Thursday, January 26, 2017

Oordenking 29 Januarie 2017

Tema: Permanent in Hom wees en Hy in ons
“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” (Romeine 8: 26)

Op ‘n skaal van 1 tot 10, hoe belangrik is dit regtig vir jou om aan Jesus te behoort? Hoeveel dink jy aan Hom gedurende jou daaglikse lewe? Of nog beter gevra: hoe belangrik is jy vir Hom? Watter deel van elke dag is Hy direk van sy kant af, betrokke by al jou doen en late?

Die wonderlikste en mees fantastiese ontdekking wat elkeen van ons kan maak, is dat Jesus altyd deel van alles in ons gewone lewe is. Teoreties stem ons saam met Jesus se eie woorde: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Johannes 17:21) Prakties beteken dit dat Hy deur sy Gees wat altyd in ons is, ‘n Teenwoordigheid is wat ‘n meer en meer oorheersende rol in ons gewone lewe speel.

Kom ons kyk hoe ons mekaar kan help om hierdie Jesus-Gees-oorheersde-lewe groter werklikheid te maak. So maklik vertel ons vir mekaar dat ons maklik oop oë bid terwyl ons alleen motor bestuur. Maar die vraag is, laat ek dan toe dat Jesus my help om ‘n meer bedagsame bestuurder te wees? By die werk of ander omstandighede, maak ander ons kwaad, stel mense ons teleur en word ons ontsteld. Hoe drasties anders reageer ons hierop, net omdat die Gees op daardie oomblik binne-in ons pleit/bid? Jesus in ons, verander ons daaglikse gedrag en alles wat ander in ons beleef.

Eintlik is die begin-vraag, ‘n uitvang-vraag: hoe belangrik is dit regtig vir jou om aan Jesus te behoort? Elkeen van ons, is 10 uit 10 permanent en vir altyd belangrik vir Jesus! “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.” (1 Johannes 3:16a) Of ek en jy dit nou weet/ besef of nie, omdat Hy 10 uit 10 is en gee, is Hy besig om ook 10 uit 10 in ons te word en 10 uit 10 van ons te vat vir Hom. Hy mag en Hy kan en Hy wil dit doen!

Die metode wat Jesus volg om alles in elkeen van ons te word, is juis deur sy Gees wat al hoe meer beheer neem van alles in ons verhouding met Hom. En soos ons ontdek het, het ons verhouding met Hom alles te doen met gebed. Maar gebed is baie meer as om net in woorde met Hom te praat. “bid” is die woord wat nou nuwe betekenis kry, omdat dit verwys na hierdie permanente in Hom wees en Hy in ons.

Thursday, January 12, 2017

Oordenking 15 Januarie 2017

Tema: Geniet die lewe met blydskap en rustigheid in Hom
“Wees altyd bly in die Here.” (Filippense 4:4)

Elkeen van ons wil graag die lewe geniet. Ons wil lekker dinge doen. Daar is verseker geen rede waarom Jesus-mense nie hulle daaglikse doen en late mag geniet nie. Verby is die dae wat ons dink Christene moet met vroom gesigte en die Bybel onder die arm rond beweeg. Om die waarheid te sê, dis net ons wat die antwoord vir ander het om werklik met blydskap en rustigheid te kan wees wie ons is.

Die enigste manier vir ons en elke ander mens op aarde, om ware blydskap en rustigheid te vind, is wanneer ons binnekant van ons lewe uitgesorteer word. Met die binnekant van ons lewe bedoel ek daardie innerlike lewe waar die Gees van God in beheer geplaas word. In die Bybel word die hart aangedui as hierdie innerlike lewe van elke mens. Oor die jare is daar al baie geredeneer oor wat die gees en die siel van elke mens presies behels, juis omdat daar ook ‘n stuk misterie is oor wat die innerlike mens presies behels. Vandag wil ons dit probeer eenvoudig hou en net eenvoudig verwys na die innerlike van die mens.

Vir Paulus word die hele lewenswandel van elke Jesus-mens juis bepaal deur die innerlike van elkeen. Wanneer hy sê: “Wees altyd bly in die Here”, dan verwys “in die Here” na die Gees in elkeen wat in ‘n lewende verhouding met die Here lewe. Daar is slegs een manier waarop enige mens se lewe behoorlik uitgesorteer kan kom, en dit wanneer jou innerlike lewe “in die Here” verseker in plek is.

Dan gee Paulus ‘n lys voorbeelde van hoe lyk ‘n lewe “in die Here”: “... inskiklik teenoor alle mense ..., oor niks besorg nie ..., die vrede van God sal oor julle wag hou, ... alles wat mooi is, daarop moet julle julle gedagtes rig.” (gedeeltes uit Filippense 4: 5 tot 8). Hierdie behoort elke Jesus-mens se hoogste ideaal in hierdie lewe te wees. En dit kán!

“... maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Filippense 4: 6b) Steeds bly ons by die punt waar die antwoord vir ‘n lewe vol blydskap en rustigheid, slegs moontlik is waar jou gebedslewe die kern vorm van jou verhouding met jou Here in jou. Jou binnekamer, jou gedurige gebedskontak met Hom deur die loop van elke dag, jou gebede saam met ander gebedsstryders, ja, jou hele gebedslewe bepaal of jy die lewe geniet!

Thursday, November 10, 2016

Oordenking 13 November 2016

Tema: Om deur gebed een te word met Jesus
“Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” (Johannes 6:56)

Deur gebed in my binnekamer luister ek na God se Woord. In my Bybel lees ek hierdie waarhede en word dit deur geloofsgroei al hoe meer ‘n vaste en wonderlike deel van my intieme verhouding met die lewende Jesus in my!

Kom ons delf dieper in die misterie van ons eenwording met Jesus, Hy wat deur sy lewende Gees in ons woon en werk. In Johannes 6 vertel Jesus vir sy volgelinge meer van die betekenis dat Hy self die brood van die lewe is. Hy vergelyk die opname van brood wat geëet word in die menslike liggaam, met die eenwording tussen Hom en elkeen wat in Hom glo. Hy beklemtoon dit baie sterk dat die brood wat die mense elke dag eet om hulle fisiese honger te stil, nie permanente versadiging bring nie. Daarteenoor sal elkeen wat deur geloof die brood van die ewige lewe eet, nooit weer honger kry nie.

Hoe kan elkeen van ons seker maak dat ons wel die brood van die ewige lewe eet? Hierdie ewige brood het alles te doen met ons elkeen se bewustelike keuse om gedurig en voortdurend en met toewyding, ons volle samewerking te gee vir die Gees se werking in ons. Om hierdie brood te eet, kan op baie maniere beskrywe word, soos onder andere geloofsgroei, heiligmaking en geestelike verdieping. Alhoewel hierdie eenwording met Jesus in ons volledig sy Gees se werk in ons is, vra dit ons volledige samewerking.

Die een moontlike manier wat Jesus gebruik om hierdie eenwording te beskrywe, is dat ons een word met sy liggaam. Daar vind inkarnasie plaas, dit is, ons word die beliggaming van Jesus self. Ja, goed, dit is ingewikkeld, maar dit is juis die misterie wat ons nie regtig verstaan nie. Eenvoudiger gestel, ons word Jesus se hande en sy voete. Geestelike groei is nie om meer soos ‘n engel te word nie, dit is eerder om meer in jou fisiese liggaam Jesus se gesagvolle verteenwoordiger te wees. Op hierdie wyse is daar al hoe minder verskil tussen ons geestelike lewe en ons alledaagse doen en late.

Waar begin of gebeur hierdie inkarnasie of totale nuwe lewensbenadering? Daar waar die Gees geleentheid kry om met jou en my besig te wees. En hier is nie vaste voorskrifte of neerdrukkende eise wat gestel word nie. Maar onder andere is die tyd en wyse waarop ons geleentheid skep in ons binnekamer, verseker een van die beste plekke om geïnspireer en gevorm te word om Jesus se hande en voete in ons daaglikse lewe te wees!

Thursday, November 3, 2016

Oordenking 6 November 2016

Tema: Om te bid vir die ewige Brood
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee ...” (Johannes 6:35a)

Elke Jesus-mens het gebed nodig in jou persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in jou. Jou binnekamer is een baie goeie plek om die waarde daarvan te ervaar om die lewende teenswoordige God in gebed te vertrou. Tog het elkeen van ons baie nodig om beter te verstaan waarvoor ons God werklik kan vertrou.

So leer ons graag by Jesus self uit dit wat ons in die Bybel lees, toe Hy hier op aarde was. In Johannes 6 gee Hy brood aan meer as vyf duisend honger mans met die wonderwerk-vermeerdering van vyf garsbrode. Ons Jesus weet van fisiese honger en leer ons om te bid vir ons daaglikse brood. Hierin leer ons dat ons “met vrymoedigheid na die genadetroon” (Hebreërs 4: 16) van God kan gaan deur te bid. Vra gerus vir die Here wat jy dink jy nodig het, Hy wil dit graag hoor – vertrou Hom vir jou alledaagse behoeftes!

Na hierdie wonderwerk met die vermeerdering van die brood, wou die skare mense Jesus met geweld hulle aardse koning maak. Hy vlug berg op, net Hy alleen. Dit word donker, sy dissipels vaar met ‘n skuit oor die see, ‘n storm bars los, Jesus loop op die water na hulle en maak die storm stil. Die volgende dag spoor die skare wat kos gekry het Hom op en dan leer Hy hulle oor die eintlike “brood wat lewe gee.” Vir Johannes is al hierdie gebeure rondom Jesus baie belangrik, want dit gee die motivering waarom sy volgelinge met aandag wil luister na sy lering.

Jesus self is “die brood wat lewe gee”. Deur ons geloof in Jesus, eet ons hierdie simboliese geestelike brood en word ons ewige geestelike honger gestil. En soos Hy self sê: “Julle moet werk ... vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat die ewige lewe gee.” (Johannes 6:27). Hy gaan verder om vir elke Jesus-mens te belowe: “... Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Johannes 6:37b). Maar dan natuurlik die uiteinde van elkeen wat hierdie uitnodiging ernstig opneem: “... Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (Johannes 6:40b).

Waar word hierdie beloftes waar vir my as Jesus-mens? Deur gebed in my binnekamer luister ek na God se Woord. In my Bybel lees ek hierdie waarhede en word dit deur geloofsgroei al hoe meer ‘n vaste en wonderlike deel van my intieme verhouding met die lewende Jesus in my!

Thursday, October 27, 2016

Oordenking 30 Oktober 2016

Tema: Die uitsonderlike waarde van gebedsvertroue
“Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!” (Psalm 84:13)

In die stilte van jou binnekamer, verinnig jou verhouding met die stil Een in jou! Elke Jesus-mens het gebed nodig in jou persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in jou.

In Psalm 84 word die onbeskryflike positiewe waarde van ‘n besoek aan die tempel soos in die tyd van die Ou Testament beskrywe. In die denke van die gelowige voor die uitstorting van die Heilige Gees, is God op ‘n besonderse wyse teenwoordig in die tempel in Jerusalem. Daar in die tempel woon God. Om ‘n pelgrimtog aan te pak Jerusalem toe om die voorgeskrewe offers te bring, bring groot seën en voorspoed vir die getroue Jood. Daar waar God is, is rus en vrede. Waar Hy is, ontvang die gelowige nuwe krag. Simboliek beskrywe iets van die uitsonderlike ervaring in God se teenwoordigheid. Die mossie en die swaeltjie maak nes daar. Dit is soos fonteine water na droogte, soos vroeë reën wat seën bring.

Maar dan met die afsluiting van die Ou Testament, kom ‘n totaal nuwe en beter bedeling vir elke Jesus-mens. Jesus Christus word gebore as mens op aarde en kom Self vertel wat sy koms beteken. Hy kom gee die belofte van die Heilige Gees wat sou kom en kort na sy volledige verlossingswerk op aarde afgehandel is, word die Heilige Gees uitgestort. En watter verskil het dit nie gemaak nie! Nou is God nie meer beperk om net in die tempel in Jerusalem teenwoordig te wees nie, maar Hy kom woon deur sy Gees in elke Jesus-mens!

Vandag en elke ander dag, kan elke Jesus-mens die besondere ervaring en wete hê dat God teenwoordig is. En waar Hy is, word die onbeskryflike waarde van ‘n besoek aan die tempel waar. By Hom is rus en vrede, by Hom is nuwe krag, by Hom is nuwe lewe. By Hom is alles wat elke Jesus-mens nodig het, vir ‘n intieme en persoonlike liefdesverhouding met Hom.

Ons elkeen se binnekamer, waar ons alleen by Hom is om te bid, is die plek en die geleentheid om iets baie besonders en baie spesiaal te ervaar van God se teenwoordigheid. Hierdie ervaring kom nie noodwendig dadelik en op ‘n bonatuurlike wyse nie. Elke Jesus-mens word aangemoedig om sy of haar eie ontdekking en gewaarwordings in sy of haar binnekamer te maak. Daar is nie bindende voorskrifte of swaar pligte vir hierdie wonderlike geleentheid nie.

Raak bewus van die waarde om die lewende teenswoordige God te vertrou in gebed!

Thursday, October 20, 2016

Oordenking 23 Oktober 2016

Tema: My binnekamer om Stilte te vind
“... as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie.” (Matteus 6:6a)

Elke Jesus-mens het gebed nodig in ons persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in ons. Deur gebed leer ons meer verstaan en ontdek wie Hy in ons is. Ons grootste motivering om meer te bid, is om Hom beter te ken en meer te groei in ons verhouding met Hom. Ons is besig om by Jesus self te leer oor gebed.

Ons groot Leermeester moedig ons aan om na jou kamer toe te gaan en die deur toe te maak as jy bid. So het die term “binnekamer” ontstaan as daardie unieke en spesiale plek waar elke Jesus-mens hom- of haarself afsonder om te bid. Vir eers wil ons net fokus op die belangrikheid en waarde van ‘n binnekamer vir elkeen van ons. Soos die reeks vorder sal ons meer kom by die inhoud en daardie dinge waarmee ons besig kan wees in ons binnekamer.

Prakties kan jou binnekamer enige plek of ruimte wees waar jy regtig alleen en sonder enige steurings van buite is. Moontlike voorbeelde kan jou slaapkamer, studeerkamer, ‘n hoekie in die sitkamer, ja, enige vertrek in jou blyplek wees. Dit kan ook ‘n plekkie in die tuin of natuur wees. By die werk kan dit ‘n stoortjie of ander afgesonderde plek wees. Dit is sterk aan te beveel dat dit ‘n vaste en gerieflike plek sal wees. Dit is ook belangrik dat ander in die huis of by die werk sal weet dat wanneer jy in jou binnekamer is, wil jy nie gesteur word nie. Verkieslik moet jy ook so goed as moontlik van harde geluide of geraas afgesluit wees.

Saam met die plek waar jou binnekamer is om te bid, is die keuse van die tyd van die dag of nag wanneer jy tyd daar spandeer belangrik. Hier is dit ook verkieslik min of meer dieselfde tyd in jou eie 24 uur dag, sodat dit in ‘n gesonde roetine kan ontwikkel. Tog is dit bedoel dat dit so ‘n aangename ervaring vir jou is, dat jy uitsien om dit getrou te doen, sonder om skuldig te voel as dit toevallig nie uitwerk nie.

Hoekom is die plek soos ‘n binnekamer en die tyd in die binnekamer belangrik? Dit is bedoel om die uiterlike ervaring vir jou te gee van die innerlike rus en krag van wie God reeds in jou is. In jou binnekamer spandeer jy en die onsienlike God tyd in mekaar se teenwoordigheid. Soos die reeks oor gebed vorder, sal ons meer leer oor die bewuste teenwoordigheid van God wat op ‘n baie unieke manier moontlik is in jou binnekamer. In die stilte van jou binnekamer, verinnig jou verhouding met die stil Een in jou!

Thursday, October 13, 2016

Oordenking 16 Oktober 2016

Tema: Hoekom sal ek meer en “beter” wil bid?
“So moet julle bid ...” (Matteus 6:9a)

Een van die heel belangrikste geloofsdissiplines vir Jesus-mense, is gebed. Gebed vorm ‘n integrale deel van ons elkeen se lewende verhouding met ons Here Jesus self. Gebed is ons 24 uur 7 dae van die week permanente kontak met Hom wat kragtig in ons teenwoordig is. Maar juis omdat hierdie verhouding gedurig bedoel is om te groei en te verdiep, is daar vir elkeen van ons meer om te ontdek van Hom, spesifiek deur middel van gebed. Nie een van ons behoort tevrede te wees as ons agterkom ons gebede het, of is besig, om te stagneer nie. Mag God se Gees ons inspireer om meer en “beter” te bid!

Kom ons vra vir Jesus self om ons te leer bid. Hy leer sy volgelinge oor die belangrikheid van gebed. Hy praat oor die moets en die moenies van gebed. Hy gee riglyne oor die inhoud van gebede. Hy het self gebid terwyl Hy hier op aarde was. Die Evangelieskrywers doen moeite om soveel as moontlik te skrywe oor Jesus se eie gebedslewe, en daar is verseker praktiese lesse wat ons daaruit kan leer. Ons wil graag in die volgende paar weke spesifiek prakties raak oor gebed.

Maar voordat ons by die praktiese lering oor gebed kom, is dit eers belangrik dat elkeen van ons gemotiveer word om meer en “beter” te bid. Eers wanneer elkeen ‘n dieper honger en dors na ‘n dieper en intiemer verhouding van ons Here in ons ontwikkel, sal ons graag meer intieme kontak met Hom wil hê deur gebed. Iets van hierdie misterieuse liefdesverhouding met God, is baie eenvoudig: hoe meer kontak deur gebed, hoe intiemer is die verhouding. Anders gesê: hoe meer ek bid, hoe beter ken ek Hom!

Hoekom plaas ek die hele tyd “beter” in aanhalingstekens? Weer dink ek dis eintlik eenvoudig: sodra ons as Jesus-mense beter verstaan van gebed, behoort daar nie trappe van vergelyking te wees as ons bid nie. Omdat gebed primêr met ons verhouding met die Here te doen het, en omdat die Heilige Gees in ons volledig in beheer is van ons verhouding met Hom, beoordeel Hy nie ons gebede as “goed, beter, beste” nie!

Met hierdie motivering kan elkeen meer bid vir geestelike herlewing persoonlik en globaal, meer bid vir persoonlike probleme, meer bid vir reën, meer bid vir ons leiers, ja, meer bid vir enige saak wat die Gees in jou wakker maak ...