Thursday, February 25, 2016

Oordenking 28 Februarie 2016

Jesus-mense plaas AL hul vertroue op Hom!
“As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die geloof vra.” (Matteus 21: 22)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe.

In een of ander opsig sien elkeen van ons uit na iets beter in die toekoms. Natuurlik sal almal nie saamstem met hierdie stelling nie. Daar is diegene wat altyd heeltemal tevrede is met alles in hulle lewe en geen behoefte het dat enige iets verander nie. Maar dan is daar definitief ‘n groep mense onder ons wat ernstig verlang na beter dae om baie uiteenlopende redes. Jesus self wil ons leer hoe om ‘n beter toekoms te benader.

In Matteus 21 word Jesus honger en loop verby ‘n vyeboom vol blare, maar sonder vrugte. Hy vervloek net daar op die plek hierdie vrugtelose boom! Hoekom so drasties? Hierdie vrugtelose vyeboom verwys na die Joodse volk. Reeds in die Ou Testament het die Here die volk Israel by herhaling gewaarsku deur verskillende profete dat hulle nie volgens sy wil lewe nie. Nou bevind Jesus Hom self hier tussen die Jode van sy tyd en spreek hierdie drastiese vloek uit oor die Joodse volk. Hy het aarde toe gekom om vir Hom ‘n nuwe volk te kom uitkies met ‘n nuwe toekoms. Ons kan by Jesus self leer wat dit beteken om deel te wees van sy nuwe volk met ‘n nuwe toekoms.

In Jesus se nuwe koninkryk is Hy die enigste hoop op ‘n beter toekoms. En waar Hy volledig verantwoordelikheid neem in sy ryk, gebeur groot dinge: “Julle sal vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.” (Matteus 21:21) Met Jesus in beheer en met sy volmaakte standaarde waarvolgens Hy optree, sal alles gebeur wat moet gebeur ... en Hy nooi elkeen van ons persoonlik uit om te kom inval by sý magtige dade!

Prakties beteken dit vir elke Jesus-mens:
o   maak daagliks seker jy is nie besig om jou eie kop te volg ten koste van Jesus se plan in jou lewe nie;
o   doen moeite en wees meer oplettend van waar Jesus reeds besig is om jou lewe te verbeter; en
o   gee jou volle medewerking met Jesus se Gees in jou.

Hiermee gee ek vir jou die waarborg dat jy presies sal bid en ontvang wat Hy die graagste wil!

Wednesday, February 17, 2016

Oordenking 21 Februarie 2016

Jesus-mense dien graag nederig soos Hy!

“Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” (Matteus 20: 28)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe.

Fokus vir die oomblik op die Een wat aan die Woord is: Jesus, ons reddende en genadige ware Verlosser; die belangrikste Een wat ooit sy voete op ons aarde kom sit het; die lewende Here deur sy Gees teenwoordig vandag ... hoe sal jy Hom vir jouself beskryf?

In Matteus 20 is Hy besig om sy volgelinge in te lig oor die doel waarom Hy hier op aarde as mens kom optree het. Hy berei hulle voor om sy werk voort te sit na sy vertrek. Terwyl Hy hier was, het sy volgelinge moeilik verstaan wat Hy alles vir hulle gesê het. Dit was eers na sy vertrek en toe hulle terugdink aan alles wat hulle by Hom gehoor en beleef het, dat dit vir hulle duideliker geword het.

Twee leringe van Jesus staan uit in hierdie uitspraak van Jesus:

1.      Die belangrikste Een wat ooit sy voete op ons aarde kom sit het, “het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien”.

Die ma van twee van Jesus se klein binnekring dissipels, onderhandel vir die vernaamste plekke in Jesus se koninkryk. Mense soek erkenning en wil raakgesien word. Jesus draai dit om met sy eie woorde en sy eie voorbeeld. Vir Hom gaan dit nie oor baasspeel en mag nie. Vir Hom gaan dit oor nederigheid en dienswilligheid - twee Gees-gedrewe eienskappe in Jesus-mense.

2.      Ons reddende en genadige ware Verlosser, het “sy lewe gegee as losprys vir baie mense.”

Die kernmotivering vir nederigheid en dienswilligheid, vind ons in die opoffering en pyn wat Jesus vir ons Jesus-mense deurgegaan het. Hy is verneder, bespot, valslik veroordeel, gegesel, moes sy eie kruis dra, sterf die vloekdood aan die kruis. Ja, Hy gee sý lewe as losprys vir elkeen wat dit wil glo. Die groeiende verstaan van wat Hy betaal het vir óns redding, word deur die Gees gebruik om ons lewens te verbeter.

Die vernietigende vernedering en die intense pyn van Jesus, motiveer vir my en jou om met ‘n nuwe ingesteldheid Hom te dien in ons daaglikse lewe.
 
Luister mooi: Jesus in jóú, verbeter jou en ánder se lewens!

Thursday, February 4, 2016

Oordenking 7 Februarie 2016


Jesus-mense reageer op Sy influistering

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe. Ons loop so naby aan Hom, dat die stof van sy voete op ons kom. Ons loop so naby aan Hom, dat ons kan hoor wat Hy vir ons voorsê:

1.      “Kom tot inkeer ...” (Matteus 4:17)

Jesus begin, letterlik vertaal, sy eerste preek met hierdie woorde. Die bekender vertaling is “bekeer julle”. Hierdie is die begin en voortsetting van elke Jesus-mens se daaglikse verbintenis aan Hom en jou aanhoudende rug draai op alles wat verkeerd is. En tegelyk jou gesig draai na Hom, die enigste Een wat goed is.

2.      “Kom agter My ...” (Matteus 4:19)

Ook vertaal met “volg My”. Hoe ons dit ook al sê, die keuse is om ons Leier te volg in alles wat ons by Hom kan leer. Hy wys nie net die pad nie, Hy ís die enigste Pad!

3.      “Gaan verkondig ...” (Matteus 10:7)

Ons het IETS om te vertel en IEMAND om oor te vertel. Ons kan nie stilbly nie, by ons mond kom die woorde uit waarvan ons Jesus-harte oorloop. Elkeen van ons word vol gemaak van sy liefde en genade, dat dit oorloop en oorspoel en oorstroom na almal wat ons paaie kruis.

4.      “Kom na My toe ...” (Matteus 11:28)

Die mees gerusstellende aanmoediging van Hom. Baie spesifiek en gefokus gerig aan elkeen wat swaar kry en moed opgee. By Hom en slegs by Hom, is daar altyd rus en vrede. Soek en vind dit net op die regte Manier en die enigste Plek.

5.      “... homself verloën ...” (Matteus 16:24)

Letterlik in die Grieks behoort elke Jesus-volgeling, homself “afsweer/ontken”. Kies om van jouself gestroop te word om vir Hom plek te maak in jou lewe. Hierdie selfverloëning kry nooit klaar nie en maak plek vir God-verheerliking.

6.      “God liefhê ...” (Matteus 22:37)

Geen inspanning, geen verdienste, geen prestasie, geen vergelyking met ander – nee, God se Gees skryf liefde op Jesus-harte. En só word liefde ons uitstaande eienskap tot eer van Hom!

7.      “Moenie bang wees nie.” (Matteus 28:10)

Die uit-die-dood-opgewekte-reeds-gekruisigde-Jesus se eie woorde, steeds vandag aan elke liewe kind van Hom!

Thursday, January 28, 2016

Oordenking 31 Januarie 2016

Jesus-mense leef ander se seerkry raak

“Hy het hulle innig jammer gekry ...” (Matteus 14: 14b)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe. Ons loop so naby aan Hom, dat die stof van sy voete op ons kom.

In Matteus 14 gebeur ‘n reeks tragiese en ontstellende dinge in Jesus se lewe terwyl Hy tussen mense van sy tyd rondbeweeg. Eerstens word Johannes die Doper onthoof deur Herodes, en dit omdat hy juis bekend was as profeet wat die mense voorberei het op Jesus se koms. Tweedens stroom ‘n groot menigte mense agter Jesus aan, waaronder baie siekes. En laastens bevind Jesus Hom op ‘n afgeleë plek tussen 5000 mans, sonder vrouens en kinders, wat kos moet kry. Wat leer ons by Jesus in hierdie ontstellende omstandighede?

Die wrede moord op Johannes die Doper, ontstel Jesus so, dat Hy Homself afsonder op ‘n stil plek – sy hart is gebreek, Hy treur en wil alleen wees. Jesus verstaan die hartseer wat met dood gepaard gaan. Hy verstaan ons hartseer, en Hy gee ons ook ‘n Gees-vervulde hart om saam met ander te huil met die verlies van ‘n dierbare. Ons kan daar wees vir mekaar in hartseer tye. Met Jesus se Gees in ons, is Hy by elkeen wat self hartseer is, of wat ander ondersteun wat hartseer is.

Siekte ontneem so baie mense van lewenskwaliteit. Jesus het ‘n hart vir siek mense. Hy verstaan die onsekerheid wat met siektetoestande gepaard gaan. In sy tyd op aarde was daar glad nie die mediese kennis en behandeling van vandag beskikbaar nie. Vandag sien ons God se hand in die mediese professie en gebruik Hy die medici om lewenskwaliteit vir siek mense terug te gee. Maar terselfdertyd beteken dit dat Jesus-mense mekaar en vir ander nie-Jesus-mense, liefdevol ondersteun tydens alle vorme van siekte.

Eers die dood van ‘n geliefde, daarna ‘n klomp siekes wat genees word, en dan ‘n baie groot skare honger mense in die middel van nêrens. Die Jesus-hart gee met ‘n wonderwerk kos vir die honger skare: vyf brode en twee visse voed meer as 5000 mense. Maar uiteindelik leer ons Jesus werklik ken as die Brood van die Lewe. Met ‘n Jesus-hart kan ons elke dag brood en Brood uitdeel in ‘n fisies en geestelik honger wêreld!

Met ‘n Jesus-hart loop ons deur die stof strate van ons daaglikse doen en late, en kry ons mense “innig jammer” wat hartseer, siek en/of honger is – om dan ook vir hulle Jesus te bring!

Thursday, January 21, 2016

Oordenking 24 Januarie 2016

Jesus-mense leef met skoongewaste harte

“Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak.” (Matteus 15: 18)

Simbolies gesproke loop ons saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom self te leer hoe om beter te lewe – ja, ons loop so naby aan Hom, dat die stof van sy voete op ons kom.

Een van die belangrike lesse wat ons by Jesus leer, is dat daar ‘n groot gevaar is in godsdienstigheid wat hoofsaaklik gebou is op die mens se eie bydraes en nakoming van verpligtinge. In Matteus 15 vaar Jesus uit teen die Fariseërs en die Skrifgeleerdes oor die oorgelewerde Joodse gebruike waarop hulle godsdienstigheid gebou is. Oor die jare ontstaan daar sekere gebruike en tradisies in die kerk waarin die mens self sorg vir sy redding, altans so dink baie godsdienstige mense steeds vandag.

Hierin is een van die groot uitdagings vandag, om heeltyd seker te maak waarom doen ons sekere dinge vir die Here en waarmee is ons presies besig in die kerk. Is dit menslike en selfgerigte pogings om God te probeer beïndruk? Doen ons sekere goed omdat ons so geleer is deur ons voorgeslagte, sonder dat ons vra waar dit vandaan kom? Die debatte wat ons in die kerk voer oor wie of wat reg en verkeerd is, oor wie of wat gaan dit regtig? Soort van: “Ek is reg en jy is verkeerd – ek wen hierdie rondte!” Is dit wat Jesus vandag vir sy kerk wil hê?

Jesus kom leer ons van die nuwe hart waarmee sy volgelinge wat in sy stof loop, elke dag beter kan lewe. Waar die Gees van Jesus my lewensingesteldheid omkeer, vra ek in elke situasie wat Jesus sou sê of sou doen. Ja, Hy het ook baie drasties opgetree as dinge verkeerd geloop het. Dink maar aan die reiniging van die tempel. Hy het nie gehuiwer om die godsdienstige leiers van sy tyd aan te vat oor hulle manier van dinge doen nie. Maar die oorheersende optrede van Jesus tydens lewe hier op aarde, was sag en liefdevol. Met deernis en opregte omgee, het Hy sy hart vir ons kom wys.

Hoe lyk jou hart? Hoeveel beïnvloed jou innerlike jou daaglikse optrede? Hoekom gaan jy kerk toe, of waarom doen jy dinge vir die Here? Wat beleef ander mense as hulle met jou te doen kry?

Jesus wil jou baie graag laat leef met ‘n skoongewaste hart ...

Thursday, January 14, 2016

Oordenking 17 Januarie 2016

Die stof van Sy voete spat op Jesus-mense

“Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” (Matteus 25: 40)

Stephan Joubert skryf in die Beeld van 12 Januarie 2016: “God is steeds oral hoorbaar, voelbaar en sigbaar. Ons moet maar net naby genoeg aan Jesus loop dat die stof van sy voete ook op ons begin spat, dan sien ons Hom op 10 000 plekke raak.”

‘n Beter lewe vir jouself, ‘n beter lewe vir mense wat op jou pad kom en ‘n beter lewe vir almal in hierdie wêreld, begin by die naleef van Jesus se voorbeeld. Tydens Jesus se relatiewe kort fisiese optrede hier op aarde, baie lank gelede, het Hy kom wys hoe Jesus-mense lewe. Na sy fisiese vertrek met die hemelvaart, het Hy met die uitstorting van die Heilige Gees ‘n manier geskep om deur meer mense op meer plekke oor alle tye wat kom, sy voorbeeld voort te leef.

Kom ons noem net kortliks wat ons by Jesus leer:

·         Hy breek weg van alle valse vorme van godsdienstigheid en verdienstelikheid deur wetsgehoorsaamheid;

·         Hy vereenselwig Homself met mense wat swaarkry, met mense wat minderbevoorreg is en met mense wat deur die samelewing eenkant gestoot word;

·         Hy kom leer vir sy volgelinge vir alle tye wat sou kom, hoe om werklik bevrydend en met liefde gevul, te lewe;

·         Op ‘n nederige én vernederende manier bewerkstellig Hy eenmalig die redding van alle mense van alle tye wat in Hom glo;

·         Hy leer sy volgelinge dat sy Goddelike terrein, waar Hy alomteenwoordig is, op ‘n misterieuse én fantastiese wyse deur Hom beheer word;

·         Hy kies aktief om voort te leef deur sy Gees in elkeen wat bewustelik kies om in Hom te glo en Hom te dien; en

·         Hy is elke sekonde steeds besig om elkeen wat aan Hom behoort, voor te berei vir die ewigheid wat ons saam met Hom gaan deurbring.

Wat beteken hierdie Jesus-lering vandag vir my en vir jou?

1.      Jesus is ons enigste Verlosser;

2.      Jesus leef voort in ons deur sy Gees; en

3.      Jesus is besig om in ons ‘n beter lewe te skep!

Leef Jesus dus raak in 10 000 plekke ...

Thursday, January 7, 2016

Oordenking 10 Januarie 2016

Óns of Sý manier van lewe

“... ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” (2 Korintiërs 5: 7)

‘n Nuwe jaar met nuwe uitdagings en nuwe geleenthede – baie spesifiek vir ons as Jesus-mense. Ons wil groei en positief verander om beter mense te wees wat beter lewe as verlede jaar, maar hoe?

Paulus skryf baie realisties oor die lewe van kinders van die Here. Hy besef dat ons elkeen op een of ander manier swaarkry en bekommerd is oor die uitdagings van elke dag. Hy praat van “sug en voel bedruk” (2 Korintiërs 5:4), omdat “ons nog nie by die Here woon nie.” (vers 6). Die uiteindelike toekoms om vir altyd in die hemel by die Here te wees, gee ons egter moed. Maar ons is nog nie daar nie, en op pad daarheen wil ons die beste manier van lewe bemeester.

Hiervoor sorg God self!!! Hy gee die Heilige Gees as “waarborg”, wat ook vertaal kan word met “deposito” of “eerste paaiement”. So die wonderbaarlike innerlike vernuwende werk van God se Gees in ons elkeen, is net die begin van die allerbeste manier van lewe waarvoor God alleen sorg. Sonder dat ons presies verstaan of regtig kan sien wat die Gees in ons doen, ís die Gees besig in en met en deur ons. Hy is besig om ons aan te trek met die goeie tydens ons aardse tydelike lewe, sodat die dag wanneer ons “voor die regterstoel van Christus verskyn” (2 Korintiërs 5: 10), ons die ewige hemelse lewe sal ontvang.

Wat kan ek en jy doen om seker te weet ons lewe op die regte manier?

1.      NIKS – God sorg vir die goeie in ons;

2.      ALLES – gee 100% oor aan Hom: soek, smeek, begeer, verlang, verbind, bid, gee en ...

Hierdie soort van teenstrydigheid is deel van die misterie om in ‘n lewende verhouding van God te lewe elke dag. Maar Hy weet dit die beste, en daarom is Hy daar as die Beste Een om ons presies hiermee te help. Hoe meer ek en jy kan oorgee aan sy manier van dinge doen in ons lewe, hoe beter sal Hy in elkeen van ons vaar.

Mag 2016 vir jou die jaar wees waarin jy beter ervaar dat God reeds besig is om sy wil in jou lewe ‘n werklikheid te maak – dit is Sý manier om jou voor te berei vir “die vaste gebou in die hemel” (2 Korintiërs 5:1).