Wednesday, November 26, 2014

Oordenking 30 November 2014

Om tot beskikking van God te wees

"Ek is tot beskikking van die Here.” (Lukas 1:38a)

 Kom ons maak gereed vir die beste Kersfees ooit! Hoekom? Omdat dit elke Jesus-mens se eie wilsbesluit is om nie net te oorleef van jaar tot jaar nie, maar om elke dag met ‘n splinternuwe verwagting te lewe! Ja, nie net oorleef nie, maar meer intens te lewe en met baie groter invloed te lewe. Beplan ‘n spesiale Kersfees, neem nuwe besluite oor Kersfees, wees gereed vir ‘n totale ommekeer deur die Gees van God in jou! Hoe kan hierdie Kersfees die beste ooit vir jou as Jesus-mens wees?

 Kom ons gaan kuier vir ‘n tydjie by die Lukas Evangelie se vertelling rondom die geboorte van Jesus. Die engel Gabriël verskyn aan Maria om haar voor te berei op die geboorte van haar Seuntjie, Jesus. Hy vertel vir haar wie hierdie besondere Kind van haar gaan wees: Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” Maar dan is sy ‘n maagd, wat nog geen seksuele omgang met haar verloofde, Josef, gehad het nie, sodat sy moet hoor: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.” Want let op wat sê die engel: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

 Maar dan antwoord Maria met hierdie besonderse woorde: "Ek is tot beskikking van die Here.” Kersfees in hierdie wêreld het onder andere begin met Maria se gewilligheid om beskikbaar te wees vir die geboorte van die Verlosser van alle tye!

Jou en my beste Kersfees kan begin met ons elkeen se gewilligheid om beskikbaar te wees om die Verlosser van alle tye aan die wêreld bekend te maak en uit te leef. Die beste Kersfees ooit gaan oor ‘n nuwe beskikbaarheid vir Jesus self! Slaan ‘n totaal nuwe blaadjie om vir hierdie Kersfees. Laat die Gees toe om jou nuut te laat dink, oor hoe hierdie Kersfees die beste ooit vir Jesus kan wees!

Hoe gaan jy Kersfees deurbring? Waarop gaan jou hooffokus wees? Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel?

Friday, November 21, 2014

Oordenking 23 November 2014

Om aan God eer te gee

"Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee ... ?” (Lukas 17:18)

 Hoe dikwels lewe ons nie tussen die twee uiterstes nie: aan die een kant aanvaar ons te veel dinge as vanselfsprekend, en aan die ander kant kan ons voel dat ons nie genoeg waardeer wat ons het nie.  Elke Jesus-mens kan verskillend reageer op die grootste genesing van alle sonde, wat ons gratis en onvoorwaardelik, ontvang het: dit maak geen verskil in ons lewenswyse nie, of ons voel ons kan net nie genoeg doen om dankie te sê vir vergifnis nie.

In Lukas 17 word tien melaatses deur Jesus genees, en net EEN draai om nadat hy genees is, om Jesus te bedank! En dan is hy nog ‘n Samaritaan, die aartsvyande van die Jode! En Jesus se vraag aan die geneesde melaatse: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege?”

 Wat is die belangrikste genesing, waarsonder geen mens kan lewe nie? Ja, vergifnis van alle sonde is die grootste genesing wat Jesus alleen deur die gawe van geloof moontlik maak. Hierdie genesing ís reeds vir almal in plek – elkeen moet dit net hoor en aanvaar.

 Waarvoor wil ons na Jesus teruggaan, nadat ons genesing van alle sonde ontvang het?

1.       Om Hom alle eer te gee. Om 24 uur 7 dae 'n week 365 dae van die jaar bewustelik en onbewustelik erkenning aan Hom te gee vir wie Hy vir my persoonlik is. In my innerlike en intieme en unieke belewenis van Hom, groei ek in die weinig wat ek wel van Hom verstaan.

 2.       Om daadwerklik my lewe aan Hom te wy. Deel van my dankie-lewe-vir-vergifnis, is om Hom te soek, te vertrou, te laat oorneem deur sy Gees, te bemin, te ... Nooit is dit genoeg van Hom vir my, alhoewel Hy altyd sy oorvloed vir my beskikbaar het, volgens sy standaarde.

 3.       Om aan die mense in my lewe en op my pad en uit my pad te wys, wie Hy in my lewe is. Hiervoor verander die Gees my denke oor ander. Hiervoor verander my prioriteite van alles en almal in my lewe. Dit raak selfs diegene naaste aan my. Dit raak my beursie. Dit raak my sosiale lewe en vriende.

 Moenie teruggaan na Jesus met die deurbraak van volkome vergifnis om nog van jou eie selfsugtige behoeftes aan Hom oor te laat nie. Hy weet beter wat jy nodig het, sonder dat jy vra!

 86 400 sekondes elke dag omdraai na Jesus om Hom te bedank, dit is om God te eer!

Thursday, November 13, 2014

Oordenking 16 November 2014

Om te gee sonder om te ...

"Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed ...” (Lukas 14:14)

 Ons is besig om as Jesus-mense na te dink oor die praktiese effek van ons tweede bekering. Wat  kan ons verwag van hoe die Gees in ons, ons manier van dink en ons leefwyse verander?

 Jesus eet en kuier saam die belangrike mense van sy tyd, iets wat nie juis sy gewoonte was nie. Hy het baie eerder saam met die sukkelaars en siekes tyd deurgebring. Moontlik besef ons nie hoe groot die kloof tussen ryk en arm, tussen die gesienes en die agtergeblewenes in die Bybelse tyd was nie. Amper soos die verskil tussen die omstandighede in Woodhill Golflandgoed in die ooste van Pretoria en Refilwe nedersetting by Cullinan.

Die vooraanstaandes was baie eisend om die heel beste sitplekke in te neem by die samekoms van belangrike mense. Daar was 'n vasgestelde protokol waarvolgens die kerkleiers en die geleerdes posisie ingeneem het aan tafel en by ander geleenthede, onder andere soos by troues. Nou vertel Jesus hoe ons juis by sulke geleenthede iets kan ervaar van beskeidenheid en gasvryheid. Maar dit gaan oor baie meer as net die beste plekke by 'n bruilof - dit gaan oor 'n permanente, totaal ander lewensingesteldheid, teenoor alle ander mense, in alle omstandighede.

 Ons redeneer so maklik ons werk hard vir al die voorregte en luukshede wat ons geniet – daarom hoef ons nie daaroor skuldig te voel nie. Of ons redeneer dat, as ons darem net ook uitdeel vir ander wat nie so baie soos ons het nie, dan is ons mos oukei. Moontlik kry meeste van ons dit reg om nie openlik neer te sien op ander nie, solank hulle net nie te veel van ons verwag nie. Dit is darem gerieflik om nie bekommerd te wees oor môre se kos of die volgende vakansie se petrolgeld nie. Meer as 90% ander mense op aarde kan nie dieselfde sê nie.

 Te maklik gee ons voorwaardelik. Te maklik gee ons met die bedoeling om iets terug te kry. Ons nooi julle vir ete sodat julle ons kan terug nooi, of ons nooi net mense wat kan terug nooi. Nog erger, ek gee en doen vir die Here, want Hy kan so baie terug doen en Hy kan so baie vir ons gee.

 Mag die Gees ons omvorm om te gee sonder om te ... só gee Jesus!

Thursday, November 6, 2014

Oordenking 9 November 2014

Ek is vergewe!

“Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?  ... Ek doen dit ook nie.” (Johannes 8:10 en 11)

 Die resultaat van die Gees van God se werk in elke Jesus-mens, is net onbeskryflik bevrydend. Soos wat ons die Gees toelaat om al hoe meer ons gedrag te bepaal, kyk ons met totaal ander oë na elke mens op hierdie aarde. Ja, ons kyk deur Jesus se genade-gevulde oë, nie-veroordelend na elke sondaar en elke skuldenaar en elke boef. Die vrug van die Gees is, om met ‘n nuwe hart onvoorwaardelike vergewensgesindheid teenoor alle mense te openbaar!

 ‘n Vrou, wat die groot sonde van seksuele ontrou in haar huwelik gepleeg het, en in amper alle mense se oë sleg en verdoem is, word na Jesus gebring. Dis juis die oënskynlike onskuldige kerkleiers wat met ‘n gesindheid van veroordeling, Jesus self probeer plaas in die beskuldigde bank. In Jesus se tyd was owerspel met die doodgooi van klippe strafbaar - vandag nog word hierdie tipe oortreding steeds figuurlik met steniging gestraf.

 Dan skryf Jesus iets op die grond. Vir eeue sedertdien, word bespiegel wat Jesus geskryf het. Hy het eintlik twee keer iets geskrywe op die grond. Moontlik die eerste keer ‘n boodskap aan die aanklaers, wie Jesus uitnooi om die eerste klip te gooi. Dalk was die tweede boodskap aan die veroordeelde vrou gerig. Ons weet nie. Maar nadat Jesus op die grond geskrywe het, is niemand bereid om ‘n klip te gooi nie en vertrek die aanklaers een vir een. Ek raai Jesus kon vir die vrou geskrywe het: “Jy is vergewe!”

 Sonder enige teenprestasie van die oortreder, sonder enige skuldbelydenis, sonder enige verduideliking deur die sondaar, spreek Jesus haar vry. Net die positiewe aanmoediging om nie meer te sondig nie. Die nie-veroordelende optrede van Jesus, het ‘n nuwe lewe vir ‘n verworpene tot gevolg. Sonde-oorwinning volg op vergifnis en vryspraak.

 Die vermoë om mekaar nie te veroordeel nie, is die werking van die Gees in ons. Net so is dieselfde Gees in ons besig om ons lewensbenadering te herprogrammeer, sodat sonde al hoe minder ‘n rol in ons lewe speel. Soos wat elke Jesus-mens ontdek: “Ek is vergewe!”, net so groei ons daarin om vir elke ander mens op aarde te kan sê: “Jy is vergewe!” Vergifnis maak vry: dit bevry myself én is bevrydend teenoor ander mense.

Thursday, October 30, 2014

Oordenking 2 November 2014

Om vrugte te dra

“Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.” (Lukas 13:8)

 So maklik dink ons Jesus-mense dat dit met ons eie inspanning is dat ons vrugte dra wat by ons bekering pas. So maklik word die dinge wat ons vir die Here doen 'n las en plig. Die wonderlike dinge wat ons vir die Here doen, word maklik iets om mee te spog. Ons het dan tyd en geld opgeoffer. Bewustelik en onbewustelik verdien ons krediete agter ons goeie naam!

 In die gelykenis van onvrugbare vyeboom leer ons egter iets totaal anders. Hierdie vyeboom staan in die eienaar se wingerd geplant. Vir drie jaar soek hy elke jaar in vyetyd vrugte aan die boom en dan is daar niks. Nou gee die eienaar opdrag aan die tuinier om die vyeboom sonder vrugte uit te kap, want dit put net die grond uit. Die tuinier vra grasie, ja, nog 'n kans om iets aan die vrugtelose boom te doen. Die tuinier neem verantwoordelikheid, vra nog 'n jaar kans om, om te spit en te bemes.

Ons enigste God is die eienaar van die wingerd en die vyeboom daarin. Die vyeboom is simbool vir ons as Jesus-mense. Ons staan in God se wingerd geplant. Jesus is die tuinier wat deur die Gees van God verantwoordelikheid neem vir die wingerd met die vyeboom in. Die Tuinier met 'n hoofletter werk in die wingerd van God. Hy sorg dat dit omgespit en bemes word, sodat die vrugtebome vrugte kan dra. Geen vrugteboom is in staat om sonder die Tuinier se ingryping vrugte te dra nie.

 Wat beteken dit vir ons? Ons kan net seker maak ons staan geplant in God se wingerd, daar wil ons wees met alles in ons. En binne die kragveld van die Gees se werk, sal daar vrug wees! Soms gaan die "omspit en bemes" met pyn en seerkry gepaard. Ander kere is dit pure plesier om te ervaar dat daar net die wonderlikste dinge deur ons gebeur, sonder enige inspanning deur ons.

 Die verrassing is dus, dat vrug dra in God se koninkryk 'n Gees-werking is, solank ons net in die wingerd is.

Friday, October 24, 2014

Oordenking 26 Oktober 2014

Die impak van elke Jesus-mens

“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Johannes 20:21)

Die groot uitdaging wat elkeen van ons Jesus-mense elke dag het, is om 'n impak in God se koninkryk te maak.

Hiervoor sê die opgestane Jesus, "ontvang die Heilige Gees"! Dit beteken elkeen van ons ontvang die beste en volledige hulp van God self met sy Gees in ons. En dit is met een spesifieke doel, om 'n impak in God se koninkryk te maak. Elkeen word gestuur om 'n impak te maak deur liefde, vrede en vergifnis vir ander spontaan te leef. Hoe kan ons dit doen?

  1. Ons leef tussen ander mense wat bang, onseker en/of verlore is of voel - self kan ons ook so voel. Ons leef agter geslote deure en hekke, misdaad bedreig ons almal op een of ander wyse. Daar is so baie wat ons leefwêreld deurmekaar maak, dinge verander soms baie vinnig en die toekoms lyk baie onseker. Te veel beleef ons die agteruitgang op so baie fronte  in die samelewing en dit maak ons moedeloos. Op te veel terreine is dit sigbaar dat mense sonder Jesus leef en nie eers skaam is daaroor nie. Hiermee word ons daagliks gekonfronteer.

  1. MAAR ons het Jesus, ons volmaakte Verlosser, wat volledig vergifnis van sonde vir alle mense is - hierdie waarheid staan op ons enigste Rots! Ons elkeen se persoonlike redding is slegs en alleen gebou op hierdie onverdiende guns van ons Here. Hierdie guns is vir alle mense beskikbaar, ongeag wie of wat die omstandighede is. En die enigste wyse waarop verlore en onseker en bang mense met die liefde van ons God in aanraking kan kom, is deur ons lewe en deur ons woorde. Geen ander waarheid, as die waarheid van God se liefde vir alle mense, kan groter impak hê op die omstandighede waarmee ons elke dag gekonfronteer word nie.

  1. Daarom kan elke Jesus-mens vrymoedig, met liefde en met die gawes wat elkeen het, soos dit op ons pad kom, vrede en vergifnis leef en vertel. Ons het die geleenthede om die allerbeste nuus van Jesus se liefdevolle opoffering vir almal, nie net te leef nie, maar ook verder uit te dra. Waar ek en jy elke dag besig is met ons dagtaak tussen ander mense, is elkeen van ons die kanaal van Jesus-liefde na verwarde en verlore mense.

Ons Here wil jou baie graag gebruik om ‘n impak te maak ter wille van sy koninkryk – jy is reeds aan diens!

Thursday, October 9, 2014

Oordenking 12 Oktober 2014

Elke Jesus-mens se tweede bekering!

“... en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” (Lukas 10:33b)

Ons het reeds op verskeie maniere beskrywe wat dit beteken om ‘n Jesus-mens te word. ‘n Jesus-mens leef God elke dag raak in die gewone dinge. ‘n Jesus-mens het die genadige belewenis dat vergifnis volledig in plek is op grond van Jesus se volmaakte offer aan die kruis. ‘n Jesus-mens se lewe word deur die Heilige Gees gevorm en beheer. En so kan daar nog baie beskrywings wees van hoe jy ‘n Jesus-mens word. Kom ons noem hierdie soort beskrywings die eerste bekering wat plaasvind.

Maar nadat jy ‘n Jesus-mens geword het, wil die Gees van God in jou, van jou meer maak soos wat Jesus reeds in jou is. Kom ons noem hierdie vormingsproses deur die Gees die tweede bekering. Hierdie tweede bekering kan op baie maniere beskrywe word, soos heiligmaking, dissipelskap, meer en meer soos Jesus, geestelike groei, ensovoorts.

En net soos die eerste bekering ‘n wilsbesluit van elke mens is, is die tweede bekering letterlik ‘n daaglikse wilsbesluit van samewerking met die Gees van God in jou. Ek en jy het ‘n keuse om die Gees toe te laat om anders te dink en nuut te lewe. Ons eerste bekering bespreek ons plekkie in die hemel, maar op pad hemel toe bied ons tweede bekering vir ons geleentheid om reeds hemel op aarde te belewe deur ‘n bepaalde Gees-beheerde lewenswyse.

Hierdie Gees-beheerde tweede bekering behels onder andere die wyse waarop ons oë oopgaan vir die nood langs die pad elke dag. Dat ons soos die Barmhartige Samaritaan verby ons eie voorkeure en gemaksug, die seer van ander sal sien, hulle innig jammer kry en prakties iets daaraan doen. Ons eerste bekering staan vas op Jesus se onvoorwaardelike liefde en genade, en net so kan ons onvoorwaardelik liefde leef in ons stukkende wêreld. Vrywillige gehoorsaamheid aan die wil van God wat die Gees op my hart skrywe, is bevrydend!

Tweede bekering vir Jesus-mense het te doen met mense met wie ek elke dag in aanraking kom, mense wat net soos elke Jesus-mens ook probleme en krisisse belewe. Een bedelaar vertel vir die ander bedelaar waar om die brood/Brood van die lewe/Lewe te kry. In my eie rykdom/Rykdom verlig ek die armoede/Armoede van ander. In my eie seerkry en Gees-genesing, gee ek salf/Salf vir die wonde van die beseerdes langs my pad.

Geniet net elke sekonde van jou tweede bekering!