Wednesday, March 12, 2014

Oordenking 16 Maart 2014


Die Godstad: waar Hy alles gee en oor alles tevrede is

“... die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte ...” (Openbaring 22:2)

In ʼn mindere of ʼn meerdere mate, sien elkeen van ons uit na ʼn lewe waar alles volkome in plek is: alle gebroke verhoudings is herstel, elke siekte is genees, alle oortrokke rekeninge is betaal, daar is geen toetse wat geslaag hoef te word nie, daar is glad nie ʼn probleem sonder ʼn oplossing nie, daar is geen bekommernis oor enige moeilike situasie wat hanteer hoef te word nie. Klink dit alles net te goed om waar te wees? Wel, vir inwoners van die Godstad, is alles in die lewe volkome in plek! En wel om die volgende redes en op die volgende wyse:

·         God se volmaakte teenwoordigheid is in plek in elke Jesus-mens. Deur “die sewe Geeste voor sy troon” (Openbaring 1:4) is Hy volledig die Een wat altyd by ons is, al gebeur wat ook al.

·         En omdat Hy nooit weggaan of verdwyn, al loop dinge hoe erg verkeerd in ons lewens, is Hy self die Antwoord en die Voorsiening in alles in ons lewens.

·         Daar is nie meer seisoene in die Godstad nie: “... die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte ...” (Openbaring 22:2) Die betekenis vir ons is dat die Een op die troon van ons lewe, oorvloedig voorsien.

·         “Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.” (Openbaring 22:2) Hy voorsien in elke vorm van fisiese genesing wat Jesus-mense die nodigste het, dit is alle vorme van honger of dors of siekte. Maar Hy voorsien by uitnemendheid in elke vorm van geestelike genesing, dit is die voortdurende herstel en opbou van ons intieme verhouding met Hom in ons.

·         Binne die nuut-wordende verhouding wat elke inwoner van die Godstad het, word alle grense wat skade veroorsaak finaal verwyder en alle vooroordele teenoor alle partye betrokke, word verwyder. “Daar sal nie ʼn enkele ding oorbly waarmee God ontevrede is nie.” (Die Boodskap)

Wat is jou grootste honger of siekte in jou geestelike lewe? Waarmee is jy nog ontevrede in jou eie lewe? Of waarmee dink jy is God nog ontevrede met jou? Wat dit ook al mag wees wat die vrug in jou lewe steel, Hy wil dit herstel omdat Hy alles gee en oor alles tevrede is.

Laat ons leef met die volgende in ons harte: “Oorvloed-Gewer, so opreg waardering dat U tevrede is met my!”

Wednesday, March 5, 2014

Oordenking 9 Maart 2014

Die Godstad: gratis oorvloed lewe

“... water van die lewe ...” (Openbaring 22:1)

Sien die prentjie van die bejaarde man Johannes wat as banneling op die eiland Patmos die brief Openbaring skryf aan Christene wat so erg vervolg word dat hulle lewens in gevaar is en hulle van hongerte dood gaan. Of dink aan jou eie onsekerhede van tekort aan liefde, of geld, of goeie gesondheid, of innerlike kalmte, of waaraan jy ook al tekort mag hê.

Dan word daar vir die oorspronklike lesers van Openbaring en vir jou oorvloed belowe. En dit alles nog gratis en verniet ook: “... elkeen wat dors het ... moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17) Jy hoef NIE met jou lewe te betaal om ‘n Jesus-mens te wees NIE, Jesus het klaar sy lewe aan die kruis daarvoor gegee. Jy hoef NIE te betaal vir jou plekkie eendag by Jesus se voete in die hemel NIE, Hy bied dit sonder enige verdienste aan. Jy hoef NIE God se guns te soek NIE, Hy bederf jou met al sy goedheid onvoorwaardelik, omdat Hy is wie Hy is.

Hoor hoe mooi het Jesus dit self gesê toe Hy nog as mens hier op aarde was: “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ... na die Gees verwys.” (Johannes 7:38-39) Ons as Jesus-mense word vol gemaak met die Gees van God, sodat Hy ons kan gebruik as kanale van oorvloed lewe, die lewe waarna die verlorenes smag. Ons is God se antwoord op elke tekort, elke pyn, elke hartseer – so het Hy besluit om te wys wie Hy regtig is. Hy is besig om die wêreld ‘n beter plek te maak vir elkeen wat vir Hom plek in sy lewe maak. Dit alles gebeur in die Godstad: in ons bekeerde verhouding met Hom, in ons band met die geloofsgemeenskap waarin ons Hom aanbid.

As inwoners van die Godstad deel ons gesamentlik in al die voordele wat dit vir ons bied, want “... dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit.” (Openbaring 22:1) Alles wat mooi is, alles wat goed is, alles wat met liefde te doen het, alles wat opbouend en vernuwend is, kom van ons Inwonende-Skepper-Gees-God!

Dit is die maklikste en allerbeste om ‘n inwoner van die Godstad te wees! Geen druk, geen tekort, geen prestasie, geen boosheid, geen ekkigheid vir elke geliefde en elke soekende een van ons.

Kom ons sê net opreg: “1000 dankies, Oorvloed-gewer, vir die verniet-lewe!”

Wednesday, February 26, 2014

Oordenking 2 Maart 2014

Die Godstad: gevul met dié Lig en dié Skat

Die stad se “... tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.” (Openbaring 21:22)

Die moontlikheid bestaan dat die simboliek van die Godstad se boodskap vir sommige mense te goed kan wees om waar te wees. Hoe kan gesê word dat God nie in die hemel bly soos ons al die jare gehoor het nie, maar in elke Jesus-mens? Hoe is dit moontlik dat inwoners van die Godstad reeds volledig vergewe is? Hoekom is dit so maklik om in die Godstad te wees, daar is geen vereiste en lang lyste van wette wat gehoorsaam moet word nie?

Wel, dit is waar op grond van die Bybel se boodskap, die geloof wat ons bely en die Heilige Gees wat in ons getuig.

Die waarheid van die Godstad het met God self te doen, en meer spesifiek met die betekenis van sy teenwoordigheid. Hy is in die stad, Hy is die belangrikste Een in die stad, sy teenwoordigheid maak die stad vol, Hy kies hoe en waar en wanneer Hy in die stad is, Hy kies die inwoners met sy eie hand uit, Hy bepaal die ervaring om in die stad te wees vir die inwoners, Hy is die Alles in die Godstad!

Wat kan die inwoners verwag omdat Hy die Alles in die Godstad is? Elke Jesus-mens kan ontdek dat Hy is:

·         Teenwoordig ... want sonder Hom kan ons nie ‘n sekonde van ons lewe nie;

·         Omgee ... want sonder Hom kan daar nie liefde in ons wees nie;

·         Slimheid ... want Hy gee ons gesonde verstand om ons lewe mee te lewe;

·         Versorger ... want Hy weet wat ons elkeen regtig nodig het;

·         Trooster ... want Hy ken ons diepste hartseer;

·         Toekoms ... want Hy sal daar wees in die onsekerheid oor wat wag;

·         Alles ... want Hy laat ons nooit in die steek nie.

 
Daarom kan ons elkeen net vashou, vashou aan ... die sterkste, slimste, beste, liefste, mooiste, grootste, nabyste EEN, ware EEN, lewende EEN!!!

Kom ons sê net opreg: “Enigste Lig in my lewe, dankie dat gereinigde ek U in alles kan aanbid.”

Wednesday, February 12, 2014

Oordenking 16 Februarie 2014


Die Godstad: suiwer, mooi en stewig
Raak opgewonde oor wie jy in God se oë is:

·         Ander mense ervaar jou as ‘n uitsonderlik aangename persoon in alle opsigte;

·         Jy is nooit in enige meningsverskille of bakleiery of harde woorde betrokke nie;

·         Jou daaglikse lewe is stabiel, rustig en jy is in volle beheer van alles in jou lewe;

·         Alle verhoudinge waarin jy lewe, is gesond en verrykend en steeds aan die ontwikkel;

·         Jy is emosioneel gesond en ‘n inspirasie vir alle mense wat jou pad kruis;

·         Jy beskik oor die vermoë om met insig en wysheid in elke moontlike situasie op te tree; en

·         Jy straal innerlike vrede en vreugde opreg en spontaan uit.

Klink dit onmoontlik, nee, dit is presies waarmee die Gees in jou as Godstad besig is!

Hoekom wil Hy van jou so ‘n pragtige en aangename mens maak? Want:

1.       Jy is reeds volkome gereinig van alle sonde deur die bloed van die Lam;

2.       jy is vervul met die volledige werking van die Gees van God; en

3.       ter wille van die eer van Hom wat op die troon van jou hart sit, werk Hy self in jou!

As Jesus-mens is jou lewe gebou op die ewige en vaste fondament, Jesus Christus self. Jy straal die heerlikheid van God uit omdat Hy in jou woon. Jou lewe op die goue strate beteken dat jy die luukse het van ‘n onvoorwaardelike en oorvloedige lewe in Christus – wat meer wil ek en jy nog hê?
Hou op om op valse en tydelike fondamente te probeer bou. Geld, status en sukses is tydelik en uiteindelik leeg. Die genot en plesier van hierdie goddelose wêreld bevredig geen permanente behoeftes nie.

Laat die Gees jou fokus verskuif: leef in Hom, leef vir Hom, leef saam met Hom, leef ter wille van Hom!

Laat elkeen van ons eenvoudig vra: “Herbouer van my lewe, bou asseblief op die heel beste Fondament ter wille van Uself.”

Wednesday, February 5, 2014

Oordenking 9 Februarie 2014

Die Godstad: perfekte ewige blyplek

“Die engel ... het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.” (Openbaring 21:15)

Jy is verseker “ok” in God se oë, as jy nog gewonder het. Daar is geen fout met jou nie. Hy is nie kwaad vir jou nie. Om die waarheid te sê, Hy het jou na sy beeld gemaak en jou as sy verteenwoordiger op aarde geplaas. Hy het jou so verskriklik baie lief, dat Hy die hoogste prys betaal het vir jou redding, sy eie geliefde Seun het vir jou gesterf. En toe stop dit nie daar nie, Hy kom woon sommer self in jou deur sy Heilige Gees, sodat jy eerstehands die heel beste hulp in die hele wêreld in jou kan hê – WOW!!!

Jy is God se perfekte ewige blyplek!!!

Gemeet met ‘n goue meetstok, só kosbaar is jy! Simbolies beteken dit dat jy aan God behoort en dat Hy sy eiendom sal beskerm. Die Godstad, jy as Jesus-mens, word ewig die mees beskutte blyplek vir God self! Hy kom maak jou sy eiendom om in te woon deur sy volledige Gees en dan beskerm Hy op hierdie manier self sy verhouding met jou.

Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, dit is ‘n kubus-vorm soos Salomo se tempel se allerheiligste: “Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog.” (1 Konings 6:20). ‘n Volmaakte vorm van letterlik 2 220 km in elke rigting om die volmaakte woonplek vir die Inwonende Een te wees en waarin daar geen beperkte ruimte is nie. Simbolies die allerbeste en gerieflikste en luuksste blyplek vir Hom, wat sy heerlikheid in jou aan die verlore wêreld wil wys.

Die getal 12 000 is die 12 stamme van Israel, die volk van God, in die volkomendheid (1000 maal) daarvan. Die volle getal van Jesus-mense van alle tye, sal die volkomendheid ervaar binne hulle inwoning in en deur die volheid van die Gees van God.

Die dik muur (144 x 22cm) wys simbolies na die beskerming vir die inwoners, veral om die bose uit te hou. Die see, as blyplek van die bose, het reeds verdwyn (Openbaring 21:1), maar nou is die inwoners ook beskut teen enige moontlike aanslag van die bose en watter slegte invloede daar ook mag wees.

Jesus-mense het genoeg veilige blyplek vir altyd, naamlik in Hom self!

Laat ons soekend lewe met die woorde: “Meester-Bouer, dankie vir die volmaakte huis wat ek vir U is.”

Wednesday, January 29, 2014

Oordenking 2 Februarie 2014


Die Godstad: gebou met Aantrekkingskrag
“Die stad het die heerlikheid van God ...” (Openbaring 21:11a)

Wat sou jy graag wil hê dat die Gees in jou lewe moet verander? Wat laat jou minderwaardig voel? Hoe kan jy verander dat jy meer geliefd voel?
Hierdie vrae klink moontlik ydel of selfgerig. Tog dink ek dat dit die vrae is wat gedurig iewers in ons elkeen leef. Dis tog lekker om mooi dinge oor jouself te hoor. Dis tog sinvol om goed met ander mense oor die weg te kom omdat hulle jou aangenaam belewe. Dit is lekker om goed oor jouself te voel. En dit is alles werklik moontlik vir elke inwoner van die Godstad, want ...

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5:25) Die Een wat in elke Jesus-mens is, is besig met die bouwerk in jou. En doel met sy Gees-werk in jou, is sy eie eer. En wanneer ons in Openbaring 21 lees hoe beeldskoon en pragtig en luuks die stad beskrywe word, dan is dit simbolies God se doel met elkeen van ons: beeldskoon van binne en buite, pragtige unieke persoonlikheid en al die mooiste eienskappe om almal rondom ons se lewens te verryk. Hy herbou jou lewe sodat jy al hoe meer “na Hom lyk”, bedoelende al hoe meer lewe soos wat Hy wil hê jy behoort te lewe.
Hierdie Gees-gedrewe bouwerk hou nooit op nie. Tog is dit ons geleentheid om net al hoe meer in Hom te ontdek waarmee Hy in ons besig is, naamlik om ons totaal en al oor te maak en volledig nuut te laat lewe. “... sal die Gees julle op ‘n splinternuwe manier laat leef.” (Romeine 8:10, Die Boodskap) En hoe langer en hoe meer word elke Jesus-mens so aantreklik en aanloklik dat ander ook soos ons wil wees. Die mooi en die goeie in ons, wat slegs deur die Gees se werk sigbaar word, lok ander vreemdelinge nader aan die Godstad om ook inwoners te word.

Hiervoor is die baie poorte van die Godstad nóú oop in alle windrigtings vir enige een om in te kom. Die aanskoulikheid van die Godstad lok alle verlorenes om nader te kom en te keuse te maak om in te kom. Hier is geen sprake van lang lyste vereistes om ‘n inwoner van die stad te word nie. Die engele by die poorte is daar om diegene wat reeds inwoners is, te beskerm. Dis al die pad die moeite werd om binne die Godstad te kom lewe ... is jy in, of is jy nog op pad?
Inwoner van die Godstad, jy kan meer geliefd wees wanneer jy bly sê:
Herbouer in my lewe, dankie vir U puik Gees-werk in my!”

Wednesday, January 22, 2014

Oordenking 26 Januarie 2014

Die Godstad: versier vir Jesus

“Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Openbaring 21:2b)

Die Godstad verwys na die plek waar God woon. Vir ons as Jesus-mense woon Hy nie op ‘n ver en vreemde plek nie. Hy is nie onbereikbaar verwyderd in die hoë hemel nie. Nee, God is volledig deur sy Gees woonagtig en werksaam in elke mens wat sy hart vir Jesus oopgemaak het. Jesus het self gesê: “Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.” (Johannes 14:20) Jý is die Godstad waarin Hy gekies het om in te trek met sy Gees.

Die bruid is al die Jesus-mense, dus almal wat aan die kerk van Jesus Christus behoort, almal wat in die Godstad woon. In Johannes se denke het die bruilof reeds plaasgevind, Christus as Bruidegom en die uitverkorenes is reeds verenig, reeds een. Ons as uitverkore Jesus-mense sukkel ongelukkig met die sonde in ons en in ander om ons, maar leef reeds as oorwinnaars met Hom in ons. Die voltooiing en die vervolmaking wag natuurlik eers in die lewe hierna, maar dit is gewaarborg in Hom. En so is Hy in ons besig om ons te versier.

Hoe word Jesus-mense versier? “God het haar vergun ... fyn klere (wat) die regverdige dade van die gelowiges is.” (Openbaring 19:8) Alles wat Hy in ons wil verander en ons mee wil help en ons lewens mee wil verryk en van ons beter mense in sy oë maak, neem Hy voor verantwoordelikheid. In onsself kan ons nie goed wees nie, God kan ons nie regverdig verklaar op grond van ons eie goedheid en gehoorsaamheid nie, ons is nie daartoe in staat nie – daarom doen Hy juis heiligmaking in ons, so versier Hý ons!

Hoekom wil Hy ons versier? Om die prys wat die Lam, dit is die gekruisigde Jesus, vir elke Jesus-mens se vergifnis en redding betaal het, die moeite werd te maak. Hoor hoe sê Johannes dit: “... ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” (Openbaring 21:9b) Op grond van Jesus se volmaakte opoffering wat steeds voortgaan deur sy inwoning deur die Gees in ons, kom verbind Hy Homself in ‘n ewige liefdesverhouding met elke Jesus-mens.

En hoe voel Hy oor jou? “Soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.” (Jesaja 62:5b)

Daarom kan elkeen eg en opreg bid: Inwonende Gees, trek my asseblief aan om vir U mooi te lyk.