklik word die dinge wat ons vir die Here doen 'n las en plig. Die wonderlike dinge wat ons vir die Here doen, word maklik iets om mee te spog. Ons het dan tyd en geld opgeoffer. Bewustelik en onbewustelik verdien ons krediete agter ons goeie naam!

 In die gelykenis van onvrugbare vyeboom leer ons egter iets totaal anders. Hierdie vyeboom staan in die eienaar se wingerd geplant. Vir drie jaar soek hy elke jaar in vyetyd vrugte aan die boom en dan is daar niks. Nou gee die eienaar opdrag aan die tuinier om die vyeboom sonder vrugte uit te kap, want dit put net die grond uit. Die tuinier vra grasie, ja, nog 'n kans om iets aan die vrugtelose boom te doen. Die tuinier neem verantwoordelikheid, vra nog 'n jaar kans om, om te spit en te bemes.

Ons enigste God is die eienaar van die wingerd en die vyeboom daarin. Die vyeboom is simbool vir ons as Jesus-mense. Ons staan in God se wingerd geplant. Jesus is die tuinier wat deur die Gees van God verantwoordelikheid neem vir die wingerd met die vyeboom in. Die Tuinier met 'n hoofletter werk in die wingerd van God. Hy sorg dat dit omgespit en bemes word, sodat die vrugtebome vrugte kan dra. Geen vrugteboom is in staat om sonder die Tuinier se ingryping vrugte te dra nie.

 Wat beteken dit vir ons? Ons kan net seker maak ons staan geplant in God se wingerd, daar wil ons wees met alles in ons. En binne die kragveld van die Gees se werk, sal daar vrug wees! Soms gaan die "omspit en bemes" met pyn en seerkry gepaard. Ander kere is dit pure plesier om te ervaar dat daar net die wonderlikste dinge deur ons gebeur, sonder enige inspanning deur ons.

 Die verrassing is dus, dat vrug dra in God se koninkryk 'n Gees-werking is, solank ons net in die wingerd is.