Wednesday, February 26, 2014

Oordenking 2 Maart 2014

Die Godstad: gevul met dié Lig en dié Skat

Die stad se “... tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.” (Openbaring 21:22)

Die moontlikheid bestaan dat die simboliek van die Godstad se boodskap vir sommige mense te goed kan wees om waar te wees. Hoe kan gesê word dat God nie in die hemel bly soos ons al die jare gehoor het nie, maar in elke Jesus-mens? Hoe is dit moontlik dat inwoners van die Godstad reeds volledig vergewe is? Hoekom is dit so maklik om in die Godstad te wees, daar is geen vereiste en lang lyste van wette wat gehoorsaam moet word nie?

Wel, dit is waar op grond van die Bybel se boodskap, die geloof wat ons bely en die Heilige Gees wat in ons getuig.

Die waarheid van die Godstad het met God self te doen, en meer spesifiek met die betekenis van sy teenwoordigheid. Hy is in die stad, Hy is die belangrikste Een in die stad, sy teenwoordigheid maak die stad vol, Hy kies hoe en waar en wanneer Hy in die stad is, Hy kies die inwoners met sy eie hand uit, Hy bepaal die ervaring om in die stad te wees vir die inwoners, Hy is die Alles in die Godstad!

Wat kan die inwoners verwag omdat Hy die Alles in die Godstad is? Elke Jesus-mens kan ontdek dat Hy is:

·         Teenwoordig ... want sonder Hom kan ons nie ‘n sekonde van ons lewe nie;

·         Omgee ... want sonder Hom kan daar nie liefde in ons wees nie;

·         Slimheid ... want Hy gee ons gesonde verstand om ons lewe mee te lewe;

·         Versorger ... want Hy weet wat ons elkeen regtig nodig het;

·         Trooster ... want Hy ken ons diepste hartseer;

·         Toekoms ... want Hy sal daar wees in die onsekerheid oor wat wag;

·         Alles ... want Hy laat ons nooit in die steek nie.

 
Daarom kan ons elkeen net vashou, vashou aan ... die sterkste, slimste, beste, liefste, mooiste, grootste, nabyste EEN, ware EEN, lewende EEN!!!

Kom ons sê net opreg: “Enigste Lig in my lewe, dankie dat gereinigde ek U in alles kan aanbid.”

Wednesday, February 12, 2014

Oordenking 16 Februarie 2014


Die Godstad: suiwer, mooi en stewig
Raak opgewonde oor wie jy in God se oë is:

·         Ander mense ervaar jou as ‘n uitsonderlik aangename persoon in alle opsigte;

·         Jy is nooit in enige meningsverskille of bakleiery of harde woorde betrokke nie;

·         Jou daaglikse lewe is stabiel, rustig en jy is in volle beheer van alles in jou lewe;

·         Alle verhoudinge waarin jy lewe, is gesond en verrykend en steeds aan die ontwikkel;

·         Jy is emosioneel gesond en ‘n inspirasie vir alle mense wat jou pad kruis;

·         Jy beskik oor die vermoë om met insig en wysheid in elke moontlike situasie op te tree; en

·         Jy straal innerlike vrede en vreugde opreg en spontaan uit.

Klink dit onmoontlik, nee, dit is presies waarmee die Gees in jou as Godstad besig is!

Hoekom wil Hy van jou so ‘n pragtige en aangename mens maak? Want:

1.       Jy is reeds volkome gereinig van alle sonde deur die bloed van die Lam;

2.       jy is vervul met die volledige werking van die Gees van God; en

3.       ter wille van die eer van Hom wat op die troon van jou hart sit, werk Hy self in jou!

As Jesus-mens is jou lewe gebou op die ewige en vaste fondament, Jesus Christus self. Jy straal die heerlikheid van God uit omdat Hy in jou woon. Jou lewe op die goue strate beteken dat jy die luukse het van ‘n onvoorwaardelike en oorvloedige lewe in Christus – wat meer wil ek en jy nog hê?
Hou op om op valse en tydelike fondamente te probeer bou. Geld, status en sukses is tydelik en uiteindelik leeg. Die genot en plesier van hierdie goddelose wêreld bevredig geen permanente behoeftes nie.

Laat die Gees jou fokus verskuif: leef in Hom, leef vir Hom, leef saam met Hom, leef ter wille van Hom!

Laat elkeen van ons eenvoudig vra: “Herbouer van my lewe, bou asseblief op die heel beste Fondament ter wille van Uself.”

Wednesday, February 5, 2014

Oordenking 9 Februarie 2014

Die Godstad: perfekte ewige blyplek

“Die engel ... het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.” (Openbaring 21:15)

Jy is verseker “ok” in God se oë, as jy nog gewonder het. Daar is geen fout met jou nie. Hy is nie kwaad vir jou nie. Om die waarheid te sê, Hy het jou na sy beeld gemaak en jou as sy verteenwoordiger op aarde geplaas. Hy het jou so verskriklik baie lief, dat Hy die hoogste prys betaal het vir jou redding, sy eie geliefde Seun het vir jou gesterf. En toe stop dit nie daar nie, Hy kom woon sommer self in jou deur sy Heilige Gees, sodat jy eerstehands die heel beste hulp in die hele wêreld in jou kan hê – WOW!!!

Jy is God se perfekte ewige blyplek!!!

Gemeet met ‘n goue meetstok, só kosbaar is jy! Simbolies beteken dit dat jy aan God behoort en dat Hy sy eiendom sal beskerm. Die Godstad, jy as Jesus-mens, word ewig die mees beskutte blyplek vir God self! Hy kom maak jou sy eiendom om in te woon deur sy volledige Gees en dan beskerm Hy op hierdie manier self sy verhouding met jou.

Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, dit is ‘n kubus-vorm soos Salomo se tempel se allerheiligste: “Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog.” (1 Konings 6:20). ‘n Volmaakte vorm van letterlik 2 220 km in elke rigting om die volmaakte woonplek vir die Inwonende Een te wees en waarin daar geen beperkte ruimte is nie. Simbolies die allerbeste en gerieflikste en luuksste blyplek vir Hom, wat sy heerlikheid in jou aan die verlore wêreld wil wys.

Die getal 12 000 is die 12 stamme van Israel, die volk van God, in die volkomendheid (1000 maal) daarvan. Die volle getal van Jesus-mense van alle tye, sal die volkomendheid ervaar binne hulle inwoning in en deur die volheid van die Gees van God.

Die dik muur (144 x 22cm) wys simbolies na die beskerming vir die inwoners, veral om die bose uit te hou. Die see, as blyplek van die bose, het reeds verdwyn (Openbaring 21:1), maar nou is die inwoners ook beskut teen enige moontlike aanslag van die bose en watter slegte invloede daar ook mag wees.

Jesus-mense het genoeg veilige blyplek vir altyd, naamlik in Hom self!

Laat ons soekend lewe met die woorde: “Meester-Bouer, dankie vir die volmaakte huis wat ek vir U is.”

Wednesday, January 29, 2014

Oordenking 2 Februarie 2014


Die Godstad: gebou met Aantrekkingskrag
“Die stad het die heerlikheid van God ...” (Openbaring 21:11a)

Wat sou jy graag wil hê dat die Gees in jou lewe moet verander? Wat laat jou minderwaardig voel? Hoe kan jy verander dat jy meer geliefd voel?
Hierdie vrae klink moontlik ydel of selfgerig. Tog dink ek dat dit die vrae is wat gedurig iewers in ons elkeen leef. Dis tog lekker om mooi dinge oor jouself te hoor. Dis tog sinvol om goed met ander mense oor die weg te kom omdat hulle jou aangenaam belewe. Dit is lekker om goed oor jouself te voel. En dit is alles werklik moontlik vir elke inwoner van die Godstad, want ...

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5:25) Die Een wat in elke Jesus-mens is, is besig met die bouwerk in jou. En doel met sy Gees-werk in jou, is sy eie eer. En wanneer ons in Openbaring 21 lees hoe beeldskoon en pragtig en luuks die stad beskrywe word, dan is dit simbolies God se doel met elkeen van ons: beeldskoon van binne en buite, pragtige unieke persoonlikheid en al die mooiste eienskappe om almal rondom ons se lewens te verryk. Hy herbou jou lewe sodat jy al hoe meer “na Hom lyk”, bedoelende al hoe meer lewe soos wat Hy wil hê jy behoort te lewe.
Hierdie Gees-gedrewe bouwerk hou nooit op nie. Tog is dit ons geleentheid om net al hoe meer in Hom te ontdek waarmee Hy in ons besig is, naamlik om ons totaal en al oor te maak en volledig nuut te laat lewe. “... sal die Gees julle op ‘n splinternuwe manier laat leef.” (Romeine 8:10, Die Boodskap) En hoe langer en hoe meer word elke Jesus-mens so aantreklik en aanloklik dat ander ook soos ons wil wees. Die mooi en die goeie in ons, wat slegs deur die Gees se werk sigbaar word, lok ander vreemdelinge nader aan die Godstad om ook inwoners te word.

Hiervoor is die baie poorte van die Godstad nóú oop in alle windrigtings vir enige een om in te kom. Die aanskoulikheid van die Godstad lok alle verlorenes om nader te kom en te keuse te maak om in te kom. Hier is geen sprake van lang lyste vereistes om ‘n inwoner van die stad te word nie. Die engele by die poorte is daar om diegene wat reeds inwoners is, te beskerm. Dis al die pad die moeite werd om binne die Godstad te kom lewe ... is jy in, of is jy nog op pad?
Inwoner van die Godstad, jy kan meer geliefd wees wanneer jy bly sê:
Herbouer in my lewe, dankie vir U puik Gees-werk in my!”

Wednesday, January 22, 2014

Oordenking 26 Januarie 2014

Die Godstad: versier vir Jesus

“Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Openbaring 21:2b)

Die Godstad verwys na die plek waar God woon. Vir ons as Jesus-mense woon Hy nie op ‘n ver en vreemde plek nie. Hy is nie onbereikbaar verwyderd in die hoë hemel nie. Nee, God is volledig deur sy Gees woonagtig en werksaam in elke mens wat sy hart vir Jesus oopgemaak het. Jesus het self gesê: “Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.” (Johannes 14:20) Jý is die Godstad waarin Hy gekies het om in te trek met sy Gees.

Die bruid is al die Jesus-mense, dus almal wat aan die kerk van Jesus Christus behoort, almal wat in die Godstad woon. In Johannes se denke het die bruilof reeds plaasgevind, Christus as Bruidegom en die uitverkorenes is reeds verenig, reeds een. Ons as uitverkore Jesus-mense sukkel ongelukkig met die sonde in ons en in ander om ons, maar leef reeds as oorwinnaars met Hom in ons. Die voltooiing en die vervolmaking wag natuurlik eers in die lewe hierna, maar dit is gewaarborg in Hom. En so is Hy in ons besig om ons te versier.

Hoe word Jesus-mense versier? “God het haar vergun ... fyn klere (wat) die regverdige dade van die gelowiges is.” (Openbaring 19:8) Alles wat Hy in ons wil verander en ons mee wil help en ons lewens mee wil verryk en van ons beter mense in sy oë maak, neem Hy voor verantwoordelikheid. In onsself kan ons nie goed wees nie, God kan ons nie regverdig verklaar op grond van ons eie goedheid en gehoorsaamheid nie, ons is nie daartoe in staat nie – daarom doen Hy juis heiligmaking in ons, so versier Hý ons!

Hoekom wil Hy ons versier? Om die prys wat die Lam, dit is die gekruisigde Jesus, vir elke Jesus-mens se vergifnis en redding betaal het, die moeite werd te maak. Hoor hoe sê Johannes dit: “... ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” (Openbaring 21:9b) Op grond van Jesus se volmaakte opoffering wat steeds voortgaan deur sy inwoning deur die Gees in ons, kom verbind Hy Homself in ‘n ewige liefdesverhouding met elke Jesus-mens.

En hoe voel Hy oor jou? “Soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.” (Jesaja 62:5b)

Daarom kan elkeen eg en opreg bid: Inwonende Gees, trek my asseblief aan om vir U mooi te lyk.

Thursday, January 16, 2014

Oordenking 19 Januarie 2014

Die Godstad: erken die Troon

“Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”” (Openbaring 21:5a)

‘n Nuwe jaar gee geleentheid vir ‘n nuwe begin. Elkeen van ons kry geleenthede om ‘n nuwe begin te maak. Moontlik ‘n nuwe werk, of nuwe kollegas, of nuwe skooljaar, of nuwe projek, of nuwe huis, of nuwe fase in jou huwelik, of wat ook al vir jou nuut mag wees.

In jou geloofsverhouding met God as Jesus-mens, wil Hy ook vir jou nuwe ervaringe en nuwe ontdekkings gee om jou te laat groei. En juis in die simboliek van die nuwe Jerusalem kan elkeen van ons nuwe groei ervaar en ontdek. In die volgende weke wil ek fokus op verskillende simbole in die nuwe Jerusalem se betekenis, en veral in die praktiese toepassing vir ons. Ek gaan kies om eerder van die “Godstad” te praat omdat Jerusalem vir meeste van ons ‘n ver en vreemde plek is.

Die Godstad verwys na die plek waar God woon. Vir ons as Jesus-mense woon Hy nie op ‘n ver en vreemde plek nie. Hy is nie onbereikbaar verwyderd in die hoë hemel nie. Nee, God is volledig deur sy Gees woonagtig en werksaam in elke mens wat sy hart vir Jesus oopgemaak het. Jý is die Godstad waarin Hy gekies het om in te trek met sy Gees. En waarmee is Hy nie besig in jou lewe nie ...

... Hy sit op die troon van jou hart. Ja, die troon as simbool van heerskappy en in beheer wees. Hy wil so baie graag jou lewe liefdevol en sonder dwang help beheer. Hy wil jou help met jou gedagtes, keuses, besluite, emosies, verhoudings, behoeftes, en wat jy ook al nodig het. Hy is nie die oorneem-tipe nie, Hy wil net dáár wees vir jou, Hy wil net déél wees van alles in jou lewe. Sy manier van in beheer wees, is gerieflik en met wysheid. Dit is sonder twyfel die moeite werd om Hom op die troon van jou hart te verwelkom. Hoe?

Hy wil ‘n nuwe geleentheid vir jou gee om sy heerskappy in jou lewe te erken:

• Dink gedurig aan Hom;
• Praat soveel as moontlik met Hom;
• Maak tyd in jou lewe vir Hom;
• Soek maniere wat vir jou werk om Hom beter te ken;
• Raak bewus in jou alledaagse dat HY IS!

Doom Charl

Sunday, January 5, 2014

Oordenking 12 Januarie 2014

Geliefd in God se oë

“Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” (Markus 1:11b)

Kom ons lê ʼn fondament om 2014 op te bou: Sien raak wie jy in God se oë is. Kyk na jouself deur sy oë: Wat sien Hy as Hy na jou kyk? Wie sien Hy as Hy na jou kyk?
Hier is die sleutel om 2014 mee te leef, te oorleef en te groei: God sien sy geliefde Seun as Hy na jou kyk. Hy sien Jesus in jou.

Wie is hierdie Jesus in jou? God self in jou ... Liefde in jou ... Sagtheid in jou ... Goedheid in jou ... Blydskap in jou ... Geesvervuldheid in jou ... Egte lewe in jou ...

Elke keer, elke sekonde, as God na jou kyk, sien Hy eerste vir Jesus: Jesus in jou en jy in Hom ...

... én Jesus is “ok”, wat beteken jý is “ok”. Só ...

Hy sien jou seer ... Hy sien jou kommer ... Hy sien jou hart ...
Hy sien jou waar jy nou is, want Hy is in jou ... wat ook al?

Hy kyk nie heeldag teen jou foute en sonde vas nie. Hy is nie heeldag besig om die lewe vir jou moeilik te maak, net omdat jy nie gehoorsaam genoeg is nie. Hy skryf nie nuwe wette om ‘n lewe wat reeds ingewikkeld is, nog strenger te maak nie.

Die kern van ons bestaan is in Hom, wat in jou is, en God is voldoende en volledig en volmaak volgens wie Hy wil wees, in jou.

Só gebeur dit:
1. God gee sy geliefde Seun om ons te verlos;
2. God gee sy geliefde Gees om ons te beheer;
3. God gee sy liefde in ons;
4. Óns IS liefde in sy se oë ... Hy spesialiseer by uitnemendheid presies hierin!

Dit ís net so! Dit staan vas! Niemand kan dit verander nie! Dit ís die waarheid!

• Jy ís geliefd in sy oë, want Hy ís!!
• Én Hy is bly oor jou!! Hy jubel oor jou!!
• Hy spring van blydskap oor jou as sy geliefde!! Hy geniet jou vir wie jy is!!
• Hy is 100% tevrede met wie jy is!!

Die sleutel om 2014 en vir altyd, mee te lewe:
God sien ons geliefde Jesus in jou ... en Hy is bly oor jou!

Doom Charl